Poolshoogte is nie die eerste aanlyn skrywerskongres wat op LitNet aangebied is nie. Briewe deur die lug was heel eerste en het in 2000 op LitNet plaasgevind. Hier is ’n skakel na die kongres.
Dié omvangryke oorsig van die Afrikaanse letterkunde op daardie stadium is in boekvorm deur Tafelberg uitgee. Hieronder is Etienne van Heerden se inleiding wat in die gedrukte weergawe verskyn het.
Die LitNet-skrywersberaad, wat in die tweede semester van die jaar 2000 plaasvind, maak geskiedenis omdat dit in die kuberruim plaasvind en nie in 'n konferensiesaal nie.
Die breë spektrum Afrikaanse skrywers het in die voorafgaande jare 'n dekade lange beraadtradisie van die Afrikaanse Skrywersgilde laat vaar en selde bymekaargekom. Hierteenoor het die Afrikaanse Skrywersvereniging die afgelope tyd meermale ontmoet, terwyl baie skrywers wat in die verlede getroue beraadgangers was, hulle eenkant gehou het.
Die beraad vind simbolies op die eeuwending plaas, op 'n tydstip dat Afrikaanssprekendes hulle herposisioneer binne 'n nuwe millennium en eeu, en ook – in talle opsigte – 'n nuwe land.
Die berugte Boetman-debat woed in die maande voor en gedurende die beraad in die media. Dit is 'n tyd van gramskap en frustrasie oor hede en verlede. En in gesprekke oor die toekoms word gepraat oor die erkenning van Suid-Afrika se inheemse tale en oor die strategieë om taalverskeidenheid te erken en te stimuleer.
Swart Afrikaanse prosaskrywers tree nou sterk na vore – nadat die debat oor swart Afrikaanse skryfwerk in die jare tagtig van die vorige eeu dikwels die poësie as terrein geneem het.
Boonop kom die gesprek ná die boikotjare weer op dreef tussen Suid-Afrika en die Nederlandstalige taalgebied, wat nie net die Lae Lande nie, maar ook Indonesië, die Karibiese gebied en die Suriname betrek.
Die beraad moet verder gesien word teen die agtergrond van die naloop van die Waarheids-en-Versoeningskommissie, asook historici, skeppende skrywers en die media se verbete verkenning van die Tweede Vryheidsoorlog, wat rondom die eeuwending herdenk word.
Dit is ook 'n tyd van toenemende onrus oor die toekoms van uitgewerye en die boek in Suid-Afrika. Uitgewers verkeer in 'n toestand van onsekerheid en snoei terug aan personeel en publikasies, en 'n jonger generasie kyk toenemend na die internet en web as publikasieruimte.
Die beraad vind ook plaas in 'n tyd waarin baie Suid-Afrikaanse jongmense emigrasie oorweeg en jonger skrywers besin oor die krimpende beroepsmoontlikhede van 'n Afrikaanse leefwêreld teenoor die voordele daarvan om die pen in Engels op te neem.
Hierbenewens dreig grootskaalse afleggings personeel by IT-ondernemings wêreldwyd. Die voorafgaande IT-goudstormloop en ontnugterings wat daarna op aandelebeurse beleef word, veroorsaak dat die ruimte waarin die beraad as e-posium aanbied word, omstrede is.
Elektroniese bladlees-statistieke toon egter dat LitNet se verkeer tydens die beraad 'n besondere hoogtepunt bereik het, met besoekers van oor die hele wêreld.
Een-en-veertig referate word oor die loop van 'n aantal weke in die virtuele beraadsaal op LitNet aangebied. Die referate word vergesel van lewendige reaksies van die bywonende publiek in LitNet se brieweruimte, SêNet.
Terwyl die beraad nie die geselligheid en bekgevegte van 'n tradisionele skrywersberaad in Gordonsbaai, Paternoster of Broederstroom herdenk nie, skep dit as e-posium 'n unieke ruimte waar referate onder verskillende onderwerpe gelewer word.
Die onderwerp is met opset wyd en vaag gehou, en byna geen riglyne is aan referente gegee nie. Getrou aan die www as vrye ruimte is verbeelding vrye teuels gegee en het bydraers verskillende rigtings ingeslaan.
Hierdie boek is slegs 'n gedeeltelike neerslag van hierdie oop gesprek. Die LitNet-argief – veral die talle briewe op SêNet – spreek mee en behoort hiermee saam gelees te word.
Die verrigtinge het baie publisiteit in die gedrukte media ontlok, veral nadat skrywer MC Botha op SêNet 'n aanval op Breyten Breytenbach geloods het kort na laasgenoemde se openingsrede. Die venyn van die aanval het Breytenbach genoop om sy samewerking aan hierdie boekweergawe van die beraad te onttrek. Hy het ook daarna aangekondig dat hy hom aan die openbare gesprek in Suid-Afrika gaan onttrek – iets wat gelukkig nie heeltemal gerealiseer het nie.
Die gebeure het aanleiding gegee tot besinnings – op SêNet en elders – oor die aard van die opstand van Botha se generasie teen die politieke en kulturele vaders, maar ook oor die aard van gesprekvoering op die Web, waar deelnemers dikwels jaloers aandring op groter vryheid van spraak as wat die konvensionele media sou duld.
Die beraad is moontlik gemaak deur 'n stewige borgskap van André van der Walt se Taalsekretariaat. Die medewerking van M-Web word erken, asook die Universiteite van Kaapstad en Wes-Kaapland.
Die reëlingskomitee het bestaan uit Jakes Gerwel, Christa van Louw, Chris Brunette en ek self, wat as voorsitter opgetree het. Willem de Vries was beraadkoördineerder, terwyl Ettie Williams die taalversorging van referate en Izak de Vries die programmeerwerk behartig het.
Die titel van hierdie boek ('n aanhaling uit DJ Opperman se poësie) is voorgestel deur Tom Dreyer, en is as wenner deur LitNet se prysvraag gekies omdat dit die gelyktydige aanwesigheid van afstand en intimiteit in elektroniese kommunikasie weerspieël.
Getrou aan ons tyd, is Briewe deur die lug 'n boek wat meer vrae as antwoorde bring. Dit is as historiese dokument 'n neerslag van die sonderlinge energieë waarmee veral Afrikaanse skrywers op hierdie vasteland van ons boer.
Etienne van Heerden
Uitvoerende redakteur van LitNet
Titel: Briewe deur die lug - LitNet-skrywersberaad 2000
Byeengebring deur Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 0624040674
Kyk hier na Young Voices: The 2004 South African Online Writers' Conference.
Lees nog inligting omtrent Poolshoogte.