Caroline de Margerie: American Lady

  • 1

Dit is vir my interessant om na te gaan hoe (mooi) vroue hulle in die openbare lewe geposisioneer het in die tyd voor feminisme resultate behaal het. Ek het al oor bv Diana Cooper (SêNet 14.03.2013) en Nancy Mitford (SêNet 20.09.2012) geskryf; veral oor hulle lewe in Parys na die Tweede Wêreldoorlog. Daar is 'n derde dame uit hierdie milieu wat aandag verdien. Ek skryf met verwysing na Caroline de Margerie se boek, American Lady: The Life of Susan Mary Alsop (New York: Viking, 2012). Die boek is uit Frans vertaal. Die outeur se man, Emmanuel, was die Franse ambassadeur in Amerika in die jare tagtig. Haar suster in Amerika, Aniela Vilgrain, het aktief aan die teks meegewerk. Dit gaan hier om mense wat in baie gevalle reeds geslagte lank met diplomatieke en politieke sake in hoë sosiale kringe te make het.

Die inleiding is geskryf deur Frances Fitzgerald, 'n joernalis en die dogter van Desmond Fitzgerald (1910-1967), wat die adjunk-direkteur van die Amerikaanse Central Intelligence Agency (CIA, "the pickle factory", Kindle 148) was. Van 1939 tot 1947 was hy getroud met Frances se ma, Marietta (gebore Peabody, 1917-1991), wat in 1947 met die skatryk, biseksuele Ronald Tree (1897-1976) getrou het. Ronald was die minister van inligting in die oorlogskabinet van Winston Churchill, maar het hom daarna in Amerika gevestig. Die rede waarom Frances die inleiding geskryf het, is omdat haar ma en Susan Mary (gebore Jay, 1918-2004) lewenslank vriendinne was. Susan Mary was Frances se peetma. Susan Mary was 'n afstammeling van een van die VSA se "founding fathers", John Jay, die eerste hoofregter van die appèlhof.

Susan Mary se pa, Peter Jay, was 'n Amerikaanse diplomaat in Rome toe sy daar gebore is. In 1926 het hulle in Argentinië gewoon toe Susan Mary se suster, Emily, wat sewe jaar ouer as sy was, daar oorlede is. Die gesin het na Amerika teruggekeer, waarna haar pa uit die diplomatieke diens getree het. Susan Mary se ouers het oor Emily getreur terwyl hulle haar verwaarloos het. Haar pa is in 1933 oorlede. Mary, haar "meddling mother" (K 417), en Susan Mary het lewenslank swak met mekaar oor die weg gekom. Na skool is Susan Mary nie universiteit toe nie, maar het 'n ontvangsdame by die tydskrif Vogue geword en 'n bietjie modelwerk gedoen.

Desmond Fitzgerald en William Patten (1909-1960) was vriende aan die Universiteit Harvard. Desmond het William aan Susan Mary voorgestel en hulle is in dieselfde jaar, 1939, as Desmond getroud. William het aanvanklik by makelaars in Boston gewerk. In 1942 het hy 'n pos in die State Department in Washington DC aanvaar. In hierdie tyd het Susan Mary vir bv Isaiah Berlin (SêNet 27.05.2013) ontmoet. Teen die einde van 1945 het William 'n ekonomie-ontleder aan die Amerikaanse ambassade in Parys geword. Susan Mary het in die inligtingskantoor van die Amerikaanse Rooi Kruis gaan werk. Sy het gangbare Frans aangeleer en die internasionale en spesifiek Franse politiek in die koerante en ook sosiaal, dus eerstehands, leer ken.

Susan Mary het haar as 'n eersteklas gasvrou onderskei: "The best of hostesses, attractive and sexy" (K 170). Sy was ook "relentlessly energetic, highly intelligent, and charismatic" (K 90). Spoedig het sy kennis gemaak met bv president Charles de Gaulle se vertroueling, Gaston Palewski (1901-1984), en sy vriendin, Nancy Mitford (1904-1973); ook met die Britse ambassadeur in Parys (1944-1947), Duff Cooper (1890-1954), en sy vrou, Diana (1892-1986). Duff het hom vir beter Brits-Franse betrekkinge beywer, terwyl Susan Mary die verhouding tussen die Amerikaanse en Franse regerings wou verbeter. Nancy het gesê Susan Mary "liked seeing 'history on the boil'" (K 715, 1074). In 1947 het Susan Mary 'n intieme verhouding met Duff, "the love of her life" (K 128), begin. "She had stopped loving her husband a couple of years earlier" (K 731). "Duff ... liked the thrill of multiple clandestine relationships" (K 819). "Knowing herself to be loved by Duff, she took to flirting with other men out of pure amusement" (K 807).

Die nuwe Britse ambassadeur, Oliver Harvey, het Duff in Parys vervang, maar die Coopers het verkies om in daardie stad te bly woon. Toe Duff uittree, was Susan Mary reeds nege jaar kinderloos getroud en vier maande swanger. "Duff Cooper made it clear that the expected baby was Susan Mary's business and did not involve him in the least" (K 890). Haar man, William, "expressed only joy and Susan Mary convinced herself it was all for the best" (K 894). William (Billy) Samuel Patten is op 4 Julie 1948 gebore. Diana het Susan Mary die dag na die geboorte besoek en Duff het op die 13de kom kyk: "The baby ... looked to me very much like any other baby" (K 909).

Gaston het die baba gesien en "thought it was the spitting image of Duff himself" (K 922). Nancy se reaksie was: "But Duff is the image of all babies" (K 926). Susan Mary "did not let herself criticize [Duff], nor did she reproach him for his absence from the baptism ceremony a few months later" (K 914). Joseph (Joe) Alsop (1910-1989) is as Billy se peetpa en Marietta as sy peetma benoem. William en Joe was sedert hulle skool- en universiteitsjare vriende. Susan Mary het vertroulik aan Marietta genoem dat Duff Billy se biologiese pa is.

"She never failed to write about Billy in the letters she sent Duff" (K 918). Susan Mary het al om die ander dag aan Duff geskryf; uiteindelik sowat 500 briewe, 1947-1953 (K 2857). "Because mere descriptions were not enough, Susan Mary sent photographs, handprints, and footprints" (K 922). "She took ... risks several times a month, meeting her lover in restaurants or in his apartment ... A passionate letter followed every encounter, while Duff calmly noted that she was far more smitten than he was, and that he didn't deserve her" (K 1026). In 1950 is William en Susan Mary se dogter, Anne, gebore. Hierdie keer was daar geen skinderstories nie. "In spite of the tenderness she felt for Billy and Anne, Susan Mary had been more at ease as a mistress than as a mother" (K 1248).

Billy se amptelike pa was van jongs af sieklik. Aanvanklik is sy kwaal asma en later emfiseem genoem. Mettertyd het sy hart verswak en was 'n pasaangeër nodig. Die Pattens is na Boston sodat William gespesialiseerde mediese sorg kon ontvang. Susan Mary "was amused to see the doctors' perplexity when confronted with young Billy's perfect lungs. 'All their ideas on asthma heredity are upset and they are writing learned papers for the medical journal on him'" (K 1148). Die Pattens is terug na Parys en William se gesondheid het dermate verbeter dat hulle Italië twee keer besoek het.

Soos in die geval van Diana, maak Susan Mary haar verskyning as 'n gekamoefleerde karakter in sommige van Nancy se romans. Susan Mary het haarself herken, maar Nancy veel eerder oor haar anti-Amerikaanse gesindheid verkwalik. Vir 1953 se Kersfees het Duff en Susan Mary vir Diana 'n handsak van groen fluweel gekoop. Kort daarna het die Coopers met vakansie na Jamaika vertrek. Op die skip het Duff siek geword en is op die eerste dag van 1954 oorlede. In Maart het Susan Mary saam met Diana 'n besoek aan Griekeland gebring. Later het Susan Mary al die briewe verbrand wat sy van Duff ontvang het. Kort voor Diana se dood het Susan Mary haar in Londen besoek.

William was tot aan die einde van 1954 aan die ambassade verbonde en het daarna by die Wêreldbank in Parys tot aan die begin van 1958 gewerk, toe hy weens emfiseem afgetree het. In 1958 is Billy in 'n kosskool in Engeland geplaas. William het met 'n kierie en suurstofhouers oor die weg gekom. Joe Alsop het hom besoek. In 1959 is die Pattens terug na Amerika. Susan Mary wou graag in Paris bly woon, want sy was na haar "emotional widowhood" (K 1426) oor Duff in 'n verhouding met die Britse ambassadeur, Gladwyn Jebb, betrokke wat in 1954 daar diens aanvaar het. Susan Mary het in 1959 aan Gladwyn geskryf: "To love is to suffer, but it is also to live, and I hadn't lived for such a long time" (K 1433). Die jaar daarna is William oorlede. Susan Mary het na Parys terugkeer en vir 'n formele kursus in staatsleer ingeskryf.

Joe Alsop was 'n gevierde rubriekskrywer. Sy mening is in bykans 200 koerante, met 'n lesertal van 25 miljoen, gepubliseer. Hy het Susan Mary besoek en in Junie 1960 gevra dat sy met hom trou. As sy in 'n ander verhouding betrokke was, kon sy daarmee voortgaan. Hy het gebieg dat hy homoseksueel is. In die na-oorlogse Parys was Susan Mary 'n waarnemer van belangrike politieke gebeure, bv die Algerynse oorlog (1954-1962). In Amerika het die Kennedy-era (1961-1963) aangebreek. Aan Joe se sy sou sy in Washington DC eerstehands nog belangrike gebeure, "historic moments" (K 1905), kon waarneem, bv die Kubaanse krisis (1962). Sy het gedink dat sy Joe seksueel kon hervorm en het die raad van haar ma en Marietta geïgnoreer en in 1961 met hom getrou.

Die Alsops en die Kennedys was huisvriende. Susan Mary het as gasvrou uitgemunt en baie vooraanstaande mense ontmoet. "Her chaste companionship with Joe did not bother her; it was compensated by privileges like regularly playing hostess to a brilliant cast of characters" (K 1832). Die Alsops het meermale oorsee gereis. Haar tweede huwelik was egter nie 'n feëverhaal nie. Joe het niks minder nie as volmaaktheid van haar verwag en was dikwels oorkrities en onbeskof, veral wanneer hy te veel gedrink het. "From time to time, Joe would bring up the idea of a separation, not as a threat but as a solution to their uneasy daily life" (K 1862). Hy het goed met sy stiefkinders oor die weg gekom. In die jare sestig het sowel Billy as Anne getrou, maar mettertyd het albei geskei. Susan Mary het besef dat sy Joe nie kon hervorm nie en "her hard-won self-confidence disappeared" (K 188). In 1973 het hulle ooreengekom om te skei. Hierna het hulle beter oor die weg gekom.

Susan Mary het in 'n woonstel in Washington DC gaan bly. Eensaamheid was haar voorland. Sy het toe met 'n ander projek as brieweskryf begin, naamlik die voorbereiding vir publikasie van haar briewe aan haar vriendin in Engeland. In 1975 is To Marietta from Paris, 1945-1960, gepubliseer. Hierna het drie historiese studies gevolg. Lady Sackville: A Biography (1978) handel oor Victoria Sackville (1862-1936), die ma van die skryfster, Vita Sackville-West. Susan Mary het onder andere te Knole (SêNet 23.11.2011) en Sissinghurst (SêNet 25.11.2011) navorsing gaan doen. Yankees at the Court: The First Americans in Paris (1982) is geïnspireer deur haar voorvader, John Jay, wat saam met Benjamin Franklin en John Adams namens Amerika die vredesooreenkoms met Brittanje na die Amerikaanse onafhanklikheidsoorlog (1775-1783) in Parys onderteken het. Susan Mary se laaste boek, The Congress Dances (1984), handel oor die Kongres van Wene (1814-1815), waartydens oor die lot van Europa na die Napoleontiese oorloë ooreengekom is. Van 1984 af het Susan Mary 'n medewerker van die tydskrif Architectural Digest geword en langer as 15 jaar volgehou om drie tot vyf artikels per jaar te lewer.

In 1977 is Susan Mary se 98-jarige ma oorlede. Sy het toe geld en twee wonings in Amerika geërf. Joe het in 1974 afgetree en is in 1989 aan longkanker oorlede. In 1991 het kanker ook die lewe van Marietta geëis. "By dint of her personality, exceptional talent as a hostess, and intelligent exploitation of her past, Susan Mary made her salon one of the centres of Washington social life ... By inviting only those who were well known or hoped to be, by entertaining only success and ambition, she deprived herself of the other, gentler kinds of company that these strict criteria often cast aside. No matter her mood, she allowed herself only corseted perfection, sacrificing spontaneity, emotional sincerity, and repose" (K 2310).

In haar laaste jare kon Susan Mary nie meer goed sien nie en moes sy noodgedwonge haar skryfwerk los. "Scotch or vodka became necessary to make it through the day ... Drinking dissolved solitude, regrets faded into peaceful nostalgia" (K 2467). Sy is deur haar kinders na 'n hospitaal geneem vir behandeling teen dranksug. Tydens 'n terapiesessie in 1995 het Duff ter sprake gekom en Susan Mary het toe aan Billy gesê: "Oh, yes, of course, and he's your father." Billy "burst into tears and left the room" (K 2490). Dit is toe die eerste keer dat die 47-jarige Billy dit hoor; iets wat sy suster toe reeds lank geweet het. Na haar ontslag uit die hospitaal "Susan Mary slowly returned to the comfort of alcohol" (K 2497). Ten tye van haar dood is sy "a legendary hostess, an American aristocrat, and the witness of a bygone era" genoem (K 2549). Vier jaar later, in 2008, het Billy 'n boek oor sy drie vaders, sy amptelike pa, William Patten, sy biologiese pa, Duff Cooper, en sy stiefpa, Joe Alsop, gepubliseer: William S Patten, My Three Fathers and the Elegant Deceptions of My Mother, Susan Mary Alsop.

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top