Chanette Paul se Maanschijnbaai-tweeluik klop Fifty shades of grey ’n week lank as topverkoper. Maar is alles maanskyn en rose? Naomi Meyer het haar gevra.
Chanette, ek sien die maanskyn val in vyftig skakerings van helderheid op die see ... Jou Maanschijnbaai-tweeluik van LAPA het dan anderdag beter verkoop as Fifty shades of grey! Dis amper soos om te sê jy’t Harry Potter se verkope verbygesteek. Vertel ons bietjie van hierdie imposante statistiek.
Ja, die vier Calitz-slette maak baie mooi vir my!
Aanvanklik was ek ’n bietjie benoud dat ek van my manlike en spanningsromanlesers wat ek met die Gys Niemand-reeks gewen het, se aandag sal verloor met ’n storie oor vier vroue, maar ek kry geweldig goeie terugvoer. Dit lyk my selfs die manne hou van die Calitze en hulle geite.
Dit was ’n enorme verrassing om te sien die Calitze oorskadu die Shades hier en daar op topverkoperlyste. Een week was hulle selfs in eerste en tweede posisie bo ’n Shades. Die heel lekkerste was egter toe sowel die twee Maanschijnbaai-boeke as Labirint, my nuutste spanningsroman, in een week onder die top vier was. Ek kon my oë nie glo toe ek al drie so reg onder mekaar sien pryk nie, al was dit dan onder ’n Shades in die eerste plek. Hierdie week (verkope van 15 tot 21 Oktober) is daar nou weer twee Shades in eerste en vierde plek, met Labirint en die slette wat die res van die top vyf volmaak in nommers twee, drie en vyf. Ek kan nie ontken dat dit my groot plesier verskaf nie!
Mens moet egter perspektief behou. Die topverkoperlyste weerspieël net sekere boekwinkels se verkope, en waar my boeke een week voor mag loop, kan dit sommer maklik die volgende week van die lys af val terwyl die Shades deurlopend op hierdie lyste bly. Ek sien dit dan ook nie as ’n kompetisie nie. Ek is net baie bly my boeke verkoop vir Afrikaanse standaarde goed. Ek verneem juis die eerste oplaag van Jo & Sue is feitlik uitverkoop.
Ek dink dis die humor in die boeke wat die Calitze gewild maak, en dit ontlok ook heelwat humor in lesers se kommentaar. Dis heerlik om onder meer op Facebook te sien hoe my lesers so lekker loslit verwys na die Calitz-slette, asook na die “stryd” tussen grys en pienk op die topverkoperlyste.
Daardie pienk Cadillac, opgevolg deur ’n pienk kinderwaentjie op die omslae, vertel natuurlik ook ’n storie op sy eie en dis te danke aan my uitgewer, wat presies geweet het wat sy doen.
Wie is jou gunsteling-karakter van die Maanschijnbaaiers en hoekom?
Dis dalk ’n geykte antwoord, maar dis werklik dieselfde as om vir ’n ma te vra watter kind die liefste het. Elkeen van die Calitze het ’n baie spesiale plekkie in my hart. Jo het die storie aan die gang gesit met die finansiële en emosionele flaters wat sy begaan en in aller yl probeer regstel, maar dan net al dieper in die moeilikheid beland. Haar deursettingsvermoë beïndruk my en ek hou van haar sagtheid wat tog deur staal gerugsteun word.
Daarna het Nan en Jeannie hulle opwagting gemaak. Ek het dadelik ’n baie teer plekkie ontwikkel vir Nan, wat haar familie so bo alles, ook haarself, stel sonder om sentimenteel te wees daaroor of erkenning te verwag. Ek was egter baie bly vir haar onthalwe toe sy in die tweede boek ’n bietjie meer na haar eie belange begin omsien het.
Met Jeannie het ek gesukkel. Ek kon die klein snip aanvanklik nie kleinkry nie, maar die kwesbaarheid agter die veroordelende houdinkie het my simpatie gewen. Veral in die tweede deel van die tweeluik het ek haar bitterlik lief gekry, omdat ek haar toe soveel beter leer verstaan het.
Sue was die laaste Calitz wat haar in my storie ingewurm het, en soos Sue maar is, het sy dit met ’n bang! gedoen. Ek het dadelik van haar gehou, al is sy so ’n pes waar dit mans aangaan. Weer eens was daar ’n kwesbaarheid wat haar hardegatgeid onderlê, en dit veral, maar ook haar eerlikheid en reguit manier van sê en doen, het my hart verower.
Tog het ek in die begin baie baklei teen Sue se toetrede. Ek kon sien sy gaan my storie in heel ’n ander rigting stuur as wat ek beplan het. Nou is ek haar egter ewig dankbaar dat sy haar opwagting gemaak het. Ek dink Sue sit die pit in die verhaal, al mag sy sommige lesers dalk affronteer met haar geswets, haar gerook en gedrinkery. Ironies genoeg, is sy baie lesers se gunsteling.
Maar wat van ’n Maanschijnbaai-driekuns? Of is jy nou eers klaar met daardie karakters van jou?
Die Calitze is baie gelukkig waar hulle is. Ek dink nie ek gaan verder met hulle lewens inmeng nie. Ek is dit aan hulle verskuldig om hulle in rus en vrede op Maanschijnbaai te laat voortwoeker.
Voorlopig is ek eers weer terug by spanningsromans. Labirint is reeds op die rak en ek het onlangs begin skryf aan nog ’n enkelstaande spanningsroman, al is dié nou weer geskoei op ’n heel ander soort spanningslyn as die voriges.
Dis vir my ’n groot verligting dat my lesers aanvaar ek skryf uiteenlopende stories en kan nie uitsluitlik aan een genre gebind bly nie. Die goeie terugvoer wat ek kry oor sowel ’n reeks soos die Daveltjies as die Gys-boeke, en veral nou die Calitz-slette, laat my vry voel om te skryf ongeag die soort storie wat na my kant toe kom. Dis dan ook die lojaliteit en entoesiasme van my lesers wat van die Maanschijnbaai-tweeluik ’n sukses maak.


