1. Inleiding
Die jaar 2024 is belangrik vir China om verhoudinge met die Globale Suide te versterk. Diplomasie word tans bevorder in multilaterale forums of groepe soos die Nie-Geallieerde Beweging (NAM), die Forum vir China-Afrikasamewerking (FOCAC), die Gemeenskap van Latyns-Amerikaanse en Karibiese State (CELAC) en die Groep van 77. Die doktrine waar supermoondhede die kern is, die onmiddellike omgewing die prioriteit is en multilaterale platforms die verhoog is, definieer China se buitelandse beleid met die ontwikkelende wêreld. Op die manier wil China graag as die kampvegter vir die Globale Suide bekend staan. Die voordeel vir Afrika, Suid-Amerika en lande in die Karibiese eilande is dat gedeelde belange en koördinasie versterk word.
China is Afrika se grootste handelsvennoot en die tweede grootste vir Suid-Amerika en die Karibiese eilande. Die land se portefeulje van verbintenisse behels toegang tot markte, infrastruktuur, energie, strategiese minerale, digitale infrastruktuur, ruimte, sekuriteit en party-tot-party-besoeke deur hooggeplaaste amptenare. Verskeie lande in die Globale Suide ondersteun China ook in multilaterale organisasies soos die Verenigde Nasies (VN). China se diplomasie word bevorder deur sterk verhoudinge met burgerlike groepe, howe en ander onafhanklike instellings te sluit.
’n Ander aspek wat aansluit by die bevordering van diplomasie, is om regerings in Afrika te ondersteun, ongeag hoe die regerings aan bewind gekom het. Daar word nie enige ophef gemaak oor menseregte nie, want dit sou neerkom op inmenging in die huishoudelike sake van Afrikalande. Die voorgestelde model van betrokkenheid is om lande waarop sanksies toegepas is en wat van die internasionale sisteem geïsoleerd is, te ondersteun. In die geval word verwys na outokratiese regimes soos Zimbabwe en Bolivië. Die lande kan op China se hulp staatmaak en word beskou as “all weather friends”.
Terwyl sekere lande in Afrika, Suid-Amerika en die Karibiese eilande positiewe gevolge met China ervaar, is daar ander lande soos Angola, Ecuador, Venezuela, Argentinië, Ethiopië en Zambië wat toenemende skuld in die gesig staar. Verdere nadele sluit in omgewingskade, menseregte-vergrype, korrupsie en staatskaping. Van die grootste bekommernisse vir die Globale Suide is die risiko’s wat Chinese beleggings vir die omgewing inhou. ’n Studie deur die Business and Human Rights Resource Center het bevind dat 76% van alle aantygings teen Chinese maatskappye afkomstig is uit die mynbedryf, hernieubare energie-industrieë en maatskappye wat koolwaterstowwe ontgin. Lande in Afrika is verantwoordelik vir die grootste aantal van die aantygings. Die implementering van programme vir volhoubare ontwikkeling is van die nuwe strategieë wat gevolg word om omgewingsprobleme op te los.
2. FOCAC en CELAC: Die dryfveer agter forumdiplomasie
China se forumdiplomasie is ’n doeltreffende middel om Suid-Amerika, die Karibiese eilande en Afrikalande te verenig rondom gedeelde belange en doelwitte. In die laaste aantal jare het die streke ook waardevolle lesse geleer in ontmoetings wat gehou is. Daar is byvoorbeeld groter samewerking tussen gemeenskapsgroepe, howe en ander instellings om druk op China te plaas, indien programme nie geïmplementeer word nie.
FOCAC en CELAC is deel van ’n sisteem van multilaterale instellings wat China oor die laaste twee dekades opgebou het. Die poging is om ’n alternatiewe internasionale sisteem te skep, naas die huidige globale orde. FOCAC, CELAC en ander forums soos die China-Arabiese State-samewerkingsforum (CASCF) is in baie opsigte spieëlbeelde van mekaar met soortgelyke organisasiestrukture en doelwitte. Die forums onderskryf dieselfde ideologiese waardes as China.
FOCAC is in Oktober 2000 in Beijing gestig net voordat China by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) aangesluit het. Dit is die oudste van China se streekforums. Die eerste werklike bydra van die forum was in 2006 nadat China 5 miljard Amerikaanse dollars in die Afrikaontwikkelingsfonds belê het. Die fonds word deur die forum geadministreer en het ten doel om geld beskikbaar te stel vir die ontwikkeling van Afrikalande. In die laaste 24 jaar het FOCAC ontwikkel as ’n meganisme wat verskeie gemeenskaplike kwessies tussen China en Afrika onder die loep neem.
Die China-CELAC-forum is in 2014 gestig, nadat president Xi Jinping ’n reis na Brasilië onderneem het. Dit was slegs een jaar na die Gordel-enpadinisiatief (GPI) die lig gesien het. Die forum het ’n soortgelyke samestelling as FOCAC. China se verhoudinge met Suid-Amerikaanse lande was voor die bekendstelling van CELAC grootliks bilateraal. Die eerste China-CELAC-ontmoeting is in 2015 in Beijing gehou.
China se lenings aan lande in Suid-Amerika en die Karibiese eilande tussen 2008 en 2021 verteenwoordig 83% van die Wêreldbank se portefeulje oor dieselfde tydperk. Tussen 2000 en 2022 het FOCAC-lidlande 170 miljard Amerikaanse dollars van China ontvang. Chinese Staatsbanke soos die in- en uitvoerbank (EXIM), die Syroetefonds (“Silk Road Fund”) en die Asië Infrastruktuur Beleggingsfonds verskaf groot bedrae geld om ontwikkelingsprojekte van stapel te stuur. CELAC-lidlande het 130 miljard Amerikaanse dollars van China sedert 2014 ontvang.
Teen die einde van 2021 het 22 van CELAC se 33 lande aangesluit by die GPI. In Afrika is al die lande met die uitsondering van Eswatini deel van die GPI. Eswatini is die enigste Afrikaland wat Taiwan erken, terwyl 12 lande in CELAC formele verhoudinge met die eiland het. China probeer alles in sy vermoë om die 12 lande te oorreed om verhoudinge na Beijing te verskuif. Sedert 2017 is die Dominikaanse Republiek, El Salvador, Honduras, Nauru, Nicaragua en Panama van Taiwan afgerokkel. Die potensiaal wat GPI-beleggings vir die lande inhou, is ’n groot rede vir die oorskakeling na China. Taiwan het teen die begin van 2024 formele verhoudinge met slegs 12 lande in die wêreld. Die meeste van die lande is in die Asië-Pasifiese streek, die Karibiese eilande en Suid-Amerika.
China se oorvloed van nuwe multilaterale instellings skep geleenthede vir handel en samewerking wat nie voorheen bestaan het nie. Samewerking in die forums bied alternatiewe konsessionele terme en handelsvoorwaardes aan as wat Westerse organisasies soos die Wêreldbank aanbied. Dit is ’n rede waarom lande in die Globale Suide die forums bywoon.
2.1 Byna identiese strukture
FOCAC en die China-CELAC-forum vergader driejaarliks op leierskapsvlak. Tydens die vergaderings ontmoet die president van China, Xi Jinping, leiers van die lande. Na afloop van die vergaderings word ’n driejaar-aksieplan uitgereik wat as rigtingwyser dien tot en met die volgende ontmoeting. Teen die begin van 2024 is reeds agt gesamentlike planne vir FOCAC en een vir CELAC uitgereik. China se nasionale ontwikkelingstrategie word ook gekoördineer met die nasionale strategieë van die lande om areas van samewerking te identifiseer. Die strategieë word in besonderhede bespreek in witskrifte wat sedert 2006 gepubliseer is. Vir FOCAC in 2006, 2015 en 2021 en CELAC in 2016.
Beide groepe het verskeie subforums wat kanale vir kommunikasie skep, areas van samewerking identifiseer en belange deel. Die sluit van vennootskappe is verder ’n belangrike komponent om lede op ’n gereelde grondslag bymekaar te bring en oor kwessies van gemeenskaplike belang te beraadslaag. As voorbeeld word genoem dat China militêre vennootskappe met lande in Afrika en Suid-Amerika sluit om sekuriteit in die streke te bevorder. In Afrika is die China-Afrika Vrede- en Sekuriteitsforum gestig wat daarop fokus om terrorisme hok te slaan. In Suid-Amerika is dit die China-Latyns-Amerikaanse Hoëvlak Verdedigingsforum wat daarop fokus om dwelm- en mensehandel te bekamp. Ten einde militêre personeel se belangstelling in die sekuriteitsforums aan te wakker, word professionele opleiding deur China aangebied. In die laaste aantal jare is die verhouding van militêre personeel wat deur China opgelei word, in vergelyking met Amerika vyf tot een.
Die opleiding van personeel in Afrika is verder op ’n skaal wat deur geen land in die wêreld geëwenaar word nie. Die stelling word gemaak na aanleiding van opleidingsgleuwe (“training slots”) wat tydens die forums beskikbaar gestel word. Tydens die FOCAC-vergadering in 2021 is 100 000 akademiese beurse, mediavennootskappe en geleenthede vir militêre opleiding aan Afrikalande beskikbaar gestel. Vir CELAC was dit 50 000. Beide streke stuur ook ongeveer 6 000 regeringsamptenare jaarliks na China vir opleiding.
3. Lesse van elke streek
Beide streke speel gasheer vir dieselfde Chinese instellings. Dit wissel van staatsbeheerde ondernemings, staatsbanke, sekuriteitskontrakteurs, die Nasionale Weermag (“People’s Liberation Army”) (PLA), amptenare van die Chinese Kommunistiese Party (CKP) en die Confucius Institute.
Verskeie lande in CELAC se ekonomieë wissel van middel- tot hoë-inkomste wat aan die lande ’n mate van bedingingsmag gee. Chili, Costa Rica en Peru het Vryhandelsooreenkomste (VHO’e) met China gesluit, terwyl Ecuador, El Salvador, Costa Rica, Honduras, Nicaragua en Panama in die onderhandelingsfase is. Mauritius is die enigste Afrikaland wat ’n VHO met China het, terwyl Kenia belangstelling toon.
Amptenare van Suid-Amerika en die Karibiese eilande is oor die algemeen meer suksesvol in onderhandelinge met China as gevolg van ’n sterker gevoel van samehorigheid as Afrikalande. Daar is ook ’n oorvleueling in die meganismes wat gebruik word om vergaderings tussen CELAC en die China-CELAC-forum te organiseer. Dit plaas die groepering in ’n sterker posisie om met China te onderhandel. FOCAC het nie dieselfde meganismes as CELAC om vergaderings en opvolgbesoeke te organiseer nie. Dit is ’n gaping in die struktuur van die forum en is ’n struikelblok om diplomatieke resultate te behaal.
Beide streke het ondervinding opgedoen in die bevordering van burgerregte en beskerming van die omgewing. Een voorbeeld is die Latyns-Amerikaanse koalisies van nie-regeringsorganisasies (NGO’s), die Kollektief op Chinese Finansiering, Menseregte en die Omgewing (CICDHA). Die ondervinding help om Chinese maatskappye wat hulle aan misdrywe skuldig maak, uit te wys. ’n Verslag wat by die VN se Komitee vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte ingedien is, dui aan dat verskeie Chinese maatskappye hulle skuldig gemaak het aan die verbreking van arbeidswetgewing, die vernietiging van die omgewing en miskenning van menseregte. Die misdrywe het plaasgevind in Argentinië, Bolivië, Brasilië, Chili, Colombië, Ecuador, Meksiko, Peru en Venezuela. In Afrika het plaaslike burgerregteorganisasies in Kenia hewige beswaar gemaak teen die Standaard-spoorlyn wat deur die Nairobi Nasionale Park sou loop. Die spoorlyn is oorspronklik as ’n GPI-projek geloods.
In antwoord op al die besware het die CKP in 2021 besluit om ’n meganisme in te stel wat griewe ten opsigte van arbeidswetgewing, omgewingsbewaring en menseregte kan hanteer. Dit is ook om toenemende druk wat NGO’s, burgerregteorganisasies en omgewingsgroepe op GPI-projekte plaas, te verminder. Baie van die druk is afkomstig van NGO’s in die Globale Suide wat toegang tot suborganisasies in die VN het. China probeer alles in sy vermoë om die guns van die NGO’s te wen.
Strategiese litigasie word tans toenemend deur prokureurs in Afrika gebruik om Chinese maatskappye wat misdrywe pleeg, aan die pen te laat ry. Prokureurs werk of het reeds sake afgehandel in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Chana, Guinee, Kenia, Mosambiek, Senegal, Sierra Leone, Suid-Afrika, Tanzanië, Uganda en ander lande. Ten einde die wetlike aspekte tussen werkgewers en werknemers na te kom, het die Chinese regering ’n kantoor van die Sentrum vir Litigasie vir die Slagoffers van Besoedeling (CLAPV) in Afrika oopgemaak. Die sentrum bestaan reeds sedert 1998 en het reeds meer as 10 000 oproepe en 100 sake hanteer. NGO’s in Afrika gebruik die litigasiemiddels van die sentrum om Chinese maatskappye wat kontraktuele verpligtinge verbreek, aan die kaak te stel.
Die China-Afrika-Amerika-forum is in 2023 tot stand gebring. Die doelwit van die forum is om China se diplomasie met lande in die streke te vergelyk, konferensies te organiseer, gemeenskaplike belange te deel en die beste praktyke vir samewerking te identifiseer. Rolspelers in Afrika, Suid-Amerika en die Karibiese eilande vra vir groter koördinasie om samewerking met China te bevorder. Dit is veral van toepassing op die FOCAC- en CELAC-vergaderings wat driejaarliks plaasvind. Met die oog op die opkomende FOCAC-vergadering in 2024 word die AU versoek om koördinasie tussen regeringsamptenare en NGO’s te verbeter. Dit sal help om die agenda vir bespreking te fasiliteer en beter resultate te lewer. NGO’s in die streke moet ook kyk na maniere om ervaring met China te deel en gemeenskaplike beleidsprioriteite vorm.
Laastens word gesê dat forumdiplomasie ’n doeltreffende middel is om samewerking te bevorder. Dit is egter nodig dat FOCAC en CELAC omvattende strategieë ontwikkel om met China op die hoogste vlak te onderhandel. Dit kan gedoen word deur gereelde ontmoetings tussen senior beamptes, professionele persone en besigheidslui te reël. Die resultate van die ontmoetings kan dan by opkomende vergaderings van die forums bespreek word. ’n Positiewe gevolg is dat onderhandelinge in die forums nie slegs omsien na die belange van regerings nie, maar ook programme ontwikkel om die lewens van burgers te verbeter.
Bronnelys
- business-humanrights.org. 2021. “Going out” responsibly: The human rights impact of China’s global investments. https://www.business-humanrights.org/en/from-us/briefings/going-out-responsibly-the-human-rights-impact-of-chinas-global-investments/ (27 Februarie 2024 geraadpleeg).
- Ellis, R.E. 2023. What China’s Global Security Initiative Tells Us About Its Strategic Engagement with Latin America. https://thediplomat.com/2023/04/what-chinas-global-security-initiative-tells-us-about-its-strategic-engagement-with-latin-america/ (10 Maart 2024 geraadpleeg).
- fidh.org. 2022. New report examines rights violations by Chinese business activities in Latin America. https://www.fidh.org/en/issues/business-human-rights-environment/business-and-human-rights/violations-chinese-business-latin-america-report (5 Maart 2024 geraadpleeg).
- fmprc.gov.cn. 2021. Forum on China-Africa Cooperation Dakar Action Plan (2022-2024). https://www.fmprc.gov.cn/mfa_eng/wjdt_665385/2649_665393/202112/t20211202_10461183.html (12 Maart 2024 geraadpleeg).