By die ontstaan van die Universiteit Stellenbosch: indrukke van Stellenbosch 100

  • 5

Ek het uiteindelik ’n eksemplaar bekom van Stellenbosch 100, die eeufeesboek van die (“nuwe”) US. Ek wil graag – nou helaas agterna – ’n kort voetnoot of twee, as blote noodsaaklike historiese perspektiewe, by hierdie lywige werk van 527 bladsye voorstel om bygelees te word. Dit troos darem om te weet dat ’n doring nie vanself steek nie.

By die ontstaansgeskiedenis van die US (gebore uit die Stellenbosse Gymnasium, Stellenbosch College, en Victoria College) word weliswaar gesê dat die Gymnasium op die been gebring is deur (hoofsaaklik) die toedoen van ds JH Neethling (1826–1904), wat vir bykans 46 jaar lank die predikant van die Moederkerk op Stellenbosch was. Wat egter nie voluit vertel is nie, is dat Neethling die Gymnasium in die heel eerste plek gestig wou gehad het sodat dit Grieks en Latyn vir die voornemende teologiese studente kon aanbied. Hierdie propedeuse, het hy gesê, is nie die taak van die teologiese professore nie. Grieks en Latyn was dus in die eerste plek verantwoordelik vir die stigting van die Stellenbosse Gymnasium, en daarmee in beginsel ook vir die Universiteit van Stellenbosch. Die NT is in Grieks opgestel, en die OT in Hebreeus (en ’n stukkie Aramees) – wat eers in 1948 as leerstoel hier ingestel is, en toe beklee is deur prof PFD Weiss.

Wat meer is, as ds GWH van der Lingen (1804–69), destyds predikant van die Paarl, sy sin gekry het, sou die Teologiese Seminarium dáár opgerig gewees het en nie op Stellenbosch nie! Vgl hier die “nobele petisie” van die Paarlse kerk wat op Woensdag 4 November 1857 voor die Kaapse Sinode gedien het. Dit was waarskynlik daarom dat Van der Lingen die beroep as een van die eerste professore aan die Kweekskool nie aanvaar het nie (sien verder IL Ferreira, Die Teologiese Seminarium van Stellenbosch, 1858–1963, Makro Boeke, Pretoria, 1979, bl 20 vervolgens]. Van der Lingen was sonder enige twyfel een van die mees belese Afrikaners van sy tyd, en ook bekend vir sy buitengewone redenaarstalent. Hy had ’n reusebiblioteek (vir daardie tyd) van meer as 4 000 boekdele. Terloops, in 1858 reeds het Van der Lingen sy eie Gymnasium in die Paarl gestig – wat as hoërskool vandag nog bestaan. Ek weet as is verbrande hout. Maar die hout was eerste.

Daar is nóg iets wat die opstellers van Stellenbosch 100 misgekyk het. Klassieke Grieks en NT-Grieks verskil radikaal in wese van mekaar (vgl my Die verhaal van die Griekse taal oor 35 eeue heen, Sun Press, Stellenbosch, 2017). Vanaf 1977 was die destydse Departement Grieks ook “akademies uitnemend” genoeg om nou ook NT-Grieks as ’n belangrike onderdeel van die Griekse taal aan te bied. Hierby was die uwe persoonlik betrokke. Ek is naamlik destyds aangemoedig om in NT-Grieks aan die Universiteit van Cambridge (King’s College was dit) vir ’n PhD te gaan inskryf – en daarmee aan die Universiteit van Cambridge se heel oudste leerstoel (ingestel in 1504, waarvan die eerste bekleër Sint John Fisher was, en die eerste “reader in (New Testament) Greek” daar Desiderius Erasmus van Rotterdam was). Ek het ook in 1975 die heel eerste Afrikaanse Inleiding tot die studie van NT Grieks geskryf (gedruk in Meppel, Nederland, en uitgegee deur die Franeker Ette Wever op Stellenbosch). Was dit dan tevergeefs om “akademies uitnemend” te wil wees? Vir sover ek weet, is NT-Grieks vandag aan die US, kwalifikasiegewys, besig om ’n stil dood te sterf. Dit mag nie gebeur nie!

Maar nou ja, Grieks (en Latyn) het vir die samestellers van Stellenbosch 100 natuurlik Grieks gebly, terwyl daar nogal iets meer oor die ander departemente in Lettere en Wysbegeerte kwytgeraak is. Die feit bly egter staan dat dit Grieks en Latyn was wat gesorg het dat die Stellenbosche Gymnasium (en daaruit die US) gestig is, soos ek reeds gesê het.

Die eerste professor aan die destydse “Arts Department” vir tersiêre onderwys op Stellenbosch, wat in 1874 aangestel is, was Archibald Macdonald, ’n klassikus, afkomstig van  Edinburgh in Skotland. (Prof Cillié de Bruyn meen in sy Professore: Universiteit van Stellenbosch en sy voorgangers, 1989, dat dit net so goed George Gordon van wiskunde kon gewees het.) Macdonald se taak was júis om Grieks en Latyn (naas Engels) op Stellenbosch te kom doseer (“profess”). In 1929 het die Universiteit van Stellenbosch nog aan hom ’n ere-DLitt toegeken uit erkentlikheid vir die “enorme bydra wat hy tot die vroeëtersiêre onderwys op Stellenbosch gelewer het”. Hy was toe al te siek en afgeleef om dit persoonlik te ontvang. Op 15 Junie van die volgende jaar is hy op die hoë ouderdom van 87 jaar oorlede in sy huis waar die Wilcocks-gebou tans staan. ’n Hele paar Oudgriekse tekste wat hy met sy lesings gebruik het, en waarin hy sy naam met ’n swaar donker hand voorin geteken het, tel vandag onder die kosbaarste boeke op my rak.

Gepraat van die akademiese uitnemendheid aan die US, nog net dit: Toe ek in 1959, met die Eeufeesviering van die Stellenbosse Kweekskool, as student daar gaan inskryf het, was Latyn nog ’n verpligte vak vir die graad BD (Baccalaureus Divinitatis – as eerste graad in die godgeleerdheid). Ek het Latyn toe ook vir drie jaar as ekstra vak by Lettere en Wysbegeerte gevolg. Hierdie vereiste is egter reeds vóór die koms van die “nuwe” US by die agterdeur uitgegooi aan die Teologiese Fakulteit, sowel as, effens later, ook by die Departement Regte – waar dit, myns insiens, nog méér noodsaaklik is. As die “nuwe” US steeds akademiese uitnemendheid nastreef (soos dit ook tereg bely), behoort Latyn weer hier as verpligte vak teruggebring te word te midde van al die ander mutasies wat die huidige bestuur reeds gepleeg het om juis hierdie einste ideaal te verwesenlik. Dan is ons weer terug by ons eie oorspronklike akademiese wortels op Stellenbosch, en doen ons só ook die wetenskap die meriete aan wat hom toekom: om eerder eerstehands te wees as tweedehands!

Dit was dan ’n stukkie warse, maar wel insigtelike, kritiek wat ek op rekord móés plaas om nie die rol van my vak in die ware ontstaansgeskiedenis van die US te verraai nie.

Origens het die opstellers van Stellenbosch 100 natuurlik ’n enorme taak op hande gehad, waarvoor hulle gelukgewens moet word. (Die interpretasie van Jannie Marais van Coetzenburg se testament van 20 Maart 1915 – wat slegs twee maande en tien dae voor sy dood onderteken is – sonder wie se groot bemaking daarin die US sekerlik nie vandag sou bestaan het nie – laat ek vir die oomblik, met ’n beswaarde hart, daar.) Ek besef terdeë dat die samestellers van Stellenbosch 100 nie alles só volledig in hul narratief oor die beginjare van die US kon ingeskryf het nie, maar van hierdie perspektiewe kon én moes, in kort, immers tog gestel gewees het. Van 1987 tot 1993 het ek 125 artikels oor die geskiedenis van ou Stellenbosch in die plaaslike Eikestadnuus gepubliseer. ’n Bundeling van die oorspronklike manuskripte hiervan kan vandag in die Africana-kamer van die universiteitsbiblioteek gevind word as ms 284 – vir diegene wat sou belangstel. Die US sélf het dit aangevra, en dit is toe versorg onder die toesig van prof Hennie Viljoen, wat toe die hoofbibliotekaris van die universiteit was.

  • Gerrit van Wyk Kruger is Professor emeritus in Grieks aan die US

https://www.litnet.co.za/category/universitysa/

  • 5

Kommentaar

  • Solank "Stellenbosch 100" in ons pragtige moedertaal beskikbaar is, kla ek geensins nie!
    Baie dankie vir die informatiewe en interessante artikel.

  • Avatar
    Johnnes Comestor

    Baie dankie vir hierdie insiggewende kommentaar. U kan gerus meer skryf oor bv hoe Jan Marais se nalatenskap en akademiese uitnemendheid deesdae aan die US bestuur word.

  • Andreas van Wyk
    Andreas van Wyk

    Ds Van der Lingen van die Paarl is die huidige rektor van die US, prof WJS de Villiers, se agteroupagrootjie.

  • Gerrit Kruger
    Gerrit Kruger

    Dankie, Andreas! Het ek ook dit maar geweet... Persoonlike groetnis uit die Baai wat so Vals (Vlak) is dat 'n groot skip nie kan inkom nie. [My lywige studie van die oud-Griekse Komedie verskyn eersdaags by Naledi, weereens goedgunstiglik geborg deur die SA Akademie. Ek had 'n "dramatiese" tweeluik in die oog, met 'n detail oorsig ook van die oud-Griekse tragiese digting daarby - wat reeds voltooi is. Ek het daardie 44 dramas (11 komies, 33 tragies) op my oudag weer deeglik deurgewerk. En wat 'n fees was dit nie! Natuurlik in die lig van 'n "rype" terugskou].

  • Hallo Gerrit, ek kan nie wag vir jou boek nie!
    Dankie vir jou harde werk, en vir wat dit beteken vir Afrikaans ons moedertaal, en hoë kwaliteit literatuur in Afrikaans! (wat sou ons ook gedoen het sonder die Akademie?)
    Mense kan gerus ook aansluit en 'n bydrae maak aan die grootse poging wat deur MM aangewend word om die Afrikaanse Wikipedia-blad uit te brei en te verbeter.
    Van ongeveer 59 000 artikels 'n rukkie terug het dit nou al aangegroei na meer as 70 000 artikels, en Telugu verbygesteek, en steek dit hopelik binnekort die Kantonese Wikipedia-blad verby wat aantal artikels betref, om op No 74 te staan te kom wat betref Afrikaans se Wikipedia-rang. Harde en volgehoue werk lê egter nog voor!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top