Cas van Rensburg (1942–2018)

  • 0

Sêgoed van Cas van Rensburg

Soos Jung het Cas geglo dat elke mens twee paaie reis, die een na buite en die ander na binne: "Wat my betref, is dit ons lewenstaak om ons eie storie so volledig moontlik te vertel tot die einde toe. Dit veronderstel toenemende selfkennis en aanvaarding van jouself, jou skadukant en jou patologie. En dan die uitdaging vir elke mens, om uiteindelik bo alles uit te styg, jou beperkte klein menswees te transendeer en ’n begrip te kry van die groter geheel van die mensdom totdat jy ook kan sê: 'Dit is volbring!' " (aan Hettie Scholtz, Insig)

"Natuurlik is daar mylpale, maar ’n lewe word nie gemeet aan datums of posisies nie, maar aan die groei van die gees of psige van die mens wat op aarde net een kans gegun word om sy eie waarheid te verken." (Inligtingstuk van Tafelberg Uitgewers)

Gebore en getoë

Cas van Rensburg is in die Oos-Vrystaat gebore en het ook daar groot geword. Sy ooroupagrootjie, Francois Paulus Naude, het daar ’n plaas gehad. Dit was hierdie voorsaat van Cas wat geweier het om die eed van Bloedrivier af te lê. Cas het later aan Hettie Scholtz in Insig (2001) vertel: "Hier kom my dwars streep natuurlik uit."

Hy kom uit ’n familie van kunstenaars, "veral musieklikes en predikante wat in ewige stryd met mekaar is," skryf Scholtz. Waarop Cas geantwoord het: "Die een klomp bid en die ander sing in kore ..."

Aan Corlia Fourie (Beeld, 28 April 2001) het hy verduidelik: "Dit was dus van die begin af in my bloed dat ek sal móét preek of sing. Ná ompaaie het skryf uiteindelik my nering geword, veral die joernalistiek. Tussendeur het die predikantstreep in my voortgeleef en het ek ’n studie van sielkunde gemaak."

Verdere studie en werk

Ná skool is hy na die Universiteit van die Vrystaat waar hy sy BA-graad met filosofie en sielkunde verwerf het. Daar was ook ’n studie van die klassieke tale ingesluit. In sy biografiese skets wat deur Tafelberg Uitgewers opgestel is, het hy vertel dat hy wel verder geswot het, "maar ek het dit nie van veel belang geag nie omdat die lewe se leerskool nogal strenger eise stel". Hy was ongeveer agt jaar lank student.

Wat gedurende hierdie tyd belangrik was, is Cas se Jungiaanse analise wat hy by Marianne Jacoby in Londen deurloop het waar sy reis na binne begin het – dít wat Cas van Rensburg gevorm het.

Hy was egter nog altyd passievol oor die joernalistiek en wou hom altyd aan die hoogste internasionale norme meet. Sy joernalistieke loopbaan het by Die Burger in Kaapstad begin. In daardie jare het Die Burger goed opgeweeg teen ’n internasionale koerant soos die Londense Times.

Cas was ’n besonder veelsydige joernalis en het oor ’n wye spektrum van onderwerpe verslag gedoen – van die natuurwetenskappe tot die kunste, die politiek en die letterkunde. Hy was ook buitelandse korrespondent van Die Burger. Hy was eindredakteur van die meningsblad Insig en dit is waar hy sy joernalistieke loopbaan afgesluit het. Hy was ook boekredakteur wat meegebring het dat hy beoordelaar was by baie van die belangrike letterkundige pryse in Suid-Afrika.

Hettie Scholtz wou by Cas weet hoe hy as denker dan in so ’n "ongenadige" wêreld soos die joernalistiek beland het. "Die joernalistiek was nie vir my ’n beroep waarin ek groot hoogtes wou bereik nie; dit was ’n daaglikse gesprek met myself, baie gewond en sekerlik neuroties, wat gevoer is terwyl ek midde-in die wêreld gestaan het soos net ’n joernalis kan, terwyl ek deel was van die politieke, kulturele en sosiale strominge van my tyd. En nie net hier nie, maar ook in Europa. Kan enige mens meer vra?"

Cas het ook afdraaipaaie gevolg. Vier dramas uit sy pen, onder andere Die tweede dood van Robey Leibbrandt en Om Hendrik weg te bring, is vir die destydse Truk, die Staatsteater en Afrikaanse kunstefeeste geskryf. Hy het ook op die vlak van professor klas gegee aan Medunsa in die Jungiaanse sielkunde. Hy het sy studies in die Jungiaanse sielkunde ook voortgesit.

Die tweede dood van Robey Leibbrandt was Cas se eerste drama wat hy geskryf het. Dit is in 1984 deur Truk opgevoer met Chris Pretorius as regisseur en Ben Kruger in die rol van Robey Leibbrandt. Dit bied ’n nader blik op Robey Leibbrandt was ’n Suid-Afrikaanse Olimpiese bokser was en in die Tweede Wêreldoorlog ’n Duitse spioen. Hy was ook ’n teenstander van die Britse invloed en die politieke magte binne Suid-Afrika. Hitler het hom gefassineer en hy het planne gesmee om generaal JC Smuts te vermoor. Die drama is ’n ondersoek na die Afrikaner-psige en die identiteitskrisis agter die ideale van die suiwer "Volk".

Om Hendrik weg te bring is in 1997 by die KKNK opgevoer en Gabriël Botma (Die Burger, 2 April 1997) beskryf dit as "konfrontasie-teater op sy beste". Susan Breedt, gespeel deur Trix Pienaar, en haar man Steve (Johan Botha) se sitkamer is hulle slagveld. Byna twintig jaar nadat hulle seun in die Angolese Bosoorlog dood is, besluit Susan om haar na die WVK te wend om meer oor haar seun se dood uit te vind.

Botma was van mening dat Van Rensburg deur Susan dalk die geskiedenis ’n bietjie romantiseer, "maar hy deel swaar straf uit onder die patriargale Afrikaner en sy tradisionele instellings, die kerk inkluis. Die dramaturg verdien ’n medalje vir die vreeslose aan- en uitspreek van ’n magdom persoonlike en kollektiewe spoke. Boonop gooi hy sy taalnet wyd, van ontroerend sensitief en poëties tot kru en op die man en vrou af. Die akteurs val mekaar met woord, en later selfs daad aan. En die vonke spat behoorlik. Ondanks tekortkomings, veral regie-gewys, is dit ’n kragtige verhoogstuk wat nie aan die gehoor wegkruipkans bied nie."

In 1999 publiseer Van Schaik Cas se Die sprokie van Diana, prinses van Wallis, Sneeuwitjie en al die stories wat ons leef.

In Beeld van 1 Maart 1999 het Gretel Wybenga geskryf dat die subtitel van die boek belangriker is as ’n mens na die inhoud van die boek wil kyk en hoewel die sprokie van Sneeuwitjie parallelle met prinses Diana se lewe toon, word die sprokie gebruik om die volgende te doen: “a) Die Jungiaanse sielkunde vir die leek toeganklik te maak en te illustreer; b) Die terapeutiese waarde en boeikrag van die sprokie as kunsvorm hierdeur te beklemtoon en c) Bepaalde persoonlikheids-, verhoudings-, maatskaplike - en politieke probleme in ’n hedendaagse samelewing aan te toon met die geïmpliseerde oplossings daarvan, alles vir die Jungiaanse model.

"Die feit dat Van Rensburg se blik uitsluitlik Jungiaans is, sluit nie uit dat hy bewus is van, en dit ook terloops vermeld, die moontlikheid van ander interpretasies van die sprokie nie. Dit illustreer weer eens die rykdom vervat in een oënskynlik eenvoudige sprokie. Tog leen die Sneeuwitjie-sprokie en daarmee saam Diana se lewe, hom so ooglopend ook tot ’n Freudiaanse lesing dat hierdie leser dit nogal gemis het. (...)

"Van Rensburg se informele styl spreek ook uit die toeganklike geselstoon vol afdraaipaadjies en selfs hier en daar ter wille van duidelikheid, herhalings en oorvleuelings. Dit is egter myns insiens ’n sterk toetssteen as die sogenaamde ingewikkelde in eenvoudige woorde uitgesê kan word, en daarin slaag Van Rensburg by uitnemendheid. ’n Mens hoef nie eers oral met sy interpretasies en bespiegelings saam te stem om steeds dié intelligente boek te geniet nie."

Ook Petra Müller in De Kat van Maart 1999 is beïndruk met Cas van Rensburg se Die sprokie van Diana. Sy beskryf dit as ’n baie buitengewone boek, "vol delikate en ongewone insigte, waarin Van Rensburg as storiesoeker van die psige die lewe inlei in ’n landskap van sprokie-ooreenkomste waarmee ons tergend bekend is en tog wel tergend onbekend wil bly. Dit is die wêreld van die on-rede, waar oerpatrone en instinktiewe gedrag déúr ons versigtig gekonstrueerde maskers en voorwendsels breek. Dan word ons gedrewe, histeries, besete, gesplete, infantiel, bevange of sommer net doodgewoon mal.

"Of sit op ’n Sondagoggend en tjank oor ’n prinses wat ons nooit geken het nie – soos ek gedoen het. Wat sê Jung? Jung sê ons leef nie net in ’n toestand van kollektiewe bewuswees nie, maar veral in kollektiewe onbewuswees, die neerslag van al ons oer-ervaring, terug tot by Genesis 1 vers 1 – daar waar dit woes en leeg was. Jung sê al die sprokiespatrone van die wêreld, of dit nou in sprokies uiting vind, of in mites, godsdienste, rites, moderne fiksie, flieks, strokiesprente, droommateriaal, visioene van mistici, hallusinasie of analitiese gegewens, wys sekere oergestaltes aan waarmee ons identifiseer.  Hulle verteenwoordig ons oerdrange – oorlewingsangs, doodsvrees, seksuele drang, sug na mag, ons honger en ons dors. Uit dieselfde onbewuste kom die idee van ’n Godheid na vore asook die idee van die reddende Self en die ego-transenderende waarhede van geloof, hoop en liefde. Jung gee gestaltes name. Daar is die Wyse Grysaard, Die Vernietigende (of Versorgende Moeder, die Skaduwee, die Goue Jongeling, die Held, die Soeker, ensovoorts. En dan is daar die Skone Slaapster, die gestorwe jongvrou in haar glaskis.

"Dis hier waar Van Rensburg die spoor van Diana en Sneeuwitjie vat. En dis nie ’n kinderstorietjie wat hy hier vertel nie. Dis wel ’n raaiselspel. Want hy lê met verbasende samehangendheid die simboliese betekenis van die spieël aan die wand, die drie druppels bloed, die moeder wat gesterf het, die koue Koningin, die sewe dwerge, die gif in die appel en dan natuurlik veral die sneeuwit meisie in haar skynslaap. Hy tref nie ’n vergelyking tussen Diana en Sneeuwitjie nie – ook in daardie opsig is sy teks delikaat. En hy gebruik die gewoonste, sprekendste taal, met ’n besondere teerheid van aanslag, asof hy inderdaad iets van die gryse wysheid in sy sak het. (...)

"Wat vas staan, is dat Jung ’n magtige invloed op ons Afrikaanse letterkundiges gehad het. Maar benewens Vera Bührmann se boek oor Xhosa-shamaankunde is daar in ons land nog niks sprekend vir die gewone leser óór Jung geskryf nie. Hier het ons nou, na aanleiding van ’n onweerstaanbare kontemporêre mite – en wie het ooit gedink dat ons nog so iets kan beleef – ’n sprekende boek oor die sprokies wat ons leef. Ons loop, sê die boek onder meer, selfs al loop ons in die lig, nog altyd met die skaduwee van ons onerkende self aan ons voete. Op die hoogdag van ons lewe staan ons dikwels in ’n poel van daardie skaduwee.

"Ek was lank ingedagte nadat ek Die sprokie van Diana gelees het, en is dit nog steeds. Die verbeelding maak sy pad op wonderlike plekke, selfs ook moderne koningshuise. ’n Padkaart help – en dié boek is ’n onverwagte helder gids tot die essensiële reis na binne om jou eie sprokie te herken."

In 2012 het Cas Die sprokie van Diana bygewerk en nuut geredigeer en by Hemel & See Boeke uitgegee onder die titel Die prinses in elke vrou. Oor hierdie uitgebreide Die prinses in elke vrou skryf Wilhelm Jordaan in Rapport Boeke van 5 Februarie 2012 dat hierdie projek beslis in hierdie tyd nog tersaaklik is.

"Enersyds het prinses Diana ’n haas onvernietigbare ikoonstatus verwerf vanweë die sprokiesaard van haar lewe en sterwe. Sy boei steeds mense se aandag.  Andersyds word die sprokie Sneeuwitjie, al is dit eeue oud, vandag nog met variasies vertel (in 54 tale regdeur die wêreld), terwyl verskillende vertolkings daarvan steeds voortgebring woord in letterkundige werke, teateropvoerings en in flieks. (...)

"Met sy boek lewer Van Rensburg ’n stewige en belangrike bydrae tot die literatuur oor sprokies. Hoewel hy toeganklik en met ’n populêre aanslag skryf, steun hy ook met groot vrug op ernstige studies oor sprokies. (...)

"Oorwegend is dit ’n betekenisvolle boek. Daar is egter enkele lastighede. Soos Van Rensburg se onkritiese aanvaarding van Jungiaanse begrippe, byvoorbeeld individuasie waarvolgens elke lewende ding (ook mense) se lewensbestemming geneties vasgelê is. Uiteraard is dit ’n ontoetsbare hipotese wat maak dat betekenis-eksegese plek-plek lukraak en naïef is. Afgesien hiervan is die gebruik van die materiaal soms verwarrend en daar is te veel tipografiese slordighede. Die boek sou kon doen met ’n strenger redakteurshand."

In 2000 publiseer Van Schaik Uitgewers Cas van Rensburg se boek oor drome, Jou drome – die onbewuste het ál die antwoorde. In ’n onderhoud met Corlia Fourie in Beeld (28 April 2001) het Cas vertel dat hy ver moes gaan soek voordat hy by die besef uitgekom het hoe belangrik drome is om jouself te verstaan – by ’n Jungiaanse ontleder in Londen, Marianne Jacoby.

Fourie wou weet hoekom ’n mens droom: "Jung het gesê drome is kompensasie en help om die ewewig in ons psige te herstel. Almal dra maskers en wys ’n ander gesig aan die wêreld as dié een wat jy in jou binnekamer sien. Soms stry ons teen dit wat ons sien omdat dit dalk nie vir die gemeenskap aanvaarbaar is nie. Dan onderdruk ons daardie aspek van onsself. Dit is dan dat jy sal droom jy stap kaal in die straat af of word deur boewe aangeval."

Drome kan jou ook help om meer kreatief te wees en dit is bekend dat talle kreatiewe persone hul werke "gedroom" het. Drome kan ’n mens dus lei om oorspronklik en nuut te dink. In die tweede plak kan jy, deurdat jy met die hulp van ontleding van jou drome, jou probleme oplos of probeer verstaan wat dit is wat jou terughou. En dít kan lei tot meer energie en groter kreatiwiteit, het Cas gemeen.

Daar is egter ander maniere behalwe drome waarop ’n mens die reis na jou individuele self kan voltooi, het Cas aan Corlia Fourie gesê: "Vir baie mense speel godsdiens hier ’n belangrike rol. Ander leer weer deur die lewe self, die stampe en stote, die tragedies en hoogtepunte, wie hulle is en wat hul taak of roeping op aarde is. Drome kan baie belangrik wees om jouself beter te leer ken en te verstaan."

Cas het self oor Jou drome gesê: "Dit word al meer aanvaar dat elke mens met sy lewe op aarde ’n unieke storie vertel ... Sielkundiges is dit eens dat daar in almal van ons ’n soort bloudruk van ons lewe is – as ons net daarna sou wou luister. En drome, het Freud destyds al gesê, is die 'koninklike weg' na die onbewuste, waar dié bloudruk waar word ... Deur op die regte manier aandag aan jou drome te gee, kan jy jou lewensverhaal beter vertel, en kan jy ook beter lewe."

Francois Swartz (Volksblad, 4 Junie 2001) beskryf Jou drome as ’n boeiende in interessante werk waarin die skrywer sy lesers uitnooi om dapper te wees en deel te word van ’n fassinerende reis deur ’n besonderse wêreld. Die teks is netjies en baie goed versorg en dit wys dat die navorsing deeglik gedoen is.

"Inderdaad, sê die skrywer. Jy is ’n baie interessanter mens as wat jy dink, jou gees ryker as wat jy wil toegee. Elke nag word elke mens, hoe ontalentvol ook al, ’n uitnemende kunstenaar en skep die een oorspronklike kunswerk na die ander. Leer ken jouself deur jou drome, want dis die unieke jy, nooi die skrywer. Skryf jou drome neer. Maak vir jou ’n droomboek, want jou drome is altyd vriendelik in die sin waarin die waarheid altyd vriendelik is: selde aangenaam, dikwels pynlik, maar altyd genesend, helend, weldadig.

"Vir my as sielkundige en teoloog is juis dit die besonderse verdienste van die werk. Die skrywer toon dat ons drome sê daar is regtig geen goggas wat vir baba hoef bang te maak nie. (...)

"Dit pla dat Van Rensburg enersyds Jung se gedagtes slegs as een moontlikheid tot die interpretasie van droominhoude voorhou, maar andersyds skryf asof Jung die waarheid beet het. Volg dus die raad wat die skrywer self gee. Beskou enigiets in jou drome as blote hipoteses. (...) Van Rensburg het my geïnspireer om self ’n droomboek aan te skaf, maar nie om daardeur antwoorde oor myself te vind nie. Ek is meer geïnteresseerd in die vrae wat my drome vir my vra oor myself."

Ook Henning Viljoen (Beeld, 26 Maart 2001) beveel Jou drome ten sterkste aan by diegene wat "sy/haar eie menswees en verhoudingslewe beter wil verstaan".

Cas het later in Vermont naby Hermanus gaan bly in Hemel & See saam met Petrovna Metelerkamp en ander in hulle eie "gemeenskap". Oor hierdie manier van woon het Cas aan Terry de Vries vertel dat dit ’n mens leer om algaande minder selfsugtig te wees. "In die gewone alledaagse lewe is elkeen op sy eie goed aangewese, maar hier word jy al meer afhanklik van ’n gemeenskapslewe. Jy leer om jou dienste aan te bied.

"Ons leef nie in mekaar se sakke nie. Elkeen het ook nog sy aparte vriendekring buite. Maar hier is ’n plek om regtig na huis toe te kom. Waar daar altyd iemand is wat sal luister as jy kla. Ons het darem al deur die jare die spreekwoordelike sewe sakke sout opgeëet!"

In Beeld van 23 April 2001 het Cas vertel van ’n boek wat sy lewe verander het: "Vandag word Thomas Merton algemeen beskou as een van die invloedrykste geestelikes van die 20ste eeu. (...) Destyds egter toe ek sy nou beroemde outobiografie, The seven storey mountain, gelees het, was ek sekerlik meer geïmponeer dat so ’n briljante jong man, digter en skrywer, sy rug op die wêreld kon keer om as ’n monnik in die Trappiste-orde ’n eed van swye af te lê terwyl hy die wêreld aan sy voete kon kry.

"Toe hy soveel jaar later deur ’n elektriese waaier doodgeskok is, was hy ’n wêreldbekende figuur – as digter, monnik en veral as skrywer met diep geestelike insigte wat hy met groot pyn ontworstel het aan sy bestaan in die benouende atmosfeer wat enersyds sy geestelike tuiste was, maar ook die labirint van ongenaakbare tradisie en verkrampte godsdienstige denke waaruit hy sy pad moes vind na ’n nuwe lig.

"Tog eienaardig dat ’n monnik in een van die strengste monnike-ordes die vriend was van uiteenlopende mense soos Pasternak, Martin Luther King, Joan Baez, Jacques Maritain, die digter Cardinale, Erich Fromm en so baie meer.

"Sy nalatenskap is ontsaglik. Pas weer het ’n besondere boek, Heretic blood, the spiritual geography of Thomas Merton deur Michael W Higgins verskyn wat nuwe lig werp op sy lewe en denke op grond van dagboekinskrywings, wat nou vir die eerste keer gepubliseer word onder die algemene titel A search for solitude.

Merton die monnik, denker en skrywer bewys steeds dat daar in die Westerse teologiese denke nog baie is wat ontgin kan word. Sy lig verdryf steeds die ou donker en afgeleefde denke wat soveel kerke nog verlam."

Cas van Rensburg is op Donderdag 3 Mei 2018 in ’n aftreeoord in Onrus naby Hermanus oorlede. Hy het geen naasbestaandes agtergelaat nie en Petrovna Metelerkamp het aan Netwerk24 gesê dat geen begrafnis beplan word nie, maar net ’n fees van vriende.

Huldeblyke:

  • Hettie Scholtz: "’n Mens is getref deur ’n gesofistikeerdheid, ’n 'wêreldwetenheid' wat hom omring. Hy is, in die beste sin van die woord, ’n wêreldling met opleiding in klassieke tale, filosofie, maar ook en veral in die dieptesielkunde, iets wat is sy persoonlikheid deurwerk. Iemand wat begryp hoe die wêreld inmekaar sit – en die rede hoekom hy dit in die eerste plek begryp, is omdat hy ’n Vrystater is. ’n Blikoor met ’n besondere gevoeligheid vir die vroue-wese en ’n vermoë om in ’n geselskap te versmelt en in al die verskillende persoonlikhede in te gaan. (...) ’n Reflektiewe mens, dodelik eerlik oor sy introspeksie. Ja, ’n mens sou dit tog kon sê: In Cas van Rensburg se nadenklike jare is daar iets keiserliks aan hom – al dra hy sy klere met so ’n ongeërgde houding..." (Insig)
  • Sherman Pharo, ’n voormalige lid van die Hawston-dramavereniging: "Die sukses van hierdie dramagroep kan toegeskryf word aan Cas van Rensburg se mentorskap. Baie van ons lede se liefde vir drama is as gevolg van sy passie en invloed. Sy deur was altyd oop en hy het sy kontakte gebruik om ons te help om produksies by verskeie feeste op die planke te bring. Hy het my ook baie gehelp met my skryfwerk. Toe ek vir my eerste oudisie vir ’n TV-rol gegaan het, het hy my baie waardevolle tips gegee. Sy dood laat beslis ’n groot leemte in die dramawêreld." (Hermanus Times, 14 Mei 2018)
  • Karin Brynard: "Hy was een van die laaste van sy soort in die joernalistiek voordat hy afgetree het. Deur en deur ’n ouskool-intellektueel, ongelooflik wyd en ryklik belese, verfynd en sjarmant soos ’n Engelse lord, maar terselfdertyd ’n onkeerbare rakker en genieter van die lewe. Hy kon tegelyk die poëtiese en die absurde in die lewe raaksien. Die lewe was nooit saai in sy omgewing nie, want hy was wispelturig – een oomblik dawerend en donderend, dan weer kinderlik opgewonde oor ’n 'wonderskone' stuk skryfwerk of weekgelukkig oor ’n diep-filosofiese bepeinsing in ’n artikel, en die volgende oomblik eet ons bunny chow saam met die konstruksiewerkers van die omgewing by ’n slaptjips-winkel op die hoek en geniet dit gate uit. Hy het die res van ons in die joernalistiek soos bleeksiele laat lyk. Hy was ’n heerlike, eiesoortige, eksentrieke boheem. Met ’n ewe mooi stem wat die volle register van sy karakter kon uitdra." (Netwerk24, 3 Mei 2018)
  • Piet Muller: "Cas van Rensburg was sekerlik die mees belese en talentvolste kollega met wie ek ooit saamgewerk het. ’n Joernalis wat harde nuusstories kon skryf en net daarna insigvolle werk oor kuns of drome. ’n Mens wonder hoe sy loopbaan sou gelyk het as hy die kans gehad het om vir die Europese of Amerikaanse mark te skryf. Ons het etlike jare lank saam gewerk by Beeld in Pretoria, waar hy nuusredakteur was, en later in Johannesburg toe ons saam Insig begin het.

"Hoewel Cas ’n reputasie gehad het as ’n moeilike mens, kan ek nie een dag onthou dat ons ooit rusie gehad het of suur was met mekaar nie. Miskien was ons in baie opsigte voëls van eenderse vere. Ongelukkig het ons ook mekaar se swak punte gedeel, wat soms ’n fatale kombinasie gevorm het. Hy het byvoorbeeld nie baie politieke aanvoeling gehad nie en ek weer nie politieke brieke nie, met die gevolg dat "hulle wat in die donker wandel" ons kantore ge-bug het. Gelukkig het goedgesinde vriende ons gou daaroor gewaarsku en het ons ons politieke berigte daarna in iemand se kar beplan. Cas se insig in mense en verhoudings was merkwaardig. Ek bring graag hulde aan ’n vriend van wie ek altyd net lojaliteit en ondersteuning ontvang het en vir wie se werk ek die grootste respek gehad het." (LitNet)

  • Petrovna Metelerkamp: "Ek en Cas was 36 jaar lank vriende, deur dik en dun. Dik was die goeie tye, nagte op sy stoep in Hemel & See, in Vermont, onder die Suiderkruis, met die klap van die branders wat breek. Dan kon hy so filosofeer dat ’n mens wens daar is ’n bandopnemer langs die bottel rooiwyn. Gelukkig is Cas se wyshede in sy talle notaboeke bewaar, heel moontlik publiseerbaar.  (...) Die dun tye het gekom wanneer Cas die oorlogspad gekies het. Steeks en vol geite, soos net voor die verskyning van sy wonderlike boek oor die manlike psige: In elke man ’n wond - Oscar Pistorius en al die ander met seer, donker kante. Met die redigering halfpad deur ’n uithaler-redakteur voltooi, skop Cas skielik vas: Hy laat nie aan sy woorde verander nie. Produksie is gestaak, die vriendskap is ná onderhandeling herstel, maar die boek moet nog verskyn.

"Teen die einde, toe Cas – nog nie 77 nie – oorwoë sê hy is 'gereed om deur die poorte te gaan', het hy vrede gehad. Namate hy weens hartversaking verswak het, was hy rustig. Sy laaste versoek was dat ek vir hom uit die Bybel moet lees." (Netwerk24, 3 Mei 2018)

Publikasies:

Publikasie

Die sprokie van Diana: Prinses van Wallis, Sneeuwitjie en die verhale wat ons leef

Publikasiedatum

1999

ISBN

0627023983 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Sielkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jou drome: die onbewuste het ál die antwoorde

Publikasiedatum

2000

ISBN

9780624038740 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Sielkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die prinses in elke vrou

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780620510387 (sb)

Uitgewer

Hermanus: Hemel en See Boeke

Literêre vorm

Sielkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor en deur Cas van Rensburg beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top