CGS de Villiers (1894–1978)

  • 0

Sêgoed van CGS de Villiers

"Natuurlik is dit lekker om te lewe en die een wat vir jou sê dis nie lekker nie, lieg lat hy bars." (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

Hoekom hy die wetenskap as studierigting gekies het: "Nuuskierigheid. Onversadigbare nuuskierigheid. Ek wou weet, altyd wéét. In Zürich het ek kennis gemaak met die klassieke Duitse wetenskap, wat daarin bestaan dat ’n mens klein stukkies eksakte waarneming doen voordat jy met ’n sinteses kom. Dit was altyd my instelling as dosent in die soölogie: Oppas vir ’n te vinnige sintese. Dis nie belangrik om die feite te ken nie. Die belangrikste is dat ’n mens moet leer dink." (Aan Audrey Blignault in Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

"Ek wou eintlik aan die Overberg teruggee wat reeds aan die Overberg behoort het en wat mettertyd verlore gegaan het. Ek wou vertel van die plaaskultuur van ’n driekwart eeu gelede, want dit was iets wat ek baie goed geken het ... nie uit hoorsê nie. Ek ken dit uit my eie murg en been." (Rooi Rose, Maart 2005)

"Soos die ouderdom in jou liggaam opkruip en dit aftakel, ontstaan daar by jou die verlange om die een of ander tyd van die lewe afskeid te neem." (Die Burger, 29 November 1978)

Wat het aanleiding gegee dat hy as wetenskaplike begin skryf het? "Die skrywer en die bioloog word albei besiel deur die wonder. Ek was verplig om te skrywe omdat vanslewe se mense lank ná hul dood my so aanhou lastig geval het. Hulle het my gedwing om notisie van hulle te neem." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

Speel die verbeelding ’n groot rol in sy skryfwerk? "Ek fantaseer nie graag nie. Ek neem ’n gebeurtenis en dan borduur ek aan dié tema – dikwels tot ergernis van Overbergse lesers wat die ou mense herken. Maar – sonder fantasie kan ’n mens nie lekker vertel nie. My familie (wat NIKS van my werk hou nie!!) sê ek lieg lat ’k bars. Lieg is hulle woord vir fantaseer." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

Hoe het hy die vreemde tale "opgetel"? "Ek kan nie ’n taal 'optel' nie. Ek moet sy bou en skelet gebruik en dit dan met vleis beklee. Ek praat ’n vreemde taal altyd beter as wat ek dit verstaan. Hoe minder ek ’n taal praat, hoe beter doen ek dit. In ’n Romaanse taal moet ’n mens die verbuigings van die werkwoorde uit jou kop leer! Daar is geen ander metode." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

"U staan in hoë mate afsydig teenoor akademie- en dié amptelike letterkundige gedoe. Hoekom?" "Kyk, ek raak maar aan die soom van die kleed van die grote KILTIER. Ek is ook glad nie Diets georiënteer nie. Ek sê ook dikwels vir myself: 'Connie Viljee, jy is ’n verteller van stories en niks meer nie.' Ek is ook maar sleg literêr gedissiplineerd."

Sy mening oor literêre kritiek en of hy hom laat beïnvloed daardeur: "Seker! Maar net van my proefkonyntjies, my vriende wat beter weet as ek. Ek is bereid om van enigiemand te leer, tensy ek vermoed dat hy my met sy geleerde kritiek wil imponeer." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

Stem hy saam met die kritici wat beweer dat die Sestigers soms nie Afrikaans korrek kan gebruik nie: "Nee, hulle kan, maar hulle wil nie, want die Sestiger moet ten alle koste prikkel. Die Sestigers streef na die internasionale en die oorspronklike, maar reeds Goethe het mos gesê dat dié wat die oorspronklikheid agtervolg kapabel is en hardloop dit nooit in nie." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

Hoe voel hy oor die ouderdom? "Ek vra Browning en hy antwoord: 'Grow old along with me, the best is yet to be.' En hy lieg. Geen wonder dat sy aandele sterk gedaal het nie. Dan vra ek Goethe, en hy sê: 'Die ouderdom is niks as ’n koue koors nie.' Die ouderdom het nie onverwags op my toegesak nie, dis algemene menselot, en as jy nie doodgaan nie, sal dit jou ook nie oorslaan nie. Dit is elkeen se plig om nugterheid aan te leer." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

Die redakteur van Tydskrif vir Letterkunde (1969) wou weet wat sy beskouing is oor die benutting van ons eie grondstof soos ons geskiedenis, veld, natuur, ensovoorts: "Natuurlik is ons eie milieu ons materiaal. Jy hoef nie jou roman in Parys te laat speel om dit 'grootser' te maak nie. Ek erg my ook bloedig wanneer die beterweters ons wil wysmaak dat vaderlandse stof nie deug nie. Dink aan Ibsen se sagadramas en aan Shakespeare se koningdramas." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

"Ek sien in die jong geslag al dié foute wat ek self begaan het. Ek kyk terug op ’n interessante lewe, maar senza rancore. Net een ding grief my: die kultus van die lelike en die Afrikaner wat hom laat wysmaak dat die lelike mooi is. Ook op kunsgebied kan die wêreld nie staties wees nie. Maar, hoe stel Julianus die Afvallige dit in Ibsen se Keiser en Galileër? – 'Die Oue is wel nie meer skoon nie, maar die NUWE is nog nie waar nie." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

"Vir diegene wat werklik lewe, is die ouer geslagte mos nie dood nie. ’n Mens moet weet wie jy is, waar jy vandaan kom. Gegewens oor ons voorgeslagte behoort versamel te word." (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

’n Blywende plesier is sy lewe: "Lees, man, lees. Ek was my lewe lank ’n onversadigbare leser. Is dit nog. In ons huis op Donkiespad was daar Nederlandse boeke. Pa s’n. Daar was een boek wat ek uit die huis uit gesmokkel het en stilletjies in die veld gelees het. Dit was De werken van Vader Chniquy. ’n Regte skokverhaal oor hoe dit in die kloosters toegaan. In vergelyking daarmee is Lady Chatterly's lover soos mak fisiologie." (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

"Vandag weet ek: die hoogste vorm van musiek is die volkslied. So gou as musiek stagneer, red die volksmusiek dit weer. Dink maar aan Brahms en Smetana. Brahms het nege bande met verwerkinge van Duitse volksliedere uitgegee, Smetana is sterk beïnvloed deur Tsjeggiese volksmelodieë. Ek besit nou nog suster Hannie se dik boek afskrifte van die volksliedjies wat ons om die klavier gesing het. En haar Kinderharp. Hoe het tant Lenie Stefaans tog altyd gesê. As jy maar net jou tawwerd lank genoeg dra, kom dit weer in die mode." (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

Watter van sy werkgebiede het aan hom die diepste bevrediging verskaf? "Die wetenskap was my eerste liefde. Die wetenskap bly my eerste liefde. Wat die wetenskap betref, glo ek niks op gesag nie. Wat my godsdienstige geloof betref, het ek geen bewys nodig nie. As ’n mens na my toe kom en hy sê vir my: 'Weet jy wat, ons het nou bewys dat God bestaan', dan sê ek: 'Daai God kan jy maar vir jou vat. Ek het geen bewys nodig dat my God bestaan nie'." (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

Gebore en getoë

Op 16 Desember 1894 is Cornelius Gerhardus Stephanus (alom bekend as dr Con) op die plaas Dunghye-Park (Donkiespad) in die distrik Caledon in die Overberg gebore. Hy was die seun van Andries Stephanus de Villiers en Cornelia Gertruida Susanna (Nelie) Swart. As laatlam is hy na sy ma vernoem. Sy oudste broer, Jan Jeremia, was 27 jaar oud toe Con gebore is en daar was ses jaar verskil tussen hom en sy broer, Andries, wat net ouer as hy was. Behalwe Jan en Andries was daar ook sy broer Johan en twee ouers susters, Hannie en San.

Donkiespad was sy oom se plaas, wat as parlementslid nie kon boer nie en om daardie rede het sy pa vir hom geboer. Sy pa het sy eie plaas verhuur omdat hy daar asma gekry het.

Sy ma en pa was reeds bejaard toe hy gebore is. Sy pa was 52 jaar oud en sy ma 48 jaar. Hy het aan Audrey Blignault (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974) vertel dat sy suster Hannie hom maar grootgemaak het. "Van al die mense in my lewe was ek vir haar die liefste. Ek was altyd ’n kind tussen grootmense, oumense."

Omdat hy so lank na die ander kinders gebore is, was hy as kind baie alleen. In haar artikel oor CGS de Villiers in Die Kultuurhistorikus (Oktober 1992) skryf Cornelia de Kock: "Hy het tussen oumense grootgeword en hul gesprekke aandagtig gevolg. Hy was ’n wonderbaarlike kind."

Sy pa het geglo dat ’n kind nie iets moes leer of geleer moes word gedurende sy voorskoolse jare nie, maar met die jong Con het sy pa hom misgis. Hy was ’n baie nuuskierige kind en het jonk-jonk, nadat hy vir hom Nederlands uit Ons land geleer het, die koerante begin lees.

De Kock skryf verder: "Op ’n dag het hy agtergekom dat hy baie lang woorde soos 'levensversekeringsmaatskappij' kon lees. Hy kon lees, skryf en Engels praat voordat hy skool toe is!"

Hy is as negejarige seuntjie vir die eerste maal skool toe. Hy het die plaasskool Solitaire in die Caledon-distrik bygewoon. Dit was so ongeveer ses myl van hulle plaas. ’n Skoolinspekteur het reeds terwyl die jong Con nog in hierdie plaasskool was, ’n hoë indruk van sy intellektuele vermoëns gehad.

Oor die rol wat Solitaire in dr Con se vormingsjare gespeel het, haal De Kock in haar artikel aan: "As ek nou so terugkyk op my jare op die plaasskool, dan kan ek in alle eerlikheid en sonder romantiese bybedoeling sê dat dit een van my waardevolste ondervindings was. Dit het my geleer om minder gegoede volksgenote te verstaan en lief te hê. Dit het my ook in staat gestel om deur die proses en fieterjasies van geëmansipeerde Afrikaners te sien en eenvoud en troue burgerlikheid te waardeer."

Toe Con tien jaar oud was, het sy ma gesterf en is sy pa met die weduwee Hannie Krige van Caledon getroud.

Nadat hy sy laerskoolopleiding voltooi het, is hy na die dorpskool op Caledon waar hy in 1911 sy matriek in die eerste klas deurgekom het. In die dorpskool was Samuel Hobson, een van die twee Hobson-broers wat ook skrywers was, een van sy onderwysers. As jong seun het Con klavierlesse by Miss Frederica Scheuble op die dorp geneem, asook by die Duitse Fraülein Markgraaff. Hieroor het hy teenoor Audrey Blignault (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974) uitgewy: "Maar sonder dat ek ook maar die allervaagste begrip van musiek gehad het, het die statige ou koraalwysies van die gesange en 'besallems' soos die Boermense hulle altyd genoem het, reeds in my kinderjare besit geneem. Die Kinderharpe en Sankey-liedere het ek ook graag gesing, maar party van hulle het my bang gemaak, soos 'Kloppend, kloppend, wie is daar?' en 'Oh, where is my wandering boy tonight?' Ons het ook baie ou volksliedjies gesing wat vir my heerlik was." Hierdie belangstelling in en liefde vir musiek was sy hele lewe lank deel van dr Con.

Verdere studie en werk

Con de Villiers is in 1912 na Stellenbosch waar hy aan die destydse Victoria-kollege studeer het. Hy het aanvanklik privaat loseer, maar was later ’n inwoner van Wilgenhof-koshuis. In sy eerste jaar het hy die verpligte Intermediêre kursus gevolg met vakke soos Latyn en Wiskunde. Die volgende jaar het hy sy studies vir ’n BA-graad begin, met Geologie, Engels, Etiek en Politiek en Geskiedenis as sy vakke. Die geskiedenisklasse het hom nie aangestaan nie en nadat hy ’n lesing in dierkunde bygewoon het, het hy oorgeskakel na hierdie vak. Professor Goddard, vanaf 1911 tot 1922 professor in Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, het ’n belangrike vormende invloed op hom gehad. Hierdie oorskakeling na dierkunde het hy later beskryf as "’n groot omwenteling" in sy lewe. De Kock vertel dat hy dikwels Pirandello, ’n Italiaanse dramaturg, se woorde aangehaal het: "Die groot omwenteling in ’n mens se lewe word deur nietighede veroorsaak en daarna is jy nooit weer dieselfde nie."

In 1914 het hy sy BA-graad behaal met ’n onderskeiding in soölogie en sy M-graad in soölogie in 1916 met die Coelenterata (see-anemone, jellievisse en verwante vorme) as sy verkose studieveld. Toe hy 21 was, is hy na Pretoria waar hy ’n onafhanklike afdeling aan die Transvaalse Universiteitskollege gestig het en ook die eerste lektor op die gebied was. Hy was vir vyf jaar verbonde aan hierdie universiteit.

In 1919, drie jaar nadat hy sy M-graad behaal het en ná die wapenstilstand wat op die Eerste Wêreldoorlog gevolg het, is hy na die buiteland om sy studies vir sy doktorsgraad te begin. Hy is na Zürich in Switserland waar hy aan die Kantonale Universiteit onder proff Karl Hescheler, Daiber en Strohl dierkunde studeer het, asook onder proff Schinz en Ernst in plantkunde en in fisiese antropologie onder prof Schlaginhaufen. In 1922 het hy sy doktorsgraad met prof Hescheler as promotor behaal. Sy studieveld was die ontwikkeling van die borsskouerapparaat by paddas.

In dieselfde jaar is dr Con terug na Suid-Afrika en spesifiek na die Universiteit van Stellenbosch as tydelike dosent in soölogie. In 1923 is hy aangestel as professor, die opvolger van professor Goddard. Hy het hierdie amp beklee tot en met sy aftrede in 1959.

Dr Con was instrumenteel in die vestiging van die departement van soölogie tot ’n baie sterk skool vir vergelykende anatomie en embriologie van werweldiere. Die biblioteek wat vir die studieveld daargestel is, is baie volledig en het deur die jare studente van die wêreld oor gelok. ’n Student van Duitsland het in 1991 ’n doktorsgraad in soölogie aan die Universiteit van Stellenbosch behaal.

Onder buitelandse professore was dr Con baie bekend en professor Alberto Simonetta van die Soölogiese Instituut van Camerino en van Florence was veral baie beïndruk met die hoë standaard van die skool vir morfologie wat deur dr Con daargestel is.

Dr Con is in 1934 na Europa waar hy aanvanklik by die Universiteit van Rome as "Graaf Labia"-gas in die Instituto di Anatomie Comparata saam met professor Cotronei gewerk het. Hy het sy reis in Europa onderbreek om ’n besoek aan Amerika te bring. Daarna is hy as gas-professor na die Anatomiese Instituut van die Universiteite van Göttingen (professore Fuchs en Stadtmüller), München (professor H Marcus), Leipzig (professor Fahrenholz) en Breslau (professor Von Eggeling).

Tydens sy verblyf in Rome is dr Con deur die Carnegie Corporation for International Peace genooi om aan verskeie universiteite lesings te hou oor sy navorsingswerk en in daardie hoedanigheid het hy besoeke gebring aan die Universiteite van New Mexico in Albuquerque, California "at Los Angeles", Oregin in Eugene en Harvard in Cambridge, Massachusetts. Die Amerikaners se hoë dunk van dr Con het duidelik geblyk uit die bedankingsbriewe wat die onderskeie universiteite aan die Carnegie Corporation geskryf het. Sy navorsingswerk het hoofsaaklik gehandel oor die ontogenese van die werweldierskelet en is gepubliseer in Duitse, Engelse, Switserse, Sweedse, Amerikaanse en Suid-Afrikaanse vaktydskrifte, maar veral in die Anatomischer Anzeiger.

As wetenskaplike, spesifiek op die gebied van die vergelykende anatomie en vergelykende embriologie, het dr Con ’n noemenswaardige bydrae gelewer. In die 22 jaar sedert 1924 het 31 wetenskaplike publikasies waarvan hy die alleen-skrywer was in Afrikaans, Engels en Duits verskyn. Sy lesings en sy leiding aan nagraadse studente het menige student besiel.

Dan het dr Con nie net sy diepgaande kennis van sy vak aan sy studente oorgedra nie, maar het hy hulle ook verryk met ’n algemene kulturele agtergrond – sy lesings oor dierkunde was altyd deurspek met aanhalings uit Goethe, Dante, Pirandello en andere. Van sy gereelde aanhalings het later deel van Afrikaans as spreektaal geword. Een daarvan was Goethe se gesegde "Wie die oorspronklikheid najaag, is kapabel en haal dit nooit in nie" oor mense wat poog om baie oorspronklik te wees. (Cornelia de Kock)

Op die gebied van die kunste was dr Con seker een van die veelsydigste mense. Hy was skrywer van ses bundels vertellings en sketse wat meestal gehandel het oor die Overberg, sy geliefde landstreek. Resensies oor sy bundels was oor die algemeen baie gunstig. Hier volg uittreksels uit besprekings van sy werk:

  • Snel dan jare (1954) en Klein vaderland (1956) "Die eerste versameling van sy sketse uit Die Huisgenoot is Snel dan jare, wat uitmunt met ’n intieme vertelstyl waarin die vergange belewenisse, maar ook die gemoeds- en verbeeldingslewe van die waarnemer, weergegee word. Soortgelyk is die sketse in Klein vaderland, waar veral Die klipmuur met sy simboliek van die verganklikheid van alle dinge en die begrensing van die natuurlike ’n hoogtepunt is. Die skets Die swygsames beskryf die vertellers se sonderlinge ervaring om as jong gas by die gasvrye bejaarde egpaar oom Eerk en tant Fyta aan tafel te sit. Die twee oumense het nooit direk met mekaar gepraat nie, maar altyd van ’n tussenganger gebruik gemaak as hulle iets vir mekaar wou sê. Die oorsaak en rede hiervoor bly egter duister. Die tema van die vereensaming van die twee oumense en die komplekse aard van menseverhoudings word knap gedemonstreer, sonder dat ’n simplistiese oorsaak of rede daarvoor verskaf word. In Helderfontein staan die romantiek en idealisering van die verteller in regstreekse teenspraak met die hoofkarakter, tant Hendriena, se aardsheid en nugterheid. Dit lei tot ’n boeiende konflik tussen die verteller en sy karakter. Elize Botha neem Ma se Gesangboek uit hierdie boek op in haar versamelbundel oor Afrikaanse essayiste." (Rob Antonissen, Standpunte, 1954)
  • Donkiespad (1961): "Dié keer gaan dit nie soseer oor die mense nie, meer oor die lewenswyse van daardie vergange tyd. Soos die skrywer sê: nou moet hy 'Ma se enigste oorlewende spruit, vertel hoe dit vanslewe op ’n groot Overbergse plaas gegaan het'. Waaroor ek veral bly is, is dat melding gemaak word van die groot rol wat destyds se verenigings in die plattelandse kultuurlewe gespeel het." (Die Burger, 15 Desember 1961)
  • Overbergse eergister (1961, met herdruk in 1965): "Die tweeledige titel van hierdie bundel prosastukke dui onmiddellik sy stofgebied aan, en die romantiese instelling waarmee hy andermaal sy onblusbare lewensdrif en sterk humoristiese kyk uit die lewe vertel. (...) Die vorm wat die uitbeelding van hierdie mense in hulle eie wêreld van die Overbergse eergisteraanneem, is nie dié van die objektiewe verhaalbeeld van die gekonsentreerde kortverhaal nie, maar eerder dié van die meer subjektief-gesellige vertelling waarin die warm stemklank van die verteller in gemoedelike geselstoon, duidelik by die leser bly, terwyl hy tydsaam draal by enige punt in sy verhaal. Die leser is steeds bewus van die teenwoordigheid van die verteller, en dit veral, deur die lewende Caledonse spraak – brei-r inkluis – soms deur die spelling en tipiese lokale woordvorme en segswyses gesuggereer." (FV Lategan, Huisgenoot, 15 Desember 1961)
  • Medereisigers (1964): "Nuwe Overbergse sketse deur daardie aarts-Overberger, dr Con de Villiers, is altyd ’n belangrike en verblydende gebeurtenis. En, te oordeel na hierdie jongste bundel, Medereisigers, is daar nie die geringste afname in die skrywer se lewensdrif, sy heerlike baldadigheid, sy humor en bowe-al sy hartstogtelike liefde en belangstelling vir dié streek waaraan die pragtige naam Overberg gegee het. (...) In sy mooi stemmingsvolle voorwoord tot hierdie nuwe bundel stel die skrywer sy doel soos volg: 'In hierdie bundel vertel ek van my medereisigers na die verre verskiet. Soos in die ou Duitse spreuk het ons gelewe, en nie geweet hoe lank nie; wis ons dat ons moes sterwe, maar nie wanneer nie; het ons gereis en nie geweet waarheen nie... Maar kom bog! Die lewe is interessant en lekker, al wonder ons soms hoe ons so vrolik kan wees.' (...) Die sketse lewer meer as genoegsame bewys van ’n sterk literêre vermoë. Met uiters spaarsame middele kan die skrywer ’n ingrypende lewensmoment onvergeetlik vasgelê. Sy beelding van tant Menrensia in 'Die vaas' het die ingetoë krag van ’n Tsjekhov-kortverhaal." (Audrey Blignault, Sarie Marais, 23 Desember 1964)
  • Goue fluit, goue fluit (1968):
  • "Dat CGS de Villiers met sy Overbergse sketse en vertellings ’n unieke bydrae lewer tot die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner, is algemeen bekend en word algemeen waardeer, maar sy werk is méér as Africana: dit is ook ’n geskakeerde bydrae tot die Afrikaanse kortkuns. Hiervan getuig Goue fluit, goue fluit So Coniaans – om Audrey Blignault aan te haal – is sy stukke dat dit soms lyk of hy ’n eie genre geskep het. Mooi bekyk, beoefen hy slegs konvensionele vorme van die kortverhaal, met al die plooibaarheid wat dié vorme het – die essay, die skets, die kort-kortverhaal, en ’n keer of wat vorme wat as prosas kan kwalifiseer, Maar watter genre-etiket uiteindelik aan ’n stuk geheg is, is nie so belangrik nie, want dis nog geen waarde-oordeel nie; hoofsaak is dat ’n stuk ’n besielde eenheid is. Die besieldheid van CGS de Villiers is die somtotaal van baie deugde, hebbelikhede én onhebbelikhede; tog reken ek dat dit na een oorheersende eienskap kan herlei: piëteit vir die natuur; piëteit vir die woord – vir die Afrikaanse woord in die algemeen, vir die woord van sy 'klein vaderland' in die besonder. Meestal is sy styl rustig-betogend of gesellig, al na gelang van sy onderwerp, maar soms kry dit ’n merkwaardige dramatiese vaart. (...) Sy skryfwerk is ’n verryking van én ons Africana én ons kortkunsbesit." (HA, Die Burger, 29 November 1968)
  • "Die stories wat die goue fluit laat hoor in hierdie jongste bundel, het ook as onderwerp mense en voorvalle uit die verlede en hede van dr Con se kontrei, maar hy vertel so onderhoudend, so beeldend, op so ’n eie kenmerkende wyse dat die boekie ook ’n groter aksie-radius kry. Ons het hier in die kleine ’n beeld van die karakteristieke eienskappe van die Afrikanerkultuur soos ons dit in ons grootouers, ons ouers en selfs by onsself (...) Vir wie hierdie boeke gaan lees, wag daar pragtige ontdekkings. Groot literatuur is dit seker nie volgens ons huidige maatstawwe nie, maar dierbaar en kostelike literatuur wel. En ek wil voorspel dat dr Con se vertellings ook nog eendag 'ontdek' sal word en met nuwe oë beskou en gewaardeer sal word – soos ons die prosaïs Eugène Marais maar enkele jare gelede na waarde begin skat is met die heruitgawe van sy Dwaalstories." (PD van der Walt, Transvaler, 30 Desember 1969)
  • Soete Inval: nagelate geskrifte van Con de Villiers (1979):
  • "In Soete Inval, ’n kort keur uit dr Con de Villiers se nagelate geskrifte, vind die leser nie net dr Con se outobiografie nie, maar ook drie kort streekstukke. Die grootste gedeelte van dié bundel word egter beslaan deur ’n outobiografie wat hy twintig jaar gelede geskryf het en wat sy kinder- en skooljare, sy studentetyd en die belangrike periode toe hy dosent en wêreldreisiger was, dek. Die drie korter stukke is nie op dieselfde vlak as van sy beste Overbergse stukke nie. Enigeen wat maar net die minste kennis dra van dr Con de Villiers se ryk en geskakeerde lewe, sal onmiddellik besef dat ’n kort outobiografie van slegs sestig bladsye nie naastenby reg aan die hierdie figuur kan laat geskied nie. Wie egter ook kennis dra van sy ander skryfwerk, sal besef dat dit as aanvulling gelees moet word by ’n oeuvre wat in sy geheel sterk outobiografies is. (...) Al toon Soete Inval nie die volle spektrum van hierdie komplekse persoonlikheid nie, gee dit die leser tog ’n belangrike beeld op ’n groot en universele gees." (JP Smuts, Die Burger, 6 Desember 1979)
  • "’n Lieflike mémoir, klinkklaar van egtheid, onnutsig en hartseer om die beurt: alles één dankie sê oor die onbegryplike van ’n lewe wat só mooi en vol kan wees." (André P Brink, Rapport, 27 Januarie 1980)

Benewens sy Overbergse sketse en vertellings was Con de Villiers ook ’n uitstekende vertaler. Deur sy vertalings kon Afrikaanse lesers werke van meesterskrywers in Italiaans, Noorweegs en Duits in hulle eie taal lees. Hy het nie net Knut Hamsun se romans, Groeiende aarde en Viktoria, uit Noorweegs vertaal nie, maar ook Luigi Pirandello se drama Die lewe wat ek jou geskenk het uit Italiaans. Twee kinderboeke, Finn Havrevold se Maren se uiltjie en Ingvald Svinsaas se Tom in die berge, is deur De Villiers se vertalings uit Noorweegs aan Afrikaanse kinders bekendgestel. Vir sy vertaling uit Italiaans van Grazia Deledda se Elias Pórtulu het die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns in 1935 die Akademie-prys vir vertaalwerk aan hom toegeken.

Hy het teenoor Audrey Blignault uitgebrei oor sy vertaling en waar hy van die tale aangeleer het. "Noorweegs het ek in Pretoria geleer. Daar was baie Noorweegse families in Pretoria toe ek daar was. Ek het hulle leer ken en wou graag hulle taal leer praat. En my kennismaking met Noorweegs word toe die poort na ’n groot en heerlike letterkunde. Italiaans het ek in Zürich begin leer. Duits was die voertaal aan die Universiteit van Zürich. Van die skrywers wie se werk ek vertaal het, het ek persoonlik geken. Knut Hamsun, sy vrou en twee seuns het ek goed geken. Met Grazia Deledda was ek ook goed bevriend. En met Sigrid Undset. Pirandello het ek twee keer ontmoet."

Dr Con was ses tale – Afrikaans, Engels, Duits, Frans, Noors en Italiaans – magtig. Hy kon homself ook help in Spaans en Tsjeggies en het volksliedere uit Russies en Hongaars vertaal.

Hy het in die Volksblad-bylae van 14 Desember 1974 aan Audrey Blignault vertel van die oorsprong van sy belangstelling in die drama en toneel. Dit het in Zürich in Switserland ontstaan toe hy tussen 1918 en 1923 daar studeer het. "In die na-oorlogse jare was Switserland die een land in Europa wat geld gehad het en die Pfauen-teater in Zürich was die middelpunt van die Europese toneellewe. Al die groot akteurs van daardie tyd het daar gespeel in die dramas van Wedekind, Ibsen, Strindberg, Hauptmann, Shaw. Toe ek terugkeer na Stellenbosch – dit was in die jare twintig en dertig – het die Universiteit van Stellenbosch nog geen drama-departement gehad nie. Nou ja, toe het ek maar self ’n klompie dramas in Afrikaans vertaal.

"Ek beskou Ibsen as een van die groot leermeesters van die moderne mens. Dis hy wat gesê het: 'Die lewe is ’n stryd met trolle – bose magte – in die gewelf van ons brein en ons hart, maar om te dig, is om in oordeel te sit oor jouself'."

Verskeie klassieke dramas is aan die Universiteit van Stellenbosch onder dr Con de Villiers se regie opgevoer – voordat daar nog sprake van ’n dramadepartement aan die Universiteit was. Hy het meeste van die tyd sy eie vertalings van oorsese dramas gebruik. Só het hy baie talent, onder andere Anna Neethling-Pohl, onder die studente raakgesien.

Een van dr Con se groot liefdes was musiek. Hy het deur die jare heelwat lesings oor musiekwaardering gelewer en hierdie bydraes van hom was die impetus agter geslagte musiekbewuste studente. Deur sy artikels vir koerante soos Die Burger en tydskrifte soos Huisgenoot het hy musiek in die algemeen en sang in die besonder bevorder. Hy het saam met Gladys Hugo en Joan van Niekerk konserttoere na die uithoeke van die Bolandse platteland onderneem en in 1945 was hy een van die stigters van die Stellenbosse Sangfees.

Sy plateversameling is beskou as een van die mees uitgebreide versameling ter wêreld. Hy was verantwoordelik vir die vertaling van liedere uit Tsjeggies, Italiaans, Duits en Frans en van hierdie vertalings is in die FAK Volksangbundel opgeneem. Sy vertalings van liedere was egter nie net beperk tot volksmusiek nie, aangesien hy ook verantwoordelik was vir die vertaling van enkele opera-kore in Afrikaans en met sy vertaling van Die skepping van Haydn, Messias van Händel, Bach se Mattheuspassie, asook sy verwerkinge van gesange 142 en 201 het hy ’n belangrike bydrae tot ons kerkmusiek gelewer. Hy het ook ’n deeglike studie van die geskiedenis en waarde van kerkmusiek gedoen en was waarskynlik die eerste persoon in Afrikaans wat hom op dié gebied begewe het.

Vir opvoering deur die destydse Transvaalse en Kaapse Rade van Uitvoerende Kunste vertaal hy Bellini se opera Norma en Donizetti se opera Rita in Afrikaans. Met sy vertaling van die komponis Adolphe Adam se Kerslied, Met middernag keer feestelik weer die stonde, lewer hy ’n belangrike bydrae tot die skatkis van Afrikaanse Kersliedere.

Sy boek met anekdotes oor musiek en musici, getiteld Musici en mense, het in 1958 verskyn. In Die Noordwester van 5 Desember 1958 het J de Beer as volg geskryf: "Hierdie is ’n andersoortige bundel vertellings as sy ander werke. Dit is ’n bundel sketse oor musiekmeesters soos ons nog nie in Afrikaans gehad het nie. Dit wemel van anekdotiese genot, heerlike alledaagse Afrikaans en humor net so fyn as die stembuigings van ’n liriese sanger. Om hierdie sketse te lees wat deur so ’n fyn musiekkenner en -liefhebber geskrywe is, is om elke musiekaand saam met hom te geniet en die genot wat hy gesmaak het, jou eie te maak. Dr Con leef so intens in sy herinneringe mee dat sy vertellinge plek-plek byna sprokiesagtig klink."

In Die Burger van 25 November 1958 het RN (Rosa Nepgen) nie so baie komplimente uitgedeel nie: "Los geselsies of anekdotes as 'ouderdomsverskynsel', soos dr Con de Villiers dit noem in sy inleiding tot Musici en mense, kan inderdaad uiters interessant wees. In sy eerste boekie, Snel dan jare, was dit selfs buitengewoon geslaagd en byna sonder uitsondering het alle lesers dit enduit geniet. Hierdie nuwe boekie het my laat dink aan ’n liewe ou dame, self sangeres, wat altyd met die grootste beslistheid gesê het: 'I don't like musical men!' ’n Musikus verstaan presies wat sy met dié oënskynlike onredelikheid bedoel het. In dr Con se sketse vind ’n mens talle voorbeelde van dieselfde soort redenasie, maar ongelukkig sal die musikus in heelwat van dié gevalle voel dat daar weinig méér as onredelikheid in die beweringe steek. By al die grappigheid en anekdotes verraai die musikale amateur van tyd tot tyd sy tegnies-musikale misvattinge, soos byvoorbeeld op bladsy 29 die opmerking oor die Waldstein-sonate, sy afkeur van variasies, Beethoven, Chopin, die ballet en oratorium!"

Dr Con was ’n Afrikaner, maar die bewustheid van sy Afrikanerskap was nie altyd aanwesig nie. Hulle wat agter die berge van die Hottentots-Holland gebly het, was basies onbewus van die roeringe in die res van die land. So ook was hulle nie eintlik geraak deur die stigting van die Unie in 1910 nie. Dieselfde ook met die erkenning van Hollands as amptelike taal. "Hollands was vir ons ’n nog vreemder taal as Engels," het hy aan Audrey Blignault gesê. "In my skooljare en selfs in die begin van my universiteitsjare het ek my tuisbriewe nog in Engels geskryf.

"Bewuswording van my Afrikaanswees het in Pretoria gebeur. Toe ek in 1915 soontoe is, het ek kennis gemaak met die ou Republikeinse families van Transvaal: die Eloffs, ou ta’ Hannie Joubert, Piet Joubert se vrou, die Van der Byls, oom Tielman Viljee. En daar het ek met ’n duiselige vaart tot die ontwaking gekom van wat ek was: ’n Afrikaner."

Nadat dr Con in Desember 1959 afgetree het, het hy feitlik al sy aandag gewy aan sy navorsing op genealogiese gebied. Sy ma was ’n nooi Swart en in 1977 is Die geslagsregister van die familie Swart deur die RGN gepubliseer. Ná sy dood, in 1997, is sy navorsing oor die De Villiers-familie in Suid-Afrika gepubliseer. Familie De Villiers Family in South Africa. Vol 1 & 2 is begin deur dr Con saam met Christoffel C de Villiers en is voltooi deur Juna Malherbe en Alet Malan. Hy het etlike artikels oor families in die Overberg en Hugenotefamilies vir tydskrifte soos Familia en die Hugenote Bulletin geskryf. In 1964 was hy een van die stigterslede van die Genealogiese Genootskap in Johannesburg.

Eerbewyse vir dr Con het nie agterweë gebly nie. Die mospaddatjie (Arthroleptella villiersi) wat in bergfynbos voorkom, word in 1935 na hom vernoem ter erkenning van sy belangrike bydrae tot die studie van Suid-Afrikaanse paddas. Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap vereer hom in 1937 met hulle hoogste toekenning, naamlik die South African Medal, en hy word ook voorsitter van hierdie genootskap. In 1939 ken die Koninklijke Vlaamse Akademie voor Wetenschappen, Letteren en Schone Kunsten in België lidmaatskap aan hom toe, terwyl die Akademie van Ferrara in Italië hom in 1947 met erelidmaatskap vereer. In 1948 vereer die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns sy werk op wetenskaplike gebied met die toekenning van die Havenga-prys. Die Universiteit van Stellenbosch ken in 1967 ’n eredoktorsgraad aan hom toe en in 1969 word hy ’n erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die Rapportryerskorps van Caledon vereer hom in 1967 op sy geboortedorp met ’n toekenning en huldigingsaand. In 1981 vernoem die Universiteit van Stellenbosch ’n groot lesingsaal in die JC Smuts-gebou vir Biologiese Wetenskappe na hom. (Wikipedia)

In 1974 met sy tagtigste verjaardag het Audrey Blignault wat van vaders- en moederskant van dr Con familie was, ’n onderhoud met hom gevoer (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974). Sy wou weet wat van die mense wat sê "die lewe is absurd, die lewe het g’n sin nie". Hierop was dr Con se onomwonde antwoord: "Pure houdings. Soos ons in die Overberg sê: Houdings van ta’ Leedja en die Engelse naam is Treesja. Die mens wil nie doodgaan nie. En daar is mos lekker dinge in die lewe. Baie lekker dinge.

"Soos afval, Haai, afval is darem lekker, hoor! O, daai harsings toegebind in blaarpensie. En die nesderm op die rooster gebraai! En wat dan van oom-en-tante, ons lekkerste Overbergse sop. Gemaak van gebreekte mielie en rooi Engelse boontjies en ’n geurige sout varkvelletjie. Kos, boerekos is van die lewe se lekkerste lekker.

"Wat nog, vra jy? O, ek hou van wind! Wind teen my gesig. Wind in die bome. Wind wat lewe en beweging oor die aarde bring. Maar nie die sedoos nie. Noordewind is my wind. En blomme, natuurlik blomme. Maar ek het in my testament gesê daar moenie blomme op my begrafnis wees nie. Ek is te lief vir blomme om hulle só te vermors. Wat peuter ’n mens nou met blomme by ou dooie beendere!

"En dan natuurlik mense. Ek het nog altyd groot plesier aan mense gehad. Nie alle mense nie. Ek het ook my blinde kolle. En ek hou nie van drelle nie. Ek kry swaar met ’n opgetakelde tante. Maar ek weet nie van ’n vyand nie. Die Bybel en gesangboek praat altyd van jou vyand. Maar ek weet nie waar daai vyand is nie."

Oor sy voorliefde vir musiek en sang het hy aan Audrey Blignault vertel: "Wáár ek aan die driftige belangstelling vir die musiek gekom het? Maar altyd gehad. Ons gesin was musikaal en het graag gesing. Ons het ’n klavier in die voorhuis gehad. Met ’n wonderlike roselamp en twee kerse. Tietie speel en ons staan om die klavier en sing.

"'Plaaskonsert' in Overbergse eergister, dink ek. Sus Sannie brom-brom so onderlangs in diatonies, woordlose tertse, maar sy brom mooi. En Kassin Jônnie met sy mooi basstem wat so uitblink in die koor van 'Het is wel met mijn ziel'. En sus Sannie wat die laaste treknoot lánk laat naklink."

Dr Con het meer oor sy ontmoeting met pous Pius XI vertel in sy skets "Om my skaamte te bedek". Hy het ook vir Audrey Blignault genoem dat ’n goeie Italiaanse vriendin van hom, mev Fiorentini, die pous se niggie was en dat dit deur haar toedoen was dat dr Con na die Vatikaan ontbied is.

Die afspraak was vir die Woensdagmiddag drie-uur in die Vatikaanpaleis. Hy moes ’n aandpak aanhê, maar sy boordjie en das moes bedek wees met ’n wit doek "uit respek vir Sy Heiligheid".

"By gebrek aan ’n gepaste wit doek, pluk ek ’n stoelkleedjie van een van die signorina se salonstoele af, drapeer dit om my nek en glip in die wagtende taxi. Uiteindelike bevind ek my in die heiligheid der heilighede van die Padro Santo. Hy vra my watter taal hy moet praat – hy self was verskeie kere as kardinaal ’n pouslike nuntius in verskeie lande en kan nege tale praat. Dit sê hy nie, maar ek weet dit.

"Ek antwoord dat my Italiaans gangbaar is, en Sy Heiligheid begin die onderhoud. Ons gesels, na aanleiding van my van, oor die lotgevalle van die Hugenote. Die onderhoud van vier minute word verleng tot twintig minute. Maar dit is soms nietige dingetjies wat ’n mens die beste onthou, en Sy Heiligheid pous Pius die Elfde, soos hy daar in sy priestersgewaad gesit het, was die ewebeeld van my stiefmoeder waar sy aan haar nimmereindigende borduurlappie sit en werk het."

Vanaf Januarie 1981 is ’n TV-reeks van ses episodes, getiteld Dr Con se Overberge, uitgesaai. Die reeks het onder regie van Manie van Rensburg gestaan en is by Baardskeerdersbos in die Suid-Kaap verfilm. Die stories het afgespeel vanaf 1900 tot 1925 en die karakters wat dr Con onsterflik gemaak het, verskyn in die reeks. Akteurs soos Jannie Gildenhuys, Johan van Jaarsveld, Limpie Basson, Marga van Rooy, Ernst Eloff, Wilma Stockenström en Annelize van der Ryst het in die reeks verskyn.

Dr Con het tot 1977 in sy woonstel in Soete Inval in Victoriastraat op Stellenbosch gewoon. Daarna is hy na Langverwag, woonstelle vir bejaardes. Cornelia de Kock skryf dat hy ’n groot vrees gehad het om alleen dood te gaan. "Teen die einde van sy lewe het hy vrede gemaak met die dood en opgemerk: 'Die ouderdom speek jou gaandeweg van die lewe'."

Dr Con de Villiers is op Saterdag, 25 November 1978, op 84-jarige ouderdom aan ’n hartaanval dood aan huis van sy broerskind, Michiel de Villiers, op Ceres in die Boland. Sy gesondheid het in die tydperk voor sy afsterwe vinnig begin verswak en hy was in ’n rolstoel.

Die begrafnis was op 28 November vanuit die NG Moederkerk op Stellenbosch. Hy het in sy testament pertinent gevra dat alle verrigtinge by sy begrafnis uiters eenvoudig moes wees. Dr WJB Serfontein het die ter aarde-bestelling waargeneem. In ooreenstemming met dr Con se wens dat geen blomme na sy begrafnis gestuur moes word nie, was daar slegs ’n paar tipiese veldblomme uit die Overberg op sy kis.

Huldeblyke:

  • Frits Stegmann: "Met die afsterwe van dr Con de Villiers het nie alleen Stellenbosch nie, maar die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap ’n besondere mens verloor. Soos Audrey Blignault tereg in 1969 by geleentheid van sy ere-lidmaatskap van die SA Akademie getuig het: 'Prof de Villiers het op ’n breër terrein meer bydraes van blywende waarde gelewer as enige ander Afrikaner van sy geslag.' (...) Dr Con het beroemde mense as persoonlike vriende gehad: mev generaal Piet Joubert, mev president Steyn, generaal Louis Botha, generaal Jan Smuts wat hom 'Tiny' genoem het, dr DF Malan, pous Pius XI, Mussolini, Willem Hendrik van Loon, sangmeester Pescia en selfs die akteur Boris Karloff. Tog was ware eenvoud vir hom die sleutel van alles, en dit is treffend dat sy begrafnis in ooreenstemming met hierdie wens van eenvoud plaasgevind het. Almal wat dr Con geken het, sal hom ewig dankbaar bly vir sy wysheid, vriendskap en innige menslikheid. Hy is ’n onmisbare groot gees." (Beeld, 4 Desember 1978)
  • Die Burger hoofartikel, 27 November 1978: "Die invloed wat die merkwaardige dr Con – soos almal hom geken het – op Stellenbosch onder ’n groot aantal studente gehad het, en op vele terreine dwarsdeur Suid-Afrika, kan nie maklik oorskat word nie. Hy was nie net leermeester en vertroueling vir baie nie; hy was met sy lewensvreugde ’n besieling vir vele. Sy heengaan sal deur duisende oud-studente van Stellenbosch betreur word, want hy was langer as dertig jaar een van die bekendste en mees geliefde persoonlikhede aan die Universiteit. Vir elke student wat by hom in die klas was, sal sy lesings – deur spel met humor en aardse sêgoed – onvergeetlik bly. Maar dit was veral buite die lesingsaal dat die studente hom intiem leer ken en aan sy voete gesit het om deur sy fenomenale kennis van musiek en sy diepe insigte in mense en die lewe gevoed te word. As geleerde was hy op sy vakgebied wêreldbekend. As skrywer en vertaler het hy die Afrikaanse literatuur verryk, veral met sy reeks van vertellings oor die mense van sy geliefde Overberg. Maar dit is as ’n besondere mens met sy kenmerkende Caledonse bry wat hy onthou sal word. Ons is dankbaar dat ons hom so lank by ons kon gehad het." (Die Burger, 27 November 1978)
  • Zuid-Afrika, 56(2), April 1979: "Met de heengaan van dr CGS de Villiers is heengegaan een typisch Afrikaner aristocraat en geleerde, wetenschapman en cultuurdrager van formaat – bioloog van professie, schrijver uit aandrift, musicus uit liefhebberij. Bolander naar voorkomst en voorliefde. (...) De brede belangstelling – gepaard met opmerkelijke voorkeuren – van dr Con, zijn talenkennis en bijzondere persoonlijkheid en internationale oriëntering op een fond van typisch Afrikanerschap hebben hem vele vrienden opgeleverd, variërend van Smuts tot Pius XI."
  • Ds TE Lombard: "Dit is onder die beskikkende hand van die Here dat dr Con byna 84 jaar gelede gebore is met sy verbysterende veelheid van talente. As ons aan hom dink, moet ons onthou dit is God wat hom in hierdie heel besondere talente begenadig het. God spreek ook die laaste woord in ’n mens se lewe. Dr Con het gesê dit is wonderlik hoe die Here ’n mens speen van die lewe. (...) Ons moet God loof vir die veelheid van talente wat dr Con in die diens van sy medemens gebruik het, dat ons hom geken het en dat hy lank aan ons geleen was." (Die Burger, 29 November 1978)
  • Johan Smuts: "Dr Con de Villiers was ongetwyfeld een van die grootste intellekte wat ons land opgelewer het, en sy prestasies op verskeie gebiede is voorwaar imponerend. (...) In ’n eeu waarin ons gewoond geraak het aan al hoe groter spesialisasie, tref die buitengewone veelsydigheid van iemand soos dr Con de Villiers jou as heeltemal uitsonderlik. Hier het ’n mens inderdaad te doen met ’n persoon wat jy as die universele mens kan bestempel. Hy was ’n kenner van die genealogie en die musiek in die breë en die sangkuns in die besonder. Sy genuanseerde kennis van etlike buitelandse tale het met die jare byna legendaries geraak, en dit het hom in staat gestel om ’n groot aantal meesterwerke uit die wêreldletterkunde op voortreflike wyse in Afrikaans te vertaal, terwyl hy verder ook ’n mooi bydrae tot ons letterkunde gelewer het met sy reeks Overbergse vertellings. (...) Elke gebied waarop dr Con presteer het, toon ’n nuwe kant van hierdie merkwaardige man se persoonlikheid. En tog was die ware mens CGS de Villiers veel meer as die somtotaal van al hierdie fasette. As ’n mens die voorreg gehad het om hom persoonlik goed te ken, het jy dit gou agtergekom. (...) Dr Con het die vermoë gehad om met almal – oud of jonk, geleerd of minder geleerd, wit of gekleurd – gemaklik om te gaan." (Volksblad, 28 November 1978)
  • Prof Alberto Simonetta van die Universiteite van Florence en Camerino: "I have always felt him to be basically a passionate and generous soul under a sort of forged tough bark, under which he disguised. He really loved the people in his entourage and was somewhat shy to show how much he loved them. His portrait is hanging on the wall and the side of my desk and he is looking down while I write. Damned sort of a man, I love him after so many years that he had died and I feel indebted to him for so many things besides what he taught my comparative anatomy." (Matieland, 1999)

Cornelia de Kock skryf in haar artikel in Matieland van 1999, "Universele genie was nederige Afrikaner", dat dr Con soms eienaardige maniere openbaar het. "Hy kon nie mense met uiteenlopende belangstellings in dieselfde geselskap hanteer nie, want '...dit kan my senuwees nie hou om verdeelde belange te hê in ’n sitkamer nie. Dan het ek myself verskoon.' Hy het sy hoed opgesit voor hy sy voordeur oopgemaak het. Was dit iemand van wie hy gehou het, is die hoed afgehaal en die besoeker ingenooi, so nie is gesê hy's jammer, hy's op pad uit.

"Die volkse was vir hom werklik. Hy het in spoke geglo en gesê hy was bang vir hulle, Dit was ’n soort bygelowigheid, ’n kinderlikheid wat jy nie by hom as intellektueel verwag het nie.

"Vuur het vir hom iets magies ingehou. Hy het graag vuurgemaak. By sy Hermanus-strandhuis het hy ’n mied van droë seebamboes gebou, dit brandgesteek en op sy hurke die vuur gesit en instaar. As hy ’n sigaret aangesteek het, het hy die vuurhoutjie in die asbak laat uitbrand. Op sy oudag het hy snags ’n kers langs sy bed laat brand. (...)

"Hy het geskryf oor die tweede dood wat ’n mens tref, as 'geen sterfling jou meer onthou nie'. Dit was ’n vervorming van ’n Italiaanse wysheid: 'Vir dié wat lewend is, is hulle mos nie dood nie'. Daarom lééf dr Con vandag nog."

Publikasies

Publikasie

Snel dan jare: Overbergse sketse en verhale

Publikasiedatum

1954

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Klein vaderland

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1957
  • 1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Musici en mense

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Musiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Donkiespad

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Overbergse eergister

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Medereisigers

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Goue fluit, goue fluit

Publikasiedatum

1968

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die nageslag van die stamvader Pierre de Villiers a1, se seun Jean

Publikasiedatum

1973

ISBN

(hb)

Uitgewer

Hugenotevereniging van Suid-Afrika (Bulletin 11)

Literêre vorm

Genealogie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die sneeu van anderjare: ’n keuse uit die prosa van anderjare. Redakteur: Hennie Aucamp

Publikasiedatum

1976

ISBN

062400905X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Geslagsregister van die familie Swart in Suid-Afrika

Publikasiedatum

1977

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: RGN

Literêre vorm

Genealogie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Soete inval: nagelate geskrifte van Con de Villiers

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624013111 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Familie De Villiers Family in South Africa. Vol 1 & 2. Christoffel C de Villiers en Con de Villiers / voltooi deur Juna Malherbe en Alet Malan

Publikasiedatum

1997

ISBN

(hb)

Uitgewer

Franschhoek: Hugenote-Vereniging van Suid-Afrika

Literêre vorm

Genealogie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

CGS de Villiers as vertaler:

  • Die kortverhaal in Skandinawië. Pretoria: De Bussy, 1931
  • Deledda, Grazia:
    • Elias Portolu. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1950
    • Twee vroue (saam met Lettie Pretorius). 1966
  • Hamsun, Knut:
    • Groeiende aarde. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1965
    • Viktoria. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1962
  • Havrevold, Finn: Maren se uiltjie. Kaapstad: Tafelberg, 1961
  • Ibsen, Henrik: Rosmersholm. 1925
  • Pirandello, Luigi: Die lewe wat ek jou geskenk het. Johannesburg: Dalro, 1969
  • Svinsaas, Ingvald: Tom in die berge. Kaapstad: Tafelberg, 1964

Artikels oor CGS de Villiers beskikbaar op die internet:

Artikels deur CGS de Villiers beskikbaar op die internet:

CGS de Villiers se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-08-26 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bronne:

  • De Kock, Cornelia. 1992. Con de Villiers, boorling van die Overberg. Die Kultuurhistorikus: 7(2), Oktober 1992
  • De Kock, Cornelia. 1999. Universele genie was nederige Afrikaner. Matieland
  • Wikipedia 
  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top