Brueghel in Parow

  • 0

Brueghel in Parow
vir Joan

Wat lyding aanbetref was hulle nooit verkeerd
die Ou Meesters:
hoe dit gebeur
te midde van die daaglikse sleur.

Dit was jou 45ste verjaarsdag
11 September 2001:
Antjie & John, & ek & my beste, Christof,
op sleeptou vir ete by jou & jou soon-to-be eks.

In die tv-kamer staan ons,
wyn & geskenke in ons hande & kyk
hoe twee vliegtuie oor & oor
in die Twin Towers vasvlieg,

hoe die twee geboue oor & oor,
een na die ander ineentuimel –
die kwaadaardige stofstorms
vol papier & gille & spookgesigte.

Later, terwyl ons eet
merk ek hoe alles heel tydsaam
wegkeer van die ramp,
hoe onder beskaafde kletspraatjies

kwetsings sekuur hulle teiken vind.
Ek & Christof bankvas
agter jou, met Antjie & John
soos vlugbeheer wat vergeefs die aand

in die lug probeer hou
terwyl dit soos met JFK
op Dealy Plaza in stadige aksie
oor & oor gebeur.

Maar die woorde dwarrel weldra
oor die etenstafel soos flentertjies papier
& gaan lê oor die borde soos as.
My oë rus onrustig op Christof,

sy gesig is geslote
soos ’n paspoortfoto.
Dink hy aan óns bagasie?
Die fosfor in die televisiebuis

gloei & sterf oor & oor
& ek val saam met ’n man
verby die grys sekondes
soos ’n omgekeerde kruis.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top