Bruin politiek in Suid-Afrika?

  • 0

Daar bestaan lankal nie meer iets soos bruin politiek in Suid-Afrika nie. Is dit miskien net swart en wit? Tussen dié swart en wit bestaan daar blykbaar geen grys areas nie. So kla sommige bruin mense deesdae.

Die Raad van Verteenwoordigers bestaan nie meer nie. Ook nie sy voorganger, die Verteenwoordigende Kleurlingraad (VKR) nie.

Sedert die tweede helfte van die 19de eeu het die Oos-Kaapse dorp Uitenhage deur die bruin politiek sowel as die Congregational Kerk ’n tuiste aan die kleurrykste politieke familie – die Hendrickses – verskaf. Die gemeenskapsaal op die dorp Allanridge het as nie-amptelike hoofkantoor van die eertydse Arbeidersparty (AP) bekend gestaan. Kerk-en politieke vergaderings is daar gehou.

Uitenhage en die Hendrickses se politieke en kerkverbintenis is einde verlede maand stil-stil verbreek toe Terry Hendrickse (79), weduwee van wyle Allan Hendrickse (1927–2005), die familiehuis verkoop het en Uitenhage verlaat het om haar in Kaapstad te vestig. ’n Einde van ’n era van ’n familie wat impetus verleen het aan die abstrakte konsep van bruin politiek.

Uitenhage (asook die politieke posisie van bruines voor 1994) en die Hendrickses se verbintenis was bekoorlik, maar ook stug.

Allan Hendrickse het 1969 die politiek betree toe hy LUK vir onderwys in die VKR geword het. In 1978 het hy leier van die AP geword.

Gedurende die jare ‘70 en ‘80 het Hendrickse se politieke betrokkenheid baie bruines gehelp om klarigheid in hul koppe te kry oor politieke issues.

Met sy voorbeeld en standpunte het hy baie mense gehelp om hul eie politieke standpunte te kon formuleer.

Sommige bruines het toe ’n onwrikbare geloof gehad in Hendrickse se politieke integriteit. Ook as leraar van die Congregational Kerk het hy en sy familie respek afgedwing.

In Januarie 1983 sou alles verander toe Hendrickse die AP se jaarkongres in Eshowe vernuftig gemanipuleer het om ten gunste van die driekamerparlement te stem. Na die verkiesing in 1984 is Hendrickse as voorsitter van die bruin ministersraad en ’n minister in PW Botha se kabinet aangestel.

Dit en Hendrickse se veelbewoë swem by Port Elizabeth se "Slegs blankes"-Koningstrand in 1987 het aan hom internasionale bekendheid gebring. Later jare het die verwerping deur groot dele van die bruin gemeenskap op politieke en kerklike vlak – veral op Uitenhage – gekom.

Gevolglik het die dilemma van deelname – van puristiese politieke standpunte teenoor deelname aan ’n onaanvaarbare stelsel ter wille van opheffing van ’n verarmde gemeenskap – moeiliker geword om ontledend te artikuleer.

Hendrickse is ook destyds van nepotisme beskuldig, omdat hy sy twee seuns en skoonseun in hul vroeë, onervare twintigerjare tot die parlement laat verkies het. Dit het ’n periode ingelui waarin die lewe van die Hendrickse-familie oorspan is deur drama, spanning, dilemmas, konflikte en krisisse wat veral groot eise aan Hendrickse se leierskap gestel het.

Noudat die Hendrickses se politieke en kerklike lewe tot ’n einde gekom het, is dit miskien gepas om te vra of hulle ’n rol gespeel het in die manifestasie van die droom van vryheid vir alle Suid-Afrikaners.

Ek sou sê ja.

Dit sou gepas wees om hulle vir hul foute te vergewe, want dit is waaroor die nuwe Suid-Afrika gaan; ook oor versoening. Ons hoef nie die Hendrickses dit te ontsê wat hulle reg gedoen het nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top