Carin Bester: "As jy nie opstaan vir geweldsmisdade teen vroue nie, wakker jy dit aan"

  • 0

Die tema wat hier bespreek word is volwasse inhoud.

International Women's Day word jaarliks op 8 Maart gevier om bewustheid te kweek vir geslagsgelykheid. Sekerlik die belangrikste en mees dringende kwessie is geweld teen vroue. Volgens Statistics South Africa is daar in die statistiekjaar 2018/2019 2 930 vroue in Suid-Afrika vermoor, dws ’n moord elke drie ure. In 2014 berig die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad dat die helfte van hierdie moorde gepleeg word deur ’n intimate partner, of intieme (lewens)maat. Die term vir hierdie soort moord is intieme vrouemoord, en die moordenaar is gewoonlik ’n vrou se eggenoot, kêrel (hetsy in ’n verhouding of in ’n saamwoonhoedanigheid), eksman of ekskêrel.

Benewens Carin Bester se werk as aktrise en stelontwerper is sy ook ’n vertoonkunstenaar (performance artist) wat haar beywer vir die stryd teen geslagsgebaseerde geweld. Ek het van haar aktivisme te hore gekom tydens haar mees onlangse projek, Till death do us part. Ek het haar uitgevra oor hoekom sy bereid is om kaal voor mense te staan, haar eie bloed te tap vir ’n optrede, en wat die nut is van haar dapper pogings. Ons ontmoet mekaar in Stellenbosch tydens die Woordfees, waar sy by ’n aantal produksies betrokke is.

Haar vertoonkunsloopbaan het begin met ’n stuk genaamd Verlies by Youngblood Arts and Culture Development in Kaapstad in 2015. Tydens haar optrede staan sy kaal op ’n podium met doringdraad om haar gevleg. In haar hand hou sy ’n bloederige varkhart.

"Ek het kaal gestaan want dit is die mees natuurlike state of being. Almal is kaal gebore en ons dra klere want ons wil nie ander mense naak sien nie. Sonder klere is jy geweldig kwesbaar, en mens kan slegs deur kwesbaar te wees, as ’n individu genees van emosionele wonde en trauma. Die doringdraad simboliseer die pyn waarin mens toegedraai is tydens die rouproses van ’n geliefde wat gesterf het of ’n verhouding wat onherroeplik verwoes is. Tydens die uitvoering van hierdie stuk het ’n vrou haar hand deur die doringdraad gesteek en sodoende haarself en my seergemaak."

My body, my life was haar eerste stuk wat te make het met geslagsgebaseerde geweld. Hier staan sy in ’n tamaai hoepelrok met ’n Suid-Afrikaanse landsvlag om haar kop gedrapeer en haar liggaam is wit geverf. Bloed drup vir vyf ure lank op haar kop. Op die rok is statistieke geskryf oor verkragting en moorde sowel as sinsnedes uit mediaberigte wat met oa verkragting verband hou. Soos:

42 956 rapes were reported in 2015/2016. Statistics by SAPS. This means that one person is raped every 12 minutes.

An 11-month-old baby was sexually assaulted by a 27-year-old man.

She was shot, but still alive. She died in hospital. 

Aangaande My body, my life vertel sy: "Daar was ’n hele paar mense wat gedink het ek is ’n standbeeld en toe hulle sien ek haal asem, was hulle geskok. Daar was een ou wat gekyk het en hy sê: 'Oh my God, it's alive!' Dit is interessant dat hy nie na my verwys het as ’n vrou nie, alhoewel hy duidelik my boobs kon sien. Hy het uit die spasie gegaan en sy vriende gaan roep om te kom kyk. ’n Ander man, met ’n glasie wyn in die hand, het saam met sy girlfriend nader gestaan en die statistieke begin lees. Hy sê toe: 'Oh, I didn't realise it was this bad.' Ek wou op een stadium die landsvlag van my kop afhaal en sê: 'Well, where the fuck have you been lately?' Ander mense het gedink dit is die syfers van wêreldwye verkragting en moorde. Daai tipe aanmerkings het my regtig gedryf om aan te hou met dit wat ek doen, want hoe kan jy nie besef wat die struggle is van vroue elke dag in Suid-Afrika nie?"

Carin is een van die min vroue in Suid-Afrika wat hulle beywer vir bewusmaking mbt geslagsgebaseerde geweld in ’n vertoonkunshoedanigheid. Dit is spesifiek die onverdunde eerlikheid waarmee sy die ongemaklike realiteite aanspreek wat haar laat uitstaan bo soortgelyke bewusmakingsprojekte. Ek vra haar oor die "in your face benadering" wat haar optredes kenmerk.

"Vir my is performance art glad nie ’n act nie. Ek is myself en nie ’n karakter nie, en dit is ’n manier om die waarheid van die realiteit uit te beeld. Dit is hoekom ek daarmee begin het. Ek doen dit nie om mense te vermaak nie – dit is nie die punt nie – en ook nie om iets te wys wat die gehoor nie wil sien nie. Ek is daar om hulle bewus te maak van iets waarvan hulle bewus moet wees. Dit is ’n manier om die waarheid in mense se gesigte te druk en om te sê 'Kyk'. Jy kan dit nie doen met teater nie. Omdat ek weet baie mense verstaan dit dalk nie, of ongemaklik voel oor ek kaal is, joke hulle. Ek kan dus die humor sien in dit wat ek doen, maar die tematiek is nie ’n grap nie."

Een van die ander vertoonkunsstukke wat sy gedoen het, is He loves me, he loves me not. Carin stuur vir my die video-opname hiervan waar sy onder ’n blommekrans staan, getooi in wit onderklere, gepas vir ’n bruid op haar huweliksnag. Na elke herhaling van die mantra "He loves me, he loves me not" plak sy een van duisende pleisters op haar lyf. Dit simboliseer die wyse waarop geslagsgeweld verbloem word in Suid-Afrika. ’n Paar ure later in die video stap ’n paar vrouens nader en help om die pleisters op haar te plak.

Ek vra haar ’n laaste vraag oor hoe die opvatting van geslagsgebaseerde geweld verskil in verskillende kultuurgroepe en sosio-ekonomiese klasse.

"Verkragting gebeur in alle kultuurgroepe. Dit het niks te make met kleur nie. Dit is egter ’n baie groot probleem onder armer gemeenskappe. Dit het eintlik alles te doen met die nalatenskap van apartheid. As ’n man in ’n tweeslaapkamerhuis woon met ses ander mense en hy het nie ’n werk nie, is sy selfbeeld gekrenk. Dit lei baie keer tot drankmisbruik, want hy voel hy het nie ’n doel in die lewe nie. Verkragting gaan nie oor seks nie. As iemand ’n kind verkrag, is dit nie oor hy seksueel aangetrokke is tot daai kind nie. Nee, dit is ’n geval van 'I have power over you.' En as jy nie ’n werk het nie, wil jy daai mag op een of ander manier wys, en vrouens is dan die maklikste teiken. Hy wil dan op ’n manier sy manlikheid bewys en die gevolg is geweld teenoor vroue."

  • Foto's: Stephanie Gericke
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top