Brugbouers deur Rudi Buys: ’n resensie

  • 2

Brugbouers: Die Reitz-video en die pad na versoening
Rudi Buys
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776091843

Rudi Buys se Brugbouers, wat handel oor die versoeningsprojek by die UV-kampus na afloop van die Reitz-voorval, is ’n waardevolle “tydkiekie” of momentopname. Die boek vertel die verhaal van vier studenteleiers en hul belewenisse van selfomvorming (-transformasie) en versoening. Rudi se eie ervaring van omvorming te midde van die smeltkroes van transformasie word ook gedeel, en so ontvou die ontologie en epistemologie van “tussen-in wees”, en gevolglik die metodologie van wat dit beteken om ’n brugbouer te wees in ’n tyd van rassekonflik.

In die boek word die tydsperiode toe ek ’n koshuishoof by ’n dameskoshuis op die UV-kampus was, ook gedek. Tussen 2011 en 2016 het ek eerstehands te doen gekry met die transformasieproses in koshuise. Na Reitz was dit duidelik, soos wat die boek ook toon, dat ingrypings in koshuise van kardinale belang was, en gedurende daardie tyd is ek as koshuishoof by ’n dameskoshuis op die UV-kampus aangestel. My taak was onder meer om te medieer en rasse-integrasie te bestuur. Ons het dus kwartaalliks ons huis-indabas gehad waartydens ons gepraat het oor vooropgestelde idees met betrekking tot ras, lewenservarings gedeel het (bl 10) en  gepoog het om ’n waardestelsel vir die koshuis daar te stel, asook ’n gemeenskap met gedeelde ervarings te skep. Die waardes van die koshuis, wat deur die meisies self bepaal is, is by die voordeur van die koshuis opgeplak (38). Die waardes was susterskap, respek, diversiteit, uitnemendheid, aanvaarding en dissipline. In ’n poging om ’n gemeenskap te skep wat op hierdie waardes gebou was, sou daar dikwels tydens huisvergaderings verwys word hierna. In ’n poging om weg te beweeg van ’n dissiplinêre stelsel wat fokus op oortreding en straf, is koshuiswaardes ingespan om ’n gemeenskaplike etiese onderbou te skep. Tydens die huis-indabas het moeilike en hewige gesprekke plaasgevind, maar ten minste is daar gepraat oor die kwessies wat voor die Reitz-insident verswyg is, soos wat duidelik word in die boek.

Wat wel mettertyd duidelik geword het tydens hierdie gesprekke, was dat die deel van lewenservarings, en gesprekke rondom raspersepsies en selfs gedeelde waardes, nie voldoende was om die koshuisgemeenskap bymekaar te bring en te hou nie.  Wit en swart studente het verskillende perspektiewe op die geskiedenis, en wat apartheid behels het, gehad. Hulle het dus ook verskillende idees gehad het oor die wyse waarop transformasie moet plaasvind. Die deurleefde ervarings van wit en swart studente met betrekking tot wat dit beteken om geras te wees, het ook gevolglik grootliks verskil. Wit studente het dit moeilik gevind om te hoor en te verstaan hoe apartheid en ras steeds swart lewens beïnvloed, was verdedigend en het benadeel gevoel deur herstellingsbeleide. Swart studente het gefrustreerd geraak met hierdie onbegrip, ervarings van rassisme en die stadige pas van transformasie. Wit studente wou aanbeweeg, en swart studente het gevoel dat daar nog nie werklik indringend omgegaan is met die nalatenskap van apartheid nie. Om lewenservarings te deel en raspersepsies teen te werk was dus oukei vir die wit studente, solank daar nie oor die verlede en apartheid gepraat is nie.

Tog sou ’n buitestander wat in 2014 in die koshuis ingeloer het, gedink het dit gaan goed met die integrasieproses. Die huiskomitee was geïntegreerd, ’n nuwe koshuis-embleem is ontwerp om vernuwing aan te dui, en afgesien van die alledaagse uitdagings wat ’n koshuis van 187 dames op ’n operasionele vlak mag bring, het die inwoners oënskynlik in vrede saamgewoon. Die aantal wit studente in die voormalige swart koshuis het toegeneem, en integrasiesyfers het goed gelyk. Brugbouers dek egter ook slegs integrasieprosesse tot 2014, en dus ’n baie spesifieke tydstip in die geskiedenis van die UV en Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings.

Dit was egter die eerste #Feesmustfall-protesoptog in September 2015 wat die foutlyne van raskonflik uitgewys het. Dit het duidelik geword dat die sosio-ekonomiese verskille tussen wit en swart studente direk verband hou met hul onderskeie deurleefde ervarings, en dus ook verwagtinge van wat transformasie beteken. Die Shimlapark-insident in Februarie 2016 kan beskou word as die geleentheid waartydens die transformasie-ingrypings wat sedert Reitz geïmplementeer is, en die impak daarvan, getoets is. Gedurende ’n rugbywedstryd het ’n groep betogers bestaande uit swart werkers en studente die veld betree in ’n poging om die rektor se aandag te vestig op die werkers se  aandrang op inkontraktering. ’n Groep wit toeskouers het onmiddellik op die veld gehardloop en die betogers geskop en geslaan. Die betogers is van die veld verwyder, en die spel het voortgegaan. Alle hel het daarna op die Kovsie-kampus losgebars, en klasse is vir ’n week opgeskort. Wit studente het uit koshuise getrek, terwyl ’n groep swart betogers amok gemaak het op die kampus. Ons kon vir ’n week nie van die kampus af kom nie, en ’n privaat sekuriteitsmaatskappy is aangestel om die status quo te herstel.

Dit was gedurende hierdie tyd dat ek besig was met onderhoude vir my navorsing oor rasse-integrasie in die koshuis. In die onderhoude het dit duidelik geword dat wat tydens Reitz gebeur het, sigself weer herhaal het. Studente het gevoel die menswaardigheid van die swart werkers, ouer mans en dames, is ondermyn deur die wit toeskouers, wat meestal jong wit seuns was. Die wit studente was van mening dat daar oorreageer word, en dat die betogers in die eerste plek nie op die rugbyveld moes gegaan het nie. Swart studente het hul frustrasie uitgespreek oor “wit studente wat niks verkeerd sien met hulle rassistiese optrede nie”, terwyl wit studente nie kon verstaan “wat is hierdie sisteem van onderdrukking waarvan hulle praat” nie. Die verskillende leefwêrelde en wyse waarop hierdie insident ervaar is, was wêrelde verwyderd. Dit was ’n herhaling van Reitz.

Gedurende daardie week van absolute chaos was dit baie moeilik om terug te keer na, en staat te maak op gedeelde waardes en gedeelde ervarings ten einde die gespanne situasie in die koshuis te ontlont. Waardes soos susterskap en diversiteit, wat veronderstel was om die multikulturele koshuis te verenig, kon water dra daardie week nie. Interessant genoeg is die grootste uitdagings in so ’n tyd operasioneel van aard: Is daar genoeg toiletpapier? Het almal kos? Die meeste wit studente het uit die koshuis getrek gedurende hierdie tyd, iets wat ook tydens Reitz gebeur het.

Mens moet vra: Hoe het so iets gebeur op die Kovsie-kampus agt jaar na die Reitz-insident? Natuurlik kan mens nie die transformasie-ingrypings aan slegs een so ’n ekstreme insident meet nie, alhoewel dit mens wel ’n baie goeie idee gee van die stand van rassekonflik en -integrasie. Hoe meet mens in elk geval iets soos rasse-integrasie? Syfers en statistieke vertel nie die volle verhaal nie. Die Shimlapark-insident en die 2016-#Feesmustfall-protesoptog het dit duidelik gemaak dat ’n nuwe orde met nuwe uitdagings sigself aangemeld het. Gesprekke rondom transformasie het nou gewentel om dekolonialisering van die kurrikulum en ’n aandrang op finansiële insluiting.

In die lig hiervan sou mens kon argumenteer dat die transformasie-ingrypings wat na die Reitz-insident geïmplementeer is, gebaseer was op ’n reënboognasie-narratief, ’n konsep wat die fokus plaas op nierassigheid en dikwels gebruik word as onderbou vir versoeningsgesprekke, met die oogmerk om ’n diverse dog gelyke samelewing daar te stel.  Hierdie is ’n oënskynlik edele konsep waarmee ons jong demokrasie in ’n oorgangstyd op die been gebring is. Deesdae word hierdie konsep egter met skeptisisme bejeën. En ons moet ons afvra waarom? Is dit omdat wit meerderwaardigheid verskans is en behoue gebly het in die versoeningsprojek? Is dit omdat, soos wat Sisonke Msimang aanvoer, dit ’n projek was wat vrede en gemoedelikheid eerste gestel het bo geregtigheid?

Shimlapark en #Feesmustfall het aan ons getoon dat transformasie, wat nog te sê versoening, nie ’n lineêre proses is nie, en ons gedwing om te gaan kyk na blinde kolle wat in die ‘90’s oor die hoof gesien is. Die aard en verwagtinge van transformasie is beslis vandag anders as wat dit in 2010 was. Dit is in die lig hiervan dat die idee van ’n brugbouer en versoener herbesin moet word; as die speelveld verander, moet die spel daarby aanpas.  Dit noop ons om te vra of versoening werklik die hoogste waarde is tans, wanneer ons oor transformasie praat. Alhoewel versoening in die boek (162) beskou word as ’n beginpunt, ’n brug wat gebou word tussen onversoendes ten einde omvorming teweeg te bring, wonder ek of versoening nie eerder ten hoogste ’n newe-effek kan wees van ’n transformasieproses, en dus van omvorming nie. Op bl 170 word hierdie insig wel gedeel, wanneer versoening en omvorming as ’n uitvloeisel beskou word van ’n onderliggende tussen-in wees. Maar selfs dan bly versoening ’n term gelaai met verwagtinge. ’n Nuwe interpretasie van versoening is nou nodig. Die aard van versoening, asook die wyse waarop versoening bewerkstellig word, moet herbedink word. Na 2015 is tussen-in wees ’n toenemend uitdagende posisie om in te wees, veral in ’n polariserende verkiesingsjaar soos vanjaar. Brugbouers behoort na dese nie hoofsaaklik te fokus op simboliese versoening nie, maar moet hulself daadwerklik beywer vir sosiale geregtigheid vir almal.

Hierdie verwikkelinge noop ons om aan te pas by die veranderende gesprek, wat krities kyk na die wyse waarop ’n projek van versoening sedert die WVK tot 2015 gevoer is.  Ons moet ons egter bemoei met hierdie verskuiwings en uitdagings, en krities omgaan met ons eie praktyk en idees. Dit is slegs daardeur dat ons kan metamorfoseer tot ’n “tussen-in”, ’n wordende iets anders waardeur ons kan wegbeweeg van die normatiwiteit van ons geraste identiteite.

Brugbouers beskryf ’n baie belangrike periode in die UV se geskiedenis, en ’n buitestander kry ’n omvattende idee van wat dit behels om so ’n proses te loods en uit te voer, asook die uitdagings wat daarmee gepaard gegaan het. Die lewensverhale van die brugbouers maak dit ook duidelik dat konfrontasie en konflik deel is van ’n omvormingsproses, en dat transformasie of versoening nie ’n ekwilibrium is nie. Die boek lewer kommentaar op ’n spesifieke tyd in die ontwikkeling van ons demokrasie, en dra sodoende by tot die produsering van kennis met betrekking tot transformasie en dekolonialisering. Die belangrike bydrae wat Brugbouers maak, is om die potensiaal tot selftransformasie aan te dui vir diegene wat in ’n transformatiewe omgewing werk. Sou selftransformasie plaasvind, werk hierdie veranderinge terugkoppelend in op transformasiepraktyke; my werk as koshuishoof het my in wese verander, en beïnvloed dus die wyse waarop ek waarneem, sin maak, dink en skryf oor die omgewing waarin ek my bevind en werk.

Die metodologie van brugbouers is egter gebaseer op ’n pre-2015-UV-kampus. Dit word toenemend duideliker dat die #Fallist-bewegings ons laat eskaleer het na die volgende postkoloniale moment, waar vraagstukke verwant aan dekolonialisering, transformasie en volhoubaarheid van hoëronderwysinstellings nou dringende aandag moet geniet. Kwessies rondom versoening word weens hierdie veranderinge baie anders gelees as tien jaar gelede. Diegene wat transformasie moet implementeer, se vaardighede moet dus nou aanpas by die veranderende tye en problematiek. Ons word genoop om ’n stap terug te tree en te kyk wie en wat misgekyk is tot dusver, en watter prosesse, fokuspunte en perspektiewe verwaarloos is. Hoe het transformasie en versoening tot dusver gewerk, en vir wie het dit gewerk?

  • 2

Kommentaar

  • Johnnes Comestor

    Die resensie is eerder resensent- as boek-gesentreerd en handel by uitstek oor die na-Buys-era.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top