Foto: Brenda Veldtman,
verskaf deur NB-Uitgewers |
Sêgoed van Cecile Cilliers “My skryfwerk is vir my belangrik, omdat dit my dwing om oor my situasies te besin.” Na die dood van haar man: “Die ergste ding is dat jý die finale besluit oor alles moet neem. You’re the bottom line – van jou geldsake tot die spyker wat in die muur geslaan moet word. En daar is niemand vir wie jy kan sê jy voel vanoggend nie lekker nie.” (Rooi Rose, 21 Februarie 1996) “Dis ’n vermoeiende werk om toesprake te lewer. Die mense verwag jy moet pittig en intelligent wees, selfs na die tyd by die tee.” (Rooi Rose, 21 Februarie 1996) Die bydrae wat vroue tot die sinode kan lewer: “Ek dink vroue raak nie so vasgevang in byvoorbeeld die kerkorde nie, in die voorskriftelikheid van die kerk nie.” (Rooi Rose, 23 Desember 1998) “Daar is net een kultuur wat die kerk moet uitdra, en dit is die kultuur van Christenwees. Die kultuur van die Bybel en van God. Dit gaan nie oor taal, wie Afrikaanse vanne het, of wat jou herkoms is nie. Dit gaan oor erkenning van God.” (Rooi Rose, 23 Desember 1998) “Ek was gelukkig dat ek ’n wonderlike pa gehad het. Hy het my twee goed gegee waaroor ek altyd dankbaar sal wees. Een was ’n wonderlike geloof in God en die ander was selfvertroue.” (Rooi Rose, 23 Desember 1998) “Om te praat is my gawe, woorde my werk en mense my liefde.” (Beeld, 21 Junie 1986) In 1986: “Tensy ons bewus raak van mekaar en saamstaan as Suid-Afrikaners, gaan ons nie die wa deur die drif kry nie. Ons moet elkeen ’n heel ander houding en denkrigting kweek. Ons bly praat van hervorming, maar wat is nou al eintlik gedoen?” (Rooi Rose, 23 Desember 1998) In 1986: “Die regering moet so gou as moontlik 16 Junie ’n gedenkdag, ’n jeugdag verklaar. In Soweto is dit ’n roudag. Daar is min families wat nie ’n familielid sedert 16 Junie 1976 weens geweldpleging verloor het nie. Dis tyd dat ons besef: there are people out there.” (Rooi Rose, 23 Desember 1998) Wat het die lewe haar geleer? “Verander wat jy kan. En aanvaar met grasie wat jy nie kan verander nie. Met grasie, wat iets anders as gelatenheid is waarin ’n stuk mokkigheid sit. Moenie tob nie. Kry klaar met wat klaar is en gaan vorentoe.” (Kerkbode, 8 Augustus 2003) Cecile Cilliers oor die optrede teen Laurie Gaum: “Ek vind my toenemend vervreem van ’n kerk wat nie weet waaroor liefde gaan nie, wat nie verstaan wat dit beteken om Christus te volg nie.” (Beeld, 25 Augustus 2005) In 2001 oor die oplewing in die poësie: “Te veel sieligheid in poësie maak my bang. Ek geniet poësie ter wille van die kombinasie van woord en klank en digte beelde. Dis ’n persoonlike vreugde. Miskien lees ons deesdae meer gedigte omdat die lewe daar beter opgesom word en op ’n effens ander manier as wat die televisie dit doen. Daarom is en bly NP Van Wyk Louw se ‘Groot Ode’ een van my gunstelinge, veral die reëls: ‘niemand tref dit móói met die heelal nie;/ eintlik moet ons leer ironies lewe:/ en: binne ironie nog liefde hou.” Wat laat Cecile Cilliers lag? “Ek het ’n ironiese sin vir humor. En ek kan lekker vir myself lag.” (Lig, Mei 2003) Oor gedigte lees: “Ek wil weet hoe ’n gedig aanmekaargesit is. Dan lees ek met ’n potlood, soos Frans van Rensburg my destyds op RAU leer doen het. Krities lees kan natuurlik jou leeslekkerte bederf, maar dit dwing ook jou lees in ’n ander rigting.” (Sarie, 19 April 2000) Wat laat haar aanhou lees? “Dis vir my ’n openbaring as ek iets van byvoorbeeld Thomas Merton lees wat skielik vir my ’n waarheid ontbloot, iets wat jy in jou agterkop geweet het wat nou vir jou ’n geldigheid verkry. Ek dink lees vorm ’n mens teen wil en dank.” (Sarie, 19 April 2000) In 2000: “Afrikaners ís selfbewus oor hulle skryfwerk, dit neig na ingroeiende toonnaels. En ons ken pryse toe aan goed wat nie hul koppe in die internasionale wêreld kan optel nie omdat niemand bereid is om te sê dit is nie goed genoeg nie.” (Sarie, 19 April 2000) In Februarie 1994 oor die verwagtinge vir dít wat voorlê: “Ek voel positief omdat ek geborg is. Ek weet waar my heil lê. Die lewe gaan voort. Daar is geen helderheid nie. Aan die een kant moet ons vir ons die toekoms skep, en aan die ander kant weet ons die toekoms is in die hande van ons hemelse Vader.” (Kerkbode, 4 Februarie 1994) Wat trek haar aan in ’n man? “Ek is versot op ’n man wat my ’n goeie druk kan gee. Dis meer werd as sewe soene! Ek is ook baie bewus van ’n man se stem. Hy moenie oordonderend wees nie, en graag lag. Mooi hande en netheid sê ook baie.” (Sarie, 4 Augustus 1993) "Ek het altyd rubrieke maklik geskryf, want die dwang was daar. Jy moes dit lewer. Jy het ’n deadline. Ek weet nie of ek nou veel meer sal kan doen nie. Tyd vir verhale skryf was voorheen ’n faktor." (Die Burger, 3 Maart 2018) Oor resensies van Die ou vrou en die priester: "Ek moet ook vir jou sê, ek is een van die strengste kritici. So, ek is baie kwaai op my werk. Goed, ek is maar skrikkerig ook, want jy weet, ek wil nie sê ek het vyande gemaak nie, maar ek was eerlik in my resensies van ander boeke. Dis heel moontlik dat daar mense sal wees wat nie positief sal wees nie, maar ek dink nie ek is so wonderlik dat niemand my mag kritiseer nie." (Die Burger, 3 Maart 2018) "Ek skryf enige ding (ook gedigte, sonnette en haikoes). Om die taal te gebruik, is nie vir my moeilik nie. Jy weet tog enige skrywer gebruik wat in sy lewe voorkom. Alles wat ek sien of hoor of ervaar, het in die rubrieke ingegaan. So is baie stories in die kortverhaalbundel te danke aan ander mense se ervarings of vertellings." (Die Burger, 3 Maart 2018) |
Gebore en getoë
Cecile Cilliers is as ’n nooi Pretorius in Mei 1933 op Franschhoek gebore, veertiende-geslag Suid-Afrikaner van Nederlandse en Franse afkoms.
Haar pa, Abraham Johannes Pretorius (Braam), gebore op 10 Mei 1900 op Rustenburg, was ’n klerk in die landdroskantoor. Hy was later senator en die persoon wat die langste as landdros in Suid-Afrika gewerk het. Haar ma, Madeleine, was ’n onderwyseres op die delwerye.
Haar pa het ses kinders gehad – die eerste vier kinders is gebore uit sy huwelik met Madeleine Roux, wat in 1952 oorlede is. Braam se tweede vrou was Kate, ’n klein en fyn vrou met rooi hare. Twee kinders is uit hulle huwelik gebore.
Madeleine was die oudste van die eerste vier kinders en haar pa het haar Ous genoem. Na haar het die enigste seun, Nicolaas, gekom wat uit die aard van die saak Boeta genoem is. Cecile was die derde en was Pa se Wolkop, met Polla die jongste. Sy is Rouxline gedoop en Pa het haar Donster genoem, omdat sy donshaartjies gehad toe sy klein was.
Vanweë Braam se werk as ’n landdros het die gesin die land vol getrek. Hulle ma was ’n pragtige vrou, maar ook bekwaam en streng. Haar standaarde wat sy aan die gesin gestel het, was hoog, maar sy kon van elke huis waar hulle gewoon het, gou-gou ’n tuiste maak. Haar oog het fyn gekyk en met haar flukse hande het sy gesorg dat haar dogters altyd goed en keurig aangetrek was. Sy het hulle ook geleer om die mooi dinge in die lewe te waardeer –soos goeie musiek, boeke en skilderye. "En om respek vir kos te hê. Sy was ’n uithalerkok wat die eenvoudigste dis met die grootste sorg sou opdien. Sy, en ook my pa, het ons ook leer Engels praat, góéd leer praat, want ‘you will speak the language better than the conqueror’,” vertel Cecile aan Willa de Vos in Die Voorligter van Maart 1996.
Cecile vertel verder van haar ma aan Elmari Rautenbach (Insig, Januarie 2001): “Ma het die gesteldheid en die beneuktheid gehad van die Rouxs. Sy het selde geprys. Ek onthou een slag toe ek as jong getroude vrou gekook het en Ma sê: ‘Daar’s nie genoeg sout in die wortels nie.’ Ek het opgespring en my kamerdeur agter my toegeslaan. Nou sit ek mokkig en wrokkig in die kamer en Pappa kom in en sê: ‘My kind, jy en jou ma is soos twee diamante wat mekaar probeer sny. Maar as jy nie jou humeur onder beheer kan kry nie, sal jy nooit iets anders onder beheer kan kry nie.’”
Sy vertel ook van haar pa se liefde vir tuinmaak en hoe dit deurgevloei het na sy invloed op haar as persoon en op haar lewe: “Ek sien Pappa staan, hande gevou om die lang steel van die skoffel, die gesig boontoe gedraai, oë oop na die wit lig van die droë lente, en hy praat hardop met sy Skepper: ‘Die werk van my hande, bevestig U dit!’ (...)
“Pa was selde stil in die tuin. Hy’t gefluit saam met die voëls, lang gesprekke met God gevoer en sy plante hardop aangemoedig om hul bes te doen. In die bedding aan die oostekant van die huis het sy krisante gestaan. Smôrens, voordat hy kantoor toe of hof toe moes gaan, het hy die vier voet hoë stele nog stewiger opgebind, elke onnodige blaar en knoppie uitgebreek en die reuse-veerkoppe aangemoedig om nóg groter, nóg mooier te word. (...)
“So geduldig soos hy was met sy krisante, so geduldig was hy met my, sy inherente kortgebakerdheid getemper deur die dissipline van die tuin en deur sy onkeerbare sin vir humor. Darling child as hy liefderik verwyt, was Wolkop in die wandel. Met die een het hy my woeste humeur getem, met die ander die ewe woeste krulhare in perspektief gestel.
“Pa het my in my bedding staan gemaak, my leer aard, my tot blom aangemoedig. Ek kan nie tuinmaak nie. Die gawe om te groei ontwyk my. Maar bid kan ek, want Pa kon maak groei. Ook sy Darling child se geloof.”
Cecile kon Engels lees voordat sy Afrikaans kon lees, het sy aan AJ Opperman vertel (Die Burger, 19 Mei 2018): "Ek was vyf jaar oud en kon al lees. Ons het eendag om die ontbyttafel gesit en die stoof ... op een plaat sit jy die ketel. En ek lees 'k-e-ttlie, k-e-ttlie'. Nee, sê my ma, wat ’n onderwyseres was, as daar ’n dubbele letter met ’n -l direk daarna is, word die laaste -e nie uitgespreek nie."
Sy was ook op ’n stadium in haar jeug in die Laerskool Jan Celliers in Johannesburg. "Ek het eendag daar gaan praat. Ek sê toe vir die hoof ek was ook in dié skool. Hy sê kom ons gaan kyk. En hy trek die groot registers uit. En daar staan my naam. Dit was so ’n gevoel van tuiskoms, jy weet. Iewers is jy beskryf ..."
Cecile vertel in Beeld (21 Junie 1986): “Pappa was staatsamptenaar en is gedurig van staning na staning verplaas. Ek het in die Paarl begin skoolgaan – op Girls’ High – daarna is die gesin Johannesburg toe en ek na Jan Celliers. Uit blou kommetjies het ons winters kakao gedrink.
“Toe is Pappa Bethal toe, waar ek net op die laerskool was, want voordat ek kon hoërskool toe, is Pa Montagu toe verplaas, en daar het ek oplaas matriek geskryf. Daarom beskou ek Montagu as my tuisdorp, want daar het ek grootgeword. As mense vra: Waar het jy grootgeword, Cecile? Dan antwoord ek: Op Montagu.”
Cecile vertel dat dit alles by die tiekie op die tafel begin het. Haar pa het die manier gehad om party aande met ete ’n tiekie uit sy sak te haal en op die tafel neer te sit. “Dié tiekie,” het hy dan gesê, “behoort aan die kind wat vanaand sy of haar woord die beste doen. Ons huis was nie ’n plek waar kinders gesien maar nie gehoor mog word nie. Van kleintyd af is ons geleer om te dink en ons menings vreesloos te verwoord."
Sy het onthou dat toe sy ongeveer 12 of 13 jaar oud was, het ’n manlike besoeker ’n saak met haar pa bespreek. Sy het dit gewaag om haar mening te lug en die oom was effe gesteurd oor hierdie "voorwaartse" kind. Haar pa se reaksie: “As jy nie luister na wat sy sê nie, hoe sal jy weet wat sy dink?”
Lank voordat populêre boeke oor jou kind en sy selfbeeld blitsverkopers geword het, het haar pa met liefde en leiding doelbewus selfvertroue by sy drie dogters en seun gekweek. ’n Vrou, het hy gesê, hoef nie agteruit te staan vir ’n man nie. Vir sy dogters se intellektuele vermoëns het hy groot agting getoon, hulle menings het net soveel gewig gedra as dié van enige man. Jy kán, het hy hulle geleer.
Hulle is geleer om hulself te handhaaf, maar nie ten koste van ander nie. Respek vir ander mense – enige mens, ongeag ras of taal – was vanselfsprekend in hulle huis. Die enigste keer dat Cecile se mond met seep uitgewas is, was toe sy ’n neerhalende opmerking oor ’n Joodse inwoner van die dorp gemaak het. Vir vloek is die seep nie uitgehaal nie, maar, het haar pa telkens betig, jy moet jou woorde so goed kan kies dat jy nie vloekwoorde nodig het nie.
Albei hulle ouers het wyd gelees. Dit was ’n huis vol boeke, van The black tulip van Alexandre Dumas tot Moord op Eendekuil deur Mikro. En Ma was lief vir voordra en dramaties aanhaal uit geliefkoosde gedigte.
“Ons het van kleintyd af als verslind waarop ons ons oë kon lê. Ma het trouens gevrees die leeskennis gaan van my ’n hoereerder maak voor ek veertien is,” vertel Cecile. “Van my vroegste herinneringe is wanneer ouma Roux kom kuier het. Ek sou popelend van opwinding staan en kyk hoe sy eers plegtig die swart hoedjie afhaal voor die tas oopgemaak word. Daarna word die mussie uitgehaal en op die grys hare gesit (die kop mag nie koud kry nie). En dan steek sy haar hand onder in die tas in om byvoorbeeld Beatrix Potter se Tales of Peter Rabbit uit te haal. As ek mik om dit te vat, keer sy: ‘Nee, eers handjies was!’ en daarna kon ons uiteindelik gaan sit dat sy vir my voorlees.
“Ek onthou ook hoe ek op besoek aan familie op ’n sofa gelê en lees het. Iewers op die agtergrond het ek my pa hoor sê: ‘Kom ons kyk of sy sal ophou lees as ek vir haar ’n tiekie gee.’ Maar dit was of ek nie fisiek in staat was om my oë van daardie boek los te skeur nie.”
Die wêreld van die letterkunde het vir Cecile oopgegaan op Montagu waar sy matriek geskryf het en met haar Duitse onderwyser, mnr Kellerman, kennis gemaak het. Sy het vertel hoe hy vir haar ingetree het toe sy ’n nul gekry het vir ’n Afrikaanse opstel oor "Ek kyk terug – deur ’n historiese figuur". Cecile se historiese verteller was Christus en die Afrikaanse onderwyser het dit geskok as heiligskennis beskryf en vir haar ’n groot rooi 0 gegee. Mnr Kellerman se kommentaar: "Die béste nog!"
Sy het aan AJ Opperman (Die Burger, 19 Mei 2018) van haar belangstelling in toneel vertel. Sy het op skool al daarin begin belangstel en was op ’n stadium seker dat sy toneelspel haar loopbaan wou maak. Maar toe haar ma die hoof van toneel gebel het, het hy gesê, nadat hy gehoor het sy is 16 jaar oud, hy soek nie babas nie. "Wag tot sy ’n bietjie ouer is."
Sy het egter in 1950 (op 17) die hoofrol vertolk in Onse dorp, ’n Afrikaanse vertaling van Our town deur Thornton Wilder.
Verdere studie en werk
Net na Cecile se matriekjaar is haar pa na Johannesburg verplaas. Daar was nie geld om haar universiteit toe te stuur nie, en sy het vir ’n sekretariële kursus aan die destydse Tegniese Kollege ingeskryf. “Maar,” vertel sy aan Willa de Vos, “ek het gou uitgevind dis nie vir my nie en toe het ek vir my ma gesê ek wil ’n jaar lank huishou en ek hét, wat kosbare ondervinding was.” Want vandag kán sy afval krap, en broodbak is haar forté.
Die volgende jaar is sy na die Universiteit van Pretoria, waar sy ingeskryf het vir ’n BA-graad met Afrikaans, Engels, Duits, Frans en kunsgeskiedenis as vakke. In haar eerste jaar het sy die geologiestudent John Cilliers ontmoet wat dadelik besluit het die krulkopmeisie met die flink brein en raak woord is syne. John en Cecile het aan Martie Swanepoel vertel dat hulle enigste gesamentlike belang hulleself was. “Ons was so in mekaar vasgevang dat niks anders saak gemaak het nie.” Maar hulle moes ’n ruk lank wag voordat hulle kon trou. John is die jaar nadat hy graad gekry het, na Tanganjika (Tanzanië) om daar nagraads te gaan studeer.
Op 2 Februarie 1954, nadat Cecile haar graad gekry het, is hulle getroud. John en sy bruid vertrek op ’n romantiese wittebrood: per trein van Pretoria na Durban, daarvandaan per boot na Kaapstad. In Kaapstad is hulle met ’n groen Ford-bakkie Weskus toe waar John oor ’n diamantprospekteerdery moes toesig hou. Dáár het sy en John ’n sink-opstal sonder binnemure "opgesit"; die eerste van baie. Die sink is aan die binnekant geïsoleer met goiingsak wat in kalk gedoop was. Daarna het John se werk hulle na Koegasbrug, naby Prieska geneem waar hulle in ’n woonwa gebly het. Toe na Penge, waar die woonwa ’n aangeboude kamer van "Kimberley brick" gehad het. Gelukkig het hulle darem ’n woonstel in Johannesburg gehad waar hulle so elke dan en wan in die "beskawing" kon gaan ontspan.
In hierdie tyd het Cecile twee miskrame gehad en het sy geleer "van medemenslikheid," het sy aan Willa de Vos vertel, "van om op mekaar aangewese te wees in ’n eensame wêreld, van om die lelike te filter en die mooie te behou."
Met haar volgende swangerskap en het sy by haar suster, Madeleine, in Pretoria gaan bly totdat hulle oudste kind, Amalie, gebore is.
In die Kalahari tydens hulle verblyf op Pomfret het die mynbestuur haar genader om ’n skooltjie te begin, anders moes die mense hulle kinders na ’n koshuis stuur. Sy het met slegs elf kinders van graad een tot standerd vyf (graad sewe) die skooltjie begin. Van haar kant af het sy geen opleiding of ondervinding in die onderwys gehad nie, ook geen handboeke of hulpmiddels nie, maar daar was oorgenoeg ywer en toewyding. Só is die basis gelê vir ’n skooltjie wat later meer leerlinge sou hê. Sy het onthou dat sy die Reader's Digest gebruik het om die kinders aardrykskunde te leer. Jare later het hierdie tydskrif van haar aanhalings uit haar werk in hulle rubriek "Quotable quotes" gebruik.
"Die jare op die myne het vir my geleer dat mense belangrik is. Sekuriteit lê nie in besittings, jou huis of jou omgewing nie, maar in jouself en in ander mense. In die Noordweste veral, waar ek en John net na hul troue gewoon het, is daar niks anders as mense nie. Jy is heeltemal op hulle aangewese."
In 1961 is John in die maatskappyhoofkantoor in Johannesburg aangestel en het die gesin hulle gevestig in die leiklipstoep-huis met die reuse-eikeboom in die ruim tuin wat 32 jaar lank hulle “vier mure teen die suidewind” sou wees.
Toe die jongste van hulle drie kinders (’n dogter en twee seuns) skool toe is, is Cecile terug universiteit toe – na die Universiteit van die Witwatersrand toe, agter NP Van Wyk Louw aan, waar sy ’n honneursgraad in Afrikaans behaal het. Uiteindelik het sy ervaar wat studie wérklik beteken: “die lekker om jou brein behoorlik te gebruik” – en het sy ook haar MA cum laude (oor ’n gedig van NP Van Wyk Louw) in Afrikaans en daarna die D Litt et Phil aan die Randse Afrikaanse Universiteit (vandag die Universiteit van Johannesburg), behaal, beide onder FIJ van Rensburg. Die titel van haar doktorsgraad was “Verhouding bron: kunswerk”.
Sy het onder meer twee jaar Afrikaans gegee by die Witssentrum vir voortgesette studie en by die Parktown Convent, asook Afrikaanse klasse by die Argus-groep se joernalistieke skool vir kadetverslaggewers.
Cecile het taamlik baie radiowerk vir Springbokradio gedoen en het in vervolgverhale saam met Sann de Lange, Gert van den Bergh en Vincent Hesse gespeel. Sy was ook later by RSG betrokke saam met Alewyn Lee en Nic de Jager. Ook het sy in Kampus, ’n reeks van Franz Marx, gespeel.
In 1976, ná die onluste by die Soweto-skole, het Bridget Oppenheimer Cecile gevra om met die stigting van die organisasie Vrede vir Vroue te help, met die doel om, deur beter kontak tussen vroue van alle bevolkingsgroepe, begrip vir mekaar te kweek, kommunikasie te bevorder en vir vroue ontwikkelingsmoontlikhede te skep. Miskien, sê Cecile, is sy aanvanklik as die “token Afrikaner” beskou, maar baie gou het sy met haar eerlike, warm persoonlikheid, haar integriteit en onverskrokkenheid, sowel as haar slag as openbare spreker vir haar ’n plek in talle harte verower en ’n onmisbare skakel in die organisasie geword.
Oor haar betrokkenheid by Vroue vir Vrede het sy gesê: “Vir my was dit ’n geloofsdaad. Ek het besef ek lewe nie die tweede gebod uit nie en moet iets daaraan doen. Dit was ’n total commitment. Alles wat ek sedertdien gedoen het, staan in die lig van my betrokkenheid by Vroue vir Vrede. Só kon ek naasteliefde letterlik uitleef.”
Vroue vir Vrede het haar geleer om sonder vooroordele te leef. “Of ’n mens nou ryk of arm, bruin of swart is, jy moet elkeen as ’n mens benader. Ek het baie goeie vriende oor alle skeidslyne gemaak en ek erken nie meer ’n kleurverskil nie. Ek het ook geleer om verdraagsamer te wees, veral as ’n mens ’n groot vergadering lei, moet jy dit met geduld doen en die mense ’n geleentheid gee om uit te praat. ”
Haar pa se tiekie op die tafel het voorwaar dividende opgelewer. Cecile het landwyd bekend geword as ’n vrou wat haar woord kán doen. In die volgepakte Superbowl in Sun City het sy selfs ’n staande ovasie gekry ná ’n toespraak. Sy het egter nie net gepraat nie, maar haar daadwerklik beywer vir versoening en begrip. Om gaste van ander bevolkingsgroepe in haar huis te onthaal, was vir haar nie net ’n modegebaar nie, maar die voorreg van die samesyn van vriende, skryf Willa de Vos.
Haar verbintenis met Vroue vir Vrede het haar wel die argwaan van sommige van haar eie mense op die hals gehaal, maar Cecile was oortuig daarvan dat sy as Christen geroep was om alles in haar vermoë te doen om vrede en versoening in ons land te bevorder. Sy is saam met Bridget Oppenheimer gekies as lewenslange erepresidente van dié organisasie.
Een van die moeilikste besluite wat sy ooit moes neem, was toe sy gevra is om in die hoogverraadsaak teen Breyten Breytenbach vanuit ’n literêre oogpunt ter versagting van vonnis te getuig. “Dit was die eerste keer dat iemand uit ’n literêre oogpunt ter versagting van vonnis sou moes praat. Ek was ook nie die eerste wat deur die advokaat gevra is nie; vele het geweier. Toe die advokaat my vra, sê ek ek sal daaroor nadink.”
Cecile het haar landdros-pa gevra wat sy moet doen. “En hy vra my toe of ek dit kan doen? En ek sê ja, ek kan. Toe sê hy dan moet ek. Want wanneer ’n mens voor die hof staan, het hy een gesig. Maar ’n mens het verskeie gesigte en die hof kan nie daarvan kennis neem as hy nie daarvan vertel word nie. Ek sê toe dankie, en weet ek het my antwoord gekry.”
Cecile het een voorwaarde gehad: sy sou nie getuig nie, maar slegs Breyten se gedigte voorlees. Haar keuse het op sy liefdespoësie geval. Gedigte oor sy land, sy ouers en sy vrou.
“Mense het my verguis, hoor, laat daar geen twyfel wees nie,” vertel sy aan Elise-Marie Tancred (Rooi Rose, 23 Desember 1998). “Maar ek het dit gedoen omdat ek moes. Om geen ander rede nie. Ek het geweet daar is ander aspekte aan Breyten waarvan die hof bewus moes wees en daarin het die moed van my oortuiging gelê. Dit is wat mense nie kon verstaan nie.”
Cecile is in 1986 aangewys as die eerste nasionale direkteur van Studietrust, wat twaalf jaar vantevore deur Jan Hofmeyr begin is as ’n organisasie wat onderwyshulp aan behoeftige leerlinge van alle rasse, maar veral swart kinders, verskaf. Toe dit begin is, het die trustees R2 000 gehad en in 1986 was die begroting op R250 000, wat alles skenkings was. Cecile sou verantwoordelik wees vir die bestuur van die Studietrust met die klem op geldinsameling en skakelwerk. As sodanig het sy nie net met onderwysinstansies nie, maar ook met die handel en nywerheid en groot organisasie, in Suid-Afrika en die buiteland, geskakel om geld in die hande te kry.
In ’n onderhoud met Piet Gouws (Beeld, 21 Junie 1986) het Cecile gesê dat die Studietrust hom hoofsaaklik daarop toegespits het om beurse beskikbaar te stel vir kinders om matriek te slaag, ’n onderwyskwalifikasie te behaal, of aan ’n technikon te gaan studeer.
Haar visie was egter dat die Studietrust een groot magtige nasionale projek moet word waarby almal ingeskakel word wat met opleiding te make het. Daarom wou sy graag ook met die handel en nywerheid skakel, aangesien dit nie help net om die kinders op te lei nie: hulle moet ook in betrekkings geplaas word. Sy wou skole besoek om die kinders te motiveer om hul potensiaal uit te leef in ’n rigting waarin hulle ’n bydrae kan lewer.
Wat haar destyds [1986] baie gepla het, was die verdeelde beheer oor onderwys in Suid-Afrika. “Ek kan geld insamel en is bly om te help, maar ek glo alle onderwysinstansies moet onder een sambreel saamkom. Onderwys in Suid-Afrika moet in sy geheel hersien word. Dis my droom dat ons ’n hele nuwe onderwysstelsel sal kry waarin alle lae en groepe van die onderwys bevredig sal word.” As dit dan gemengde skole beteken, moet ons in onsself sterk genoeg wees om alles wat kom, te kan aanvaar en daarvolgens te leef. “Een van Vroue vir Vrede se deurlopende projekte was om swart en wit kinders aan mekaar bloot te stel. Sou dit nie die ideaal wees vir ’n toekomstige Suid-Afrika dat wit en swart mekaar van kleins af leer ken, saam skoolgaan en saam bou aan ’n gedeelde toekoms nie?”
In 1981 het Beeld Cecile gevra om ’n weeklikse rubriek te skryf. Vir jare het haar Donderdag-Beeld-rubriek ’n wye leserskring opgebou en het sy met haar skerp insig en woordseker styl ’n erkende meningsvormer geword. Twee versamelings uit dié rubriek het by Lux Verbi verskyn onder die titels Kokkewiet op Donderdag (1992 en Reënboogmense, reënboogland (1995) onderskeidelik, beide saamgestel deur FIJ van Rensburg.
Oor Kokkewiet op Donderdag skryf Daan Rossouw (Volksblad, 22 Februarie 1993) dat dit ’n verrykende ervaring bly om die wêreld om jou ’n slag deur iemand anders se oë te sien, al stem jy nie altyd daarmee saam nie, want daardie oë kyk soms skerper as jou eie, let na ander dinge op en sien meer dinge. Cecile Cilliers is miskien nie oral ewe gewild nie. Dalk omdat haar blik soms te nugter en onromanties is vir diegene wat mooi soetsappighede verkies. Vir andere is dit juis hierdie saaklike benadering en die onvermydelike eerlikheid wat daarmee saamval wat verfrissend is. Feit bly dat sy as mens uit eie reg na vore tree, en dit sal ’n totaal uitsonderlike leser wees wat nie heelwat sal vind om die bundeltjie suiwer leesplesier te maak nie.
Maureen Joubert skryf (Die Burger, 29 Desember 1992) dat die kokkewiet van die titel ’n mens herinner aan die helder en vrolike geluid van die skrywer se skryfstyl. "Uit hierdie rubriekstukke leer die leser Cilliers ken as ’n mens met ’n liefde vir die natuur, vir haar geboorteland en vir haar medemens, en dit sal baie smake bevredig.
"Reënboogmense, reënboogland verwys direk na die nuwe benaming wat sedert 1994 vir Suid-Afrika posgevat het. Van Rensburg skryf in sy inleiding dat die aktualiteit van die jare 1992 tot 1994 duidelik in die stukke weerspieël word en dat die versameling kort stukkies '’n klein kaleidoskoop geword (het) van ’n land en sy mense wat hoofsaaklik met vreugde, maar soms ook met huiwering en deernis beleef word'."
Oor Reënboogmense, reënboogland meen Erla-Mari Diedericks (Die Burger, 31 Januarie 1996) dat Cilliers nog altyd die gawe gehad het om mense en dié dinge wat haar na aan die hart lê, met deernis en geesdrif te beskryf. "Haar skryfwerk het ’n meesterlike houvas op die taal, en dié vrou ken van ’n ding só stel dat jy een sinnetjie oor en oor lees net vir die blote lekkerte, en om te proe hoe die woorde van jou tong afrol ... Soos in 'Oor Familie, Vriende en Vis' oor ’n onwelkome familielid wat met kroos en al by vriend Willem kom kuier:
"'Willem het duidelik die afgelope weke gely onder familie, en die lyding het ’n hoogtepunt bereik met Paasnaweek. Sy sê moet hy sê. En toe bly hulle ’n week, ’n volle week, sê Willem, en daar’s nooit warm water om in te bad nie, en ek moet gedurig ryroetes bedink en verduidelik, en saamgaan, ewiglik saamgaan: berg-op en hawe toe, en op die wynroete ...
'Faan het darem vir jou ’n kas Sauvignon Blanc gekoop, kom Saar se diskant. Die solo mis nie ’n noot nie: En praat! Hulle hou nooit op met praat nie. Hoekom het mense so baie vir mekaar te sê? Saar bly só stil, ons kan hoor hoe sy stilbly.
'Familie, eindig Willem triomfantelik sy tirade, is soos vis: Albei stink ná drie dae!'
"Die boek is vol kort vertellinge vir die lag en vir die pyn. Almal sal ’n ietsie hierin vind wat hulle sal kan lees en sê: Haai, dis presies hoe ek ook voel! "
In Reënboogmense, reënboogland kan die leser weer eens kennis maak met Cecile Cilliers se vermoë om met die minste woorde die mees besonderse gedagtes oor te dra. "Sy skets die veelkleurigheid van die Suid-Afrikaners op ’n tydstip wat in ons geskiedenis altyd as ’n keerpunt bekend sal staan, en druk die emosies van mense raak en pittig uit. Sy ontlok die broodnodige glimlag, maar dan is sy weer ernstig en vermanend. Deur alles loop die draad van geloof egter in en van die reënboogmense in hierdie reënboogland en sy Skepper. Dit verskaf die nodige positiewe benadering vir die leser en gee moed en geloof vir die toekoms."
Selfs met die dood van haar man na ’n siekbed in 1995 het sy bly skryf, en so, in die verwoording van haar eie verlies, vir ander ’n meeleefplek geskep. In Sarie (26 Februarie 1997) het Cecile byvoorbeeld geskryf: “Verlies en wins. Ja, dit was verlies sowel as wins. Op twee vlakke. Net na John se dood is ek gedra deur die liefde van my kinders, familie en medemense, bekendes en onbekendes, mense wat waarlik vir my Christus op aarde was. Mense wat aan die liefde van God fisieke gestalte gegee het. Die Woord het deur hulle woorde by my ingetrek.
“Ferdinand Deist het geskryf: Ware geloof is om déúr die teëspoed te kan lewe omdat jou geborgenheid in die lewe nie aan voorspoed gekoppel is nie, maar aan God, wat méér is as die oomblik. ’n Volwasse geloof kan ook in teëspoed aan God bly vasklou. Om dit te ontdek, om daagliks inniger bewus te word van sy teenwoordigheid, sy sorg, sy allesoorkoepelende liefde, dit was waarlik wins. Wonderwerke is vir my voltrek in hierdie bitter tyd.”
Ná die dood van John het Cecile hulle huis met die groot akkerboom in Sesdestraat, Linden verkoop en vir haar ’n wooneenheid op ’n landgoed naby Johannesburg gekoop. Sy het in ongeveer 2003 Kaapstad toe verhuis, want haar mense (nie haar kinders nie, maar haar ander familiemense) is in die Kaap. En sy is gelukkig daar en elke drie jaar gaan sy vir haar drie kinders op drie vastelande kuier.
’n Keur van Cecile se essays wat in De Kat verskyn het, is in 1994 deur Tafelberg uitgegee onder die titel Katswink. "Met haar 'priemende blik' en haar raaksêwoord saai sy die lekker proeslag, die ongemaklike rondskuif, die herkenning van die waarheid by haar lesers. Maar ook die hoop, omdat die Kind eenmaal gekom het. In haar geloof vind sy haar krag, haar koers en haar geborgenheid." (Die Burger, 10 November 1994)
Oor Cecile se essays in De Kat wat in Katswink saamgestel is, sê Hennie Aucamp op Skrywers en boeke: "Die 'ek' in Cilliers se essays is haar bewus van die feit dat sy ’n oorgangsmens is – soms pynlik, verward en ontredderd bewus. ’n Essaybundel het nie noodwendig ’n oorkoepelende tema nodig nie, maar dis miskien die opvallendste geheelindruk wat Katswink laat: dat dit ’n besinning is oor die oortog van ’n ou Suid-Afrika na ’n nuwe Suid-Afrika. In die gees van haar essay 'Hoe hang my hart aan dit wat ek besit' skyn Cecile Cilliers deurentyd voorraadopnames te maak van dié waardes wat essensiële besit is vir haar as Afrikaner."
Aucamp het verder geskryf: "Haar ontmaskering van Bolandse pretensies in 'Vonk uit ’n mieliestronk' en ook die essay '’n Musieklike dood' die satiriese essay op sy beste verteenwoordig en toon dat die essayis kán lag. As ’n mens na die strategieë kyk wat Cilliers volg, val dit op hoe sy die narratiewe element in party essays byhaal. Die Duitse essaykundige Douglas Hesse tref ’n onderskeid tussen essays wat stories bevat en essays wat stories is: Cecile Cilliers skryf beide soorte. 'Arme Soes' bevat ’n storie; 'Feestelike ervaring', hierteenoor, is ’n storie, en ’n sterke op die koop toe. Ek vermoed dat daar ’n kortverhaalskrywer in Cilliers skuil wat pleit om vrygestel te word."
"Cecile het, behalwe die gawe om te vertel, ook die sintuiglike toerusting wat aan stories onmiddellikheid verleen. Haar mees bellettristiese essay, '’n Wêreld breek oop', is ’n ode aan die Bybelse vrug, die granaat. Francois Krige en Wim Blom het die granaat herhaaldelik geskilder, en Audrey Blignault het dit in ’n verhalende essay betrek, maar niemand het nog die wese van die granaat so presies in woorde agterhaal soos Cecile Cilliers nie," meen Aucamp.
Vir Willem Pretorius (Beeld, 3 Julie 1995) is daar een essay in Katswink wat daar is om geraam te word, naamlik “Arme Soes”. "Dit is een van daardie wat die koue tussen mense, geslagte en vreemdelinge verdryf en die medemens weer op jou hart druk soos min ander skryfsels."
Daar was ’n tyd toe hulle as gesin bitter ongelukkig was oor die NG Kerk se swye oor brandende vraagstukke en die traagheid in die daadwerklike uitlewing van die liefdesgebod. In die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg het hulle egter ’n geestelike tuiste gevind, en omdat sy besef het dat sy sélf ’n verantwoordelikheid binne die kerk het, het sy dadelik “ja” gesê toe die Vrouediens van Suid-Transvaal haar vra om redaktrise van hulle kwartaalblad te word. In Suidsender het sy haar aansienlike joernalistieke vermoëns benut om vroue te laat dink, te stimuleer, uit te daag tot méér as koeksisters en melktertjies en strikkies om die teekoppie se oor.
Sy sê onomwonde aan Elise-Mari Tancred dat die kerk op baie verkeerde paaie geloop het, maar dat ’n mens nie kan sê die hele NG Kerk is só of só nie. “Ek is daar, en ek is nie só nie. En as ek die uitsondering op die reël is, dan kan die uitsondering die reël verkeerd bewys. Ek kom nie reg in ander kerke nie. Die NG Kerk is vir my ’n tuiste en die teologie wat die kerk verkondig, is wonderlik.”
Sy is later tot die uitvoerende komitee van die Vrouediens verkies met Leer en Aktuele Sake as haar opdrag en was die eerste nie-predikantsvrou wat tot visevoorsitter van die sinodale komitee verkies is. Sy het Suid-Transvaal verskeie kere in die algemene komitee van die Vrouediens verteenwoordig en het ook ’n stewige bydrae gelewer tot die vrouekursusse wat deur SEVTO (Sentrum vir Voortgesette Teologiese Opleiding) aan die Universiteit van Pretoria aangebied word.
In 1997 is sy as leier-ouderling verkies in die Andrew Murray-gemeente en in 1998 is sy as lid van die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk verkies. Sy en Anna van der Westhuizen was die enigste twee vroue wat tot lede van die ASK verkies is.
Cecile se reaksie hierop was: “My asem is uit my lyf uit.” Verder het sy gevoel dat die mans te baie praat: “As ek die vergadering gelei het, sou ek maklik gesê het ’n punt is klaar gemaak. Hulle sê dieselfde ding honderd keer oor.” (Beeld, 17 Oktober 1998)
Oor die belydenis van Belhar (1998), wat Cecile aanvaar het as belydenisskrif in ’n nuwe kerkverband, was sy lus om op te staan en te sê: “Broer moderator, ons het soveel probleme met Belhar en met die belydenis. Hoekom sê ons nie net vir die vroue hulle moet uitgaan en dit gaan doen nie?”
In Mei 1998 het Madeleine van Biljon, Cecile se ewe bekende en ewe formidabele suster, in die tydskrif Finesse geskryf dat sy ’n agnostikus is. En, het Madeleine later erken, “my suster het my nog nooit, nie eens met die debakel rondom daardie tydskrifartikel nie, verwyt vir my gebrek aan geloof nie. Of gesê sy bid vir my nie.”
In 1999 het Cecile saam met Madeleine die boekeprogram, Boeksusters, op kykNET aangebied. Dit was ’n besonder suksesvolle program, wat veral te danke was aan die twee susters se rapport met mekaar. Soos Elmari Rautenbach in ’n onderhoud geskryf het: “Sinne word vir mekaar klaargemaak – in Afrikaans of Engels na gelang van die emosionaliteit of die uur van die aand en komplimente word kwistig uitgedeel.”
Oor hierdie samewerking tussen Cecile en Madeleine het sy aan AJ Opperman in Die Burger van 19 Mei 2018 vertel dat Madeleine in haar oë die mees belese vrou was wat sy wat Cecile was, ooit geken het. Sy kon ook baie goed onthou. "Ek, aan die ander kant, het meer gerig gelees omdat ek in die letterkunde gestudeer het. Om daai rede was ons oordeel en benadering tot boeke verskillend en ek dink dís hoekom Boeksusters so suksesvol was: twee verskillende persoonlikhede wat albei lesers was. Waarvan een nog is."
Vroue en die ondergeskikte plek wat hulle in ons samelewing speel en die slegte dinge wat as gevolg daarvan met hulle gebeur, druk swaar op Cecile se hart. In 2001 is Begenadigde vroue by CUM gepubliseer. Dit het gegaan oor die ses begenadigde vroue van die Ou Testament. In hierdie boek skets Cecile die lewensverhaal van vroue wat ’n verskil gemaak het. Hulle was onder andere Abigail, ’n vrou wat genade ontvang het om vredemaker te wees, Mikal, wie se kinderloosheid binne ’n groter genade lê, en Tamar, wat die genade ontvang het om die reg in eie hande te neem. Dan is daar ook Rispa, Ragab en Ester, almal moedige en verstandige vroue wat nie geskroom het om hul situasie in eie hande te neem en te vat wat hulle toegekom het nie. Die verhale word vertel op ’n manier wat elkeen wat dit lees, sal lei tot beter begrip van vroue en hul omstandighede, beter begrip vir die dinge wat hulle doen en wat hul dryfveer daaragter was.
In 2003 word Jy’s veelkantig, vrou: geïntegreerd en God-gesentreerd: ’n ander kyk na die drie Spreuke-vroue (CUM) uitgegee. Die drie vroue van Spreuke het nog altyd vir Cecile geboei, maar as sy hulle saam met ander in een boek gesit het, sou dit te swaar geword het. Sy het hulle dus vir hierdie werk gebêre.
Spreuke se drie vroue is die Wyse Vrou van Spreuke 1, die Bose Vrou van Spreuke 7 en die alombekende, maar dikwels onbeminde, Ideale Vrou van Spreuke 31.
Die boek se titel het ook ’n storie: “Ek het eenmaal in Longward Gardens in Amerika ’n uitsonderlike palmboom gesien. Hy kom uit Madagaskar, en het ’n driehoekige stam. As jy hom van die kant af kyk, lyk hy plat. Maar as jy om hom stap, sien jy hy is driekantig. Dit het aanleiding gegee tot die boek se titel, Jy’s veelkantig, vrou!” (Lig, Mei 2003)
Aan die einde van 1995 het haar dogter Amalie met haar gesin na Amerika verhuis. Die middelste kind, Boetjan, is in Engeland. Die jongste, Abraham, woon met sy gesin in Australië.
Oor haar kinders wat so ver is, vertel Cecile aan Lig in die Desember 2009/Januarie 2010-uitgawe dat haar kleinkinders nou Engels grootword: “Onthou, ek het nie ’n druppel Engelse bloed in my are nie. Dié goed wat ek as my hartensgoed beskou, dít moes ek laat gaan. Dit haal die hart uit jou uit. Dit het te make met die yslike ‘skatkis’ wat ons met ons saambring. My kleinkind kan nog sê: Ouma, ek is lief vir jou ... maar hulle gaan nooit weet wat Waenhuiskrans en swartwitpens beteken nie.”
In die boek As almal ver is, skryf Cecile: “(O)p my eie boekrak staan ingeryg Helena Lochner, Liewe Heksie, Alba Bouwer, Rona Rupert, WO Kühne, Honiball se Jakkals en Wolf, ingeryg en nutteloos, want my kleinkinders ken nie meer Afrikaans nie. Om die waarheid te sê, die meeste het dit nooit geken nie. En daarom ook nie die kultuur, die grappies, die ou-ou herinneringe nie. Mý rympies, mý sprokies, ken hulle nie. En hulle sal dit waarskynlik nooit leer ken nie. Ek skenk die boeke aan die biblioteek en gaan huil in die stort, blaas my neus slordig.”
Dit help egter nie om jou kleinkinders te dwing om deel te hê aan jou wêreld nie, waarsku Cecile. “Dit sal nie gebeur nie. As jy bepaalde dinge van jou kinders en kleinkinders verwag of eis, wat hulle dan net met moeite kan bybring, dryf jy hulle net verder van jou af weg.”
’n Laaste woord oor haar kinders: “My en John se kinders het iets van ons met hulle saamgeneem. Hulle het ’n vriendskapsgawe, ’n bereidheid om te help, hulle werk hard, wat alles positiewe bydraes is wat hulle in hulle nuwe omgewings kan lewe. Dit troos my.”
’n Joernalis het Cecile by geleentheid beskryf as “opinionated” – “eiewys, eiesinnig, eiewillig,” vertaal die woordeboek sonder om die besondere nuanse van dié Engelse woord vas te vang. Teen dié siening teken Cecile beswaar aan – met sterk eie menings, ja, met selfvertroue, ja – maar eiewillig?
“Nou wil ek meer as ooit tevore God se wil vir my lewe soek. Ek wil óóp wees vir hom, ek wil oorgegee aan Hom lewe. Ek wil vir Hom sê, ek is net Cecile, U kind.”
Cecile Cilliers is ’n vrou wat nie huiwer om haarself weerloos te stel ter wille van Christus nie – en in haar weerloosheid haar skild gevind het, aldus Willa de Vos.
In 2018, nie lank voor haar 85ste verjaardag nie, is Cecile se debuutbundel kortverhale gepubliseer onder die titel Die ou vrou en die priester. Sy vertel aan AJ Opperman (Die Burger, 3 Maart 2018) dat Hennie Aucamp en Joan Hambidge van die mense was wie se opmerkings daartoe gelei het dat sy begin kortverhale skryf het. Een van haar rubrieke is opgeneem in een van Hennie Aucamp se versamelings en sy kommentaar daarop was "hier is ’n kortverhaal wat beur om uit te kom".
Joan Hambidge het haar kortverhaal "Brood" gelees en háár kommentaar was: "Cecile, hierdie is ’n veelgeslaagde verhaal. EK hoor jy het nog van hierdie by die huis."
Die titelverhaal in die bundel handel oor Cecile se suster, Madeleine. Sy verduidelik aan AJ Opperman (Die Burger, 19 Mei 2018): "Robert Hodgins was ’n baie goeie vriend van haar (Madeleine). Ek het gedink dit sal darem lekker wees as daai buiteblad ’n Hodgins-werk kan wees. Nèlleke (de Jager van NB Uitgewers) sê toe vir my die sterkste storie is '’n Ou vrou en die priester'. Ons maak dit die titel en jy soek vir my ’n Robert Hodgins-buiteblad.”
Dit was nie maklik nie, maar tog nie onmoontlik nie. Madeleine het baie Robert Hodgins-skilderye gehad en aan haar kinders nagelaat. En Willem, haar jongste, het die grootste deel daarvan geërf. Daarby was hy Robert se peetkind. Toe het die liewe Willem vir my foto's van ál daai skilderye gestuur.
"Ek het dinge in die verhaal oor Madeleine en die priester bygewerk en die slot verskil van die werklike gegewe. Die einde was vir my ontroerend, want daardie priester het altyd vir Madeleine boeke geleen. En ’n hele paar jaar ná haar dood (2010) bring haar dogter vir my ’n klomp boeke. Toe gaan ek daardeur en besef van die boeke is die priester s'n. Toe gaan ek na die aftreeoord en vra mag ek asseblief die boeke vir die priester gee. Hulle sê maar het ek nie geweet nie? Ek sê wat? Hy is vier dae ná Madeleine dood.
"Toe skryf ek dit in die verhaal in, toe sê hulle nee, dis onnatuurlik, wat eintlik waar is. Dis hoekom ... life is stranger than fiction. En toe het ek die verhaal anders laat eindig."
Op Netwerk24 (26 Februarie 2018) skryf Joan Hambidge as volg oor Die ou vrou en die priester: "Die verhale handel oor tussenposisies of die skemer plekke van die gees: ’n meisie se jeugdige obsessie met ’n ouer man; ’n vrou wat verlang na haar oorlede man; ’n huwelik van stiltes en verwyte na die kinders die huis verlaat het; onvervulde begeertes en drifte; ’n gesteelde ring wat ’n teken moet word vir ’n herbesoek van ’n verhouding; bloedskande; Alzheimer se siekte; die dood ...
"Hierom verhale van ’n ouer, lewenswyse mens. Hierom is elke woord op sy plek. Elke insig ryp en beleë. Fredric Jameson se politieke onbewuste en Hélène Cixous se vroulike onbewuste word in verhaal ná verhaal gekarteer. Een punt van kritiek: die blakerteks se aanhaling uit ’n verhaal gee nie die werklike omvang van die bundel weer nie.
"’n Sjarmante, gevoelige debuut. Daar is ’n handvol stories wat hierdie leser áltyd sal bybly."
Op LitNet skryf Martie Retief-Meiring: "Cilliers het nie die skerpheid van ’n Annie Proulx nie, maar wel die amper tasbare beskrywing van mens, dier en omgewing. Die eenvoud van woord wat Proulx het, het Cilliers ook, daarom laat haar werk met sy heel ander toonaard as Proulx s'n my tog die twee vergelyk.
"Soms wil-wil die leser te veel woorde, te veel verduideliking lees, maar soos die goeie kortverhaal eis, besweer die slot van elke storie die soms omslagtige aanloop daarna. (...) Die omslag is treffend – ’n skildery deur Robert Hodgins: A woman of the twenties. Pers, sag, versluierd, onverwags.
"Nogal ’n debuut vir ’n 84-jarige, hierdie 14 verhale oor die lewe van meestal die enkeling."
En dit het toe geblyk dat hierdie bundel kortverhale van Cecile Cilliers haar "swanesang" was soos sy dit in Maart 2018 aan AJ Opperman beskryf het, want op Saterdag 16 Junie 2018 is Cecile Cilliers oorlede. Sy is met ’n hartkwaal gediagnoseer waaraan niks gedoen kon word nie, het ’n vriend, Mike Botha, aan AJ Opperman (Die Burger, 18 Junie 2018) vertel. "Ek het Vrydag telefonies met haar gepraat en sy het weer soos haar ou self geklink. Ek het gedink sy sou oukei wees," het Botha gesê. "Ons het in Mei haar 85ste verjaardag met ’n partytjie gevier. Haar twee seuns was albei hier – een uit Londen en een uit Perth. Sy het daarna saam met hulle wildtuin toe gegaan, wat vir haar so lekker was."
Huldeblyke:
- Joan Hambidge: "Ek en Fanie Olivier het onlangs op ’n letterkundepartytjie met Cilliers gesels. So ’n wonderlike aand langs hierdie lewenswyse vrou. Ek is so bly dat ek destyds toe sy ’n verhaal vir ’n versamelbundel geskryf het, haar gebel het en aangemoedig het om ’n bundel saam te stel. Ek bewaar ná al die jare met vreugde resensies van Cecile Cilliers – onder andere tot in die kern oor my debuut. Haar pragtige stem en haar werk om versoening tussen vroue van alle rasse te bewerkstellig sal ek onthou. Soos haar eerlikheid as resensent." (Die Burger, 19 Junie 2018)
- Ton Vosloo: "Sy was min of meer nuuskierig oor alles. Sy het mos lank ook in die veld gewoon toe haar man met sy navorsing besig was. En ek onthou hoe goed die program Boeksusters was. Kyk net hoe sy later ook geblom het met die kortverhaalbundel wat verskyn het. Sy het uitgereik na vele gemeenskappe." (Die Burger, 19 Junie 2018)
- Laurie Gaum: "Sy was ’n ontdekking as ’n vriendin en ’n mensch met ’n groot hart vir mense, vir God en die lewe. Haar lewe getuig ook van 'intergenerational' konneksies." (Die Burger, 19 Junie 2018)
- Hettie Scholtz: " Cecile Cilliers was die wyse, uitgesproke soort vrou by wie ’n mens immer iets geleer het, hetsy oor boeke of menswees. Wat my sal bybly, is haar vitaliteit en die spontane hartlikheid waarmee sy vriend en vreemdeling in die poort behandel het. ’n Mens is gelaat met ’n gevoel van enorme verlies, maar ook dankbaarheid dat sy die geboorte en ontvangs van haar eerste kortverhaalbundel kon beleef." (Die Burger, 19 Junie 2018)
- Mike Botha: "Ek sal ons Maandag-etes mis. Ek sal die stories, vermaak en vermanings veral mis." (Die Burger, 18 Junie 2018)
Publikasies:
Publikasie |
Ek wonder!: rympies |
Publikasiedatum |
1957 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kinderversies |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Kokkewiet op Donderdag |
Publikasiedatum |
1992 |
ISBN |
0869974149 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Lux Verbi |
Literêre vorm |
Essays |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Katswink |
Publikasiedatum |
1994 |
ISBN |
0624033155 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Essays |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Reënboogmense reënboogland |
Publikasiedatum |
1995 |
ISBN |
0869975080 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Lux Verbi |
Literêre vorm |
Essays |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Ma’s het engelvlerke |
Publikasiedatum |
1998 |
ISBN |
1868294501 (hb) |
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
Literêre vorm |
Godsdienstige publikasie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Dagboek vir die vrou 2000: 366 dagstukke van opwinding, hoop en verwagting |
Publikasiedatum |
1999 |
ISBN |
1868295826 (hb) |
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
Literêre vorm |
Godsdienstige dagstukke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Begenadigde vroue |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
1868297446 (hb) |
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
Literêre vorm |
Godsdienstige stukke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Jy’s veelkantig, vrou: geïntegreerd en God-gesentreerd: ’n ander kyk na die drie Spreuke-vroue |
Publikasiedatum |
2003 |
ISBN |
1868298949 (sb) |
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
Literêre vorm |
Godsdienstige stukke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Dagboek vir die vrou wat hunker na die bron van hoop en vrede |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
9781770001060 (hb) |
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
Literêre vorm |
Godsdienstige dagstukke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Magspel |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9781770003408 (sb) |
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
Literêre vorm |
Godsdiens |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Uit sy oorvloed: 365 dagstukke oor God se oorvloedige sorg |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
|
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
Literêre vorm |
Godsdienstige dagstukke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die ou vrou en die priester en ander verhale |
Publikasiedatum |
2018 |
ISBN |
9780798176996 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Artikels oor Cecile Cilliers op die internet
- Cecile Cilliers
- De Villiers, Johannes: Church "knows nothing about love
- Geoloog-eggenoot van Cecile Cilliers oorlede
- Jackson, Neels: Cecile sê sinode is “vermoeiend en pret”
- Jackson, Neels: Glo is soos asemhaal, sê Cecile
- Opperman, AJ: Cecile Cilliers dood op 85
- Opperman, AJ: Cecile Cilliers: Laaste familiekuier in Kruger was kosbaar
- Opperman, AJ: Cecile se bundel was ’n soort "swanesang"
- Opperman, AJ: Sy vertel al stories van toeka se dae af
Artikels deur Cecile Cilliers op die internet
- Basta met dié planne vir Boere-ghetto’s in vreemde
- Brown het mededoë vir medemens, passie vir God, hartstog vir poësie
- Count your blessings
- Deur staaltjies, stories word jy wys
- Dit kort ’n hartsverandering
- Ek verwonder my aan die beleefde Engelse
- In search of common decency
- Jasper kry toe raad teen die hardnekkige molplakkers
- Jy hoef nie te braai om Erfenisdag te vier nie
- Beeld-Deurloop: Koesterend in die sagte nag, is die verlange stil
- O so, dis waar ek vandaan kom
- ’n Rok van kant en linne vir net een keer se dra
- Wie sal oor hierdie dooi kindjie treur?
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.