"But don’t you have a lady?"

  • 2

Ek en my man het onlangs na ’n heerlike familie-vriendelike restaurant en speelplek gegaan saam met ons 16 maande oue dogtertjie.

Op ’n stadium moet haar doek geruil word. My man bied toe aan om dit te doen. Reg. Daar is nie regtig veronderstel om enige iets vreemds hieraan te wees nie. Hy is haar pa, haar ouer. Buiten die feit dat daar niks snaaks daaraan is nie, behoort dit sekerlik ’n eenvoudige takie te wees om af te handel? Toe nie. Want waar is die doekruil-tafel? Slegs in die damesbadkamer. ’n Dame wat daar werk, stop toe my man voor hy kan ingaan. Toe hy verduidelik dat hy sy dogter se doek wil ruil, antwoord sy met: “But don’t you have a lady?” Of hy ’n “lady” by hom het of nie, is totaal irrelevant wanneer ’n pa sy kind se doek wil ruil.

Ek kan my net indink hoe moeilik dit vir ’n paartjie van twee mans moet wees om bloot hul kind se doek te ruil.

As ek net vir ’n oomblik bietjie uitzoom uit die spesifieke doekruil-insident en eerlik dink aan ons lewe die afgelope 16 maande, besef ek, ek het baie gereeld wanneer my man voor mense ’n doek ruil, ’n bad tap, ons dogtertjie voer, basiese take uitrig, kommentaar gehoor soos: “Ag, Lidia, hoe oulik is hy nie?”; “jy is so lucky dat jou man so betrokke is”. En kyk, ek kan nie meer saamstem dat hy oulik is nie. In my boekies, die oulikste. Maar wat hom oulik maak, is nie die feit dat hy sy deel as pa doen nie. Wat hom oulik maak, is dat hy omgee oor gendergelykheid. Maar ons albei het ook nog baie werk om te doen en ons albei is deel van die probleem. Gereeld. So, ons is nie te oulik nie.

Wat bedoel ek? Ons probeer so vêr moontlik soos gelykes omgaan in ons ouerskapreis. Maar, sjoe. Ten spyte van ons beste intensies is heteronormatiewe genderrolle en -norme nog te gereeld aan die orde van die dag. En dit kom dikwels so natuurlik dat ons dit nie eens in die oomblik agterkom nie.

Nou, wanneer en waar tradisionele gendernorme vir ons en ons gesin werk en ons dit so kies, is dit natuurlik oukei. Maar wat ek wel besef het, is dat dit te dikwels onbewustelik inkruip. En wat ons verantwoordelikheid is as ouers wat streef na gendergelykheid, is om die rolle wat ons outomaties aanneem, in die bewustelike wêreld in te bring, onsself toe te laat om daaraan te dink en seker te maak ons is werklik oukei daarmee.

Die waarheid is dat niemand blik of bloos wanneer ek, of enige ma, vir ons kinders sorg nie. En dis regtig oukei. Wat nie oukei is nie, is dat ons steeds voel mans verdien ’n applous vir presies dieselfde. En ek dink ons almal is deel van die probleem. Ek is verseker. Want die instandhouding van ongelykheid is die gevaarlikste wanneer dit kom by onbevraagtekende sosiale norme. Gendergelykheid is afhanklik van my en jou betrokkenheid. En dit begin by ons. Hoe ons met onsself, ons partners en ons kinders praat oor “mamma en pappa se rol”.

Leer ons die volgende generasie van gelykheid of moet ons vrouens maar ons plek ken? Agter die doekruil-stasie, by ons babas in die nag, agter die wasbak en net basies in en om die huis?

Maar hier is die ding: Sien ons, ons eie waarde? Want as ons nie doen nie, kan ons dit nie van die wêreld verwag nie.

Dalk is jy, soos ek, alleen met jou gedagtes in ’n donker kamer in die vroegoggend-ure. Wat dink jy dan oor jouself? Sien jy jou waarde? Kom ons begin daar. Dit is waar ek deel van die probleem is. Kom ons sit ’n pen in die hamsterwiel. Kom ons sien ons eie waarde. Verandering begin hier. Dis moeilik. Maar ons het hierdie.

Ek skryf hierdie stuk, want hoekom is ons hier? Hoekom is ons hier in 2024? Hoekom verg dit ongemak, konfrontasie en uitdagings vir ’n pa om sy kind se doek te ruil by ’n “familie-vriendelike” instansie?

Ek skryf hierdie stuk, want ons kan nie bloot die status quo aanvaar nie, anders gaan my dogter eendag steeds dieselfde uitdagings in die gesig staar, sou sy kind(ers) saam met ’n man hê.

Ons moet ’n pen in die hamsterwiel druk.

Vandag moes ek my stem gebruik. Want ek wil ons uitdaag:

  • Wanneer ons genderongelykheid sien, onderbreek dit. Of dit nou die doekruil-stasie by jou gunstelingrestaurant is of kommentaar aan jou etenstafel.
  • Wanneer ons denke die probleem is, neem ’n oomblik. Ek dink gereeld “dis wat ’n goeie ma doen”. En daardie gedagte op sigself is nie noodwendig ’n probleem nie. Dit is ’n probleem wanneer ek daar stop en nie dink “wat goeie ouers doen” en in ’n vennootskap met my man staan nie.
  • Wanneer ons gendernorme in ons huise en lewens laat voortleef op ’n manier wat nie ons waardes uitleef nie en ons dit wil verander, is dit ’n leergeleentheid. Vir beide ons en ons klein mensies. Kom ons probeer eerlik met hulle wees en ’n oop en nederige posisie inneem. Aksies maak soveel meer saak as woorde.

Ja, dit is moeilik. Maar ons het hierdie.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top