Bruin politieke party "bloot 'n dom idee"

  • 1

As ek ’n goeie argument gehad het vir die stigting van ’n bruin politieke party – soos deur Dennis Cruywagen in Rapport (12 Mei 2013) gepropageer – sou ek dit gedoen het.
Uit vele hoeke bekyk, kon ek by geen goeie argument – gebaseer op medemenslikheid wat geskoei is op die basiese beginsels van die grondwet dat Suid-Afrika aan al sy inwoners behoort – arriveer nie.

Ek hou van Cruywagen se historiese sintuig wat ons nostalgies intrek op die pad van bruines se aktiewe en inklusiewe bydrae tot die bevrydingsstryd. Bruines wat “as die eerste mense” die eerstes was wat die dompas gedra het, wat ook swaar gekry het onder apartheid. Bruines wat sedert 1652 onder blanke bevoorregting gely het en wat – net soos swart mense en Indiërs – sodoende hul menswaardigheid amper verloor het.

Ek neem met trots eienaarskap van dié trotse “historiese nierassige reis” van bruines wat die nuwe Suid-Afrika help vorm het. Bruines wat meegehelp het om die land ’n plek vir almal te maak; ook vir wit mense, en spesifiek vir Afrikaners as argitekte van apartheid.

Dié kleurryke en trotse geskiedenis van bruines word bedreig – en gee ook skietgoed aan diegene wat bruines se aandeel aan die bevrydingstryd bevraagteken of ontken – as Cruywagen etniese mobilisasie vergoeilik. Dit is utopies van aard, wat Suid-Afrika met sy verdelende rassistiese geskiedenis nie kan bekostig nie.

Die regverdiging van etniese bevoorregting is onmenslik – want dit sluit die belange van ander groepe as mense wat gelyk geskape is na die beeld van God uit – en dreig om versoening op die glybaan na die (vrot) asblikke van die verlede te neem.

Die hofsaak tussen die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) en tien van sy bruin werknemers wat beweer dié departement se diensbillikheidsbeleid is ontwettig omdat hulle nie bevorder word nie en dat dit na bewering veral teen bruines in die Wes-Kaap gemik, is ’n haglikheid.

Toegegee, adv Dumisa Ntsebeza, die DKD se regverteenwoordiger, se argument in die hof dat ’n graadverskil bestaan in terme van hoe bruines en swartes onder apartheid gely het, is waar. Dit regverdig egter nie sy argument dat bruines vir bevordering oor die hoof gesien moet word nie – want bruines het nog nooit voor, tydens en na apartheid werklik insae in sake van nasionale belang in Suid-Afrika gehad nie. Bruines is dus geregtig op regstellende aksie en moet daarop aanspraak maak. Miskien moet daar weer gekyk word hoe om regstellende aksie “reg toe pas” – want tans word die “regte toepassing” daarvan met goeie rede bevraagteken.

Die DKD se toepassing van die nasionale demografie in die Wes-Kaap – waar bruines 51% van die bevolking uitmaak – is diskriminerend van aard en moet reggestel word.
Ook is daar bruines landwyd – binne en buite die staatsdiens – wat voel dat daar teen hulle gediskrimineer word. Baie van dié aannames is geldig; baie is oordadig.

Dit is verdelend van aard en gee veral Solidariteit – wat regstellende aksie in beginsel afskiet – skietgoed om verwaarloosde bruines uit te buit om sy groter teentransformasie-agenda te bevorder. Indien ek verkeerd is oor Solidariteit, sal ek verskoning vra. Hulle moet my egter eers oortuig.

Om egter te beweer dat daar ’n doelbewuste poging is, of ’n besluit geneem is, om bruines nie as inheems te beskou nie, is om die ou geykte spook van “swart gevaar” wakker te skop en onnodige paniek te saai.

Dit is ook skokkend dat Cruywagen van die bevordering van eksklusiewe belange vir bruines praat. Definieer “bruin belange” … en hoe verskil dit van swartes se belange wat, net soos bruines, grotendeels nog arm is?

Cruywagen moet egter toegee: bruines beskou hulself hoofsaaklik as nieswart en ervaar swartheid as minderwaardig en aaklig. Dit maak dus die saak van bruines vanuit ’n identiteitsoogpunt baie moeilik, omdat meriete opgesluit lê in swartes se verweer dat sommige bruines op hulle neerkyk. As dit sommige bruines wel pas, dan is hulle swart.

Op ’n politieke vlak belemmer bruines hul eie posisie omdat hulle sedert 1994 diensknegte van eers die NP en nou die DA is. Selfs binne die Wes-Kaapse DA (en ook op nasionale vlak) figureer bruines nie sterk nie. Verskeie bruin DA-LP’s, -LPW’s en raadslede het al teenoor my daaroor gekla. Selfs Wilmot James se posisie as federale voorsitter is volgens die DA se federale grondwet simbolies en sonder gesag.

Ek sê nie dit is verkeerd dat die meerderheid bruines die DA ondersteun nie, maar swartes sien dit as verraad tenoor hulle en die bevrydingstryd. Die stigting van ’n bruin politieke party sal dié gedagte ondersteun en verder uitbou. Dit sal bruines as ’n gemeenskap van ellende en afgeskeeptes konstrueer.

Dit is dus ’n onpraktiese en bloot dom idee.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Jason skryf: 

    "Dit is verdelend van aard en gee veral Solidariteit – wat regstellende aksie in beginsel afskiet – skietgoed om verwaarloosde bruines uit te buit om SY GROTER TEEN TRANSFORMASIE-AGENDA te bevorder. Indien ek verkeerd is oor Solidariteit, sal ek verskoning vra. Hulle moet my egter eers oortuig"

    Hulle (Solidariteit) moet hom (Jason) egter eers oortuig.  HeHe!  Lagwekkend né.  Die mannetjie maak 'n stelling asof dit feitlik is, en dan wil hy die onus van bewys op sy teeparty plaas om die teendeel wat hy gesê het te bewys!!

    Ou wanneer jy 'n beskuldiging soos hierbo maak bly die onus van bewys op JOU en nie jou teeparty nie.
    Jy toon net jou onbenulligheid as joernalis.

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top