"Bruin werklikheid" vs "bruin konsep"

  • 3

Verstandig gesproke behoort bruin mense gereken te word as Suid-Afrika se mees veelrassige prestasies. Of ten minste hoe ’n toekomstige nierassige samelewing in die toekoms behoort te lyk. Bloot omdat bruines uit ’n mengelmoes van rasse, etniese of kultuuragtergronde kom. Gekonstrueer deur verskillende invloede, konvensies en so meer uit heelwat dele van die wêreld: Afrika, Europa, die Ooste en verder globaal.

Des te meer omdat bruines nie een van die bestanddele van hul gemengdheid – wit, swart, Khoi, Boesman, Griekwa, Maleier, en so meer –misken of wegstoot nie.

As jy egter die meerderheid bruines wil kwaad maak, dan moet jy na hulle as “swart” of “ook swart” verwys. By sommige bruines word (hul) swartheid as minderwaardig of aaklig beskou. Dit sluit direk aan by ’n patetiese stelling van die Franse natuurwetenskaplike Geoge Cuvier (1769-1832) dat “the Negro race is marked by a black complexion and a flat nose. These races are condemned to a never-ending inferiority.

Die kunstepraktisyn Peter Voges het dit in 2004 in Rapport só opgesom: “Ons (bruines) verwys graag na ons wit Skotse oupa of Ierse oumagrootjie, maar vergeet heeltemal van die donker oupa en ouma onder die matras.”

Die ingewikkelde taaltoestand in Suid-Afrika soos gekenmerk tydens ons koloniale en apartheidstydperke (wat ook nou in postapartheid gedeeltelik neerslag vind) loop soos ’n hakiesdraad regdeur die komplekse bestaan van bruines, veral wat Afrikaanssprekendheid betref.

Die oorheerser (die Afrikaner voor 1994) se taal (aan wie Afrikaans behoort, is ’n ander debat), is of word nooit geassimileer nie.

Bruin Afrikaanssprekendes (en veral intellektuele soos Hein Willemse, Julian Smith, Adam Small en andere) het – soos wyle Jakes Gerwel dit gestel het – “altyd ’n ondermynende verhouding met Standaardafrikaans gehad”.

Die bruin middelklas (en ook die bruin werkersklas in ’n mindere mate) neig liewer na Engels; weliswaar in sommige gevalle na ’n geradbraakte vorm. In vandag se konteks is dit miskien verstaanbaar, veral vanweë die oorbeklemtoning van Engels.

Meriete lê dus opgesluit in wyle Allan Hendrickse se stelling by die eertydse Arbeidersparty se 1992-kongres in Port Elizabeth dat “bruines nie ’n eie taal of kultuur het nie – die vereistes vir etnisiteit. Daarom is daar nie ’n bruin etnisiteit nie en is dit rassisties om van bruines te praat.”

Kom ons voer die debat egter verder as bloot die geykte eenvoudighede van fisiese “kleur”, ras, etnisiteit of taal.

In die hele komplekse debat oor bruin-wees in Suid-Afrika staan twee werklikhede, ’n “bruin werklikheid” en ’n “bruin konsep”, lynreg teenoor mekaar.

’n “Bruin werklikheid” behoort nie intellektueel beredeneer te word nie, want dit is heel moeiteloos: daar is mense in Suid-Afrika wat as bruin beskou word of hulself as bruin ervaar of aanvaar – wat dit ook al mag beteken.

Die knoop lê egter opgesluit in die stipulering van ’n “bruin konsep”, wat uiteraard moeilik intellektueel of wetenskaplik bepaal kan word.

In 1948 het die Afrikaners hoofsaaklik taal en velkleur ingespan om hul sogenaamde uniekheid as “suiwer” ras te gebruik om hul apartheidsbestaan te verseker. Swartes doen dit vandag gedeeltelik met velkleur, maar veral onder die simboliek van nierassigheid (?) as ’n universele konsep wat almal behoort te bevoordeel. Minderhede – soos bruines en wittes – ervaar dit in die praktyk in meerdere gevalle as diskriminerend.

Baie van dié aannames is geldig; baie is oordadig.

So, hoe begin ons om ’n “bruin konsep” te konseptualiseer met al die wyd uiteenlopende verskille onder bruines? Of anders gestel: Hoe herdefinieer bruines hul identiteit?

Die organiseerders van die Bruin Bemagtigingsbeweging (BBB) behoort te herbesin oor bruin-wees: wat die vae huidige “bruin werklikheid” met ’n goedgedefinieerde “bruin konsep” behoort te vervang. Indien dit nie suksesvol gebeur nie, sal die BBB se bestaan geen noemenswaardige vrugte vir bruines produseer nie.

Kom ons kyk hoe suksesvol die BBB aan ’n amper onprakties-moontlike “bruin konsep” eksistensie kan gee.

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Dit is nie net Peter Voges wat die wittes in sy voorgeslagte meer as die nie-wittes waardeer nie. Franklin Sonn het by geleentheid genoem dat hy graag meer oor sy Duitse voorvader sou wou weet. Hy het blykbaar nie in dieselfde mate in sy ander voorsate belang gestel nie.

    Ek sou pleks van "bruin konsep" eerder na die etniese begrip bruin verwys. Onder diegene wat as bruin geklassifiseer is, is daar die hele spektrum vanaf diegene wat as wit gereken kon word tot diegene wat as swart gereken kon word. Inhoud kan dus aan die etniese begrip bruin slegs deur uitsluiting of ontkenning gegee word. Dus almal wat nie wit of swart of Asiaat (bv Indiër) is nie, is bruin. Maar die uitbreiding van Indiër na Asiaat is problematies in die sin dat die Kaapse Maleiers oorspronklik Asiate was.

    Die Kaapse Maleiers word dikwels as die trotste of voorbeeldigste bruingroep geag. Hulle het 'n onderskeibare of identifiseerbare kultuur. 'n Maleier verstel my klere. 'n Ander een doen stoffeerwerk vir my. Toe ons die woonstelblok laat verf het, het ons dit aan Maleiers toevertrou. Deurgaans het die Kaapse Maleiers my met hulle kundigheid, toewyding en eerlikheid beïndruk. My ervaring van hierdie moslems is heeltemal anders as die beeld wat (sommige) Moslems elders verwerf het.

    Soms dink ek dit is danksy die destydse slawerny dat Maleiers 'n werkkultuur ontwikkel het, terwyl dit soms steeds afwesig is by die swartes omdat hulle nooit slawe was nie. Desnieteenstaande begeer die plaaslike swartes graag die voordele wat Amerikaanse swartes deesdae geniet, terwyl hulle geskiedenis heeltemal anders is.    

  • Jason

    Jou skrywe is vir my interessant omrede jy 'n stukkie van jou hart toon. Ons het min bruinmense aan hierdie kant van Limpopo. Ek verlustig en verluister my aan hul spraakstyl. Ons sien hul ook as van die hardwerkendste ... 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top