C Louis Leipoldt (1880–1947)

  • 0

Gebore en getoë

Christian Frederik Louis Leipoldt is op 28 Desember 1880 op Worcester gebore. Sy oupa was Johann Gottlieb Leipoldt, wat op 30 Junie 1829 tot sendeling georden is. Hy sou aanvanklik onder die Chinese gaan sendingwerk doen, maar het toe saam met vier sendelinge van die Rynse sending met die skip Charles Kerr na Kaapstad gekom.

Johann Gottlieb is oor die Sederberge na die gebied waar Clanwilliam geleë is, en hy was so beïndruk dat hy en een van sy reisgenote, Von Wurmb, besluit het om ’n sendingstasie daar op te rig. Hulle het die plaas Rietmond vir £3 000 gekoop sonder dat die Barmense Instituut in Duitsland toestemming verleen het. Hierdie sendingstasie is later tot Wupperthal herdoop en dit het baie gou begin floreer en was binne twintig jaar geldelik onafhanklik. Hy is op 5 Januarie 1872 oorlede en is op Wupperthal begrawe. Sy vrou is op 30 Januarie 1885 oorlede.

Christian Friedrich Leipoldt, die vader van C Louis Leipoldt, is in 1844 op Wupperthal gebore, waarna hy as vyfjarige na Barnem is om hom as sendeling te bekwaam. In 1869, nadat hy georden is, het hy na Sumatra vertrek. Op pad het hy in Kaapstad afgeklim om sy ouers te besoek en op Worcester het hy Anna Meta Christina Esselen ontmoet. Hy was dadelik verlief, maar sy eerste huweliksaansoek is geweier. In Sumatra het CF Leipoldt met Christina begin korrespondeer en in 1874 is sy na Sumatra, waar sy en Leipoldt se vader in 1874 getroud is.

In 1875 is die Leipoldts se oudste kind, Louisa Frances Carolina (Issa) gebore en die eerste seun, Johann Gottlieb Wilhelm, in 1877. Hulle derde kind, weer ’n seun, is in 1879 gebore,  maar het net tien dae gelewe. As gevolg van Christina se swak gesondheid het die Leipoldts in 1879 na Suid-Afrika teruggekeer. Daar was geen beskikbare poste in die Rynse Sendinggenootskap nie en Christian het begin werk as hulpprediker in sy skoonvader se gemeente op Worcester. En dit is waar CF Louis Leipoldt gebore is – in die ou sendinghuis op Worcester.

Leipoldt se pa het in 1883 die Rynse Sendinggenootskap verlaat nadat hy ’n mondelinge eksamen afgelê het om toelating tot die NG Kerk te bekom. In 1883 is hy as leraar van die NG Kerk gelegitimeer en in 1884 het hy ’n beroep na Clanwilliam aanvaar.

Die jong Leipoldt is as vierjarige in 1884 saam met sy ouers, Issa en sy broer, Johnny, na Clanwilliam. In daardie jare was daar ongeveer 800 inwoners in Clanwilliam en dit was, soos Kannemeyer dit stel, “’n rustige plek om in te woon”. Vier jaar na hulle aankoms daar is die dogter Katie gebore, agt jaar jonger as Christie, soos Leipoldt in daardie jare bekend gestaan het.

Christina, Leipoldt se ma, was later nie net liggaamlik afgetakel nie, maar ook geestelik en gedurende sulke tye het sy haar man van allerhande dinge aangekla. Haar persoonlikheid was een van uiterstes en wanneer dit goed gegaan het, het dit baie goed gegaan, maar wanneer dit sleg gegaan het, het sy die lewe vir almal rondom haar versuur.

Sy is op 23 November 1903 oorlede terwyl Leipoldt in Londen met sy mediese studie besig was. Val St John, wat saam met Leipoldt gestudeer het, het vertel dat hy die kabel wat hom van sy moeder sy dood vertel het, vir hom gegooi het . St John het aan MPO Burgers vertel: “In response to my shocked and questioning look he explained that it left hom quite cold, she had always hated him, from the day of his birth” (JC Kannemeyer: Leipoldt: ’n lewensverhaal, bl 55).

Christie het reeds as kind ’n baie aktiewe verbeelding gehad. Hy het ook van kleins af baie in die plante- en dierewêreld belanggestel. Hy het op die grondvloer van hulle skool- en speelkamer in die pastorie gespit en graan gesaai – iets wat sy moeder glad nie aangestaan het nie. Hy het ook graag op hulle erf plante soos bessies en wortels, en klein diertjies soos geitjies, skerpioene en spinnekoppe gesoek.

Hy het ook van jongs af nie net ’n aanleg vir skryf nie, maar ook ’n liefde daarvoor geopenbaar. Kannemeyer skryf in sy biografie (bl 58) dat hy genoem het dat hy ’n dokter wil word, maar ook sou wou skryf. Sy moeder was die een wat vir hom papier gekoop het om op te krabbel en as sy vader daaroor gekla het, was haar antwoord: “Nee, hy is besig om te leer. Elke vel papier wat hy gebruik, bring hom nader aan sy doelwit.”

Die Leipoldt-kinders was by die huis naas Engels en Afrikaans ook blootgestel aan Duits en wanneer hulle ouers nie wou hê hulle moes verstaan waaroor hulle gepraat het nie, het hulle Maleis of Bataks gepraat. Leipoldt, wat ’n natuurlike aanleg vir tale gehad het, het hulle later verstaan. Moedertaalonderrig was dus in later jare nie vir Leipoldt so belangrik nie.

Daar was ’n goeie skool op Clanwilliam waar eerwaarde Sheard die septer geswaai het. Leipoldt se moeder het egter gemeen dat haar kinders nie met die dorp se kinders moes meng nie; dus het die kinders tuisonderrig ontvang. Hy het later, wanneer sy pa Kaapstad toe moes gaan vir die sinodesitting, enkele klasse by dr Daniel Hahn ontvang en onder prof MacOwan in die herbarium van die regering gewerk. Daar is hy ook deur dr Harry Bolus in die geheime van die plantkunde ingewy.

As gevolg hiervan het Leipoldt alleen grootgeword. Hy het kontak gehad met die buurt se kinders, maar hy het nie ’n baie uitgaande persoonlikheid soos sy ouer broer gehad het nie. Leipoldt is ook as “nukkerig, terughoudend en soms onbeskof beskou” (Kannemeyer, bl 60).

In 1887 het die jong Leipoldt, wat toe net sewe jaar oud was, sinkingskoors opgedoen en was hy vir ’n lang ruk siek. Teen die tyd dat hy die regte behandeling ontvang het, het die siekte alreeds sy hart aangetas, met die gevolg dat hy nooit aan sport deelgeneem het nie. Vir die res van sy lewe moes hy sorg dat hy nie sy hart ooreis nie.

Hulle besoeke aan Kaapstad was vir Leipoldt ’n ongelooflike ervaring en het hom bekendgestel aan die wêreld buite Clanwilliam. Maar die jong seun het nie altyd nodig gehad om sy kennis en uitkyk te verruim met besoeke aan Kaapstad nie. As gevolg van sy huislike omstandighede wat nie altyd gelukkig was nie, het hy baie maal sy toevlug geneem tot boeke en die natuur om te ontsnap.

Omdat die kinders by die huis geleer is, is hulle van jongs af blootgestel aan hulle pa se boeke. Hulle het egter nie toegang tot al die boeke gehad nie, maar ensiklopedieë was van dié wat gelees kon word. So ook wetenskaplike werke in Duits en Nederlands en behalwe die Bybel en ander godsdienstige werke ook klassieke werke in Latyn, Grieks, Frans en Engels. Leipoldt se vader het hom ook gou bekendgestel aan verhale uit die mitologie en vir hulle voorgelees uit The pilgrim’s progress van John Bunyan.

In sy “Jeugherinneringe” vertel Leipoldt dat hy ongeveer agt jaar oud was toe hy toegelaat is om na die dorpsbiblioteek te gaan en elke week ’n boek kon leen om by die huis te gaan lees. “Die Clanwilliamse dorpsbilbioteek was destyds ’n klein, maar buitengewoon goeie versameling van Engelse boeke, met ’n paar in Duits en Nederlands. Die meeste daarvan was pragtig ingebinde stelle Engelse klassieke, die werke van Scott, George Eliot, Jane Austen, Maria Edgeworth, die dramaturge van die tyd van Elizabeth, Byron, Shelley, Browning, Tennyson, Hood en Swift – feitlik die hele lange ry van Engelse skrywers wat in my vader se versameling maar spaarsaam verteenwoordig was.”

Sy onderwysopleiding was ietwat onortodoks. Hy is nooit verplig om spesifieke tye aan sy lesse af te staan nie. Soggens moes hy ’n paar uur bestee aan die lees van sekere boeke en hom vergewis van die Latynse en Griekse grammatika, geskiedenis, aardrykskunde en eenvoudige wetenskaplike werke. Een maal ’n week moes hy ’n opstel skryf oor wat hy geleer het. Sy kennis van wiskunde was egter ietwat gebrekkig.

Sy eerste stukkie wat hy aan iemand buite die familie gewys is, was ’n opstel wat hy vir ’n wedstryd van The Boy’s Own Paper geskryf het. Hy het later aan MPO Burgers gesê dit was toe hy nege jaar oud was, maar dit is ook nie seker nie, want later het hy gesê hy was 12. Hy het ’n goue sertifikaat as wenner van die afdeling van 12 tot 16 jaar ontvang, asook tien sjielings.

In “Eerste skoffies” (in JMH Viljoen: ’n Joernalis vertel, Nasionale Boekhandel, 1953) het Leipoldt vertel van twee boeke op sy pa se boekrak: ’n Duitse vertaling van Dante en Bunyan se Heilige oorlog of De belegering van menseziel,en dat hy nie weet watter een hom eerste geïnspireer het nie. “Ek onthou net maar dat my eerste bewuste poging om iets van my eie op papier te sit, ’n samespraak tussen Shaddai en Dante was. Ek sou vandag graag daardie gekrabbel wil oorlees, want ek is daarvan oortuig dat een van die twee die spreektrant van my vader moet gehad het en die ander dié van ou Jantjie Ruiters, ons hoofkleurlingkonstabel, wat maandeliks ons hare gesny en altyd oor moord en doodslag met ons gepraat het. ’n Kind is altyd ’n realis en gee getrou wat hy hoor. Dis net die volwasse skrywer wat soms aan sy helde sy eie persoonlikheid probeer gee.

“Ek was toe, sover ek my herinner, tussen sewe en agt. Ons het maandeliks sekere Engelse en Duitse tydskrifte gekry, waaronder die Daheim en die Boy’s Own Paper. Laasgenoemde het elke jaar ’n soort van Eisteddfod (hulle het die naam toe nog nie in gebruik gehad nie) gehou, met allerhande wedstryde vir intekenare. Die deelnemers, wat van elke oord waar die blad gelees is, gekom het, is verdeel volgens ouderdom. Die jongste groep was onder nege; die tweede groep tussen nege en twaalf; die derde tussen twaalf en veertien, en so het dit aangehou totdat die boonste groep, kinders tussen sewentien en twintig jaar, bereik is. Jy kon meedoen in verse maak, in opstelle, in oorspronklike stories, in tekenwerk, in timmermanswerk en in tal van ander onderwerpe en vakke. My broer, wat goed kon teken, het die eerste ingeskryf vir ’n wedstryd wat geloop het oor ’n kaart van Stevenson se eiland waar die skat weggesteek was. Hy het die tweede prys behaal, en die sertifikaat wat na die pastorie gekom het, was so pragtig met sy gekrulde goudversiersels wat my eersug sterk geprikkel is. Maar ek kan nie teken nie; ek het nie die vaagste begrip oor hoe om Giotto se ronde O te maak nie, en van kartografie het ek altyd teruggedeins. Dis ’n ondeug wat ek tans nog besit – dat ek nie met ’n kaart kan klaarkom nie en my baie beter kan behelp met ’n beskrywing as met ’n kaart.

“Maar een van die wedstryde was om ’n oorspronklike storie te skryf ter verklaring van ’n illustrasie wat die idee vir die storie moes gee. Die prentjie was van ’n geveg tussen twee ridders, en ek het daaruit ’n klein verhaaltjie – die opstel mog nie langer as vyfhonderd woorde wees nie – aanmekaar getimmer. My ridders het ek in die Sederberge laat beland, waar hulle, sover ek my nou herinner, gebaklei het oor die besit van ’n groot skat wat in een van die reusagtige stamme van die ou sederbome bewaar is deur ’n voetoog of ’n eenoog, of so iets. Waarskynlik was dit hierdie plaaslike kleur van die verhaal wat die beoordelaars getref het, want tot my verbasing het ek die eerste prys in my afdeling, vir seuns onder twaalf jaar, gekry. Die prys het bestaan uit ’n mooi sertifikaat en ’n poswissel van tien sjielings. Omdat ek my verhaal in die geheim geskryf en gestuur het – my broer het meegeding vir die kaartteken met die wete en goedkeuring van ouerlike gesag, maar ek was te skaam om iets van my probeerstuk te laat uitkom – kon ek alleen die sertifikaat behou (ek het nog ’n flentertjie daarvan êrens), maar die tien sjielings moes ek in die binnelandse sendingkas stort. Van dié dag af het ek ’n hekel aan die binnelandse sending wat dit miskien nie verdien nie.”

Leipoldt het verder vertel hoe hierdie sukses hom verder geïnspireer het en dat hy “gekrabbel en gewerskaf het met allerhande onderwerpe. Dit het my ten minste geleer hoe om woorde te rangskik en my ondervinding gegee in die rymelary. My eerste versies was ongerym – ’n slaafse navolging van Schiller se Maria Stuart – waarvan die handskrif, op blou papier, plegtig in die graf van een van ons afgestorwe mak reiers weggelê is. Ek weet nie waar die plek is nie, anders sou ek vandag uit pure nuuskierigheid die reier gaan opgrawe het om te kyk watter soort goed ek destyds geskryf het.”

Leipoldt kon nie kla dat hy nie aangemoedig is in sy skryfwerk nie. Sy vader het aan hom onderwerpe vir sy opstelle gegee en kritiek uitgespreek. Hy het ook die jong Leipoldt bekendgestel aan goeie letterkundige werke soos die klassieke werke in Engels, Duits en Latyn. Hulle tydelike Engelse predikant, oubaas Roberts, wat kon versies maak en letterkundige styl bewonder het, het Leipoldt na die werke van meesters soos Newman, Aquinas en Blake gelei.

Maar, soos enige ontluikende jong skrywer, wou Leipoldt sy werk in druk sien. “Ek het my eerste stukkie wat vir my goed genoeg gelyk het, toe ek dertien jaar oud was, in die Argus in druk gesien, en dit was vir my miskien die heerlikste en gelukkigste dag van my lewe.”

Vanaf 1896 het hy, op aandrang van MacOwan en Bolus, stukkies geskryf oor die mense en lewe in sy omgewing en dit aan The Cape Times te stuur. Dit was beriggies en bydraes onder ’n skuilnaam wat in MacOwan se rubriek “Saturday Sallies” verskyn het.

In Julie 1897 het Leipoldt die matrikulasie-eksamen van die destydse University of the Cape of Good Hope afgelê en in die derde klas geslaag. Nadat hy sy skoolloopbaan suksesvol afgelê het, het sy kop Kaapstad toe gestaan en op 4 Oktober 1898 het hy aan Harry Bolus geskryf en gevra of hy hom nie met ’n geskikte werk kan help nie.

In “Jeugherinneringe” het Leipoldt vertel dat sy oupa Esselen die belangrikste invloed op sy kindergemoed gehad het, “’n invloed veel groter as dié van my ouers. Dit was te danke aan sy merkwaardige persoonlikheid. (...) My eerste proefneming – die saai van ’n paar rogkorrels tussen watte op ’n stukkie gepolyste marmer – is onder sy toesig onderneem, en ek onthou my verbasing en hartstogtelike tevredenheid toe ek ná ’n paar dae die groen rogblaartjies sien opskiet en Oupa, met ’n vergrootglas, my wys waar die tingerige worteltjies ’n houvas in die klip gekry het.”

Verdere studie en werk

Ná skool het Leipoldt in Desember 1898 sy staatsdienseksamen afgelê en hierin veel beter gevaar as in sy skooleindeksamen. Hy het hom toe tot enkele koerante in Kaapstad gewend om werk daar te kry en het uiteindelik geholpe geraak by De Kolonist, waar hy as junior verslaggewer begin werk het. (Het Dagblad, wat in 1896 deur SJ du Toit gestig is, is in 1898 gestaak en het onder die naam van De Kolonist voortgegaan. Waar Het Dagblad die enigste Hollandse koerant was wat elke dag verskyn het, het De Kolonist slegs drie maal per week verskyn.)

Chris, soos Leipoldt op daardie stadium bekend gestaan het, het gedurende sy eerste drie maande by hierdie koerant die berigte wat hulle deur Reuter ontvang het, in Nederlands vertaal. SJ du Toit se siniese uitkyk en sy steun vir Rhodes het Leipoldt egter nie aangestaan nie.

Met die steun van Marie Koopmans-De Wet en ’n brief van WF Purcell, ’n botanikus, het Leipoldt vir Fred Centlivres genader. Centlivres sou in Mei 1899 met ’n Engelstalige dagblad, The South African News, begin, maar daar was nog geen kantore beskikbaar nie. Chris is nie aangestel nie en hy het dus voortgegaan met sy werk by De Kolonist. Hy het in September 1899 ’n hoofartikel geskryf wat ’n “alte nasionale kleur” (Kannemeyer, bl 111) gehad het en is as gevolg daarvan ontslaan. Hy is dadelik by The South African News, ’n pro-Boer blad, in diens geneem.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het hy oorlogsverslaggewer geword – nie net vir sy eie koerant nie, maar ook vir die Manchester Guardian en Daily Express in Engeland, die Nieuws van de Dag en De Telegraaf in Nederland, die Petite Bleue in België, die Chicago Record en die Boston Post in Amerika en die Hamburger Neueste Nachrichten in Duitsland. (Die Burger, 17 September 1980)

In 1900 het Leipoldt as spesiale verslaggewer van die rondgaande hof wat aangestel is om die Kaapse rebelle te verhoor, opgetree en moes hy die vonnisse in snelskrif neerskryf.

Toe is die News se redakteur, Albert Cartwright, in April 1901 skuldig bevind aan opruiende laster in een van sy berigte en tot ’n jaar tronkstraf gevonnis. Leipoldt, wat op daardie stadium nog nie 20 was nie, moes as redakteur waarneem. Die heksejag op die koerant het nie afgeneem nie, veral as gevolg van sy pro-Boer sentimente en ook na die instelling van die krygswet in Kaapstad op 9 Oktober 1901. Die laaste uitgawe van die News het op 14 Oktober 1901 verskyn en verdere publikasie is tot na die einde van die oorlog gestaak. In Augustus 1902 het The South African News weer sy opwagting op straat gemaak.

Ná die sluiting van The South African News het ’n koerant in Rhodesië Leipoldt genader om assistentredakteur by hulle te word, maar omdat hy so pro-Boer was, kon hy nie ’n permit kry om te gaan nie. Sy kop het egter oorsee gestaan. Bolus het aangebied om Leipoldt geldelik te ondersteun indien hy sy kinderdroom om mediese dokter te word, sou wou verwesenlik. Leipoldt het verlof gekry om na Engeland te gaan en op 25 Januarie 1902 is hy met die SS Persic na Engeland.

Met sy aankoms in Engeland het hy begin om as vryskutjoernalis geld te verdien en omdat hy al bekend was aan die Manchester Guardian, het hy vir hulle begin berigte skryf. Dit was ook hierdie koerant wat hom gefinansier het om na Europa te gaan en oor die stakings van die dokwerkers, lettersetters en diamantslypers in Europa te berig.

Nadat hy van Europa af teruggekeer het, het hy saam met sy ma se familie, Ewald Esselen se kinders, na die Skotse Weskus gegaan en die gebiede besoek waaroor sir Walter Scott gedig het, soos “The lady of the lake”, wat Leipoldt as jong seun gelees het. Hy het ook verder deur die Engelse platteland getoer en voorbeelde van plantspesies versamel. Hy het dus nog steeds sy liefde vir die plantkunde uitgeleef.

Leipoldt as medikus

Hy het egter op daardie stadium besluit om hom by Guy’s Hospital in te skryf om sy droom van dokter word te verwesenlik. Maar daarvoor het die Algemene Mediese Raad vereis dat hy ’n toelatingseksamen moes aflê, en ook die Londense matrikulasie-eksamen in Januarie 1903 moes slaag as hy hom vir die Londense MD wou bekwaam. Hy het hom in September 1902 by Guy’s ingeskryf en hom begin gereed maak om die matriekeksamen af te lê. Hy het hom veral op die instudering van chemie en fisika toegespits.

Hy het in September 1902 begin mediese klasse loop, terwyl hy ook die Londense matriek wou klaarmaak. Hy het die biologie en Latyn redelik maklik gevind, maar het ongelukkig die wiskunde gedruip en dit was ’n vereiste vir toelating tot die MD. Hy het dus besluit om solank die Londense matriek eenkant toe te skuif en het die volgende 15 maande hoofsaaklik aan organiese chemie en anatomie aandag gegee.

In Januarie 1903 het dr Bolus vir Leipoldt per brief uit Kaapstad laat weet dat die Universiteit van Kaapstad aan hom die eredoktorsgraad DSC toegeken het en dat die plegtigheid op 7 Maart sou plaasvind. Hieroor was Leipoldt baie in sy skik, omdat dit beide “unexpected and unsolicited” was. Hy het geskryf: “It certainly reflects as much honour upon the University to have your name upon its roll of doctors honoris causa as it does upon you to wear the green silk hood, and I am sure the decision of the committee of honorary degrees will be appreciated by all South Africans, and by all botanists here in England” (Kannemeyer, bl 186).

Teen April 1904 het Leipoldt beide sy voorbereidende vakke suksesvol afgelê en begin met sy kliniese werk in die hospitaal onder sir Alfred Fripp. Nadat hy ook onder ander dokters gewerk het, onder andere as verbandverpleër, het hy teen die middel van 1905 gevoel dat hy gereed is om die eindeksamen af te lê, maar volgens die regulasies mag hy eers nadat hy vyf jaar as student ingeskryf was, die eksamen aflê. Hy het dus besluit, hoewel dit hom teen die bors gestuit het, om hom die volgende twee jaar op ander dinge toe te lê. Hy het besluit om weer die Londense matriek te skryf en om daarna die primêre “fellowship” aan te pak. In Januarie 1906 het hy weer sy wiskunde vir die Londense matriek gedruip.

In 1907 het hy as dokter in die medisyne afgestudeer, en ná hy as huisdokter by Guy’s gewerk het, is hy na Berlyn in Duitsland, waar hy hom op ortopedie toegespits het. Daarvandaan is hy na Graz, waar hy ’n jaar lank pediatrie studeer het, en na Amerika om die ortopediese inrigtings van Lovett en Coldthwaite te besoek.

In Desember 1908 is Leipoldt met die RMS Teutonic na Amerika, waar hy mediese dokter op die jag van die koerantmagnaat Joseph Pulitzer was. Pulitzer was blind en het saam met ’n klompie sekretarisse en sy elfjarige seun op die luukse jag rondgereis. Hierdie pos sou aan Leipoldt oorgenoeg tyd bied om te lees en te skryf en ook om geld te spaar sodat hy Bolus kon begin terugbetaal. In April 1909 was hy terug in Londen en op 14 Mei 1909 het hy sy FRSC-eksamen geskryf en geslaag. Daarmee was sy mediese studies afgehandel. Hy was daarna werksaam aan die Duitse hospitaal te Dalston en die kinderhospitaal te Chelsea.

Op 1 September 1910 is Leipoldt ’n pos as skooldokter in Engeland aangebied en moes hy skole besoek om ’n aantal kinders te ondersoek. Dit was vir hom ’n heeltemal nuwe werk, asook ’n nuwe omgewing. Hy het hierdie werk vir vier jaar onderbroke gedoen en in 1913 het hy ook die amptelike blad van die vakgenootskap van skooldokters, The School Hygiene, se redaksie op sy skouers geneem. Leipoldt was ook diep onder die indruk van die rol wat die verpleegster in skool mediese dienste gespeel het. Daar was egter geen literatuur daaroor beskikbaar nie en in 1912 het hy The school nurse: her duties and responsibilities by die Scientific Press in Londen gepubliseer.

1911 was nie ’n baie aangename jaar vir Leipoldt nie. Sy goeie vriend Harry Bolus is op 25 Mei in Oxted, Surrey oorlede. Hy het aan Lulu Kensit geskryf (Bolus was haar oom): “I feel that I am so deeply indebted to him who is gone that anything I can do now must be the poorest attempt only to show my appreciation of his constant kindness to me in the past” (Kannemeyer, bl 279).

Op 11 November 1911 is Leipoldt se pa oorlede aan die huis van sy suster Issa op Hopefield. Hy het sy pa die laaste keer in die tweede helfte van 1910 gesien toe hy en Katie, sy jongste suster, onverwags vir hom kom kuier het in Londen. Toe al het dit nie baie goed met sy pa se gesondheid gegaan nie.

Teen die einde van 1911 het Leipoldt gesondheidsprobleme begin ondervind. Sy blindederm is in Desember uitgehaal en hy het in die hospitaal probleme met sy longe gehad. Met al die ysters wat hy die vorige twee jaar in die vuur gehad het (naas sy werk as skooldokter en sy locumwerk, asook sy praktyk as geneesheer, het hy ook die manuskripte van drie boeke klaargemaak), was dit feitlik seker dat hy aan uitputting en oorwerk gely het. Hy is aangeraai om ’n seevaart te onderneem.

Hy het op 21 Januarie 1912 aan boord van die SS Ulysses as skeepsdokter na die Ooste vertrek, ’n reis waaroor vertellings neerslag gevind het in sy boek Uit my Oosterse dagboek. Hulle het besoek gebring aan Java, Sumatra en Borneo.

Op 12 Mei 1912 was Leipoldt terug in Londen. Hier het hy weer as skooldokter gewerk, maar die verlange na Suid-Afrika het al sterker geword en toe die administrateur van Transvaal hom in ’n telegram op 18 November 1913 vra om aansoek te doen vir die pos van hoof van die mediese inspeksie in Transvaal, het hy byna nie gehuiwer nie. Nadat hy oorleg gepleeg het met sy vriende en kollegas in Londen het hy aansoek gedoen en op 30 Januarie 1914 het hy die nuus ontvang dat sy aansoek suksesvol was. Op 4 April 1914 het hy Londen finaal aan boord van die Armadale Castle verlaat.

Toe Suid-Afrika tot die Eerste Wêreldoorlog toetree, is Leipoldt deur die Transvaalse Onderwysdepartement na die Suid-Afrikaanse Leër gesekondeer. Hy moes die vrywilligers wat aan die veldtog in Duits-Wes (nou Namibië) sou deelneem, medies ondersoek. Hy is later as kaptein aangestel en het tot die aktiewe diens toegetree. Sy opdrag was om generaal Louis Botha se persoonlike geneesheer te wees tydens die veldtog teen die rebelle en ná Duits-Wes. Hy het eervolle vermelding vir sy “gallant and distinguished services in the field” ontvang vir sy bydrae tot die veldtog in die gebied (Kannemeyer, bl 389).

Deur sy werk het Leipoldt redelik wyd gereis in die destydse Transvaal, onder andere na die afgeleë Bosveldstreke. Hieroor het hy in sy boek The Bushveld doctor geskryf. Onder andere skryf hy oor daardie tydperk in sy lewe: “[M]aar miskien het ek meeste voldoening aan my eie ideale gevind in my skool-mediese werk. ... Dit het my voortdurend lewend gehou – daardie omgang met kinders en aangroeiendes – en ek was daarvan bewus dat ek die mense behulpsaam was en dat hulle my dienste waardeer het” (Die Transvaler, 29 Mei 1980).

Leipoldt is in die tweede helfte van 1919 vir ses maande in dieselfde hoedanigheid in Kaapland aangestel.

In 1923 is Leipoldt in die redaksie van Die Volkstem in Pretoria aangestel en het hy teruggekeer na die joernalistiek – een van sy groot liefdes. Hy het egter nie baie goed oor die weg gekom met Gustav Preller, die redakteur van Die Volkstem, nie en is terug Kaapstad toe, waar hy hom as kinderarts gevestig het. Hy het bekend gestaan as Kaapstad se eerste “baba-dokter” en was ook die eerste dosent in kindersiektes aan die Universiteit van Kaapstad (Hoofstad, 11 Desember 1980).

Leipoldt het ’n reputasie as ’n redelik eksentrieke dokter gehad. Sy uitsprake was, om die minste te sê, redelik onortodoks. Hy het onder andere gesê pampoenpitte help teen wurms, wyn is gesonder as melk vir kinders, donkiemelk is die beste plaasvervanger vir moedersmelk, alle pasgebore babas kan swem en alle volwassenes het sifilis. Sy uitspraak dat wyn gesonder vir kinders is as melk, het gelei tot ’n landwye storm van protes. Hy het ook die woede van godsdienstige en vroue-organisasies ontketen toe hy voorgestel het dat eksperimente op tweelinge gedoen word om die waarheid van sy bewerings te bewys (Hoofstad, 11 Desember 1980).

In Die Burger van 3 November 1976 is die agtergrond vir bogenoemde omstrede stelling verskaf. In ’n artikel in Suid-Afrikaanse Mediese Tydskrif deur Leipoldt se peetseun, dr P Shields, vertel hy dat Leipoldt baie ontsteld was oor die wyse waarop skoolkinders melk gekry het. “In dié tyd moes hulle toustaan voor die groot houers waarin die melk by die skole afgelewer is. Elke kind het dan sy beker in die houer gesteek om sy deel van die melk te kry. Nou kan mens jou net voorstel waar sommige van die bekers voor die tyd rondgelê het – en hoeveel kieme op hierdie manier deur die melk versprei kan word.

“Leipoldt het die melkuitdelery kopskuddend beskou en toe tereg opgemerk dat dit onhigiënies is. Dit sou veel veiliger wees om kinders dan druiwesap of selfs wyn te gee, sou hy gesê het. Dit was die koerante wat daarna berig het: Leipoldt bepleit wyn vir kinders. Dit was nie in sy aard om so ’n stelling terug te trek nie; miskien het hy selfs van die publisiteit gehou. Die rede vir sy stelling is egter nie deur die koerante gemeld nie.”

JC de Villiers, ’n neurosjirurg, het vertel dat Leipoldt ’n baie interessante mens was. “Hy was altyd stimulerend, en niemand het ooit geweet of hy in erns iets gesê het of bloot om nuwe denke te stimuleer of net eenvoudig dwars te wees nie. Hy het hulle geen feite geleer nie – dit staan soos ’n paal bo water, maar hy het hul oë oopgemaak vir ander wêrelde buite die grense van hul klein tegniese wêreldjies. Soms kon hy bars en afsydig wees, maar vir ellende en lyding het hy altyd begrip en deernis gehad en sy denke was vry van kleurvooroordeel” (Hoofstad, 11 Desember 1980).

Leipoldt het, ná sy terugkeer in Kaapstad, teen ’n klein vergoeding die rubriek “Geneeskundige vrae” onder die skuilnaam Medikus in Die Huisgenoot behartig en ook ’n verskeidenheid artikels en verhale vir Die Huisgenoot gelewer.

In 1926 het hy redakteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Tydskrif geword en in 1939 voltydse sekretaris van die Geneeskundige Vereniging. In ’n artikel in Die Burger (17 September 1980) is ’n verkorte weergawe van dr SSB Gilder, destyds redakteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Tydskrif, se gedenklesing oor Leipoldt weergegee. Gilder het gesê: “Hoe op aarde dr Leipoldt gedurende sy redakteurskap sy veelvuldige pligte kon nakom, bly ’n raaisel. Vir eers moes hy die tweeweeklikse Mediese Tydskrif redigeer gepaard met sy pligte as organiserende sekretaris van die nuwe Mediese Vereniging wat ook meegebring het dat hy elk van die Vereniging se takke in die land jaarliks moes besoek. Hy was heeltyds in diens van die Vereniging, maar sy diensvoorwaardes het hom vergun om voort te gaan as lektor in kindersiektes aan die UK en as kinderdokter by die nuwe Somerset-hospitaal, Groenpunt. Hy is ook toegelaat om voort te gaan met sy private praktyk as raadgewende geneesheer vir kindersiektes en bydraes tot die leke-pers te lewer.

“Die stroom artikels wat tydens sy termyn as redakteur uit sy pen gevloei het, is ’n fenomeen waarvoor daar net een uitleg kan wees: hy was naamlik, na ek verneem, ’n chroniese insomniak wat snags hoogstens ’n paar uur kon slaap.”

Leipoldt se taalbeleid vir die Suid-Afrikaanse Mediese Tydskrif was dat Engels en Afrikaans die tale van die Vereniging was, dus was dit ook die tale van die tydskrif. Die titel van die tydskrif was eers in 1932 in albei tale en tydens Leipoldt se termyn as redakteur was die meeste artikels in Engels, aangesien die skrywers voorkeur aan Engels gegee het.

Gilder het voortgegaan: “Leipoldt was ’n talentvolle veeltalige, maar sy deugsaamheid op die gebied het hy soms, na die mening van sommige waarnemers, tot onredelike perke gevoer, soos in sy resensies van Duitse en Franse boeke. Sy redaksionele verwaandheid het selfs verder gestrek toe hy in 1936 ’n brief van ’n Italiaanse organisasie volledig in Latyn geplaas het met die stukkie kommentaar daarby: ‘We see no reason to put it in the vernacular.’”

Leipoldt het hom as redakteur die gramskap van menige persoon op die hals gehaal en daar moes gereeld verskonings in die tydskrif geplaas word. Instansies wat in die gesig gevat was, was die regering van die dag, die Departement van Verdediging, provinsiale administrasies se hospitaalrade, etniese groepe en raadslede van die Mediese Vereniging.

“Leipoldt het voortgegaan met sy omstrede uitsprake. Hy het ongunstige kommentaar oor die behoefte aan kankernavorsing gelewer en volgehou met sy hoë lof aan die Russiese geneeskunde. Leipoldt was ’n bekwame redakteur en mens kan net vermoed dat die krisis-situasies wat rondom hom ontstaan het, veral aan botsende persoonlikhede toegeskryf moet word. Die uitbarsting het gekom en op 2 Oktober 1944 het die Tydskrif-komitee hom in kennis gestel dat sy dienskontrak beëindig sou word. Op 23 Desember 1944 het Leipoldt sy dank uitgespreek aan almal wat hom gedurende sy redakteurskap ondersteun het.”

Leipoldt het in sy lewe ’n groot aantal artikels oor volksgesondheid, kinderwelsyn, kindersorg en voorkomende geneeskunde in tydskrifte soos Die Huisgenoot, Die Brandwag en ander tussen 1914 en 1936 en selfs later laat verskyn, skryf Kay de Villiers in Boekewêreld van 17 November 1999. “Voortvloeiend uit dié artikels en in (sic) eie reg verskyn sy boeke oor dié en verwante onderwerpe: Skoolgesondheid, wat tussen 1916 en 1934 vyf uitgawes beleef het, Die Afrikaanse kind in siekte en gesondheid (1920) en Eerste gesondheidsleesboek vir Afrikaanse skole (1931), wat ook in Engels verskyn het.

“Voeg hierby sy twee vroeëre boeke vóór sy terugkeer na Suid-Afrika, Commonsense dietetics (1911) en The school nurse (1912), en ’n mens besef hoe diep verantwoordelik hy gevoel het om te skryf waar daar ’n gebrek aan kennis was, en om inligting te verskaf waar onkunde geheers het. (...)

“Hoe kan 'n mens hom opsom as geneesheer? Volgens sy eie uitsprake was hy eerstens ’n joernalis en as sulks was hy produktief, ook as geneeskundige joernalis ná 1926. Daar het ’n mate van oppervlakkigheid in sy geneeskundige publikasies sigbaar geword; dit kan ’n mens verstaan, want sy studie van die geneeskunde was nooit diepgaande nie.

“Hy het gewerk om eksamens deur te kom en hom nooit uitsluitlik op een onderwerp toegespits nie, nooit aan ’n proefskrif gewerk nie, nooit in ’n laboratorium navorsing gedoen nie. Die geneeskunde is ’n jaloerse meester. Dit kan nooit ’n tweede belangstelling wees of iets wat sommer sydelings gedoen word nie. Van geen siek pasiënt kan verwag word om ’n geneesheer te aanvaar vir wie sy pasiënte se kwale bloot ’n tweede belangstelling is nie.

“Leipoldt was geen goeie klinikus nie, maar waar hy sy primêre liefde vir die kind met sy mediese praktyk vereenselwig het, het hy hom laat geld in die skepping van die mediese inspeksie in skole waarin hy ’n groot, blywende bydrae gelewer het. Waar hy sy meesterlike vermoë om dinge eenvoudig en helder te stel, in diens van die geneeskunde gebruik het, het hy voorsien in ’n nood soos geen ander voor of ná hom in hierdie land nie.

“Jare gelede het ’n ander sendelingskind, wyle dr Andries Blignault, ook ’n geneesheer en ook redakteur van die Mediese Tydskrif, aan my gesê: ‘As jy Leipoldt wil verstaan, om die waarheid te sê as jy enige sendelingskind wil verstaan, moet jy Leipoldt se “Sendelingkinders” lees. Dit is hul credo.’

“Laat Leipoldt dit self sê:

Ons vaders was met die gees besiel om alles op te gee
En deur te werk met vlyt en smart in worstelstryd en wee;
En ons het geërwe ’n deel daarvan teen wil en dank ’n deel:
Die krag om te staan en alleen te ly, eers veg en later speel.
Misken, misgun, bespot, vertrap, verstote en bemind
Dit was in die oue tyd hul lot dis onse deel as kind!
Gee aanstoot hier, maak vrinde daar, onwrikbaar in jou trou;
Verkondig luid jou ideaal en wat jy waarheid hou.”

Leipoldt as veelsydige skrywer

Leipoldt se eerste gedrukte versie nadat hy matriek gemaak het, het tydens die Anglo-Boereoorlog in New Age verskyn, toe hy 19 jaar oud was, en ’n paar van die verse is opgeneem in die bundel Oorlogsgedigte wat later deur New Age uitgegee is. Hierdie verse is in 1902 in Londen deur New Age Press uitgegee. Dit was protesgedigte teen die Anglo-Boereoorlog, maar die Britse regering het dit gekonfiskeer, met die gevolg dat dit nooit in Suid-Afrika gepubliseer is nie. In 2008 is ’n faksimiliee-uitgawe daarvan deur Cederberg Uitgewers uitgegee; Martiens van Bart het die voorwoord en die inleiding geskryf.

Ook net nadat hy matriek gemaak het, was hy betrokke by sy heel eerste polemiek in die pers. Hy het ’n brief onder ’n skuilnaam aan die Cape Times gestuur. Ná die verskyning van die brief was daar ’n kwaai teenreaksie en die latere senator FS Malan het in Ons Land daaroor geskryf. Leipoldt merk in ‘n Joernalis vertel hieroor op: “Dit was die eerste keer dat ek kritiek op wat ek geskryf het, in druk gesien het – kritiek ten gunste en kritiek ten ongunste, en dit het my amper net soveel geprikkel as toe ek my werk vir die eerste keer in druk gesien het.” 

Oor sy letterkundige skryfwerk skryf Leipoldt: “Wat my suiwer letterkundige werk betref, wag ek totdat ek aanleiding kry om oor iets te skryf. Jy kan dit ‘inspirasie’ noem as jy wil, maar gewoonlik is dit ’n verbygaande iets wat die eerste gedagte van ’n verhaal gee. Die uitwerking daarvan, die ontrafeling van die knoop – as daar ’n knoop is – laat ek oor aan my verbeelding as ek skryf, en dit kon gewoonlik sonder moeite. As daar die minste belemmering is, dan sit ek die stuk opsy en lees dit ná ’n paar maande weer oor. Die verhaal wat my die meeste sonde en ergernis gekos het, is die waatlemoen-geskiedenis wat in een van Die Burger se Kersnommers verskyn het onder redaksie van prof Smith en wat nou in Waar spoke speel opgeneem is. Ek het dae lank daaraan gewerk om dit reg te kry, en dit nogal in die Laeveld toe ek druk besig was met my skoolwerk. Die ander verhale is meestal vlotweg, in ’n paar uur afgetik, nadat ek hulle oordink het.

“Met digwerk is dit anders gesteld. Soms gaan dit gou van stapel; soms wag ’n reël of ’n vers maande voordat ek hom kan erken as een van my kinders. My ‘Bergtragedie’ dagteken van 1899, en gedeeltes daarvan – soos die lied van Wellington, Tulbagh en Kaapstad – is in 1903 in Londen geskryf. Dit is die enigste van my werke waaraan ek baie tyd en moeite bestee het om my gedagtes so helder as moontlik uit te druk.

“Daar Oom Gert vertel miskien die bes bekende van my werk is en ek baie briewe daaroor gekry het, kan ek hier ’n paar opmerkinge daaroor maak. Ek antwoord nooit op briewe wat my aanspoor om ‘my versies te verklaar’ nie. Nie omdat ek verwaand voel nie, maar eenvoudig omdat poësie vatbaar is vir meer as een verklaring – dit sou nie poësie wees was dit net maar die skrywer se eie mening, sy eie gevoel, sy eie gedagtes vertolk nie. En buitendien, as jy op een brief antwoord, dan moet jy algar beantwoord. (...) Oom Gert self is geskryf op Dordrecht, onderwyl ek op rondgaande hof was. Dit is na aanleiding van wat ’n oubaas aldaar vir my vertel het, en dit is min of meer realisties, met, natuurlik, vervalsing van name en plekke. Oor die gebeurtenisse daarin beskryf, hoef ek niks te sê nie; ons wat oud genoeg is om daardie dae te onthou, weet dat dit nie ’n oordrewe beskrywing is nie. ‘Japie’ is ewe realisties; dit is die klagte van ’n vriend wat Japie geken het, en ek het net as mondstuk vir hom gedien. ‘Die seepkissie’ het ek geskryf onmiddellik nadat ek van Aliwal-Noord se konsentrasiekamp teruggekom het. ‘Aan my ou vrind’ is gedig op die ope veld, vlak agter die huis waar ek nou woon. Net ’n paar van die gedigte is in Engeland geskryf toe ek daar student was – daaronder is ‘Amsterdam’ en natuurlik ‘Vrede-aand’.”

In die hoofstuk “Oor my eie werk” in ’n Joernalis vertel het Leipoldt agtergrond gegee oor die verdere ontstaan van Oom Gert vertel, Die bergtragedie en Uit drie wêrelddele.

Oom Gert vertel is ’n samestelling van allerhande los gedigte wat in my laaie bly lê het totdat my ou vriend, prof JJ Smith van Stellenbosch, destyds student in die regte in Londen, dit ontdek en my oorgehaal het om dit uit te gee. Dis hy wat dit op hom geneem het om ’n uitgewer te vind, en dis hy wat die eerste, en daarna die tweede druk, persklaar gemaak het. Vir die spelling sowel as sekere wysigings in sommige gedigte is hy verantwoordelik, maar ek deel die verantwoordelikheid met hom, want hy het nooit iets verander sonder om my eers daaroor te raadpleeg nie, en sover ek kan onthou, het ek ook nooit die minste beswaar teen sy kritiek of voorstelle gemaak nie. Ek het reeds my dank aan hom betuig en ek doen dit weer hier, met die toevoeging dat in later uitgawes, en inderdaad in byna alles wat ek tot omtrent 1926 geskryf het, prof Smith my altyd getrou bygestaan het as taalkundige, vriend en raadgewer, en dat ek maar alte bly was om van sy welwillendheid gebruik te maak.

Oom Gert vertel bevat stukkies wat in my vroeë jeug gedig is, voordat ek uitgevind het dat daar waarheid lê in Horatius se gesegde ‘Scribendi recte sapere est en principium et fons’ (knowledge is the foundation and source of good writing); toe ek nog veels te veel onder die indruk verkeer het van wat ek gelees het en onthou het van my voorgangers en tydgenote. Die jambiese ‘Oom Gert’ self, soos belese kritici dan ook dadelik bespeur het, was sterk gekleur met die weerklank van Dekker se ‘Golgotha’. Dis geskryf na aanleiding van wat ’n ou oom my meegedeel het kort ná die geveg van Labuschagnesnek; maar dit is natuurlik gewysig, en volgens die wenk van Horatius ‘verfraai’ op wat ek nou sou beskou as ’n alte melodramatiese wyse.

“Ek het die gedig in 1901 gemaak en dit sommer in potlood neergeskryf; ’n jaar later het ek dit in verbeterde vorm oorgetik. ‘Oktobermaand’ (1897), ‘Ou Booi se pondok’ (1896), ‘Sterretjie’ (1896), ‘Die ou meul’, ‘Mordegai’, ‘Op my ou Karoo’ en die sonnette is algar jeugwerk, geskryf voor my sestiende, sewentiende jaar. Die invloed van Browning (veral in ‘Ou Booi’), Stevenson, Lowell en De Genestet is duidelik merkbaar in die jeugwerke, en ek is daaroor geensins skaam nie, want ek het baie te danke aan my digterlike leermeesters. In een van die in Oom Gert gedrukte digterlike opstelle sal die kundige leser ook die invloed van Whitman bespeur, en ek moet sê dat ek daardie stuk vandag (1940) net so minderwaardig beskou as die werk van my Amerikaanse model. Die stukke wat betrekking het op die Boereoorlog is algar in 1899 (‘Japie’), 1901 (‘Die seepkissie’, ‘Konsentrasiekamp’) of 1902 (‘Vrede-aand’) geskryf; die ‘Opdrag’ egter in 1910 toe Smith die bundeltjie persklaar gemaak het. (...)

Die bergtragedie het ontstaan uit ’n gebeurtenis wat my diep geskok het toe ek ’n jong joernalis in Kaapstad was, en dit is in potlood geskryf in Engels en Afrikaans in 1899. Die twee oorspronklike stukke verskil in menige opsig van mekaar, en hulle het hier in Kaapstad bly lê totdat ek in 1914 teruggekom het. Eers in 1926 het ek hulle weer oorgelees, en in altwee iets gevind wat my die moeite werd gelyk het om mee voort te gaan. Ek het toe die Afrikaanse stuk afgewerk, hier en daar gewysig en met behulp van prof DB Bosman van die Universiteit van Kaapstad persklaar gemaak. Die grootste gedeelte daarvan is egter ook jeugwerk, maar myns insiens van ’n dieper gehalte en met veel meer verbeeldingskrag as enigiets wat in Oom Gert opgeneem is.

Uit drie wêrelddele het ook sy ontstaan te danke aan my vriend, prof JJ Smith. Die grootste gedeelte daarvan is geskryf by my terugkeer van Nederlands-Indië in 1911–’12, ofskoon sommige gedigte daarin (net soos ‘Ou Amsterdam’ en ‘Oom Gert’) in Londen vervaardig is. Die geskoolde leser sal wel hier en daar die weerklank bespeur van voorgangers en tydgenote wat op my indruk gemaak en my tegniek en gedagtegang beïnvloed het. En ek wil hier skaamteloos bely dat ek baie verskuldig is aan Baudelaire, Grillparzer, Noyes, Swinburne en Dante.” (“Eerste skoffies”, in JMH Viljoen: ’n Joernalis vertel)

Leipoldt het in 1934 die Hertzogprys vir Poësie ontvang vir sy bundel Skoonheidstroos.

Oor sy prosawerk het Leipoldt in “Eerste skoffies” geskryf dat dit ’n meer ingewikkelde taak is, aangesien die Afrikaanse prosa nog in sy groeifase is. “Elke jong taaltjie begin met digwerk, en prosa en digkuns is so verskillend van aard dat dit onmoontlik is om ’n vergelyking te tref. Die Afrikaanse prosa is vandag (1940) nog in die stadium waarin dit verkeer het met die tyd van die Eerste Beweging – dit, ten minste, is my mening. Ek hoef maar net na die Bybelvertaling te verwys om my bewering te staaf. Iedereen wat die geduld sal neem om dit te vergelyk met die heerlike prosa van die Statebybel sal met my saamstem – ten minste as hy gevoelig is vir ritme en klank en waardigheid van woorde – dat die Afrikaanse vertaling ver agterstaan by die verhewenheid waaraan ons voorvaders gewoond was. My eie prosa is suiwer koerant-prosa, en dié van my tydgenote is nie veel beter nie. Ek dink nog dat een van die allerbeste stukkies prosa te vinde is in prof Smith se inleiding tot Oom Gert vertel, en ek hou ook baie van die prosa van dr JP Smuts in sy Filosofies-Opvoedkundige sketse.”

In Die Huisgenoot van 16 Desember 1940 skryf PC Schoonees dat Leipoldt nooit ’n probleem gehad het om stories vir sy boeke bymekaar te kry nie, want hy het oor ’n uitgebreide kennis oor wyd uiteenlopende onderwerpe in sy kop beskik. Só het hy in die roman Galgsalmander (1932) ’n “breed uitgewerkte skildering gegee van die periode net voor die Groot Trek. So deeglik is sy kennis van die maatskaplike, politieke en kerklike toestande aan die begin van die negentiende eeu dat hy nooit daaroor uitgepraat raak nie.”

Vir Schoonees ontwikkel die hoofkarakters in Galgsalmander nie tot lewende mense nie en is daar ook nie sprake van enige sielkundige konflik in die roman nie. Die skrywer se gemoedelike geselstoon en die “geestige stylwendings” wat kort-kort voorkom, kan die leser bekoor.

“In Die donker huis (1931) het hy hom egter as wetenskaplike ’n sekuur afgebakende taak gestel, om naamlik deur ’n veselfyne karakterontleding aan te toon hoe die lewensgeluk van ’n jong seun deur die liefdelose behandeling van sy vader verwoes word.”
Schoonees het dit getipeer as ’n “donker, vreugdelose verhaal van eindelose wrywing en gedurige misverstand. Twee meulstene maal mekaar stadig maar seker fyn en by elke wenteling bedui Leipoldt, die wetenskaplike, ons hoe die vernielingsproses vorder. Leipoldt, die digter, die kunstenaar, het weinig aandeel in die roman gehad.” In sy onderhoud met P de V Pienaar (Die Afrikaanse jaarboek) het Leipoldt gemeen dat Die donker huis “sy beste prosawerk ... een van sy hoogste kunsstukke” is en dat die kritici dit nie genoeg na waarde geskat het nie.

In 1937 het Die dwergvroutjie verskyn wat na die mening van Schoonees ook sy ontstaan gehad uit Leipoldt se belangstelling in die wetenskap eerder as uit sy kreatiewe verbeelding. “Dit bevat ontroerende momente, en in die uitbeelding van die karakters is daar meer warmte van gevoel. Deurgaans egter, bly hulle tog ook maar bewysstukke van psigo-patologiese prosesse wat met wetenskaplike presiesheid hul onverbiddelik loop voleindig.”

As ’n mens Leipoldt se vertelkuns van naderby beskou, besef ’n mens, volgens Schoonees, dat die stryd tussen wetenskap en kuns altyd daar is en dat dit gewoonlik die wetenskap is wat die botoon voer. “Hieraan moet dit toegeskrywe word dat sy drie romans slegs matige belangstelling gewek het by die algemene publiek, terwyl sy gedigte oral geesdriftige bewondering uitlok en ’n groot gedeelte nasionale besit geword het. Leipoldt het egter in sy romans geen karakter geskep wat algemeen bekend geword het nie, en die skoonheid van sy vertelkuns moet meestal in die onderdele gesoek word.

“Vir ’n medikus sal die wisselwerking van siel en liggaam ’n besonder aanloklike terrein wees, en Leipoldt het deur sy vlot verteltrant daarin geslaag om selfs aanstootlike motiewe op ’n boeiende wyse te ontwikkel, veral in sy bundels kortverhale.”

In sy kortverhaalbundel Waar spoke speel (1927) wend hy hom na die okkulte. Hy probeer nie om enige verklaring te gee vir die bonatuurlike nie, maar wil die leser prikkel deur die onopgeloste raaisels in sy skoot te lê. Vir Schoonees is die kortverhale dus meer leesbaar as sy romans. As voorbeeld haal hy die kortverhaal “O’Callaghan se waatlemoen” aan, waar die oom sy middagslapie in sy doodskis vang, want “’n mens moet hom so stadigaan gewoon maak aan die ding!”

Wat agter lê (1930) kom die bonatuurlike weer na vore, met sy geneigdheid om die vlot verloop van sy verhaal te onderbreek deur “geleerde uitweidings”, maar dan kry ’n mens ’n verhaal soos “Groottannie se salf” waarin Leipoldt bewys dat hy ’n spookstorie wel deeglik kan vertel.

In Die rooi rotte en ander verhale (1932) kom die bonatuurlike elemente weer na vore. Vir Schoonees is die beste verhaal in die bundel “Die koei van die weduwee Priem” waarin Leipoldt “met speelse geestigheid ’n geskilletjie tussen ’n lankmoedige Engelse predikant en ’n opvlieënde weduwee behandel”.

Schoonees het gemeen dat Leipoldt met hierdie drie kortverhaalbundels wel deeglik die spookverhaal in die Afrikaanse letterkunde gevestig het.

Daar kan egter nie nagelaat word om Leipoldt se reisverhaal Uit my Oosterse dagboek te vermeld as daar oor sy prosawerke gepraat word nie. “Aangenaam en met groot kennis van sake gesels hy oor Indiese towenaars en mensvreters, Sjinese familiegrafte en seerowers, rystafels, opiumskuiwers, vulkane, tropiese bome en plante. Hy het die bekoring van die geheimsinnige Ooste ondergaan, rondgedool in die ‘spokeland, waar jy nooit in intieme aanraking met die wesens wat daarin woon, kan kom nie’. Hier vind ons van die mooiste prosa wat Leipoldt nog geskryf het, mooi natuurbeskrywings, interessante wetenswaardighede en pakkende anekdotes.”

Oor Leipoldt se speurverhale, Die moord op Muisenberg (1932), Die verbrande lyk (1934) en Die moord in die Bosveld (1939), het Schoonees geskryf: “Leipoldt sou sy geaardheid verloën het as hy nie ook hier wetenskaplik te werk gegaan het nie. Vir hom is nie soseer die sensasiewekkende besonderhede van ’n moord van belang nie, maar veral die vernufspel tussen die deskundiges en die reaksie van die regter en die jurie op hul getuienis. Die verbrande lyk is ’n knap stukkie kriminalistiese joernalistiek, wat deur ’n wetenskaplike beligting van die feite uitblink.”

Dan was daar ook nog Leipoldt se bydrae tot die Afrikaanse kinderliteratuur. Hy het die slag gehad om die kind se aandag te hou, selfs al was daar ’n didaktiese streep in die stories. Afsonderlike bundels het Kampstories (1923), Paddastories vir die peetkind 1934) en As die natuur gesels ingesluit, terwyl hy ook belangrike bydraes gelewer het vir Juta se algemene Afrikaanse leesboeke. In laasgenoemde is Leipoldt se “digterlike sprokie”, Die weeskindjie wat ’n moeder wou hê, wat reeds in 1914 in Die Brandwag verskyn het.

G Dekker het gesê: “Sy prosa openbaar ... ’n heeltemal ander persoonlikheid (as sy digkuns). Naas die hartstogtelike, die hewig-persoonlike van sy poësie, word ons hier getref deur die kalme geselser, die causeut, wat nooit sterk ontroer is nie, nooit haastig nie, maar altyd die tyd het om alles omstandig te vertel, soms selfs pynlik langdradig en omslagtig te word.” (Die Huisgenoot, 16 Desember 1940)

Schoonees het sy artikel afgesluit met: “Leipoldt het deur sy omvangryke bydrae tot ons prosa ’n groot en waarderende leserskring gevind wat sy goeie hoedanighede op prys stel en sy verbluffende veelsydigheid bewonder. Leipoldt het al dikwels menings verkondig wat baie rewolusionêr geklink het, maar as ware volksopvoeder was dit steeds sy doel om ons tot ’n selfstandige denkwyse aan te spoor. Wie later die kultuurgeskiedenis van ons volk te boek stel, sal ongetwyfeld genoeg bewyse vind van Leipoldt se belangrike invloed op ons volksontwikkeling. Daarom reeds nou: ’n ere-saluut aan hierdie talentvolle en onvermoeide werker!” (Die Huisgenoot, 16 Desember 1940)

In 1940, die jaar waarin Leipoldt 40 jaar oud geword het, het G Dekker in Die Huisgenoot van 29 November 1940 geskryf dat Leipoldt, benewens Grosskopf, die enigste werklik dramatiese kunstenaar in Afrikaans was. Dekker het Oom Gert vertel beskou as ’n monoloog wat “suiwer dramaties” is. Maar vir Dekker is dit Leipoldt se twee bekende dramas Die heks en Van Noot se laaste aand wat van hoogstaande gehalte is. “Hulle besit nie slegs literêr-historiese waarde nie; hulle sal as kunswerke altyd van betekenis bly. Hier het ons geen in dialoog gestelde storietjie, geen gekostumeerde en gegrimeerde begrippe soos met byna al ons dramas tog eintlik nog maar die geval is nie. Hier is nie die eksplisiete voordraer van ’n dramatiese verhaal aan die woord nie. Hier sien ons nie die skrywer in die outeursloge sit en rondkyk watter sukses hy behaal het met ’n handige greep, ’n knap toneeltjie of ’n geslaagde stukkie dialoog nie. Hier het ons drama in die ware sin van die woord: uitbeelding van botsing wat die mees wesenlike van die mens te voorskyn roep.”

Die heks se aanvanklike titel was Die hamer van die hekse en die oorspronklike manuskrip is later deur JL van Schaik in sy brandkluis ontdek. Die heks is in 1906 in Duitsland geskryf en wel in Engels, het MPO Burgers vertel in Trans-Afrika van Januarie 1945. Leipoldt was vanaf na Londen in Duitsland en het ’n opvoering van die gebarespel Sumerun, deur Max Reinhardt, bygewoon en hy was so begeesterd dat hy deur die nag gesit en skryf het aan Die heks en dit klaargemaak het. Hy het dit aan Reinhardt voorgelê, maar hy was nie baie beïndruk daarmee nie.

Die drama is gesitueer in 1423 in ’n kasteel in Wes-Duitsland. Dit was aan die begin van die jare toe vroue as hekse vervolg is. Dit gaan in die drama oor ’n kardinaal wie se taak dit was om hekse te vervolg en hy het dus bekendgestaan as “Die hamer van die hekse”. Elsa word aangekla dat sy ’n verbond met Satan gesluit het en dat hy haar meester is.

Vir Burgers is die drama “heg gebou, aangrypend van dramatiese krag, lewendig wat karakterskepping en -tekening betref, en ’n weerspieëling van die hele gees van die skrywer, wat vir die persoon wat in staat is om dit te sien, ’n openbaring is”.

Die laaste aand dateer uit 1930 en is ’n gewysigde verwerking van ’n dramatiese monoloog wat in 1923 in Uit drie wêrelddele opgeneem is onder die titel “Van Noot se laaste aand”. Hierin gebruik Leipoldt weer ware geskiedkundige gebeure. Van Noot was goewerneur aan die Kaap en het vier drosters op ’n baie wrede manier ter dood veroordeel. Die leier van die vier het glo net voor hy gehang is, Van Noot uitgedaag om saam met hom voor die regterstel ? regterstoel? van God te verskyn. (FCL Bosman: Ons Eie Boek, Maart 1939)

In Volksblad van 8 November 1930 het CM van den Heever geskryf dat beide hierdie dramas “getuig van skerp indringingsvermoë en deurskouinge van die kern van ’n bepaalde konsepsie se onderdele”.

Die heks en Die laaste aand is in 1944 met die Hertzogprys bekroon.

Leipoldt as natuurliefhebber

Leipoldt het van jongs af alleen in die ruie tuin van die pastorie op Clanwilliam gespeel en het gereeld ver ente in die veld langs die Jandisselsrivier gestap en plante en klippe versamel. En veral die versameling van plante het vinnig gegroei van net ’n stokperdjie tot ’n intense belangstelling, het JC Kannemeyer in Die Burger van 20 Maart 1999 geskryf. “In sy Bushveld doctor staan hy by die belangstellingsveld. Hy kan hom geen beter studieveld en vormende invloed op die ontwikkelende bewussyn van ’n jong seun voorstel as die natuur nie. Hy skryf: ‘It is a subject not taught at schools, and not usually included in any curriculum, but it is nevertheless the one subject that, if it evokes any response at all in the boy, is likely to yield him the most lasting pleasure and benefit in later years.’”

Leipoldt was bevoorreg om in sy lewe kennis te kon maak met bekendes op die gebied van die plantkunde. Op Clanwilliam het hy Max Schlechter ontmoet saam met wie hy die veld buite Clanwilliam verken het, en het selfs saam met Schlechter se geselskap na Namakwaland gereis. Ook in 1895 het hy Harry Bolus ontmoet wat ‘n groot invloed op Leipoldt gehad het en met wie hy gereeld in korrespondensie was.

Leipoldt oor Afrikaans

“Ek het as skrywer en joernalis ’n loopbaan van byna vyftig jaar agter my. Daarin het ek die stadige maar bestendige ontwikkeling van Afrikaans gesien, en as ek dit gadeslaan en daaroor nadink, dan kan ek nie anders oordeel as dat ons reeds veel presteer het waarop ons met reg trots kan wees, maar wat ons met ewe veel reg kan laat verwag dat ons in die toekoms beter, skoner en meer skitterende werk sal lewer.

“Dit is wel waar dat die inmenging van politiek op letterkundig-estetiese gebied ons danig benadeel het, maar ek beskou dit as slegs ’n tydelike en verbygaande verskynsel, alhoewel die invloed daarvan vandag belemmerend en selfs vernietigend is. Meer belangrik miskien is die dodende druk van ons onderwysstelsel, wat letterkunde bloot as ’n taalvak beskou en ons opgroeiende jeug alle kans ontneem om, deur kennismaking met Nederlandse en Vlaamse letterkunde, in staat te wees om eiehandig wat in Afrikaans geskryf word, te beoordeel volgens die maatstaf van ’n kundige en onbevooroordeelde estetiek.

“’n Volk kry boeke wat hy verdien. As hy nie bekwaam genoeg is om tussen waarheid en bedrog, tussen werklike skoonheid en klatergoud-opskik, tussen egte humor en hanswors-kaskenades, tussen opregte hartstog en glasterige, geveinsde gevoel te onderskei en die verskil duidelik te besef nie, dan is hy ook nie in staat om ’n kunswerk te begryp, te skat en te waardeer nie.

“By gebrek aan deeglike opleiding in ons skole is daar slegs een hulpmiddel wat vir ons oorbly om aan ons opgroeiende geslag daardie kundige kennis te verskaf, en dit is die pers. Ons Afrikaanse pers besef nog nie hoe ontsaglik veel dit kan bydra tot die ontwikkeling van ons letterkunde en ’n liefde daarvoor onder ons volk nie. Die Engelse pers doen in hierdie opsig beter kulturele werk as ons eie. Baie Engelse dagblaaie plaas vervolgverhale, uittreksels uit boeke met ’n kulturele strekking, gedigte en opstelle. Meer as een buitelandse kunswerk op letterkundige gebied het sy eerste verskyning as ’n vervolgverhaal in ’n dagblad gemaak. Ek hoef net op te noem Die koningin van Skeba en Die vlakte, wat albei in nuusblaaie verskyn het. Nou beperk ons sulke kulturele stukke tot week- en maandblaaie en ons laat dit aan die dagbladpers oor om aan die volk te gee net wat sy estetiese smaak en sy begrip van letterkundige waardes kan bederf. (...)

“Wat betref wat ons reeds presteer het, hoef ek nie veel te sê nie. Dit kan ten minste op eie pote staan en vergelyk uitstekend met wat ons Engelssprekende medeburgers voortgebring het gedurende die vorige twee geslagte, behalwe miskien op die gebied van suiwer letterkundige ‘opstelle’ en lewensbeskrywings, waarvan ons veel te weinig besit wat iets beteken. Ons werk vir die drama, ons toneelstukke is in die algemeen beter as wat deur die Engelssprekende medeburgers gelewer is, maar ongelukkig mis ons nog die nodige talent en bekwaamheid om sulke stukke op te voer, en ons bly nog gediend met minderwaardige opvoerings van ewe minderwaardige vertalings en prulwerke. Maar met president Brand kan ek volhartig saamstem: Dit sal alles regkom, mits elkeen van ons sy plig doen.” (“Eerste skoffies”, uit JMH Viljoen: ’n Joernalis vertel)

Leipoldt as joernalis

Oor sy joernalistieke skryfwerk het Leipoldt in “Eerste skoffies” vertel: “Joernalistieke werk is gewone dagwerk; net soos elke messelaar kan messel as hy genoeg gereedskap het, so kan elke joernalis ’n stuk skryf as hy genoeg gegewens besit – en meestal ook daarsonder. Dit wil nie sê dat hy nie soms swaar moet rondspartel om die gegewens te kry nie.”

Rykie van Reenen het in Die Burger van 17 September 1980 geskryf dat Leipoldt se geniale veelsydigheid op geen ander gebied só tot uiting gekom het as in die joernalistiek nie. Hy was ook oorlogskorrespondent in die Balkan-oorlog van 1911 en 1912. Markus Viljoen het in ’n Joernalis vertel geskryf dat Leipoldt dit as die laaste “gentleman’s war” beskryf het. Soggens is bietjie geveg en dan is dit gestaak sodat die soldate kan eet en in die middae was dit dieselfde. Die offisiere het oor een weer kaart gespeel en gekuier en Leipoldt self het die gewondes van beide kante help verpleeg. “Hy het glo later uit erkentlikheid ’n eregraad gekry van die Universiteit van Konstantinopel.”

(Leipoldt se loopbaan as mediese joernalis kan gesien word onder “Leipoldt as medikus”.)

Leipoldt as koskenner

In Kos vir die kenner het Leipoldt geskryf: “Dit is glad nie moontlik om ’n perfekte kookboek te skryf nie. Nie alleen omdat daar ontelbare resepte bestaan nie, maar omdat die kookkuns, net soos elke ander kuns, nie stilstaan nie; dit ontwikkel elke dag, en daar is mode in, net soos daar is in enige kuns waarin die mensdom belangstel.” (Die Burger, 17 September 1980)

Leipoldt se belangstelling in kos is al geprikkel toe hy in die pastoriekombuis soms hand bygesit het en kennis gemaak met ’n verskeidenheid voedselsoorte. En in Engeland het hy, om sy inkomste aan te vul, daarin geslaag om in die kombuis van die bekende Carlton-hotel in Londen onder die toesig van Escoffier te werk. En hy moes die legendariese man beïndruk het, want hy is genooi om saam met hom na Buckingham-paleis te gaan om vir onthale daar te help kook.

Peter Veldsman skryf (Volksblad, 13 Augustus 2011) dat Leipoldt se eerste boek sy ontstaan gehad het as gevolg van sy belangstelling in die versorging van kinders en wat hulle eet. Die inspirasie vir Kos vir die kenner was Leipoldt se reise, “sy versameling kookboeke, sy seëlpos met sy geesgenoot André Louis Simon, ’n legendariese Fransman wat in Engeland gewoon het as wynhandelaar en meer as 150 boeke oor kos en wyn geskryf het”.

Sy ander kosboek, Polfyntjies vir die proe, het sy ontstaan gehad as rubrieke in Die Huisgenoot onder die titel “Kelder en kombuis” wat hy onder die skuilnaam KAR Bonaat geskryf het. Drie weke nadat hy die reeks klaargemaak het, is hy oorlede. Martiens van Bart skryf in Die Burger van 21 Mei 2005: “Die opstelle word as die mooiste prosa uit sy pen beskou. Anders as Kos vir die kenner is Polfyntjies vir die proe nie sodanig ’n resepteboek as ’n bespreking van die herkoms, aard en waarde van bekende en minder bekende Kaapse kossoorte nie. Hy het vir die aardigheid ook opstelle oor die bereiding van ‘kwaggavleis’ en ’n poging tot die bereiding van krokodiltong ingesluit. Spitsvondigheid en humor was van sy sterk kenmerke. Die opstelle is knap voorbeelde van intelligente, kreatiewe skryfwerk. Deurdat dit interessant, leersaam en van groot vermaaklikheidswaarde is, verskaf die lees daarvan loutere plesier.”

Oor die bespiegelinge of Leipoldt gay was of nie, word lesers van hierdie artikel verwys na ’n opsomming deur Sonja Loots oor hierdie onderwerp wat in Rapport verskyn het.

Leipoldt se afsterwe

C Louis Leipoldt is op 12 April 1947 in ’n Kaapstadse verpleeginrigting aan ’n hartaanval oorlede. Hy was nooit getroud nie.

Ná sy dood het ’n paar intieme vriende sy stoflike oorskot onder ’n skulpagtige hol krans, tien kilometer in ’n noordoostelike rigting van Clanwilliam begrawe. Hy het kort voor sy dood aan ’n vriendin gevra dat sy as aan sy vriend dr P Nortier op Clanwilliam gestuur moet word. En dit was Nortier wat besluit het dat sy as tussen Clanwilliam en Wupperthal begrawe moet word.

Huldeblyke

  • Totius: “En so het hy heengegaan sonder dat ek eintlik sy lewende stem gehoor het. Wat sy digkuns betref, met die stem het hy dikwels tot my gespreek en sal hy bly spreek. Die kennismaking met Oom Gert vertel en ander gedigte was vir my ’n blye verrassing. Ek het dadelik gesê: Hier is ’n nuwe geluid. Ook sy ander bundels was vir my reis- en ontspanningslektuur. Almal weet Leipoldt het nie net ’n nuwe geluid laat hoor nie, maar ook ’n eie geluid. Daardeur het hy ons verryk nie net vir vandag nie, maar vir altyd. In weemoedstemming neem ek afskeid van hierdie ‘Leeurik wat opgestyg het in die skemermôre’ – woorde wat hy aangaande my in die uiters simpatieke artikel in Die Huisgenoot van 21 Februarie laaslede gebesig het en wat ek nou uit volle hart op hom van toepassing maak. Sy vroeë môrelied is ons ontwakingsgeskenk.” (Die Huisgenoot, 9 Mei 1947)
  • DF Malherbe: “Met die dood van Leipoldt is ons ’n groot figuur ontruk, bekend by albei bevolkingsdele, ’n reguit man, ’n onverskrokke man. Maar ten spyte van sy alsydige kennis en bedrywigheid op velerlei gebied was hy in die eerste plaas ’n geniale bouer aan die jong, opstrewende Afrikaanse kultuur. Sy naam sal met eens by die meeste Afrikaners in die geheue roep die skrynende woorde wat hy uit die hart uit gesing het oor die onvergeetlike smart-gebeure in die konsentrasiekampe (...); maar ook die stromende vreugde van ‘Oktobermaand’ so ‘blomtuin vol van kleure’. En die digter se aanhoudende julbeltone oor die mooi dinge van ons land. (...) Tot in die verre toekoms, solank ’n Afrikaanse kultuur lewe, ja solank die Afrikaners die adel van die gees in hul eie verlede eer, sal Leipoldt se naam staan tussen dié van hul grootstes en sy eiegeaarde, oorspronklike woord voortklink in duisende harte.” (Die Volksblad, 19 April 1947)
  • Suiderstem, 14 April 1947: “Leipoldt was meer as net ’n Afrikaanse digter. Hy was ’n onvermoeide dienaar van ons land en sy bevolking. ’n Mens kan met reg sê dat hy van ’n hartstogtelike Afrikaner tot ’n ware Suid-Afrikaner ontwikkel het wat nooit sy eie persoonlikheid ingeboet het nie, maar altyd geweet het hoe om te dien en te skep. As geneesheer was hy ’n wêreldburger en dienaar van die mensdom as geheel. As geskiedkundige, as kok en as wynkenner was hy ’n Suid-Afrikaner by uitstek. So is daar min terreine van ons landdiens wat hy nie met sy diepe insig en sy geweldige werkkrag bevrug, verryk en veredel het nie.”
  • JJ Kruger: “Vir sy tyd was Leipoldt ’n merkwaardige figuur. In die jare van ons volk se eerste opbloei uit ongerepte landelikheid, toe geleerde mens, het hy uitgestyg as kenner en fynproewer van die waardes en genietinge wat die rype beskawings van Weste en Ooste bied. Min mense het sy wye agtergrond en vertroudheid met die eksotiese gedeel: hierin was hy eenling, nes in sy besonderse opvattinge, opinies en smake. (...) Ons lê ’n nederige kransie op die graf van hierdie voorloper-joernalis, Bosveld-dokter, verteller, Afrikaner en digter wat met visionêre opreiking na die bo-tydelike gesing het:

    Dit is die maand Oktober:
    Ek dink, die mense vier
    Vir ewig in die hemel,
    Oktobermaand soos hier.” (Die Ruiter, 9 Mei 1947)

  • Uys Krige: “Leipoldt was veral mens – ’n mens dus met sy gebreke, sy eienaardighede, party van ons sal sê met sy eksentrisiteite, sy grille, selfs sy nukke. Maar hy was volledig mens, een van die volledigste mense wat ons land nog opgelewer het. Omtrent hom kan ons tereg die woorde (van Jan Celliers) gebruik: “Stil broers,/ Daar gaan ’n man verby.” (Vandag, April 1947)
  • DJ Opperman:

    ’n Digter sterf

Dus: onder ’n Swart (beduiwelde!) Suidoos
laveer die leste skip vannag
na hierdie hospitaal in Tamboerskloof.

Vergeefs het ek by Soekaradja
Boeddha na geheime varings
agter die waaierervarings uitgevra.

Vergeefs by Hyde Park gesoek na wondermedisyne
om agter rododendrons fyner rododendrons
te gewaar, konyne agter konyne!

Niks by Clanwilliam in die Pakhuispas
verwag – met Vader se viool kisgepak
deur manne van Calvyn – as ’n handvol as!

Van my eerste tot hierdie trombotiese gesnik
was die grootste wonder elke oomblik elke klip,
elke kriekie, ramkie, varing wat nóú daar vir my knik.

Bog, Boetie, met betoë! Vaak is vaak,
en narkoties damp reeds uit die kombuis
tifone vol speserye vir gaar maak! (Die Burger, 17 September 1980)

  • NP Van Wyk Louw: “In die dae van ons grootste nood was Leipoldt die hart van die Afrikaanse volk. Dit was in die tyd ná 1900 toe dit gelyk het asof ons as volk finaal verneder en reddeloos verlore was, toe dit gelyk het asof ons sou ondergaan en uit die ry van die volke verdwyn sonder om ’n woord na te laat van wat ons kon wees. Toe het Leipoldt gepraat, woorde gegee aan ons smart en hierdie Afrikaanse wêreld van ons laat opglans omring van ’n liefde wat in honderde jare gegroei het. Elke blommetjie, elke diertjie van ons veld het hy genoem asof dit die laaste keer was wat dit genoem sou word. Dit is die Leipoldt wat ons die beste ken. Want ná hom kan ons as volk ondergaan, maar dit sal nie woordeloos wees nie.” (Die Burger, 14 April 1947)
  • MPO Burgers: “Die blindeman, die trooster en vriend, het uiteindelik gekom om een van die grootstes onder ons weg te neem – die digter, C Louis Leipoldt, hy wat soms gejuig het oor die blye lewe, wat soms in die diepste neerslagtigheid sy gemartelde siel uitgestort het in sy verse, en wat so dikwels met byna wêreldvreemde oë gestaar het op dinge wat ander mense nie raakgesien het nie. Nou rus hy – maar voor hy tot sy rus vergader is, het hy soos min ander mense beide gelewe en gearbei. Hy het gearbei in dié sin, dat hy ’n sukses van sy beroepe gemaak het, dat hy baie gedoen het vir die samelewing, veral vir die gesondheid van skoolkinders, dat hy geywer het om die denklewe van die lesende publiek te stimuleer, en dat hy met groot weetgierigheid sy belangstelling in ’n wye keuse van stokperdjies uitgelewe het. En hy het gelewe in dié sin, dat hy met ’n ryk bron van potensialiteite in sy eie gees oop gestaan het vir die lewe, dat hy ten spyte van die baie boeke wat hy gelees het ‘met boeke toe en oë oop’ deur die lewe gegaan het en rykelik ervaar het, en dat hy, by ’n aktiewe lewe, na buite ook ’n rykgeskakeerde lewe na binne gelei en gely het.” (Suid-Afrika, Mei 1946)
  • ID du Plessis: “Leipoldt was as mens ’n veel beminder persoonlikheid as wat die meeste van sy medemense kon vermoed. Veral as bydraer tot ons letterkunde, maar ook as joernalis, as kinderspesialiteit, as belangstellende in die geskiedenis, van wie daar nou ’n onvoltooide werk oor Paul Kruger lê, as gesaghebbende op die gebied van wyn en kookkuns, en op ander gebiede, sal Leipoldt as veelsydige in die Afrikaanse lewe, met verloop van tyd na waarde geskat word. As mens sal hy deur die menigte wat hom oppervlakkig leer ken het, deur oppervlakkige kenmerke onthou word. Vir die paar wat die kans gekry het om deur die pantser wat hy as verdediging gebruik het, te dring, om die sagter vereensaamde mens daarbinne te vind, is sy heengaan ’n verlies wat dieper gaan as die besef dat ons in hom nog ’n geestelike leier verloor het.” (Die Naweek, 1 Mei 1947)
  • WEG Louw: “By die lees van die kort lewensberigte wat na Leipoldt se dood in die pers verskyn het, het dit my weer sterker as ooit tevore getref op hoeveel en verskeie arbeidsvelde hy gedurende sy lewe werksaam was. (...) Dat hy vir tallose Afrikaners eintlik in die eerste plaas digter was, is miskien die beste bewys van die groot invloed wat daar van sy poësie uitgegaan het – ’n invloed so groot dat sy gedigte vir baie van ons eintlik die eerste aangrypende openbaring van die krag en die sin van die poësie was. Ek glo dan ook dat Leipoldt die digter nog sal lewe lank nadat sy prestasies op ander gebiede, hoe voortreflik dié ook mag gewees het, al vergete is.” (Die Huisgenoot, 9 Mei 1947)

Publikasies

Publikasie

Oom Gert vertel en ander gedigte

Publikasiedatum

  • 1911
  • 1917
  • 1921
  • 1926
  • 1953
  • 1960
  • 1961
  • 1971

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Pretoria: De Bussy
  • Kaapstad: HAUM
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skoolgesondheid

Publikasiedatum

  • 1916
  • 1919
  • 1921
  • 1923
  • 1924

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Opvoedkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Praatjies met die kinders

Publikasiedatum

  • 1917
  • 1920
  • 1926
  • 1926

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Pretoria: De Bussy
  • Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Opvoedkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Praatjies met die oumense

Publikasiedatum

1918

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Suid-Afrikaanse Boekwinkel

Literêre vorm

Opvoedkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dingaansdag

Publikasiedatum

  • 1920
  • 1925
  • 1927
  • 1933
  • 1950

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Afrikaanse kind in siekte en gesondheid: ’n boek vir ouers en opvoeders

Publikasiedatum

1920

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt

Literêre vorm

Mediese handboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uitgesoekte gedigte vir jong Suid-Afrika

Publikasiedatum

  • 1923
  • 1925
  • 1929
  • 1931
  • 1933
  • 1934
  • 1943
  • 1947
  • 1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die heks: ’n toneelstuk in een bedryf

Publikasiedatum

  • 1923
  • 1927
  • 1929
  • 1934
  • 1938
  • 1940
  • 1942
  • 1943
  • 1944
  • 1945
  • 1946
  • 1949
  • 1951
  • 1953
  • 1955
  • 1957
  • 1958
  • 1959
  • 1960
  • 1961
  • 1964
  • 1965
  • 1966
  • 1967

ISBN

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Uitgewer

Drama

Literêre vorm

Geen

Pryse toegeken

Hertzogprys vir Drama 1944

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit drie wêrelddele

Publikasiedatum

  • 1923
  • 1926
  • 1928
  • 1929
  • 1930
  • 1933
  • 1934
  • 1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kampstories

Publikasiedatum

1924

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stories vir die kinders

Publikasiedatum

  • 1926
  • 1928
  • 1933
  • 1935
  • 1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Vergissing: blyspel in een bedryf

Publikasiedatum

  • 1927
  • 1933
  • 1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waar spoke speel

Publikasiedatum

  • 1927
  • 1928
  • 1934

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

As die natuur gesels. Deel I

Publikasiedatum

  • 1928
  • 1932
  • 1947

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Wetenskaplike studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die laaste aand: ’n toneelstuk in drie bedrywe

Publikasiedatum

  • 1930
  • 1936
  • 1938
  • 1940
  • 1944
  • 1949
  • 1952
  • 1960
  • 1962
  • 1963
  • 1969

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir Drama 1944

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wat agter lê en ander verhale

Publikasiedatum

1930

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die donker huis

Publikasiedatum

1931

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Afgode: toneelstuk in drie bedrywe

Publikasiedatum

  • 1931
  • 1932

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

As die natuur gesels. Deel II

Publikasiedatum

1931

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Wetenskaplike studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onrus: ’n toneelstuk in drie bedrywe

Publikasiedatum

1931

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wonderlike klok: ’n ou verhaal opnuut vertel

Publikasiedatum

  • 1931
  • 1940
  • 1946

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eerste gesondheidsleerleesboekie vir Afrikaanse skole

Publikasiedatum

1931

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Juta

Literêre vorm

Gesondheidsleer

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die kwaksalwer: ’n komediespel in drie bedrywe

Publikasiedatum

1931

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Galgsalmander

Publikasiedatum

1932

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit my Oosterse dagboek

Publikasiedatum

  • 1932
  • 1937

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skoonheidstroos: nuwe gedigte

Publikasiedatum

  • 1932
  • 1943
  • 1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1934

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die moord op Muisenberg: ’n speurverhaal

Publikasiedatum

  • 1932
  • 1945

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die rooi rotte en ander kortverhale

Publikasiedatum

1932

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die bergtragedie

Publikasiedatum

1932

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kos vir die kenner: ’n kookboek met meer as duisend goeie resepte

Publikasiedatum

  • 1933
  • 1978

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kookboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Paddastories vir die peetkind

Publikasiedatum

1934

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale pers

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die verbrande lyk: ’n speurverhaal

Publikasiedatum

  • 1934
  • 1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Slampamperliedjies

Publikasiedatum

  • 1936
  • 1937
  • 1938
  • 1944
  • 1952
  • 1966
  • 1980

ISBN

0624015335 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The Bushveld doctor

Publikasiedatum

  • 1937
  • 1980

ISBN

  • 0798109564 (hb)
  • 0947042229 (sb)

Uitgewer

  • Londen: Jonathan Cape
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Braamfontein: Lowry Publishers

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die dwergvroutjie

Publikasiedatum

1937

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die goue eier: ’n storie vir kinders

Publikasiedatum

1937

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Holland gründet die Kapkolonie: Jan van Riebeecks leben und werk

Publikasiedatum

1937

ISBN

(hb)

Uitgewer

Leipzig: Goldmann

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jan van Riebeeck: die grondlegger van ’n blanke Suid-Afrika

Publikasiedatum

1938

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Groot Trek

Publikasiedatum

1938

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die heks: ’n toneelstuk in een bedryf; Die kwaksalwer: ’n komediespel in drie bedrywe

Publikasiedatum

1938

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Hugenote

Publikasiedatum

  • 1939
  • 1942

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die moord in die Bosveld

Publikasiedatum

  • 1939
  • 1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

A primary health reader for South African primary schools

Publikasiedatum

1939

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Juta

Literêre vorm

Gesondheidsleer

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die mossie wat wou ryk word: ’n storie

Publikasiedatum

  • 1941
  • 1948

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Versieboord vir kinders

Publikasiedatum

1944

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale pers

Literêre vorm

Kindergedigte

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vyftig gedigte van CL Leipoldt

Publikasiedatum

  • 1946
  • 1951
  • 1956
  • 1962

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Moormansgat en ander verhalende en natuurverse: ’n bundel vir skoolgebruik

Publikasiedatum

1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The ballad of Dick King and other poems. Saam met Pheidippedes

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Steward

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Geseënde skaduwees

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Polfyntjies vir die proe

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1979
  • 2005

ISBN

  • 0624012204 (hb)
  • 0620324368 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Kaapstad: Sederberg Uitgewers

Literêre vorm

Kookboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die heks en Die laaste aand

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1981
  • 1987
  • 1991

ISBN

  • 0624003566 (sb)
  • 0624015769 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

300 years of Cape wine

Publikasiedatum

1974

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Wynhandleiding

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Driesprong: ’n bloemlesing uit die gedigte van Celliers, Totius en Leipoldt

Publikasiedatum

1978

ISBN

0624011682 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dear Dr Bolus: letters from Clanwilliam, London, New York and Europe and the Continent written during his medical studies from 1897–1911

Publikasiedatum

1979

ISBN

0869611054 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Brieweboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Versamelde gedigte. Byeengebring deur JC Kannemeyer

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624012905 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Moederplig: ’n toneelstuk in vier bedrywe

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014029 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

O’Callaghan se waatlemoene en ander verhale

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014207 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stormwrack

Publikasiedatum

  • 1980
  • 2000

ISBN

  • 0908396104 (hb)
  • 0798140399 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: David Philip
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Literêre causerie: kritiese opstelle oor die literatuur en oor eie agtergronde

Publikasiedatum

1990

ISBN

0702124362 (sb)

Uitgewer

Kenwyn: Juta

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit die skatkis van die Slampamperman: ’n omnibus. Saamgestel deur JC Kannemeyer

Publikasiedatum

1999

ISBN

0624037398 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Bloemlesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

So blomtuin-vol van kleure: Leipoldt oor Clanwilliam

Publikasiedatum

1999

ISBN

0624037371 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kontreiletterkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chameleon on the gallows (Gallow Gecko)

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798139986 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The Valley: a trilogy. Geredigeer deur TS Emslie, PL Murray en JAJ Russell

Publikasiedatum

2001

ISBN

0620278161 (sb)

Uitgewer

Plumstead: Stormberg Publishers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hierdie land van leuens: “Brieven uit de Kaap Kolonie” oor die Anglo-Boereoorlog soos gepubliseer in Het Nieuws van de Dag, 21 Mei 1900–7 Oktober 1901. Saamgestel deur Wium van Zyl

Publikasiedatum

2002

ISBN

0620294752 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Africana Uitgewers

Literêre vorm

  • Brieweboek
  • Anglo-Boereoorlog

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leipoldt’s food and wine. Geredigeer deur TS Emslie en PL Murray

Publikasiedatum

2003

ISBN

0620306173 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Stonewall Books

Literêre vorm

Kookboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The mask

Publikasiedatum

2006

ISBN

0620362561 (sb)

Uitgewer

Kenilworth: Cederberg Publishers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor C Louis Leipoldt beskikbaar op die internet:

Artikels deur C Louis Leipoldt beskikbaar op die internet:

 

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Eerste skoffies. Uit Viljoen, JMH. 1953. ’n Joernalis vertel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Jeugherinneringe. UitViljoen, JMH. 1953. ’n Joernalis vertel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kannemeyer, JC. 1999. Leipoldt: ’n lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg

Daar is nog baie wat oor C Louis Leipoldt geskryf kan word, maar dan sou hierdie stuk baie lank word. Diegene wat nog inligting soek, verwys ek na die lys artikels beskikbaar op die internet en JC Kannemeyer se Leipoldt: ’n lewensverhaal.

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top