China maak gebruik van slimstadtegnologie (Smart City Technology) om die Weste en veral Amerika op die gebied van sekuriteit in Afrika uit te daag. Dié dimensie van sekuriteit word met ander vorme van sekuriteit gekombineer om die land se tegnologiese samewerking met Afrika verder uit te brei. Ander lande wat ook ’n rol in Afrika se sekuriteit speel, moet moontlik die gevolge van hierdie ontwikkeling oorweeg. ’n Negatiewe gevolg is dat China die leidende, eksterne moondheid in Afrika se sekuriteit kan word. Die Weste sal eenvoudig nie met China se tegnologiese voorsprong op die Afrika-kontinent kan meeding nie.
Slimstadtegnologie gebruik digitale tegnologieë soos kunsmatige intelligensie (KI), groot data en die Internet van Dinge om die lewenswyses van die inwoners te herontwerp, die bestuur van stede te vergemaklik, stedelike sentra (operasionele sentra of polisïeringskantore) met opsporingstoestelle te verbind, sensors vir waarneming aan te bring en algemene sekuriteit te verbeter.
Soos wat China sy rol as sekuriteitsvennoot in Afrika uitbrei, veral deur die Globale Sekuriteitsinisiatief (GSI), ontstaan die vraag of Amerika en ander moondhede bekommerd oor die verspreiding van Chinese opsporing en waarnemingtegnologie moet wees. Of is sulke bekommernisse oordrewe?
Die aanwending van slimstadtegnologie in Afrika
China moedig die gebruik van slimstadinfrastruktuur in Afrika op verskeie maniere aan. Dit sluit in beleggings in stelsels wat verkeer bestuur, die bou van stelsels wat energie bespaar, die vind van oplossings vir water- en afvalbestuur en stelsels vir intelligente gesondheidsorg. ’n Opvallende eienskap van die stelsels is dat hulle gevorderde tegnologieë soos gesigherkenning (facial recognition), die ontleding van KI-data en stedelike moniteringstoestelle integreer. Die telekommunikasie-reus, Huawei, is verantwoordelik vir die oordrag van die tegnologie deur middel van die Smart City Solutions-finansieringsprogram. Afrika-lande kan dié program gebruik om slimstadtegnologie in hulle stede te finansier.
Die verspreiding van Chinese slimstadtegnologie het oor die laaste vyf jaar geweldig toegeneem. Daar is nege lande wat dit tans gebruik, naamlik Botswana, Ghana, Ivoorkus, Kenia, Marokko, Mauritius, Suid-Afrika, Uganda en Zambië. Die Konza Intelligensiestad in Kenia is Afrika se eerste beplande slimstad, terwyl ’n innovasiestad ook in Kigali, Ruanda gebou word. Die Senegalese musikant, Akon, beplan om ’n musikale slimstad te bou met die hulp van Chinese finansiering. Die stad gaan musikante van regoor Afrika die geleentheid gee om digitale musiek met die hulp van slimstadtegnologie te skep. Dit sal die eerste stad van so ’n aard in Afrika wees. Die Republiek van die Kongo (DRK) het voornemens om Kigali ook in ’n slimstad te omskep. Planne vir die Modderfontein-slimstad in Suid-Afrika het nog nie gerealiseer nie. Die stad sal as die New York van Afrika bekend staan.
Die motivering om slimstadtegnologie in Afrika te gebruik is sterk. Daar is tans 10 000 maatskappye in Afrika en beleggings ter waarde van USD300 biljoen wat China kan help om hulpbronne te beveilig, markte uit te brei en invloed te vergroot. Chinese maatskappye wat in Afrika besigheid doen, kan finansiering van Staatsbanke soos die Chinese Ontwikkelingsbank (China Development Bank) bekom. Daar is sekere maatskappye wat deur die Chinese regering verplig word om die tegnologie te gebruik, byvoorbeeld militêre instellings, private sekuriteitverskaffers en finansiële instellings. Afrika-lande is ook gewillig om die tegnologie vir sekuriteit en ekonomiese vooruitgang te gebruik. ’n Doelwit is om tegnologiese kennis uit te ruil wat in lyn is met China se visie om ’n beter toekoms vir die mensdom te skep. Dit staan in Engels bekend as building a community with a shared future for mankind.
Daar is verskeie redes waarom Afrika-lande ontvanklik vir China se slimstadtegnologie is. Eerstens skep die tegnologie die geleentheid vir Afrika-lande om infrastruktuur te bou teen ’n lae of geen koste. Dit is sonder die politieke voorwaardes of eise wat deur Westerse regerings daargestel word. Tweedens vereis die vinnige verstedeliking wat in Afrika plaasvind dat innoverende oplossings vir die bestuur van stedelike groei en die verbetering van lewensgehalte gevind word. Slimtegnologie word as die sleutel tot die bereiking van hierdie doelwitte gesien, terwyl ekonomiese vooruitgang op dieselfde tyd gemaak word. Derdens word China se gunstige finansieringsopsies heelhartig deur regerings in Afrika ontvang. Chinese staatsbanke bied lenings teen lae rentekoerse aan, terwyl regeringsubsidies maatskappye soos Huawei en ZTE Corporation toelaat om tegnologie teen mededingende pryse te verskaf. Die pryse is dikwels laer as die 30–40 persent van Westerse maatskappye.
Slimstad, verborge koste?
Ten spyte van China en Afrika-lande se aansporings om die tegnologie te gebruik, is daar bekommernisse wat bestaan.
Eerstens bestaan die gevaar dat slimstadtegnologie onder die voorwendsel van vooruitgang deur outoritêre regimes gebruik kan word om op burgers te spioeneer. Dié tegnologie maak gebruik van gesofistikeerde waarnemingstelsels, byvoorbeeld hoëdefinisie-kameras, gesigherkenningtegnologie en ekstensiewe rekenaarstelsels vir die prosessering van inligting. Dit bied aan Afrika-regerings die vermoë om hulle burgers te monitor. Egipte, Ethiopië en Zimbabwe gebruik die tegnologie reeds om burgers se bewegings dop te hou, terwyl Uganda en Zambië dié tegnologie gebruik om politieke opponente op te spoor en protesoptogte te onderdruk. Die risiko bestaan ook dat burgers se private inligting in die hande van verkeerde persone kan beland as gevolg van swak sekuriteit in rekenaarstelsels.
Tweedens bestaan die potensiaal vir China om op Afrika-regerings en -burgers te spioeneer as gevolg van Afrika-lande se afhanklikheid van Chinese tegnologie. China se CloudWalk Technology het byvoorbeeld ’n ooreenkoms met Zimbabwe gemaak en biometriese data na China gestuur vir gesigherkenningontwikkeling. Dit het vrese van “datakolonialisme” en toesiguitbuiting laat ontstaan. In Kenia het kuberkrakers sleutelministeries en staatsinstellings geteiken vir inligting rakende Kenia se skuld aan China. Daarbenewens bestaan die vermoede reeds vir ’n geruime tyd dat China afluisterapparate in die nuwe hoofkwartier van die Afrika Unie (AU) in Addis Abeba geïnstalleer het. Dié kantoor is deur China gebou.
Derdens bestaan daar kommer oor die manier waarop Afrika-lande die tegnologieë gaan finansier. Chinese maatskappye soos Huawei en ZTE Technologies bied pryse aan wat dikwels 30–40 persent minder as dié van Westerse mededingers is. Dié finansiering word direk van Chinese staatsbanke verkry. Die lenings mag dalk help om infrastruktuur teen lae kostes te bou, maar lei tot skuldafhanklikheid. Die groot bedrae geld wat aan China geskuld word, lei tot ’n verskuiwing in die samestelling van Afrika se skuld. Dit is slegte nuus, omrede die meeste van die skuld nie meer in die vorm van rente op lenings terugbetaal word nie, maar in die vorm van konsessies. Afrika-lande kan deur China gedwing word om strategiese bates of beleidsoutonomie aan China oor te gee.
Vierdens bestaan die gevaar dat slimstede in Afrika kan doodloop as gevolg van beloftes wat nie nagekom word nie. Ten spyte van die ophemeling van die idee, neem entoesiasme vir projekte af as gevolg van ekonomiese redes. Die koste om infrastruktuur op te rig en die feit dat die stede nie ’n realistiese uitbeelding van die werklikheid is nie maak die stede onprakties.
Moet ander lande bekommerd wees oor China se slimstede in Afrika?
Amerika en Westerse bondgenote werk hard om verhoudinge met Afrika te onderhou. China se sterk betrokkenheid in Afrika is die spreekwoordelike vlieg in die salf om die verhoudinge te laat groei en onderhou. In breë trekke is China se slimstadinisiatiewe ’n strategie om vennootskappe in Afrika te versterk. Dit het die potensiaal om streeksvennootskappe te verander en diplomatieke invloed van ander lande te verminder. Chinese tegnologie kan oorwegend in die bou van infrastruktuur in Afrika raak en markgeleenthede vir ander lande beperk. Chinese maatskappye belê groot bedrae geld in navorsing en ontwikkeling in vergelyking met Westerse eweknieë. Dit stel die maatskappye in staat om vinnig te innoveer en groter markaandeel te verseker. Boonop is daar kommer oor die gebruik van slimstadtegnologie vir spioenasie en die verspreiding van outoritêre, digitale bestuursmodelle wat die potensiaal het om demokratiese instellings te ondermyn.
Ten einde die bedreiginge van China se slimstadtegnologie te verstaan, is dit nodig om ’n ontleding te maak. Weens plaaslike, ekonomiese probleme en Afrika-lande se enorme skuldlas vir die Gordel-enpadinisiatief (GPI-projekte), is sommige Afrika-lande genoodsaak om hulle verhoudinge met China te herevalueer. Die teenwoordigheid van slimstadtegnologie beteken nie dat Afrika-lande geforseer word om die tegnologie te gebruik nie. Dit is eerder ’n geval dat Afrika-lande die tegnologie gebruik om anti-demokratiese praktyke toe te pas. Dit gee aan outoritêre leiers die geleentheid om op burgers te spioeneer en vryheid van beweging in te perk. Die ander kant van die spektrum is egter ook waar. Dit is dat Afrika-regerings nie oor die institusionele kapasiteit of voldoende hulpbronne beskik om die tegnologie suksesvol te implementeer nie. ’n Tekort aan opgeleide werkers en operasionele sentrums maak dit onwaarskynlik of die tegnologie as ’n middel gebruik kan word om burgers aan die wil van die regering te onderwerp.
Ten slotte word die opmerking gemaak dat China se slimstadtegnologie wel Afrikane se behoeftes van sekuriteit, ekonomiese ontwikkeling en regimestabiliteit aanspreek. Dit gebeur vinnig en is ’n drie-in-een-pakket. Die probleem egter is dat slimstadtegnologie in praktyk toegepas word nie soseer vir wat dit is nie, maar vir wat dit verteenwoordig. ’n China wat Afrika se behoeftes beter verstaan as lande in die Weste en ’n China wat Afrikane verder afhanklik van die land se tegnologie maak.
Bibliografie
africachinareview.com.2025. African countries can learn from China to build smart cities. https://africachinareview.com/african-countries-can-learn-from-china-to-build-smart-cities/ (20 Maart 2025 geraadpleeg).
Da Vinha, L.M. en H. Liang. 2025. China vis-à-vis the EU: The competition for Africa’s smart cities, in Y. Li (red.). The Palgrave Handbook on China-Europe-Africa Relations. Londen: Palgrave McMillan, 211–31.
Munene, D. 2024. Africa looks to smart cities. https://www.chinadailyhk.com/hk/article/374762 (22 Maart 2025 geraadpleeg).
Omoruyi, E.M. 2024. How China’s tech cooperation with Africa makes a difference. https://www.chinadaily.com.cn/a/202407/22/WS669db30da31095c51c50f2f3.html (15 Maart 2025 geraadpleeg).

