Bywoner is geskryf deur At Kruger en is ’n selfpublikasie. Die verhaal handel oor die ryk boer Wyn Meyer en sy vrou Alexis en hulle vier kinders Tobias, Blanche, Aldo en Vicky.
Op die agterblad word die inhoud van die boek soos volg verwoord: “Hoekom Bywoner as die Meyers stinkryk is? Waarom boer hulle op ʼn koopplaas ver van hulle erfgrond?” Dit noem voorts dat die roman ’n verhaal “geskilder met nostalgie oor plaaslewe” is – soos verwoord vanuit die roman: “Also verdrink in nostalgie oor verdwene kinderjare.” Dit is hierdie nostalgiese reis oor die plaaslewe wat bydra tot die positiewe waarde van die roman.
Die roman lewer dus as sulks ’n bydra tot die plaasromangenre. yHyHyKruger romantiseer die idilliese plaaslewe – ’n kenmerk van die vroeë skrywers van die plaasroman soos CM van den Heever. Bywoner sit hierdie tradisie voort in sy uitbeelding van die plaaslewe as een van geluk en harmonie en vrede: “Vredig en gelukkig sug Karel ’n slag diep uit sy binneste, wyl hy ver oor die uitgestrekte vlaktes in die suide in staar. Rooibosstompies knetter en kraak van kole raak, vir vleis braai” en “Selfs vandag, in die harde middagson, kyk Wyn meer na die landskap wat algaande styg tot waar Fort Meyer staan en verby tot waar die plantasies, op Verkykerskop, wankel in die hittegolwe, as wat hy let op waar hy ry.”
Bywoner se vernaamste tema is familie en famileverwantskappe. Tipies van die plaasroman is daar die patriarg Wyn Meyer wat oor die plaas regeer. Alhoewel Wyn hardkoppig is, is daar ook ’n speelsheid en sagtheid in hom. Alexis is nie die tipiese onderdanige boervrou nie en is nie bang om teen Wyn se besluite en voorstelle te gaan nie. Behalwe die familietema, raak Kruger ook ander hedendaagse belangrike temas aan: voedseltekorte en GMO-produkte: “Julle hoor dan juis vanoggend nuustyd weer van wêreldwye voedseltekorte. ’n Mens weet ook nie hoeveel van die vlaag bangmaakstories oor die wêreld se voedselvoorrade is waarheid, hoeveel is propaganda om GMO-produkte in voedsel vir die mensdom aanvaarbaar te maak nie.”; grondhervorming en -onteiening: “Regeringsgeld, belastinggeld; boere na aanleiding van grondeise vir ’n appel en ’n ei uitgekoop en onder groot geskal in die hande van die grondeisers gegee. En niks. Hier word nie geboer nie.”; die nuwe Suid-Afrika en die korrupsie wat daarmee saamgaan: “Die Eilandboere kan nie sommer so verniet grond kry om op te boer nie, hulle moet huur betaal. Toe reken hulle mos, moet ons huur betaal dan het ons mos verblyfreg.”; en die omskakeling van plase na wildplase om trofeejag en finansiële gewin te verseker: “Van samewerking en oplossing van gemeenskaplike probleme, geen sprake nie. Ons boere is eenvoudig net te sleg. Almal in die siek Suid-Afrikaanse lewensorkes tokkel dieselfde snaar: game lodge, game lodge, game lodge!”
Enkele punte van kritiek kan teen die roman genoem word, waarvan die belangrikste een is dat die ysterhand van ’n redigeerder ontbreek. Die boek is 534 bladsye lank (té lank) en met die streng hand van ’n ervare keurder en veral van ’n redigeerder sou baie van die onnodige verhaallyne en taalslordighede uitgesny kon word. Die verhaal spring van een verhaal na ’n ander verhaal en van een tydsvlak na ’n ander tydsvlak: byvoorbeeld Julie 2004, November 1905, Desember 1958, Mei 2006, Junie 2012 – ongelukkig slaag dit nie soos in ander romans wat met verskillende tydsvakke werk nie. Ander redigeringsaspekte soos die klein lettertipe (wat dit nogal moeilik maak om te lees) en die bladuitleg kon uitgeskakel word indien die skrywer dit aan ’n redigeerder voorgelê het. Net so sou dit die taalslordighede uitgeskakel het. Daar is die geykte uitdrukkings soos “Wyn, die verlies van ’n seun moet bitterder as gal wees” wat pla; asook taalslordighede soos “huistoe” en “plaastoe”; die verkeerde gebruik van “was” vir die verlede tyd in plaas van “is”; onnodige mooiskrywery (“Daarbinne kwinkeleer dit erger as vinke” en “Sy gedagtes stoei met Raka.”) en die staccato-agtige kort sinne: “Tyd wag vir niemand nie. Is tyd vir kuier saam met my dogter. Sommer bietjie spog met haar ook”.
Ten spyte hiervan is Bywoner ’n roman wat ’n mens maar kan lees, veral diegene wat hou van historiese gegewens en van die plaaslewe. Dit verwoord nie net die verhaal van Wyn en Alexis en hulle kinders nie, maar dra tog by tot die plaasromangenre. Dit beeld ten slotte iets van die ingewikkelde veranderinge en aanpassings in ’n veranderde Suid-Afrika en wêreld uit.
- Bestel die boek by: at.kruger@nes.co.za of by 082 789 6929.
Kommentaar
Hierdie boek het vir my ' n baie interessante uitbeelding van die hedendaagse toepassing van bybelse waarhede ingesluit. Die uiteenlopende karakters bied vir elke een wat die boek lees iemand on mee te kan vereenselwig. Aanvanklik het ek dit moeilik gevind om die verskillende karakters te onthou maar gou het ek so vasgevang geraak in die intriges dat ek gesukkel het om die boek neer te sit. Die idee aan die einde van die boek om bejaardes te hervestig waar hulle nog 'n bydrae kan lewer laat mens wens dat dit 'n realiteit kan word. Dis vir my ' n merkwaardige boek en ek hoop baie mense sal die moeite doen om dit in die hande te kry en te lees. Jy sal nie spyt wees nie.
Bywoner deur At Kruger. Ek is geen letterkundige nie en het, naas klassieke romans, baie min van hierdie genre in my lewe gelees. Ek het bogenoemde boek aangeskaf omdat die skrywer 'n oud-kollega is.
At Kruger is 'n groot voorstander van volhoubare landbou, dws landbouproduksie wat omgewingsvriendelik is, maar tog ekonomies regverdigbaar is. Hierdie gesonde boerderybenadering geniet tans baie aandag in ontwikkelde lande, en die familieplaas, waar verkieslik meer as een generasie woon en werk, speel 'n sleutelrol in die stelsel, omdat dit gunstige maatskaplike toestande in die platteland bevorder.
Bywoner is 'n lywige boek wat saamgestel is uit 'n hele aantal sekondêre verhale wat, op die oog af, nie almal direk betrekking het op die hooftema nie. Die getal sekondêre verhale en meegaande menigte karakters maak dit moeilik vir die leser om koers te hou en uiteindelik alles bymekaar te bring vir die finale ontknoping van die verhaal. In die sekondêre verhale is heelwat aandag aan maatskaplike agteruitgang in die RSA gegee, ’n saak wat Kruger skynbaar na aan die hart lê. Vir die doel van hierdie boek moes myns insiens minder aandag aan hierdie probleme gegee gewees het, ten gunste van meer inligting oor die funksionering van die ideale familieplaas.
Dit is jammer dat die fynkam nie strenger gebruik is om die boek van taalfoute te suiwer nie. Alles in ag genome is Bywoner interessant om te lees. Hopelik sal lesers geïnteresseerd raak in volhoubare landbou, wat ook in hierdie land 'n groot rol behoort te speel.
At Kruger se Bywoner handel oor ʼn buitengewone plaas en sy ongewone inwoners, die Meyer-familie, wat strek oor geslagte heen. Diverse onderwerpe en intriges word aangespreek; heel insiggewend die historiese aspekte wat veral die realiteite van die Suider-Afrikaanse landbou-landskap uitlig. Die skeut lyflike verleen kleur aan hierdie roman. ʼn Deeglike deurdinkte en beskrywende roman. Knap gedaan!
At Kruger se liefde vir landbou is alombekend aan sy familie, vriende en kollegas, van vroeëre jare se navorsing op dekgewasse in vrugteboorde, tot vandag in sy voortgesette versameling en veredeling van weidings- en groentegewasse. Bywoner fokus op menige boerderykwessies, veral die kwynende gebruik van grond vir volhoubare landbou, op generasie- en morele konflik en veral op vergifnis en barmhartigheid. Die menige karakters verweef in die verhaal, bring elk hul unieke sienings wat, veral gekoppel aan die wye tydlyne, die verhaal ingewikkeld maak. Al hoe meer rede om Bywoner weer oor ‘n paar jaar af te stof en weer te lees. Hierdie boek is dus nie maklik om te lees nie, maar vir dié wat volhou, ‘n reis deur ‘n snel veranderende landelike omgewing. Sekere uitdrukkings (bv lewensvere te styf opgewen), omskrywings (bv woordskappie, plastiekposjas) en lewensinsigte (bv “Oë lyk eenvoudig net anders wyl die siel inpak; reeds leweloos, maar kyk en sien nog.”) sal die leser nog jare bybly. At, ek sien uit na jou tweede boek ...