BSV-Slypskool en prysuitdeling 2018 met Dana Snyman

  • 0

Dana Snyman was in aksie tydens die nasionale BSV-Slypskool op 25 Augustus 2018 in 'n vol Noorderbloemsaal in Bloemfontein.

Ons het verwonderd geluister hoe stories met 'n lag én traan, pynlik eerlik en fyn waargeneem, onuitputlik uitborrel uit die Dana-fontein. 'n Woordmeester in aksie wat so tuis gevoel het in die skrywersgeselskap van wildvreemdes van oor die hele land dat hy vir kort momente impromptu 'n storie net daar voor ons oë begin skets het presies soos hy dit sou skryf! Die pragtigste suiwer taalgebruik – rou ... eerlik. Die ACVV-dames se besoek aan die weeshuis ... die bus wat in blou bolle rook breek teen die hoogtetjie naby Ulco, en die dames wat moet stoot. Hartroerend ... onvergéétlik! 

'n Praktiese sessie met voorlesings uit die gehoor en 'n leersame bespreking daarvan. Die evalueringsvorms noem Dana "meesterlik", "eerlik", en "nederig", die slypskool "leersaam" en die kos "heerlik" en "voortreflik". Die sprekerskostes is gedeeltelik gedek deur 'n skenking van AfriForum. Protea het ons heeldag met boeke omring, en NALN met hul pragtige uitstalling van Dana en baniere van ander groot skrywersgeeste uit die omvangryke NALN-versameling.

Die wenners wat daar kon wees van die nasionale BSV-skryfwedstryd 2018, geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe en Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans van die UV, is vereer. Inkvars 2018, geborg deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen Nederland Zuid-Afrika met al die weninskrywings en beoordelaarsverslae (twee van die vier beoordelaars het met die prysuitdeling kom help) is bekendgestel met voorlesings van gedeeltes van die wenbydraes. Die eerste oplaag is sommer daar reeds uitverkoop en SUN MeDIA: Bloemfontein moes 'n tweede oplaag druk. Dirk Kok van Volksblad het 'n paar mooi foto's, ook 'n groepfoto, van teenwoordige wenners geneem.

'n Genoeglike dag in die teenwoordigheid van 'n woordmeester!

Corlietha Swart
(Voorsitter: namens die BSV-bestuur en die vereniging)

Foto's van Dirk Kok, Volksblad (wat toestemming gegee het dat dit met verwysing gebruik mag word)

Voor, van links: Manie Wolvaardt (een van die beoordelaars by Prosa), Corlietha Swart, (voorsitter: BSV), Rina Bester (Rustenburg), Carma Shaw (Brackenfell), Thandolwethu Gulwa (Grahamstad), Vickey de Jager (Ohrigstad) en Zané Steyn (Menlopark).

Agter, van links: Hannes Visser (Oudtshoorn), Dana Snyman (BSV-Slypskoolaanbieder 2018), Dave Lubbe (een van die beoordelaars by Poësie), Liani Scheepers (BSV-beurshouer 2018; student van die UV, Bloemfontein), Leunis van Rooyen (Brixton) en Simóne Vorster (Bloemfontein).

Afwesig: Eleanor Bernard (Bethlehem), Evert Louw (Oatlands), Karmen Wiid (Brackenfell) en Dyllan Niehaus (Brackenfell) het ook die slypskool bygewoon, maar was 'n bietjie laat vir die neem van die groepfoto.

Die Hoërskool DF Malan, Bellville, olv Gert Visser het weer die prys verower vir die skool met verreweg die meeste inskrywings en 'n hele paar wenners het uit hul geledere gekom, maar hulle kon weens hul kultuurfees in Augustus nie die verrigtinge bywoon nie. So ook nie wenners van die Meisieskool Oranje, Bloemfontein en La Rochelle Girls’ High School in die Paarl en enkele wenners uit die Ope-kategorie nie.

BSV-bestuur by Dana.

Agter, van links: Bennie Olivier, Riaan van der Walt (tesourier), Amos van der Westhuizen, Riaan le Roux.

Voor, van links: Joe Mynhardt (ondervoorsitter), Corlietha Swart (voorsitter: BSV) en BSV-Slypskoolaanbieder 2018, die nimlike Dana Snyman.

Roline Brits, ons sekretaresse, was afwesig omdat sy verhuis het, maar sy was van elders steeds behulpsaam met slypskoolreëlings. 

Ook 'n paar eie selfoonfoto’s of wat, onder andere ook van Vrydag se NALN-besoek toe Dana die Skrywersmuur in die NALN-Ketelkelder, sowel as die boeke in sy versameling geteken het en die uitstallings besoek het.

Dana Snyman in aksie (Foto: Dirk Kok, Volksblad)

Foto: Corlietha Swart

Foto: Corlietha Swart

Foto van die ongeveer 80 slypskooldeelnemers (foto: Corlietha Swart)

Die BSV-publikasies Inkvars (wenners geborg deur Nederlandse Stichting) en Bloemskryfsels (BSV-ledebydraes landwyd in kompetisie met mekaar), waarvan ek beide redakteur is en deur SUN MeDIA: Bloem gedruk word.

Dana besoek NALN Vrydag 24 Augustus 2018 en teken sy eie boeke in die versameling en die bekende Skrywersmuur in die NALN Ketelkelder-boekemark.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top