The bear en The proposal: Vir hierdie vermaak ry mens van ver af. Dis twee kort stukke, uit die pen van Tsjechof, so dis net reg vir lekker sit en vermaak word soos jy lank laas vermaak is. Die klein pouse is net lank genoeg om ‘n vinnige vodka weg te slaan.
Die akteurs, en die regisseursaanslag, is so knap dat mens wil sê die rocksterre moet ligloop. Hierdie soort akteurswerk sit die akteur voorop as superster. Net om te sien hoe Matthew Dylan Roberts sy twee voorvingers tik op die baadjiepand van Adrian Collins se karakter – die oorgawe, sjarme en begrip van egte kunstenaars, gepaardgaande met raakvat-kostuums, stel, die gebruik van die besonderse ruimte van die Intimate-teater, is ‘n heuglike voorreg.
Die regisseur lei die spannetjie akteurs fyn in ‘n intelligente aanslag wat wissel in kontras, wissel deur die spektrum van hard en sag, woes en intiem, wissel van aggressie na meesleurende gewoonheid – realisme van ironie op ironie.
Die tekste, nou nog relevant, nou nog so snaaks soos dit tóé sou gewees het, is baie snaaks. Maar mens sou die bal kon mis slaan, die pot kon mis sit, met minder goeie insig in die werking van die ironiese Tsjechof-realisme. Hierdie spannetjie doen dit nié. The bear en The proposal is heerlik verkwiklik; regtig die ergste moeite waaraan jy kan dink werd om daar uit te kom.
Doen die moeite.
Moenie dit misloop nie.
The bear en The proposal
Met: Gina Pauling, Adrian Collins en Matthew Dylan Roberts
Deur: Anton Tsjechof
Regie: Chris Weare
Kostuums: Leigh Bishop, Farieda Esau
The Intimate Theatre, Hiddingh-kampus
1 September; 4–12 September 2013
Kaartjies deur Webtickets en die Kleinteater, 021-4807129

