Carina Diedericks (1977–)

  • 1

Gebore en getoë

Carina Diedericks is op 11 Maart 1977 in Johannesburg gebore. Sy is die jongste van drie kinders (amper ’n laatlammetjie, beskryf sy haarself) na twee broers, Christiaan en Gerhard. Haar pa was in die bankwese en haar ma ’n onderwyseres.  

Sy begin haar skoolloopbaan aan die Laerskool Horison in Roodepoort aan die Wes-Rand Sy onthou ook dat hulle huis “dig gestaan het van die boeke”. “Ek kan nie veel onthou van graad een nie behalwe dat ek steeds deur my ma gedwing was om ballet te neem, ek regtig nie vinnig kon hardloop nie, daar elke pouse oliebolle vir 50c verkoop is en ons skoolklere ’n baie lelike bruin was,” vertel sy in ’n biografiese skets aan NALN.

Hierna verhuis die gesin na Pretoria, waar hulle vir vier jaar gewoon het. Vir Carina was dit heerlike jare en is sy steeds van mening dat Pretoria ’n baie lekker plek was om groot te word. Sy het daar die Laerskool Anton van Wouw bygewoon en vertel dat sy “woes geswem en koor gesing het, nou en dan klavierles geneem, was ’n baie goeie Voortrekker (ek kan steeds vinniger ’n vlag hys en stryk as enigiemand wat ek ken, vertel sy in 2004) en het nogal van ons skooluniforms (vir ’n slag) gehou. Ek was veral in my noppies dat ek kaalvoet kon skool toe gaan.

“Ek onthou Pretoria veral as die plek waar ek regtig ernstig begin lees het. Ons het aan die groot biblioteek in die stad behoort waar ek deur al die boeke gedraf het en ek was lid van die Daan Retief Boekklub. Elke maand het ’n pakkie gekom met ’n boek, ’n Japsnoetboekie (’n tipe niefiksieboekie) en ’n aktiwiteitsboekie. My broers het ook al die jare aan die klub behoort wat beteken het dat ek eintlik drie keer soveel boeke gekry het as enige van my ander maats! My gunstelingboeke was die Swart Kat-reeks van Chris Sassner. Ander gunstelinge was die Maasdorpreeks en Nancy Drew. Ek het ’n Swart Kat-uniform gehad en het met my BMX deur die strate gery en avontuur gesoek (wat ek natuurlik nie gekry het nie) en toe maar bly lees en perdry.”

Carina onthou baie goed hoe sy en haar ma op haar negende verjaardag na die biblioteek in Pretoria is sodat sy, nes haar ma en haar ouma voor haar, kon begin lees aan Stella Blakemore se Maasdorp-reeks: “My coming af age het begin. Sedertdien sien ek uit na elke Desember vir ’n jaarlikse kuier met Kobie en die girls.”

Sy vertel in Beeld van 25 Julie 2011: “Vandag weet ek drie dinge: As dit nie vir Maasdorp was nie, het ek nie self ’n reeksboekskrywer geword nie; daar is nog ongeveer 90 dae voordat ek weer Maasdorp besoek; en ek is baie bitter dat my ouers my nie in die koshuis wou sit nie.”

Aan die begin van haar hoërskoolloopbaan trek Carina saam met haar gesin Kaapstad toe. Sy was aanvanklik nie baie gelukkig daar nie. In die Laerskool Groote Schuur het almal gedink sy is baie vreemd omdat sy van haar “mô” en haar “pô” gepraat het. Sy het dit egter baie geniet om so naby aan die see te wees en nou meer perd te ry as in Pretoria. Later het hulle na Constantia verhuis, waar al die bure perde gehad het: “Maar dit was wonderlik, want ons huis was so naby aan Duiwelspiek dat ek soms vir Van Hunks moes gil om maar stadig te gaan met sy pyp.”

Carina beskryf haarself as ’n “vreeslik soet en voorbeeldige tiener” en dat as sy haar lewe kon oorhê, sy as tiener sou begin het omdat haar lewe toe só vervelig was. “My onderwysers by Herschel School (’n private meisieskool in Claremont) sê nou nog ek bly hulle gunsteling. Ek was nooit ’n rebel nie – ek het altyd my huiswerk gedoen, was onderhoofmeisie, het nie te laat uitgebly nie en het selfs hokkie gespeel (selfs al het ek nie daarvan gehou nie). Ek was wel mal oor waterpolo. In graad elf is ek gekies as uitruilstudent na Amerika waar ek by Brooks School in Boston skoolgegaan het.

“Ek en die meisie wat saam met my was, het daarna vir ses weke deur Amerika ge-backpack wat wonderlik was. Ons het van Boston via Cape Cod, Washington, Atlanta en Orlando tot in Miami gereis, oor die breedte van die land na die Grand Canyon, Dallas en Las Vegas, gaan sterre kyk in Los Angeles, gesurf in San Francisco en weer die pad noord gevat na Seattle. Dit het hopeloos te veel daar gereën en ons het weer oos beweeg, vinnig gaan kyk na die Niagara Falls en uiteindelik ’n ruk in New York gebly.”

Carina matrikuleer aan Herschel School.

Verdere studie en werk

Carina is na skool na die Universiteit Stellenbosch, waar sy ingeskryf het vir ’n BA-graad (internasionale studies). Sy verwerf haar honneursgraad Afrikaans en Nederlands (cum laude) en in 2005 voltooi sy haar MPhil in joernalistiek met lof. Sy vertel aan NALN dat daar vyf dinge met haar op Stellenbosch gebeur het: “Ek het fantastiese vriende gemaak, ek het uitgevind ek wil skryf, ek het die wondere van witwyn ontdek, ek het my droomman ontmoet en ek het ’n BA-graad en my honneursgraad gekry.”

Carina se droomman was Daniel Hugo, omroeper by RSG, digter en vertaler met wie sy in 2001 getroud is.

Carina vertel aan Nanette van Rooyen op LitNet (Absa Ketting) oor die wisselwerking tussen haar en Daniel op skryfgebied: “Dit werk wonderlik vir my. Daniel staan bekend as iemand wat onselfsugtig leiding en hulp aan veral ontluikende skrywers en digters gee. Hy het 25 jaar se ondervinding as keurder, skrywer, vertaler, redigeerder en resensent. Hy het ’n magdom kennis en ondervinding waaruit ek natuurlik na hartelus kan put! Hy gee my die ruimte om te skryf wanneer ek wil en ek verstaan die ruimte wat hy nodig het om te kan dig of vertaal.

“Ons lees altyd mekaar se werk voor publikasie. Die feit dat ons belangstel in verskillende genres, beteken dat ons albei met vars perspektiewe na mekaar se werk kan kyk en kommentaar kan lewer. Maar natuurlik bly kritiek nie iets wat ’n skrywer graag wil hoor nie! En ja, daar is soms oorverdowende stiltes ná ’n terugvoersessie. Ons weet egter dat die kritiek wat ons op mekaar se werk het, sonder ’n verskuilde agenda is en dis selde dat ons nie mekaar se kommentaar en voorstelle inwerk nie.”

Sy en Daniel is in 2011 geskei.

Sy gaan werk in Maart 2003 by Human & Rousseau as kinderboekeredakteur: massamark, koproduksies en leesinisiatiewe. “Ek hou van my werk omdat ek die hele dag met my neus in ’n boek kan sit sonder dat iemand dink ek is besig om lyf weg te steek. Ek tree baie by skole op wat die gunstelingdeel van my werk is, want ek dink kinders is wonderlik. Verder werk ek hoofsaaklik met buitelandse uitgewers, waarvoor ek dankbaar is, want skrywers kan maar moeilik wees” (aan NALN).

In Maart 2008 sluit Carina haar aan by Protea Boekhuis se personeel as ’n redakteur tot Augustus 2010. In 2004 begin sy haar tydperk as ondervoorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en in 2005 is sy aangewys as voorsitter van die uitvoerende komitee van sie Suid-Afrikaanse Kinderboekforum.

Daarna is sy skrywer, resensent en onafhanklike uitgewerskonsultant, waar sy onder andere reisartikels vir Great Guide skryf. In 2015 is sy vir ’n ruk assistentbestuurder van Bartinney Wine and Champagne Bar, waarna sy optree as kommunikasiebestuurder van Longridge Wine Estate. Sy was ook handelsmerkbestuurder by Eikendal-wynplaas voordat sy bemarkingsbestuurder by Hazendal-wynplaas geword het. In April 2020 is sy aangestel as digitale handelsmerkbestuurder by die KWV op Stellenbosch, waar sy in beheer is van die digitale bemarking (sosiale media, webblad, advertensies, TV, ens) vir die spiritus-handelsmerke. 

Voordat Carina se eerste boek gepubliseer is, het sy al haar stem as skrywer laat hoor. In 2000 is sy die wenner van die Insig/MTN Woordfees-skrywerskompetisie en ook in 2000 stap sy weg as die wenner in die jaarlikse skryfkompetisie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging.

In 2001 verskyn Oogkontak op Contentlot. Dit is ’n trilogie wat sy as ’n student by Marlene van Niekerk geskryf het.

In 2001 verskyn haar eerste jeugboek in die Thomas@-reeks by LAPA Uitgewers en dit is dadelik ’n sukses. Die hoofkarakter in die reeks is Thomas, ’n seun in graad 8 wat saam met sy pa en stiefma in ’n ou Victoriaanse huis in Kaapstad intrek. In die eerste titel in hierdie reeks, Thomas@moord.net, begin daar vreemde dinge in die huis gebeur – Thomas se drukker begin boodskappe druk terwyl die rekenaar af is, stemme roep sy naam en hy hoor voetstappe in die huis. Hy vind toe uit dat ’n jong meisie honderd jaar tevore in die huis vermoor is en saam met sy vriende probeer Thomas agter die kap van die byl kom.

Oor die ontstaan van die reeks vertel Carina aan Adriaan Basson in Rapport (26 Mei 2002) dat sy en Daniel in so ’n ou huis ingetrek het. Die wonderlike atmosfeer van die huis het haar ingetrek en soms het dit gevoel asof hulle nie alleen is nie.

Sy onthou ook baie goed wat die impetus was vir die begin van die skryf van Thomas@ (LitNet, 2015): “Die jaar was 2001 en ons het die middag by vriende gebraai. Hulle twee jong tienerseuns en hulle makkers het in en uit die huis, swembad en die bure se avokadoboom gehardloop, gespring en geklouter. Ek het op daardie stadium begin speel met die idee om ’n tienerboek te skryf en het orals waar ek gaan, tieners skaamteloos dopgehou en afgeluister. Ja, ek besef dit het verdag gelyk en ’n ma in Mugg & Bean het my eenkeer smerig aangekyk toe ek baie openlik die ma-dogter-bekgeveg gesit en geniet het.

“Terug by die braai. Die seuns het al hoe meer rumoerig geraak. Op ’n stadium staan die seuns elk met ’n rugsak oor die skouer. Hulle gaan kuier. Waar? By daai ander ouens. Watter ouens? Pa weet mos. Daai ander ouens. Ken ek hulle? Moenie so wees nie, dis embarrassing. Almal gaan daar wees. Almal. En dis net hier om die draai – stapafstand. Pa sit sy voet dwars. Almal gaan huis toe en sy telge moet nou kom sit en tot bedaring kom. Nee, daar sal nie om die draai gekuier word nie en gaan bêre die twee biere in julle sakke weer in die yskas. Die oudste, Hannes, gooi ergerlik sy sak in die gang neer. Ag flippit, man! mor hy, trek sy vingers deur sy deurmekaar hare, gaan sak dramaties in ’n stoel neer en begin verwoed op sy selfoon te tik.

“Daardie aand het ek gaan sit en die eerste woorde geskryf wat die begin sou word van die Thomas@-reeks: ‘“Flippit, man!” Thomas gooi die boks in die gang neer. Vies storm hy by die voordeur uit en gaan sit op die stoep.’”

Carina verduidelik verder op LitNet oor haar gebruik van tegnologie in die Thomas@-boeke: “Om tegnologie as die leitmotief in my werk te gebruik was nie ’n doelbewuste besluit nie. Dit was ’n natuurlike, onvermydelike element wat ek sou moes inwerk as ek regtig so sterk daaroor gevoel het om verhale te skryf wat die ware werklikheidsverstaan van ’n tiener vasvang en tot ’n moderne, jong leser sou kon spreek. Meer nog, ek wou ’n realistiese, moderne milieu skep waarin ’n verhaal hom kan afspeel. Punt. Tegnologie is ’n onlosmaaklike deel van ons bestaan en verstaan van die wêreld om ons. Dit is nie beperk tot ’n ouderdomsgroep of demografiese gebied nie.

“Die grootste uitdaging deur die jare was om tegnologie aan te wend sodat dit realisties is, maar sonder om die tegnologie so sterk en spesifiek ’n rol te laat speel dat die verhaal sneuwel as gevolg van onvermydelike tegnologiese veroudering. Die uitweg wat ek gekies het, is om nooit te spesifiek te verwys na ’n rekenaar- of selfoonmodel nie; die rekenaarspeletjies is fiktief; en handelsmerke word vermy. Die gevolg was baie interessant. Soos die tegnologie teen ’n duiselingwekkende tempo verander en verbeter, so vang die thomas@-reeks ’n tegnologiese tydsgees vas. Die eerste boek het in 2002 verskyn. Nie elke tiener het ’n slimfoon gehad of geWhatsApp nie, want toe het dit nog nie bestaan nie. Wat hulle wel doen, is om verwoed rekenaarspeletjies te speel, en e-posse en Ims te stuur (thomas@moord.net). Toe kom rekenaarvirusse en soekenjins (thomas@skerpioen.net). Later kry elkeen sy eie foon en die sms’e begin vlieg (thomas@sms.net). Tien jaar later en hulle Facebook, WhatsApp, boer op Mxit-kanale en speel aanlyn RPG’s (Die verdrinking van Josua van Edenthomas@vrees.net).” 

Carina beskryf Thomas aan Jaco Jacobs (Volksblad, 27 Januarie 2003): “Thomas is in graad agt en woon in Kaapstad. Hy is ’n doodnormale ou wat hou van pizza, sport, sy rekenaar en ook van sy goeie vriendin, Alex. Hy dink die skoolhoof is walglik, hy is ’n vrekgoeie losskakel, hy bekommer hom oor sy beste vriend, Hannes, wat soms ’n bietjie snaaks is ná ’n kaping en uiteindelik lyk sy stiefma, Louise, nie so sleg nie.

“Karakters in jeugboeke val telkens net in twee kategorieë: óf hulle is hierdie ‘superkids’ wat alles onder die son en sonder moeite kan doen, óf hulle is totale verloorders. Ek hoop Thomas is iemand met wie ’n mens kan assosieer omdat hy ’n bietjie meer realisties is.”

Oor hoe dit gebeur het dat sy begin skryf het, vertel Carina verder aan Jacobs: “Ek was in ’n Engelse meisieskool en vinnig besig om te verengels, maar in matriek het ons ’n fantastiese Afrikaans-juffrou  gekry wat my oorreed het om weer Afrikaanse boeke te lees. Dit was ’n ongelooflike ervaring – eintlik ontdekking.

“Soos die meeste jongmense wat in woorde belangstel, het ek daarná deur ’n ultra ‘diep’ fase gegaan en verwoed begin dig, maar dit was verskriklik sleg. Absoluut onleesbaar. Ek het op universiteit kortverhale geskryf en ’n gedeelte van my honneurskursus in kreatiewe skryf by Marlene van Niekerk gedoen.

“Die persoon wat my egter aan die skryf gekry het, was my huidige uitgewer, Miemie du Plessis, van Lapa-Uitgewers. Ons paaie het gekruis en Miemie het geduldig aangemoedig, geïnspireer, raad gegee en uiteindelik was Thomas@moord.net die produk. Ek sal altyd diep dankbaar wees vir Miemie dat sy my by kinder- en jeugboeke uitgebring het. Ek kan nie aan iets anders dink wat ek eerder sou wou doen nie.”

Carina vertel aan Adriaan Basson meer oor die Thomas@-reeks: “Die reeks gaan basies op dieselfde grondslag werk as die ou reekse soos Uile, Maasdorp, Keurboslaan en Fritz Deelman. Die verskil is egter dat namate Thomas ouer word, sal vriende kom en gaan, hulle sal kwessies in die gesig moet staar soos verliefdheid, dwelms, egskeiding, drankmisbruik, konflik met hul ouers – alles waarmee tieners vandag in aanraking kom. Dit is vir my baie belangrik dat die reeks sterk, driedimensionele karakters uitbeeld en dat die stories iets aan ’n wye verskeidenheid lesers sal bied.”

Carina meen dat sy as skrywer van jeugboeke baie by haar medeskrywers kan leer, vertel sy aan Basson: “Ek bewonder François Bloemhof se guts om prontuit kwessies aan te raak waarmee tieners sukkel, soos seks en dwelms. Barrie Hough is seker een van die vlotste skrywers wat ek gelees het en iemand wat met wonderlike, innoverende stories vorendag kom, is Jaco Jacobs. Natuurlik is daar JK Rowling wat dit regkry om boeke te bied wat in die smaak val van feitlik almal wat haar boeke lees. My gunstelingskrywer is Stella Blakemore (skrywer van die Maasdorp- en Keurboslaan­-reekse). Om te dink boeke wat in die 1930’s geskryf is, lesers vandag nog boei – dit is inspirerend!”

Die kritici is dit almal eens oor die Thomas@-reeks (tot 2021 is daar tien titels in die reeks):

  • Maritha Snyman: “Aangesien hierdie reeks (deur ’n jong en byderwetse outeur) die enigste ware reeks is wat tans in Afrikaans uitgegee word, word dit met ope arms verwelkom. Dit is lank reeds bewys dat baie kinders se liefde vir lees by reeksboeke Net enkele literêre snobs glo nog dat reeksboeke sleg vir kinders is. Dus, welkom aan Thomas, Hannes en Alex. Ja, in die gees van die tyd is een van die ‘driemanskap’ in hierdie reeks ’n meisie. Hulle is egter nie ’n tradisionele bende nie, maar slegs drie maats wat deur omstandighede saamgegooi word. (…)

“Die outeur hou verskillende kante van die karakters aan die leser voor. Veral Thomas groei deur die insig wat die leser verkry tot ’n oortuigende tienerkarakter. (…) Die kommentaar van die meeste wat die boeke op my versoek gelees het, was kort en bondig ‘Cool’. Die kritiek wat daar was, het oor die karakters gehandel, naamlik dat ’n mens te min oor hulle lees en dat die storie te gou verby is. (…)

“Soos die reekstitel, Thomas@ aandui, speel moderne tegnologie ’n groot rol. Die rekenaar is nie net die plek waar die intrige sy oorsprong het nie, maar is deels ’n instrument waardeur die verhaal (moord.net) ontknoop en die leser aan die einde steeds met afwagting laat. (…)

“Die boek is die regte medisyne vir ’n geslag kinders wat al hoe meer ongeletterd raak. Ek hoop dat Thomas, soos Trompie, ’n vertroude naam sal word.” (Beeld, 6 Mei 2002)

  • George Weideman: “Diedericks-Hugo toon fyn insig in die gemoed van die jong adolessent. Thomas en sy portuurs is almal rekenaarwys, maar hulle is nie bleeksiele nie. Die knaap haak soms ’n bietjie uit en toon die tipiese bravade van ’n jong seun.” (Taalgenoot, Oktober 2002)
  • Adéle Dempers: “Die Thomas@-reeks is ’n wegholsukses en meer as 130 000 kopieë (in 2011) van die reeks is al verkoop. As jy kyk na eietydse storielyne, die stewige spanningslyn en die karakters met wie enige tiener kan identifiseer, dan verbaas die verkoopsyfer nie. Dit was my eerste kennismaking met Thomas en ek het vasgenael gesit. Ek het die skrywer se taalgebruik baie geniet en tieners sal ook daarvan hou. Wat ek interessant gevind het, was die balans wat sy geskep het. Hannes huiwer nie om sy taal te mix nie, maar dan is daar Alex wat altyd daarop aandring om korrekte Afrikaans te praat. Thabo praat weer net Engels, wat ook karaktergetrou is. Daarby bly humor en romanse nie uit nie ... (Volksblad, 26 Maart 2011)
  • Joan Hambidge: “Carina Diedericks-Hugo verteenwoordig die nuwe geslag jong lesers se Topsy Smith / Bettie Naudé. Die jongste uit haar woordverwerker (nie pen nie!) is Thomas@rockster.net, wat beskryf word as ’n radikale boek wat rock. Naas die boek word die jong lesers gelei na: ’n klankgreep, video en foto; ’n spesiale Mxit-kanaal net vir Thomas en vriende; ’n gunstelingspeletjie, Fangs; en ’n Radikale Rockfees webblad waar jy ’n rockster kan word en jou eie musiek meng.

“Die skrywer begryp die nuwe geslag se behoeftes. Hulle wil nie lees van Alie of Malie wat blommetjies pluk of gekunstelde Afrikaans (of Afrikôns) met mekaar praat nie. Daarom word daar in die Thomas-boeke verwys na ‘losers’ of ‘pel’. Die woord ‘sure’ en uitdrukking ‘soos in glad nie’ word gebruik. En die lewe ‘suig’.

“Die idilliese bestaan wat in ouer kinderverhale aangebied word (en waaraan grootmense dalk plesier mag hê), word in dié tekste geproblematiseer. (…) Die verwysings in die roman is eietyds. (…) Die verhaalgang is snel en Diedericks-Hugo kán vertel. (...)

“Kyk byvoorbeeld hoe word die gesagsfigure in die Thomas-boek uitgebeeld. Of die komplekse binnelewe van die jong mens, die pyn en frustrasies rondom ‘crushes’ en skoolwerk. Vals beskuldigings, ’n aanval op ’n onderwyser, word teen ’n snelle tempo vertel. (…) Carina Diedericks-Hugo: You go, girl!” (Rapport, 28 Augustus 2011)

  • Jaco Jacobs (oor Thomas@skerpioen.net): “Thomas is in vele opsigte ’n moderne Trompie. Hy is ’n bietjie rebels, lief vir avontuur en geneig om in die moeilikheid te beland. Maar hierbenewens is hy ook verslaaf aan pizza, die internet, rekenaarspeletjies, en hy word gekonfronteer met hedendaagse probleme soos hoe om gewoond te raak aan ’n stiefma en ’n nuwe baba in die huis. (…)

“Die spanning word slim opgebou rondom ’n storie wat seuns én meisies behoort te geniet. Die boek is, soos sy voorganger, toeganklik geskryf, en die tienertaal word meestal oortuigend gebruik. Diedericks-Hugo het haar deeglik vergewis van die eise wat ’n jeugboekreeks stel. Dieselfde karakters kom in die eerste twee boeke voor en die herhalende elemente is juis dít wat reeksboeke vir jonger lesers aantreklik maak. Hopelik is Thomas se avonture nog nie op ’n einde nie – dit kan dalk net wees dat Trompie ’n waardige opvolger gevind het.” (Volksblad, 13 Januarie 2003)

Ander feite rondom Thomas@:

  • Drie van die Thomas-boeke is bekroon met die ATKV-kinderboekprys – sms.net in 2006, nagmerrie.net in 2007 en aksie.net in 2008.
  • Einde 2010 is die Thomas-boeke se omslagontwerp verander. Lapa en Huisgenoot het ’n kompetisie uitgeskryf waarin eweknieë van die Thomas@-karakters gekies is. Die wenner was Righardt Stoop van Newcastle in KwaZulu-Natal en die ander wenners se gesigte is op die agterplat aangebring. (Volksblad, 26 Maart 2011)
  • In 2013 is die Pretoriase agentskap Etiket met ’n silwer Pendoring bekroon vir sy werk met Thomas@rockster.net in die kategorie “virale” bemarking en geïntegreerde veldtogte. Meer as 150 000 eksemplare van net is verkoop. Die storie bevat QR-kodes waarmee lesers data kan aflaai en wat hulle na video’s, foto’s en klankgrepe lei. Die tweede toekenning vir geïntegreerde veldtogte is vir hoe die elektroniese media deel uitmaak van die harde kopie en daarom as pakket ’n advertensieveldtog kan word. (Die Burger, 16 September 2011)
  • In 2012 is Thomas@ verwerk vir die televisie tot ’n reeks van 26 episodes wat in 2013 uitgesaai is. Die televisiereeks is op die karakters en die konsep gebaseer, maar nie op die boeke nie. Die tweede reeks is in 2015 gebeeldsend. (Volksblad, 21 Junie 2012)

Oor die televisiereeks vertel Carina aan Books LIVE dat dit ongelooflik was om aan die televisiereeks te werk. “Ek was deel van die skryfspan en dit was heeltemal iets anders gewees om vir TV te skryf as wat jy ’n boek skryf. Skielik het jy die visuele waarmee jy kan speel, maar aan die ander kant moet jy goed soos uitvoerbaarheid van storielyne en tonele, asook kostes in gedagte hou. As jy skryf, is daar geen begroting wat jou kreatiwiteit aan bande lê nie. So het ek byvoorbeeld gedink ’n toneel waarin Thomas aan ’n rotslys op Tafelberg hang, sal verskriklik cool wees. Maar toe blyk dit dit is nogal duur om helikopters te huur, kameramanne by helikopters te laat uithang, permitte om op die berg te skiet te kry en waaghalse te gebruik vir ’n toneel van hoogstens 10 minute! Who knew?”

Die rol van Thomas is deur Johan Anker vertolk, en onder die ander akteurs in die reeks is Paul Loots (van Roepman-faam), Morné Visser, Christel van den Bergh, Eric Nobbs, Joanie Combrink en Albert Maritz.

Carina het tydens die bekendstelling van die televisiereeks gesê dat dit vir haar onwerklik gevoel het toe sy die eerste maal op die TV-stel gaan kuier het en dat sy baie uit die ervaring geleer het. Sy was betrokke by die skryf van sommige episodes, maar Henriëtta Gryffenberg was die eerste reeks se hoofskrywer. Carina het saam met Kobus Geldenhuys as hoofskrywers van reeks twee ingetree. Jozua Malherbe het die eerste reeks se regie behartig en reeks nommer twee het Jaco Smit aan die stuur.

In 2021 vertel Carina dat die Thomas-reeks vir eers klaar is: “Ek het altyd gesê ek sal ophou as ek voel Thomas het sy pad gestap en gaan nie die reeks forseer nie. Die knaap het nou die pad gestap.”

Carina is egter nie net bekend vir haar Thomas-reeks nie. In 2003 publiseer Tafelberg Koning Henry, wat ook ’n ATKV-kinderboekprys in 2005 losslaan. In hierdie roman vir tieners word daar gekyk na sensitiewe temas soos oorgewig, disfunksionele gesinne en die gevare van internetkletskamers.

Koning Henry was op die kortlys van beide die MER-prys vir jeuglektuur vir 2004 en die Sanlamprys vir jeuglektuur vir 2002. Dit palm die ATKV-kinderboekprys vir 2005 in.

Carina vertel aan Jaco Jacobs (Volksblad, 28 April 2003) dat Afrikaanse stories vir die jeug na haar mening nog heeltemal te preuts is: “Ek voel daar is baie ruimte om meer gewaagde temas aan te pak, maar as ’n mens kyk na die reaksie op werke van skrywers soos Barrie Hough en François Bloemhof sien ons die ouer garde raak vreeslik ontsteld as jeugboeke na hulle mening te rof raak.

“Ironies genoeg sê baie tieners Afrikaanse jeugboeke is te flou. Ek het die waters getoets met Koning Henry en ek sal graag ander gewaagde aspekte in volgende boeke wil ondersoek. In daardie opsig is ek baie opgewonde oor die potensiaal wat in Afrikaanse kinder- en jeugboek verskuil lê.”

Sy meen tog dat Koning Henry ’n meer “ernstige” boek is as die Thomas-boeke, maar dit was nie juis ’n doelbewuste keuse om ’n boek met ’n meer gewaagde tema te skryf nie. “Ek het die eerste twee Thomas-boeke kort na mekaar geskryf en was bang dat as ek te lank aan die reeks werk sonder om ook ’n ander soort boek te skryf, ek dit later veel moeiliker sou kon doen. Dit was toe geweldig moeilik om my van Thomas-hulle los te maak en in ’n karakter soos Henry se kop in te klim.

“Ek skryf makliker oor seunskarakters as oor meisies, dalk omdat ek as laatlammetjie altyd moes sit en kyk hoe my ouer broers en hul maats speel.

“Henry is die soort karakter wie se storie ek graag wou vertel. Hy is die mens wat ons almal ken – enersyds omdat ons aspekte van hom in onsself sien en andersyds omdat ons mense soos hy ken. Hy presteer nie volgens die norme van sy familie of sy skoolomgewing nie, maar is eintlik iemand met soveel potensiaal. Sy omstandighede maak sy pad na self-aktualisering moeilik, maar tog interessant.”

In Volksblad (29 September 2003) skryf Theo Cronjé dat Carina met Koning Henry wegbeweeg van die stories waar die hoofkarakters uitgaande persoonlikhede het. Henry is sonder vriende en is ’n teruggetrokke seun. Sy grootste vriend is sy rekenaar: “Dit is sy enigste wegkruipplek van sy pa se snedige aanmerkings en Ouboet se prestasies. Dis hier waar Henry vir Riaan in ’n kletskamer ontmoet. Maar soos gewoonlik lyk party dinge beter op e-posse as in die werklikheid.

“In Koning Henry wys die storie dat rekenaarghoeroes eintlik ’n lewe het. Die karakters in die boek is die soort wat in elke skool gevind word. Dis juis dit wat die storie so realisties maak. (…)

“Carina Diedericks-Hugo se manier van skryf is baie direk. Sy sê presies hoe die situasie is en gebruik woorde baie goed. Deel daarvan is dat sy skryf presies hoe tieners kommunikeer. Haar navorsing het vrugte afgewerp en die eindproduk is ’n groot sukses, naamlik Koning Henry.”

Thomas van der Walt (Beeld, 22 September 2003) skryf dat Koning Henry op ’n ouer lesersgroep as die Thomas-reeks gemik is: “Die karakters is nie net ouer nie, daar is ook sterker karakterontwikkeling en meer intrige. (…)

“Lesers sal die rekenaaragtergrond geniet en die rekenaartaal bekend vind. Die skrywer se dialoog is byderwets en oortuigend en ná die herrie oor die taalgebruik in Daar’s vis in die punch moet dadelik genoem word dat hier ook baie tienersleng voorkom. Diedericks-Hugo gebruik dit egter berekend, nie bloot omdat sy lui is om na korrekte of alternatiewe woorde te soek wat net so effektief en geloofbaar sou oorkom nie. (…) Diedericks-Hugo se boeke lees lekker en dis duidelik dat sy tieners ken.”

Jaco Jacobs (Volksblad, 23 Junie 2003) beskryf Henry se grootwordreis as ’n “selfontdekking, en ook ’n kans om die ander belangrike mense in sy lewe beter te leer ken. Voordat Henry homself kan leer ken, moet hy egter eers ’n paar waardevolle lesse leer oor vriendskap en die gevare van ’n virtuele samelewing, waar alles nie altyd is soos dit lyk nie.

“In Koning Henry skroom Diedericks-Hugo nie om tradisionele taboe-temas soos molestering en liefde oor die kleurgrens aan te pak nie. Soms wil ’n mens net hê dat die onderwerpe in ’n groter mate geproblematiseer word.

“Haar skryfstyl is vlot en haar dialoog soos gewoonlik lewendig met pittige sêgoed. Die karakters kruip vinnig in jou hart. ’n Mens kry egter die gevoel dat die verhaal kon baat vind by ietwat strenger redigering. Dit is asof die storie op twee aparte bene staan – aan die een kant neig dit na die ontspanningsverhaal en aan die ander kant pak dit ernstige wroegkwessies.

“Natuurlik verteenwoordig hierdie twee dinge nie noodwendig ’n dichotomie nie, maar ’n mens sou ietwat meer integrasie tussen die ernstiger en vermaakliker dele wou hê. (…)

“Ondanks sekere gebreke is Koning Henry een van die opwindendste jeugboeke wat in ’n hele ruk in Afrikaans verskyn het. Dit is eerlik, pretensieloos en bowenal groot pret. Die tienerleser behoort die aangrypende manier te geniet waarop Henry de Vries uiteindelik sy spotnaam uitleef. Van Koning Henry die ‘loser’ tot Koning Henry die ‘koning’ wat trots voor die hele skool kan sê: ‘Die meeste van julle ken my as Koning Henry.’”

In 2004 is Stella Blakemore se Maasdorp-reeks wat oorspronklik in die 1930’s uitgegee is, afgestof en deur Tafelberg-Uitgewers heruitgegee. Carina was die redakteur vir die heruitgawe van die reeks en sy het met Stephanie Nieuwoudt in Beeld (30 April 2004) oor onder meer die “skoonmaak” van die ou tekste gesels: “Ons het relatief min verander. Die ooglopendste woorde soos ‘baas’ en ander argaïsmes is verander, maar ek en Suzette Kotze-Myburgh het probeer om nie te veel aan die teks te karring nie om juis Blakemore se ongelooflike styl en tydloosheid behoue te laat bly.”

Hulle het deeglik navorsing gedoen om seker te maak dat jonger lesers nie die destydse tekste as outyds sal ervaar nie: “In die meeste biblioteke – skool, streek en stad – is die boeke nog van dié wat die meeste uitgeneem word. Hulle is letterlik voos gelees. Ek het dit ook by ’n klompie jonger lesers getoets wat gaande was oor die boeke. En onthou, dit was nog die ou, minder aansienlike uitgawes van die 1970’s wat ons vir hulle gegee het!”

Oor die sukses van die Maasdorp-boeke verduidelik Carina dat dit gesetel is in die gehalte van Blakemore se tekste (Beeld, 25 Julie 2011): “Sy skep ’n idille wat sy filmies beskryf. Dit is ’n wêreld van bekendes, gerusstelling en ontsnapping. Sy vang die essensie van permanensie, versekering vas. Die karakters is volrond, driedimensioneel. In die omgewing wat sy skets, gedy avontuur, skoolsages en familieverhale. Dit is ontvlugtingsverhale van die heel hoogste gehalte wat bóéi!”

In 2005 verskyn Operasie MIAAU en word dit bekroon met die ATKV-kinderboekprys vir 2005. Hierdie storie is geskik vir jonger lesers en vertel die verhaal van die elfjarige Felix wat op ‘n koue wintersoggend moet opstaan vir skool. “Maar dis nie sy pa wat hom wakker maak nie, dis meneer Haasbroek, Felix se suster Madelein, se kat. En meneer Haasbroek praat met hom! Meneer Haasbroek wil hê Felix moet die Magtige Internasionale Anti-Aapskeloerdersunie (MIAAU) help om bullebakke vas te trek. Felix se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie, want binne oomblikke word hy ingetrek in ’n netwerk van agterdog, gemene spel en korrupsie. En die ander rolspelers? Meneer Rippenaar, pikswart met enorme groen oë, mevrou Bangani, lank en maer en uiters fynbesnaard, meneer Ching en mevrou Cho, belangrik en Siamees, die onbeholpe Jannie – en vele ander. ’n Aksiebelaaide, humoristiese storie met interessante karakters wat jou sal noop om ná dese met ander oë na katte te kyk.” (Roekeloos

Carina se volgende jeugboek, Die verdrinking van Josua van Eden, verskyn in 2008 by Umuzi-uitgewers. Carina vertel aan Klerksdorp News dat dit vir haar die lekkerste boek was om te skryf, omdat dit iets anders was – “Op daai stadium was dit net Thomas all the way, so die proses was vir my lekker.”

Vir Danie du Toit (Die Burger, 22 Desember 2008) is dit nie sommer net ’n tienerverhaal nie, maar ook ’n speurverhaal, liefdesverhaal, grootwordverhaal en ’n soektog: “Dít alles (en meer) is die verhaal waarin die tieners Josua en Titania die fraai getekende hoofkarakters is.”

Veral die inleiding is treffend: Toe die 17-jarige Josua van Eden een middag tuiskom, tref die weerlig hom by die swembad. Toe hy sy oë oopmaak, lê hy plat op sy rug en sien hy ’n engel. “’n Engel met ’n laptop onder haar arm.” Die engel is die 16-jarige blonde Titania wat by Josua en sy ouers intrek terwyl haar ouers Dubai toe is.

Du Toit gaan voort: “Josua voel hom verwyder van die tienergroep met hul intriges, die vraag na wie nou eintlik cool is. Hy het ’n misnoeë met die skoolkultuur waarin konformiteit eerder as verbeelding en egtheid beloon word. Maar iets nuuts begin wanneer die weerligstraal hom tref waarvan hy ’n letsel oorhou. Hy ontmoet Titania, ’n andersoortige engel. Sy het die voorkoms van ’n engel, maar nie die engele-onskuld nie. Soos ’n engel begelei sy, maar waarheen neem sy Josua en die leser?

“Juis hierin lê die boek se bekoring: Dis nie beperk tot die beskrywing van ’n avontuur nie, maar delf diep in die karakters se emosionele lewe – ook donker gevoelens in die tienergemoed; dinge waarmee tieners (én volwassenes) hulle kan vereenselwig. (…)

“Sentraal tot die intrige is ’n spel waarby Josua betrek word. Die lesers begin gou wonder of dit nie gevaarliker is as wat die karakters vermoed nie. Die ‘live action’-rollespel vind plaas in en deur die hedendaagse tegnologie wat vir tieners vanselfsprekend geword het … Deur al dié dinge word die spel ook ’n soektog (‘quest’) waarin die leser (op voetspoor van die karakters) van die een ontdekking na die ander gelei word.

“Daarmee resoneer ’n ander ontdekkingstog – om uit tienerskap te ontwikkel tot groter volwassenheid. Ook dít bevat risiko’s. Dit vra meet en pas. (…)

“Die vertelling word gekenmerk deur sprankelende dialoog, ’n eietydse segging en verwysings na TV-programme, rolprente, boeke, lirieke uit Afrikaanse liedjies en vele ander tekste – van Etienne Leroux en Shakespeare tot Sartre en Topsy Smith. Die skrywer se vermoë om met dié styl vol te hou, is asemrowend en sorg vir ’n ligte, komiese trant te midde van toenemende onrus en spanning rondom die spel en die soektog. Dít alles sorg vir ’n heerlike, gedagte-prikkelende leeservaring.”

Ook Stoffel Cilliers (Volksblad, 22 Desember 2008) is beïndruk met Die verdrinking van Josua van Eden. Nadat hy op sekere taal- en proefleesfoute gewys het, vervolg hy: “Die roman het egter baie meer pluspunte as leemtes. Dit is inderdaad nie slegs ’n knap spanningsverhaal vir tieners nie, maar ook ’n goedgeskrewe sielkundige roman vir volwassenes. Dit is uiters geskik om deur tieners en hul ouers sáám gelees te word. Al sal die realistiese tienerdialoog ouers dalk ’n bietjie skok!”

Met Permanente ink (2011), Carina se volgende roman vir die jeug, verwerf sy nog ’n ATKV-Woordveertjie vir 2012 (graad 10–12) en is sy ook die naaswenner in die Lapa-jeugromankompetisie in 2011.

In Permanente ink leer die leser vier jongmense – Werner, Zelda, Robert en Amir – ken. Hulle persoonlikhede is wyd uiteenlopend, maar hulle is al vier baie talentvol. Hulle is egter gereelde besoekers aan die hoof se kantoor – om verskeie redes.

“As behoorlike straf,” skryf Aldu Duminy (Volksblad, 16 Januarie 2012), “met die hoop om kwaaddoen die nekslag toe te dien, moet hulle die ou, onbewoonde koshuis op die skoolterrein regmaak. Dit is dan hiér waar elkeen se storie ontvou, want die teenwoordigheid van die Romeo en Juliet-reeksmoordenaar vertroebel die liefde van talle paartjies. Is daar ’n verskuilde rede waarom die tieners juis in dié tyd van onrustigheid aan ’n vervalle, afgeleë gebou moet werk? (…)

“Vir my staan Permanente ink bo-aan Diedericks-Hugo se trefferlys van boeke. Die 191 bladsye is gevul met avontuur, romanse, spanning en onsekerheid. Sy kry dit reg om die leser te laat kopkrap en die taalgebruik skep die atmosfeer uitstekend. Dis boonop nie nodig om die HAT nader te trek nie.

“Treffende vergelykings sal tienerlesers se mondhoeke laat opkrul en hulle laat betrokke voel by die boek, omdat dié verwysings deel is van hul leefwêreld. Die grafiese ontwerp van die boek maak dit boonop ekstra kreatief.”

Carina is nie net skrywer nie, maar ook vertaler uit eie reg. In 2012 begin sy om die gewilde Amerikaanse blitsverkoperreeks Diary of a Wimpy kid van Jeff Kinney in Afrikaans te vertaal. Dit word in strokiesvorm gepubliseer en gaan oor die skades en skandes van ’n skoolseun.

Carina verduidelik aan Deborah Steinmair (Die Burger, 6 Augustus 2012) dat dit nogal ’n uitdaging was om die spesifieke Amerikaanse humor in Afrikaans te vertaal: “Hulle gaan ’n stappie verder daarmee as gewoonlik, so ek moes ons meer konserwatiewe lesersmark in gedagte hou. Gelukkig is Afrikaans ’n taal wat knetter en knal, en ek kon dus kies en keur uit lekker woorde en speel met neoligismes.”

In 2016 is ’n radiovervolgverhaal deur Carina, Die groot vyf, op RSG uitgesaai met Lise-Mari van Wyk, destyds ’n leerling aan die Pionierskool in Worcester, in die rol van Marie van der Vyver, ’n blinde hoërskoolleerling.

In 2018 verskyn Carina se eerste roman vir volwassenes, Karaktermoord, by Penguin. Die roman het as sentrale tema die moord op Anna Neethling, ’n suksesvolle digter wie se verdwyning die Afrikaanse uitgewersbedryf, asook Kaapstad, aan die praat sit – veral toe dit aan die lig kom dat sy heelwat mense kwaad gemaak het en daar dus ’n hele klompie mense is wat ’n rede kan hê om van haar ontslae te raak.

Dit is Carina se eerste boek na die Thomas@-reeks en sy vertel aan Klerksdorp News (21 Februarie 2020) dat vir haar baie opwindend was om die boek uit te gee, veral omdat dit haar eerste boek vir volwassenes is.

Oor die klompie jare wat verloop het tussen die verskyning van haar vorige boek en Karaktermoord verduidelik Carina aan Klerksdorp News: “Dit was ’n mal dekade gewees, so baie dinge het gebeur en vir so drie jaar lank was ek ’n reisskrywer gewees. Dan is jy so drie maande hier, ’n maand daar en ek het baie min geskryf gedurende die tyd. Toe maak ek ’n skuif na die wynindustrie, kry my lewe bietjie in orde en toe het dit net half reg gevoel. Ek het omtrent ’n agste van die boek in Berlyn geskryf en toe nie eintlik weer daarna nie. Ek dink die boek het maar net saam met my groter en wyser geword. Omdat wyn so belangrike deel van my lewe is, is dit amper asof dit ’n belangrike komponent is waarvoor ek gewag het, maar wat ek nie geweet het ek voor wag nie.”

Die storie is in 2011 in die ysige koue van Berlyn in Duitsland gebore en het ’n hele paar jaar in ’n laai gelê, vertel sy aan Laetitia Pople (Volksblad, 4 Maart 2019). “Ek het aanvanklik gedink dit sou nog ’n Thomas@- of jeugboek word, maar ek het besef hierdie verhaal vra vir meer. Die verhaal het my in ’n rigting gestuur waar die genre opwindend en vreesaanjaend gewag het. Flitse is neergeskryf op stukkies papier, karakters is gevorm op  my iPad met bevrore vingers, storielyne het ek op besige moltreine met myself bespreek. Berlyn is my veilige hawe en ek dink dit was ’n goeie kreatiewe inspuiting.”

Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy verbete begin skryf en toe, ná twee hoofstukke het haar woorde opgeraak. “Daar het baie tyd verloop tussen toe en nou,” sê sy aan Pople, “maar Karaktermoord sou net ’n kreatiewe bevlieging gebly het as dit nie vir die merkwaardige mense was wat my hand gevat het nie. In 2016 het my kêrel my oorreed om dit af te stof. En toe begin dit werk.”

Carina was ook redelik senuweeagtig oor die boek, veral omdat dit deur ’n ander uitgewer (Penguin Random House) gepubliseer is. Lapa, die uitgewer van die meeste van haar ander boeke, was van mening dat sy haar jeuglesers sou vervreem as sy ’n boek vir volwassenes uitgee, het sy aan Klerksdorp News vertel. “Toe Penguin hoor van die boek, toe sê hulle ek moet hom aanstuur – dit is presies wat hulle soek. Ek dink dit was tyd gewees vir die boek en hy val nou so saam met die einde van die Thomas-reeks. Die ontvangs was goed, al was daar ’n paar tannies op Facebook wat gesê het dis ‘walglik’ en ‘en dis té’, maar ek het die reaksies vreeslik geniet.”

Anna Neethling se karakter is gebore op ’n trein in Berlyn. ’n Meisie het op die trein geklim en het dadelik ’n uitwerking op die ander passasiers gehad: “Sy het gelees en so broos gelyk, maar elke keer wat sy opgekyk het, het sy so vir mense gegluur dat hulle half weggedeins het. En omdat sy so verskriklik striking was en ek in twee ure se tyd gesien het hoe sy ’n effek op ’n hele trein het, het ek gewonder watse tipe persoonlikheid moet jy hê om so ’n impak op mense te kan hê. Ek is ook ’n vreeslike ongeorganiseerde skrywer, ek beplan nie die storie vooruit nie, en dis hoekom die boek ook draai om verskillende karakters. Dit was vir my lekker om elkeen se storie te vertel.

“Anna gaan op bladsy twee dood en skielik moes Anna se storie vanuit ander se oogpunt vertel word sonder dat dit te subjektief is, maar dit was baie lekker om in hulle koppe te klim en hulle backstories te dink. Dis soos ’n legkaart bou en alles is karakter gedrewe, so die storielyn groei saam met die karakters.”

Jonathan Amid is die resensent in Beeld (11  Maart 2019) en hy is vol lof vir Carina se eerste treë in die wêreld van die volwasseneroman. Sy beeld Anna uit as vrou, dogter, skrywer, verleidster, nimfomaan, verraaier, slagoffer, sondaar, vol neuroses. Haar impak op mans het meestal verwoestende gevolge en die leser leer hierdie lys mans om die beurt ken en hulle almal is betrokke toe dinge op die spits gedryf word een aand in ’n wynkelder.

“Van die rokjagter Malan Sinclair, die topverkoper-misdaadskrywer Sebastiaan Barnard en die media se lieflingskrywer Wynand du Toit tot wynmaker Dawid Briers, en geneesheer Lloyd-Wilsnach-Meyer. Vergeet nie van Anna se skynheilige sadis van ’n pa, ds Conradie Neethling, nie.

“Sonder om doekies om te draai: Behalwe die sensitiewer en simpatieker Sebastiaan is dié groep mans elkeen selfsugtig, gemeen, egosentries en toon gebrekkige empatie. Verskeie passasies en sarsies dialoog is so gelaai met woede en bitterheid dat ’n mens nie anders kan as om die kritiek op ’n patriargale bestel – waar seksisme en chauvinisme hoogty vier – raak te lees nie.

“Soms dreig die skrywer se eie stem om die teks te penetreer, en soms is daar weer die gevoel om terug te sit en applous te gee vir raak beskrywings en dialoog vol byt. Bliksemstrale borrel feitlik uit die karakters se monde. (…)

Karaktermoord is (…) ’n moordverhaal, met ’n tintelende kinkel in die kabel. Die sirkel-struktuur begin en eindig met die dag van die moord. Hoewel die intrige rondom die omstandighede en dié verantwoordelik vir haar dood deurgaans sterk is, is die talle onthullings nooit ’n groot verrassing nie.

“Die sterk spanningslyn is te danke aan die skrywer wat soos Agatha Christie ’n groep verdagtes saamvoeg, elk met gegronde motiewe om Anna van kant te maak. Die afwisseling tussen perspektiewe word netjies hanteer, so ook oortuig hulle as meer as net tipes.”

Amid het tydens die herlees van die teks opnuut onder die indruk gekom van Carina Diedericks-Hugo se wonderlike aanvoeling vir die taal, haar “belangstelling in die wisselwerking van seks, mag en intimiteit, en eie liefde vir spanningsverhale, in die ratwerk van die roman ingebou. (…)

“Carina Diedericks-Hugo (…) druk beslis haar stempel af met ’n verwikkelde, onderhoudende misdaadroman, propvol elegante ellende, wat lesers met avontuurlustige smaak vasgenael behoort te hou.”

Deborah Steinmair (Rapport, 17 Februarie 2019) sluit haar bespreking van Karaktermoord as volg af: “By die toeslaan van die boek dink die leser na oor listige vroue wat geskaad is, hedonisme, selfsug en kinderopvoeding. En oor monsteragtige mans wat al van donkiejare gelede af ’n meisie wat in hul koshuiskamer uitpass, om die beurt sal bykom. Bokkapaters en bende-ellende.

“Die pas is uitasem, soos die tempo waarteen die karakters drink. Daar is fyn waarneming en satire. Die taal is geslyp, met aweregse metafore wat uitspring, soos: ‘Karma is inderdaad ’n teef wat by die Mount Nelson sit en vonkelwyn drink op ’n sonskyndag en haar verlustig in die lewens wat om haar uitmekaar spat.’

“Die einde het my nie verras nie, maar minstens oortuig. Karaktermoord is ’n elegante misdaaddebuut met ’n besonder treffende voorplat – ’n pluimpie vir Penguin.”

Oor hoogtepunte in haar skrywersloopbaan vertel Carina in 2020 aan Klerksdorp News dat daar tot op daardie stadium twee was: “Die een was ’n storieweek in Dubai waar hulle ’n skrywer uit elke kontinent genooi het en jy het soos tien dae lank in ’n vyfster-hotel gebly en jy moes een keer ’n dag vir ’n halfuur ’n storie vertel vir die kinders van waar jy vandaan kom. Die tweede was die eerste dag toe hulle die Thomas-TV-reeks begin verfilm het. Dit was by Bloemhof Meisieskool in Stellenbosch en daai hele skool was net vol kameras, ligte en goed wat soos miniatuurtreinspoortjies lyk. En al wat ek dink is net ‘wow’. En Thomas en Alex is daar en die regisseur sê vir my ek is in die pad. Ek het gedink dis so cool, ek is in die pad.”

In die onderhoud met Klerksdorp News vertel Carina dat nadat sy in haar eerste jaar in die regte begin studeer het, het sy besluit om haar aandag eerder toe te spits op internasionale studies en van daar af het sy stadig maar seker na die “wêreld van woorde” beweeg: “Waar ek nou is, met een voet in woorde en een voet in wyn, is perfek. Wyn is ook ’n kunsproduk en ek gebruik woorde om dit te verkoop. Ek werk in bemarking en PR meestal op wynplase, maar as ek nie skryf nie, dan lees ek. Ek bly in Stellenbosch en wynplase is maar deel van jou lewe en daar is ook soveel interessante mense wat daar bly – dis ’n baie lekker kreatiewe atmosfeer wat stimulerend is, maar jy kan ook net saam mense ontspan en ‘n glas wyn drink.”

Publikasies

Publikasie

Oogkontak

Publikasiedatum

2001

ISBN

 

Uitgewers

Kaapstad: Contentlot

Literêre vorm

 

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

thomas@moord.net

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2010
  • 2012 (werkboek, Rinada Boeke)

ISBN

  • 978799329469 (sb)
  • 0799349474 (sb)
  • 9780992175894 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2014

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

thomas@skerpioen.net

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2010

ISBN

  • 079933085X (sb)
  • 0799349498 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2014

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Koning Henry

Publikasiedatum

2003

ISBN

9780624041581 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

  • ATKV-Kinderboekprys 2005
  • Finalis Sanlam-prys vir jeuglektuur 2002
  • Kortlys MER-prys vir jeuglektuur 2004

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

thomas@aqua.net

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2012

ISBN

  • 0799332232 (sb)
  • 0799349467 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

thomas@sms.net

Publikasiedatum

  • 2004
  • 2010
  • 2012 (werkboek: Rinada Boeke)
  • 2013 (skooluitgawe)

ISBN

  • 0799333476 (sb)
  • 0799349504 (sb)
  • 9780994651341 (werkboek)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 2006

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

thomas@nagmerrie.net

Publikasiedatum

  • 2005
  • 2010

ISBN

  • 0799335665 (sb)
  • 0799349481 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 2007

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Operasie MIAAU

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798144904 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 2007

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

thomas@aksie.net

Publikasiedatum

  • 2007
  • 2010

ISBN

  • 0799340921 (sb)
  • 0799349450 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 2008

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die verdrinking van Josua van Eden

Publikasiedatum

2008

ISBN

0798144157 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

thomas@geraamte.net

Publikasiedatum

  • 2009
  • 2010
  • 2012

ISBN

0799349511 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Permanente ink 

Publikasiedatum

  • 2011
  • 2014

ISBN

  • 9780799352382 (sb)
  • 9780992236137 (sb – werkboek)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

  • Naaswenner LAPA Jeugromankompetisie 2011
  • ATKV-Kinderboekprys standerd 8–10 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

thomas@rock-ster.net

Publikasiedatum

  • 2011
  • 2014

ISBN

9780799350807 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Jason Justus and the mystery of the green and gold

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781775783084 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Pearson Education South Africa

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Jason Justus and the thing under the floor

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781775783091 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Pearson Education South Africa

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Spesiale (en geheime) agent Peter van der Wind en die Chinese draak  

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799355000 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

thomas@vrees.net

Publikasiedatum

  • 2013
  • 2014

ISBN

9780799362831 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

thomas@skaduwee.net

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799366549 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Karaktermoord

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781415210178 (sb)

Uitgewers

Johannesburg: Penguin

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

thomas@omnibus 1: moord.net; skerpioen.net; aqua.net

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799391091 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

thomas@omnibus 2: sms.net; nagmerrie.net; aksie.net

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799391107 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

thomas@omnibus 3: geraamte.net; rock-ster.net; vrees.net; skaduwee.net

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799396963 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tiernerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Carina Diedericks-Hugo as samesteller: 

  • Liefde, natuurlik: ’n bundel liefdesverhale. Saam met Daniel Hugo. Pretoria: LAPA, 2004

Carina Diedericks-Hugo as vertaler:

  • Apsley, Brenda: Eendjie soek sy huis.
  • Cole, Babette: Mamma het my nooit vertel nie. Kaapstad: Human & Rousseau, 2004 [ISBN 0798143932 (hb)]
  • Faulknet, Heith: Njammies!. Kaapstad: Human & Rousseau, 2005 [ISBN 0798145404 (hb)]
  • Grey, Mini: Die drie vriende. Pretoria: Protea Boekhuis, 2010 [ISBN 9781869193829 (hb)]
  • Kinney, Jeff: Dagboek van ’n Wimp: Greg Heffley se joernaal. Johannesburg: Penguin, 2012. [ISBN 9780143530275 (sb)]
  • Kinney, Jeff: Dagboek van ’n Wimp: Rodrick regeer. Johannesburg: Penguin, 2016 [ISBN 9781485900238 (sb)
  • Kinney, Jeff: Dagboek van ’n Wimp: Die laaste strooi. Johannesburg: Penguin, 2016. [ISBN 9781485900252 (sb)]
  • Kinney, Jeff: Dagboek van ’n Wimp: In die hondehok. Johannesburg: Penguin, 2016 [ISBN 9781485900269 (sb)]
  • Koddige gesiggies: Bert die by. Kaapstad: Human & Rousseau, 2004 [ISBN 0798144165 (hb)]
  • Koddige gesiggies: Ella die eend. Kaapstad: Human & Rousseau, 2004 [ISBN 0798144157 (hb)]
  • Koddige gesiggies: Ludwig die leeu. Kaapstad: Human & Rousseau, 2004 [ISBN 0798144149 (hb)]
  • Koddige gesiggies: Olga die olifant. Kaapstad: Human & Rousseau, 2004 [ISBN0798144130 (hb)]
  • McBratney, Sam: Julle is almal my gunstelinge. Kaapstad: Human & Rousseau, 2004 [ISBN 0798144491 (hb)]
  • Price Mathew: Slaaptydstories vir kinders. Kaapstad: Human & Rousseau, 2005 [ISBN 0798144882 (sb)]
  • Richards, Justin: Agent Alex: Spioenkop Akademie. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 [ISBN 9781869193683 (sb)]
  • Richards, Justin: Agent Alex: Uitgesorteer!. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 [ISBN 9781869197681 (sb)]
  • Scarry, Richard: Wat doen mense elke dag?. Pretoria: Protea Boekhuis, 2009 [ISBN 9781869192518 (hb)]

Artikels  oor Carina Diedericks-Hugo beskikbaar op die internet: 

Artikels deur Carina Diedericks-Hugo beskikbaar op die internet:

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top