Chanette Paul se Fortuin: Verrassingselemente oordrewe maar boeiend

  • 0

Titel: Fortuin
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799342420
Datum: Oktober 2008
Bladsye: 522

Fortuin is Chanette Paul se 31ste roman en tweede spanningsroman. Die eerste in dié nuwe genre wat sy met sukses aangedurf het, was Springgety (2007, LAPA-uitgewers). Sy is 'n prolifieke en gewilde skrywer wat van haarself sê: "Ek is in murg en been 'n romantikus." Sentraal aan Fortuin staan die liefde - die ontwikkeling, verlies en nuanses daarvan.

In dié roman, wat in keurige Afrikaans geskryf is, stel Paul liefde en haat, goed en kwaad naas mekaar. Al die karakters het 'n verlede. Almal wroeg oor iets en daarom kom hulle die heling van Eva van Eden (sic) se Paradyskloof soek. Die agtergrond waarteen die roman hom afspeel, veral die tuin met sy agt dele, word uitstekend en gedetailleerd weergegee.

Xanthe Tredoux, die heldin, is 'n vryskut-joernalis wat in opdrag van die redakteur van 'n tydskrif na Paradyskloof gaan om die eienaar as 'n charlatan te ontbloot en iets te skryf oor die enigmatiese Minette Minnaar, wat 'n fenomenaal suksesvolle liefdesverhaalskrywer is. Dit bring Xanthe in aanraking met Math Stone, wat ook op 'n missie is, en dit beteken vuurwerke. Die rus-/skuilplek is slegs per vliegtuig toeganklik, want dit is afgesny van die buitewêreld. Moorde vind plaas of het plaasgevind.

Die onkonvensionele speurder met sy eie probleme, Gys Niemand, moet oplossings vind. Hy het reeds in Springgety verskyn en wil-wil herinner aan Deon Meyer se inspekteur Bennie Griessel en Andrew Brown se Inspector Eberard Februarie. Gys is verstrik in sy liefde vir sy "rykgat" prokureurniggie, Gertjie, wat skynbaar ook sy bewaarengel is. Daar is lekker humor in die interaksie tussen hom en haar en hom en konstabel Fortuin (sic).

Fortuin die roman is propvol intrige, broeiende onheil, inligting oor heksery (die Wiccan-hekse) en romanse. Die leser moet konsentreer, want die boek is dig van raaisels, vermoedens, kinkels in die kabel, verdagmakery, bespiegelings, rites en moordwapens. Aan die einde moet die drade bymekaargetrek word, en die bronne van misterie, motiewe en tragedies van die verlede word deur lang dialoog verduidelik en uiteengesit. Soos in Springgety kry ons dus weer 'n gedetailleerde verduideliking van die moordenaar se motiewe en lewensverhaal. Die persoon is natuurlik die een van wie jy dit die minste verwag.

Die verrassingselemente is amper oordrewe, maar dit boei mens beslis.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top