Brood van die lewe

  • 0

Foto: Canva.com

Brood van die lewe 

Van verkragte tot oorwinnaar.
Van verminkte tot oorlewende.

Daardie nag droom sy van die kind se kaal geraamtelyfie en die droë snot wat korserige slakstrepe oor sy ingesonke wangetjies trek. Sy wonder vies waarom niemand die tros vlieë van sy gesig af weggewaai het voordat hy afgeneem en op nuuskanale laat pryk is nie. Hy is al meer as halfpad dood van die honger. Lankal verby hoop. ’n Vuis poetoepap gaan hom nie red nie. Hy is bloot die gesig van net nóg ’n Afrikaland wat bakhand staan om hulp. Wat is nuut? Maar, goeie genade, kon die hand ágter die kamera nie maar net die vlieë verwilder het nie!?

Myra gooi die duvet geïrriteerd van haar af en kom orent. Herman mompel iets onhoorbaars in sy slaap en draai om op sy ander sy. Sy hou haar asem op en wag doodstil tot die eentonige dreuning van sy snorkery hervat voordat sy haar ligte kamerjas oor haar skouers gooi en met haar tone soek na die pantoffels wat netjies voor die bed staan. Dan maak sy haar gordel om haar lyf vas en laat sak haar pistool in die holster.

In die kombuis tap sy ’n glas water en sluk dit dorstig af. Sy hou die glas ’n oomblik teen haar warm wang en spoel dit dan onder die kraan uit. Haar voete vind hulle eie pad studeerkamer toe. Dis nie nodig om die lig aan te skakel nie. Haar skootrekenaar se skerm gee voldoende lig. Haar vingers is vertroud met die sleutelbord en binne sekondes verkry sy toegang tot ’n webtuiste waarop grusame foto’s van die slagoffers van plaasmoorde geplaas is.

Waarom word hiérdie skokfoto’s nie op die aandnuus gewys nie? Waarom word ’n honger kind aan die wêreld opgedis, maar die bykans 200 kap- en steekwonde aan ’n vermoorde boer se liggaam is nie nuuswaardig nie? Die hemel weet, haar hart krimp van jammerte vir die arme kind. Niémand verdien om van honger om te kom nie, verál nie ’n kind nie. Maar wat sy nie kan verstaan nie, is dat ’n uitgeteerde klein asempie van iewers op die vasteland die hoofnuus haal, maar die weerlose oupatjie op ons eie voorstoep wat soos ’n dier aan die hand van ’n terroris gevrek het, word gereduseer tot ’n onsigbare entiteit? Waarom word die een se droewige lot sensasioneel genoeg geag om simpatie en hopelik ’n donasie mee af te bedel wanneer die reënboognasie voor die TV aansit met hulle aandetes op hul skote, maar die ander se lot word as ’n nagedagte iewers onder aan ’n dagblad se bladsy drie genoem?

Sy vroetel  in die lessenaarlaai en haal die halfleë pakkie sigarette uit wat sy daar hou vir tye soos dié. Die aansteker se vlammetjie dans strydlustig toe sy die sigaret aansteek en die nikotien diep in haar longe trek. Sy blaas die rook met stadige, doelbewus gekontroleerde bewegings uit en wag vir haar hartklop om te bedaar. Wat help dit sy ontstel haar? Hulle het genoeg van haar gesteel. As sy nie oppas nie, kry sy wragtig nog op die koop toe ’n beroerte, en wat dán? Dan het hulle ná alles tog die lekkerste gelag. Honde!

Sy druk die sigaret dood en kom regop. Die gang wat na die onderste badkamer lei voel vanaand ekstra lank en sy maak haar rug hol vir die skadu’s. Agter die geslote deur haal sy haar gordel af en sit haar vuurwapen binne bereik neer. Dán eers trek sy haar kamerjas uit. Haar nagrok is dienlik en ordentlik en sonder enige fênsiegeid. Wit. Sy snorklag wrang en bondel die sagte flennie in haar vuiste voordat sy die materiaal oor haar kop trek en eenkant toe smyt.

Sy is maer. Té maer. Daar is donker verdwaalpaaie tussen haar knobbelrige ribbes. Die kleur van haar tepels is vaal. Haar naeltjie is bloot ’n verposing halfpad sόόntoe. Sy skeer of waks nie daar nie. Dis niemandsland wat haar betref. Iets wat verdra moet word, want dis onbetwisbaar daar en funksioneel. Onbeduidend, niksseggend en klinies. Dít waaraan daardie hond hom vergryp het. Dít wat hy teen haar wil en ten spyte van haar smekinge wreed geplunder het. En die hele tyd wat dit gebeur het, het sy in haar sterwende pa se oë gekyk. Hy het haar vernedering aanskou waar hy hulpeloos in sy bloed gelê en roggel het nadat hulle sy keel oopgekerf het met die stomp broodmes wat sy in die tuin gebruik het om uintjies mee uit te steek.

Sy draai die stortkraan met rukkerige bewegings oop en wag totdat die stoom spookagtig warrel voordat sy onder die té warm straal water gaan staan. Sy smeer die waslap glad met seep en val haar lyf met vinnige, ru hale aan. Was, afspoel, was ... totdat haar vel rooi en seer is. Dan klim sy uit en droog haar af. Trek weer haar slaapklere aan en omgord haar lendene met die yster wat haar konstante metgesel geword het. Haar beskermengel wat aan ’n leerholster teen haar heup rus.

Iewers kraai ’n haan. Sy klik met haar tong. Simpel ding. Dis nog lank voor die dag breek. Sy kop gaan een van die dae moet rol, want Krismis is om die draai. Dit kan nie anders nie. Ná die aanval het Herman nie meer ’n maag vir die dinge van die plaas nie. Sy kop staan dorp toe. Hy reken hy sal eerder in selfopgelegde huisarres verkeer in ’n dorpshuis wat met diefwering toegewurg is en waar ’n gewapende-reaksie-eenheid net om die draai is. Gmf, asof dit nie presiés hulle huidige omstandighede beskryf nie! Hulle leef sedert daai verfoeilike varke hulle hier kom indring het al in ’n maksimumsekuriteitstronk met staalstawe so dik soos haar polse voor die vensters en deure. Hulle sit hier binne en vrees verfoeilike woestaards wat vyfstuks toeslaan om te slag en te steel, te moor en te roof. Sy spoeg voordat sy haarself kan keer. Die bitter smaak in haar mond is net te erg om in te hou.

In die kombuis haal sy haar knieskottel uit. Broodmeel, gis, sout, suiker, louwarm water. Haar hande raak besig asof dit vlug vir haar gedagtes. Sy knie die brooddeeg eers metodies met slap vuiste, wat nes haar gedagtes nie dadelik deel van haar lyf is nie. Maar dan fladder die onthou weer soos ’n swerm versteurde duiwe in haar kop en haar vuiste span stywer. Sy slaan die deeg herhaaldelik met wit kneukels. Verwoed. Driftig. Totdat sy uitgeput op die stoel neersak en na asem hyg. Sy haal ’n doek uit die laai en bedek die bol deeg daarmee. Dan dra sy die skottel tot in die spaarkamer naaste aan die kombuis. Sy plaas die skottel in die middel van die spierwit driekwartbed en maak dit toe met ’n lappieskombers wat sy self gehekel het.

Haar hande verstil meteens en sy staan ’n tree agteruit. Dis op hiérdie bed waar die wreedaard haar herhaaldelik verkrag het. Dis op hiérdie bed waar sy die voosgeslaande deeg neerlê. En dis op hiérdie bed wat die deeg uitrys en boepens maak. Nes sý het. Haar en Herman se huwelik is kinderloos, maar toe die verkragter sy distelsaad in haar stort, raak sy swanger. Haar huisdokter het ná die verkragting antiretrovirale middels voorgeskryf, maar nie hy óf sy het eens aan die oggend-daarna-pil gedink nie. Sy het haar swangerskap beëindig op ’n mislike, reënerige Donderdagoggend toe die wasempatroon teen die dokter se spreekkamer na kleurlose bloedspatsels gelyk het. Haar hart het saam met die bliep op die monitor ophou klop.

Woede het wurgend in haar keel kom sit. Die drukpot binne haar het stoom opgebou wat haar wou laat gil en skree en skop en slaan. Maar haar tong was stom. Lam. Soos toe sy onder die geweldenaar gelê het en sy sweet suur in haar mond gedrup het. Die mes teen haar keel was net té skerp en té naby aan haar weerlose aorta. Net één skrou, één beweging, het sy duiwelsoë getart, en hy sou haar slag soos ’n brandsiek skaap. Sy het gekies om willoos slagoffer te wees. Om hom die opwinding van ’n struweling te ontneem. Sy het daar gelê soos ’n dooie toe hy hom dierlik aan haar lyf vergryp het. Hý! Indringer! Vreemdeling! Sy wou bid, maar daar was nie woorde in haar kop nie.

Haar lyf het verraad teenoor haar gepleeg met die Onnoembare – die etterige sweer in haar siel wat steeds bly bloei en stink en vergiftig. Haar spiere het krampagtig saamgeruk. Sommer so. Sonder dat sy dit wou hê. Vyftien jaar lank het sy hoopvol in Herman se arms in hulle huweliksbed gelê, maar het sy onbeholpe toenadering nooit tot ritmiese verlossing vir haar gelei nie. Maar hier, op hierdie verkragtingsbed, hier het haar lyf teen haar gedraai en ’n wapen geword wat haar tot vandag toe gyselaar hou en tart.

Die skok het haar tot aksie gedryf. Sy het die lem teen haar keel met haar kaal hande vasgevat en vorentoe en op gestamp teen sy lugpyp. Die onverwagsheid van haar aanval terwyl hy hom nog aan haar vergryp, het hom onkant gevang. Hy het begin hoes van die bloed wat in sy keel afstroom. Sy hande was vir ’n oomblik dom en kragteloos. Sy het die mes by hom gevat en dit tot by die hef in sy linkeroog gedruk. Hy is oombliklik dood. Sy het onder hom uitgekruip en met bene wat nie haar eie is nie oor haar pa se lyk getree om na Herman te gaan soek. Hulle het haar man met ’n panga oor sy hele lyf gekap en hom vir die dood agtergelaat. Gelukkig geen are of senings af nie, maar hy het hom byna leeg gebloei. Is vandag nog leeg, nes sy.

Wanneer sy later die opgepofte deeg afknie en in die broodpannetjies neerlê, begin die klipharde yskol onder haar ribbes effens ontdooi. Net genoeg om ’n vae opgewondenheid in haar te laat posvat. Sy trek ’n stoel nader en hou die brood gefassineerd dop terwyl dit swel en bruin word in die warm oond. Die lieflike geur van gebakte brood hang swaar in die kombuis toe sy die perfek gevormde brode op die tafeldoek uitkeer. Sy kan dit oor en oor doen, elke dag van haar lewe, en steeds sal sy haar verwonder aan hoe iets wat onder ’n mens se vuiste deurloop en as gevolg van geweld opswel asof dit vrot, kan bróód word. Lewegewende brood. Iets heeltemal anders en goeds. Iets nuttigs en heels. Van verkragte tot oorwinnaar. Van verminkte tot oorlewende.

Herman ry soggens saam met haar na die plaasskooltjie oorkant die bult. Hy dra die boks met toebroodjies na die stowwerige, maer kindertjies wat om hom swerm. Dis immers wat ’n boer doen – sorg vir honger magies. Die kinders raak aan die growwe littekens wat die panga op sy arms en bene gelaat het en skud hulle koppe. Hau! Dis nie reg dat tsotsi’s hierdie goeie man uit wie se hand hulle kos ontvang so seer gemaak het nie! En dis nie reg dat die polisie nóú nog nie die manne gevang het nie!

Wanneer Myra tussen die horde lyfies op die grond gaan sit en die toebroodjies uitdeel, baklei hulle met konfytbesmeerde gesiggies oor wie op haar skoot mag sit. Die dogtertjies kam saggies met taai vingertjies deur haar hare en neurie vertroostend asof hulle instinktief weet van die dinge wat haar van binne af lewendig opvreet.

Dis dán wanneer haar hand na Herman s’n soek. Hulle vingers gryp mekaar knellend vas al vermy hulle mekaar se oë. Hulle eet nie van die brood nie. Nog nie. Maar op ’n dag sal hulle wel weer honger word en eet uit die Goeie Gewer se hand. Vir eers is die kinders se vrolike gekwetter genoeg. Dit is die rysmiddel wat haar en Herman se verflenterde binnestes weer sal laat du. Híérdie kinders lewe immers. Hulle hartkloppies is nie stil nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top