Briewe uit Brielshoop deur Helene Olivier: ’n resensie

  • 0

Briewe uit Brielshoop
Helene Olivier
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485309710

Die briefroman is ’n ou en gerespekteerde subgenre. Die brief as sodanig word as ’n besondere soort teks beskou en wel op grond van minstens twee stelle redes.

Enersyds vertoon briewe dikwels ’n bepaalde tematiek, soos om onder meer oor persoonlike ervarings van eensaamheid, liefde, identiteit en beproewing te skryf, hetsy in vreugde of in smart, hetsy direk of in herinnering. Dikwels kom die wyer agtergrond waarteen die briewe geskryf word ter sprake omdat die briefskrywer slagoffer van of deelnemer is aan politieke en sosiale gebeure. Briewe kan vanselfsprekend óf as deel van ’n briefwisseling óf as eensydige briewe aangebied word. Beroemde briefwisselings is byvoorbeeld die briewe tussen Abelard en Heloise (wat in Afrikaans bekend geword het veral in die verwysings in die poësie van NP Van Wyk Louw en Sheila Cussons), maar daar is ook die bekende briewe van Marianna van Alcoforado (ook bekend as die briewe van die Portugese non) aan haar ontroue geliefde waar die antwoordbriewe van die aangesprokene ontbreek.

Andersyds word die brief gekenmerk deur bepaalde stilistiese eienskappe, byvoorbeeld dat die vertellende stem, wat as fokalisator en verteller funksioneer, dominant is. Dit kan aan die brief besondere outentisiteit verleen, maar dit kan ook wees dat in veral fiksionele briefromans die skrywer juis belangrike inligting verswyg of verdoesel en eintlik die ontvanger van die brief bedrieg. Die rol van die ontvanger of aangesprokene in die brief is ook baie belangrik as ’n “narratee”, want die ontvanger medebepaal wat geskryf word. Die brief is immers die een kant van ’n gesprek en die skrywer wil aan ’n spesifieke persoon inligting oordra. Die ander boeiende aspek van die briefliteratuur is dat in briewe wat oor ’n langer tydperk geskryf is, ’n verhaal ontvou, maar die leser moet self die verhaal konstrueer, omdat dit saamgestel moet word uit los opmerkings, verwysings na insidente, beskrywings van plekke en ervarings en die uiteensetting van opvattings en sienings wat op uiteenliggende plekke in die teks voorkom. Die verband tussen die los dele moet dus deur die leser self gevind word of gerekonstrueer word en so is ’n indirek vertelde verhaal interessant om te lees.

Die briefroman was veral in die 18de eeu baie gewild, met byvoorbeeld Samuel Richardson se Pamela en Goethe se Die Leiden des jungen Werthers as van die bekendstes. Pierre Choderlos de Laclos se Les Liaisons dangereuses uit 1782 het met die verfilming daarvan ’n aantal jaar gelede ook weer nuwe lewe gekry. Hierdie briefroman is ’n uiters boeiende teks wat die briefformaat so suksesvol benut dat die leser nie kan ophou lees nie. Die briefroman word steeds beoefen juis omdat dit sulke interessante vertelmoontlikhede bied.  Saul Bellow se Herzog kom dadelik in die gedagte op, asook Etienne Leroux se 18-44, wat ’n besonder vindingryke bewerking van die generiese eienskappe van die briefroman is.

Briewe uit Brielshoop van Helene Olivier word eksplisiet as ’n briefroman aangebied. Die roman in sy geheel bestaan uit die briewe wat Henna skryf aan haar vriendin Ida. Die agterliggende verhaal/verhale moet dus uit hierdie eensydige kommunikasie afgelei word.

Juis wanneer Henna se man, Stone, dit oorweeg om ’n stukkie grond aan te koop, erf Henna ’n familieplaas. Omdat Stone as ginekoloog baie besig is, moet Henna die projek om die verwaarloosde eiendom te probeer heropbou, bestuur. In die briewe aan Ida beskryf sy wat hierdie taak alles behels: al die komplikasies in die praktyk van die boerdery en in menseverhoudinge wat oor haar pad kom. Sy is ’n vaardige briefskrywer – eintlik ’n vaardige skrywer, want die briewe word klein vertellings, met dialoog en vermaaklike uitbeelding van ander karakters en situasies. Tussendeur bespiegel sy oor waar sy in hierdie tafereel inpas, waar sy en haar mense in die land inpas, waar die mens uiteindelik in die heelal inpas – as daar van pas of inpas gepraat kan word, bygesê. Want Henna is haar baie bewus van die onsekerhede en onkenbaarhede van die werklikheid waarin sy leef en ook waaruit sy kom en sy gaan die lewe nie met sekerhede tegemoet nie, maar juis ondersoekend.

Die roman bevat inderdaad die meeste van die tiperende eienskappe van briefliteratuur. Soos soveel briefskrywers deur die eeue is Henna se briefskrywery ’n manier om haar alleenheid, selfs eensaamheid, op te hef, om uit te reik na ’n simpatieke en bekende oor. Henna is dikwels alleen of eensaam en voel meermale oorweldig deur die verantwoordelikhede van die plaas. Wanneer haar man wel op die toneel verskyn, is hy simpatiek en help hy haar en staan haar ook moreel by, maar hy is besig met belangrike dinge, wat maak dat sy nie op te veel aandag aandring nie. Sy gaan dus moedig voort, en spot ‘n bietjie met haarself en haar gebrek aan kennis en haar onvermoë. Hierdie selfrelativering is ’n terapeutiese handeling, ’n beskerming teen harder werklikhede waarvoor sy sou kon terugdeins, maar eintlik is sy dapper sonder om ’n drama daarvan te maak.

Uiteraard speel die liefde deurlopend ’n rol, want Henna is uiters bewus van verhoudinge. Haar verhouding met haar man is kompleks – nie ongesond nie, maar gewis nie koesterend in die gewone sin van die woord nie. Sy lewer hom egter nooit uit nie, selfs nie aan haar vertroude vriendin nie, maar die sensitiewe leser vang die ylheid van haar stem plek-plek weldeeglik op.

Die belangrikste eienskap van hierdie briewe is die soeke na identiteit. Dit kom na vore in die oorkoepelende verhaal waarin die ongelukkige verhouding met haar ma (“ek en my ma [was] eintlik nooit nabymense nie”, bl 10) en haar familie die bepalende rol speel. Die dramatiese gegewens wat aan die einde van die roman na vore kom, vorm dan ook die hoogtepunt van hierdie soeke na identiteit. Tegnies, dws in die vertelling self, word die identiteitsoeke vir my baie sterk geïllustreer deur die verskillende name waarmee Henna haarself benoem aan die einde van elke brief. Soms is sy selfrelativerend en noem sy haarself Henna Kermkous, maar sy is ook Henna Moerig of Henna Bullebak. Sy beskryf haar aktiwiteite as sy haarself Henna Beesbevrugter of Henna Hooimied noem. Maar dis byna asof die name op sigself ’n storie vertel: sy skram byvoorbeeld weg van emosie en noem haarself in die brief oor haar ma se begrafnis objektiverend Henna Begrafnisganger, terwyl sy oor haarself dink as Henna Weeskind; sy is soms Henna Huilman in die woesteny en Henna op haar knieë, en dan weer Henna Wolkekyker en Henna Gevurkte tong.

Hierdie wisselende name is tekenend van Henna se onsekerhede oor haar identiteit, en dit is asof sy aan die einde van elke brief moet nadink oor wie en wat sy is en in watter hoedanigheid sy die betrokke brief geskryf het. Hieruit kom die beeld na vore van ’n sensitiewe en denkende skrywende vrou en dit sluit aan by haar manier om deurlopend met verwysings na die letterkunde haar nadenke te illustreer. Henna is ’n belese vrou wat dink oor wat sy lees en wat sy ervaar en wat ervaring en lees bymekaarbring in haar briewe.

Ook die tydperk waarin die briewe geskryf is, speel ’n groot rol, want Henna staan nie los van haar politieke en sosiale omgewing nie. Op dié manier kom ’n hele stuk geskiedenis vanuit die perspektief van ’n intelligente maar gewone vrou na vore. Veral interessant is die verhoudinge op die plaas en die verhale van die werksmense saam met wie sy werk. Henna lei ’n lewe wat tegelyk dikwels eensaam en intens vervleg is met die lewens van ander mense, haar familie, haar werksmense, die dorpsmense en die land se mense.

’n Integrale deel van hierdie roman is die aangesprokene in die briewe, die een aan wie se adres die briewe gerig is. Soms reageer die skrywer selfs op ’n opmerking in die korrespondent se (afwesige) brief en stem saam of verdedig haarself ’n bietjie teen kommentaar of kritiek. Maar dit is ook duidelik dat die ontvanger van die briewe ’n geesgenoot is, iemand op wie die bespiegelinge en die literêre verwysings nie verlore sal wees nie. Die toonaard van die briewe is vertroulik, maar nie oorfamiliêr of kletserig nie. Die briefskrywer skryf eintlik klein essays gerig aan iemand wat die gevarieerde en vermaaklike maar ook selfopenbarende inhoud en trant van die briewe kan waardeer. Die briefskrywer weet ook dat haar briefvriendin die spel met name en die selfspot en die onderbeklemtoning sal verstaan en geniet.

Die filosofiese uitweidings oor godsdiens en die lewe self is van so ’n aard dat hoewel dit nie aardskuddend en baanbrekend is nie, dit ’n goeie beeld gee van ’n denkende vrou, wel in uitsonderlike omstandighede, maar nie iemand wat haarself sou uitgee vir die grootste wysgeer nie. Dit is toeganklik en waarskynlik verteenwoordigend van baie tydgenootlike vroue wat ’n gewone lewe verryk het deur hulle gedagtewêreld uit te dy. 

Soos vroeër genoem, is die bepalende eienskap van briefliteratuur die dominante stem en gesigspunt van die skrywersinstansie. Die outentisiteit van ’n brief lê daarin opgesluit. Hierdie briewe word aangebied asof dit outentieke briewe is, briewe wat nie ’n spel speel met ’n leser nie, maar gerig is aan ’n geesgenoot en lank-vertroude vriendin. Die moontlikheid van werklike outobiografiese briewe kan hier selfs nie uitgesluit word nie, en mense wat die skrywer ken, sal waarskynlik weet of die briewe spontaan geskryf is en outobiografies is. Desnieteenstaande vermoed ek ook dat daar by die briewe bygefiksionaliseer is met veranderinge van name van plekke en mense en van praktiese omstandighede. Die vervaging van inligting is ook duidelik uit die feit dat die leser nêrens ’n aanduiding kry van waar Brielshoop is nie; nie eers in watter streek van die land nie. Maar wat opval, is die sterk outentieke kleur in die briewe, en dit verklaar ook die spesifieke struktuur van die teks.

Groot dele van die briewe word opgeneem deur inligting oor die boerdery, die probleme, die gesukkel, die struikelblokke, die droogte, die veesiektes, die onderhandeling rondom die boerdery. In die middeldeel van die roman oorheers hierdie onderwerp die briewe en dit laat die teks narratief gesproke ’n bietjie trek. Dit het my laat begin voel dit is ’n dissertasie oor boerdery en die teisteringe daaraan verbonde. Vanuit ’n romanmatige oogpunt sou mens kon verwag het dat die deurlopende lyn wat op die dramatiese slotinligting uitloop, sterker aangesny en onder die aandag gehou sou gewees het. Daar word wel enkele kere verwys na die vreemde atmosfeer en mistieke aanvoeling wat Henna by die ou opstal ervaar, maar dan is daar ’n groot deel van die teks waarin hierdie suggesties op die agtergrond raak. Narratief gesproke sou die basiese verhaallyn dus hier en daar opgehaal kon gewees het om die leser deur die boerderybeskrywings te dra, om as ’t ware die narratiewe tempo of energie te stimuleer, om die verhalende spanning te behou.

Maar omdat die briewe so sterk persoonlik en eg vertoon, is dit asof ek aangevoel het om nie te sterk literêre maatstawwe aan te lê nie, maar liewer die briewe te waardeer vir wat hulle is. Daar is die essayistiese en sprankelende styl in beskrywings en teenoormekaarplasings van mense en gebeure, en hoewel die verhalende gegewens verskuil is, onder meer omdat die ontvanger van die briewe veronderstel is om bepaalde aspekte van die agtergrond van die briefskrywer te ken, is dit wel daar, en as leser het ek dit dan ook gevind. Die briefskrywer ontdek trouens self met verloop van tyd haar eie geskiedenis en die leser deel in hierdie proses. Die subtiliteit van die beskikbaarstel van inligting in uiteenliggende briewe is ook meestal aantreklik en boeiend. En uiteindelik kristalliseer daar ’n aangrypende verhaallyn uit wat die leser dan terugskouend kan gebruik en op die briewe kan terugprojekteer. Daaruit kan die leser verstaan waar die huiweringe, die moed en dapperheid, die brooshede en verwarrings van die briefskrywer vandaan kom.

Briewe uit Brielshoop is ’n geslaagde briefroman, ongeag of die briewe aanvanklik as gewone briewe geskryf is of nie. Die seleksie en redigering van die briewe lei daartoe dat die teks uiteindelik ’n volwaardige briefroman is waaruit baie lesers veel vreugde sal put: uit elke brief se vindingryke styl en inhoud en uit die ontwikkeling van ’n verhaal in die geheel van die teks.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top