Xenofobie

  • 6

Die onlangse nuus waar die swart jeug in die townships Somaliër- en Indiërwinkels geplunder het, is skokkend.

Hierdie immigrante het met niks na hierdie land toe gekom, en binne ‘n japtrap ‘n ekonomiese standaard vir hulself geskep, ‘n standaard verhewe bo die van die plaaslike bevolking, met die gepaardgaande jaloesie onder sodanige bevolking omrede hulle oor honderde jare nie dieselfde vir hulself kon bemagtig het nie.

Hierdie immigrante het nie vir hulself gesê ek werk net vanaf 7 tot 5, vyf dae ‘n week nie, soos die vakbonde die kultuur van ledigheid onder die plaaslike bevolking aanhits nie. Nee. Hulle het lang ure 7 dae ‘n week gewerk om hulle inkomste op te stoot. Hulle glo in ‘n werksetiek, waarin produktiwiteit en inkomste hand in hand saamloop. Daar is nie by hulle die kultuur van vat, of te wil hê, of te verwag dat die regering vir hulle omtrent alles verniet op ‘n skinkbord moet gee nie. Nee hulle het die spreekwoordelike skouer aan die wiel gesit en hard gewerk vir wat hulle bekom het. En toe kom hierdie plunderaars soos ‘n sprinkaanpes in hulle getalle, en binne ure vernietig hulle die jarelange harde werk van hierdie mense!

Die slapgathouding van die regering laat ook vele te wense. Omrede die plunderaars onder ouderdom is, mag niks aan hulle gedoen word nie! Die ouers wat dienooreenkomstig aanspreeklik vir hulle kinders se optredes gearresteer behoort te word, word ook oor die hoof gesien. Die regering was meer ontsteld oor die ongelisensieerde wapens (‘n karige totaal van 12 gevind) onder hierdie mense, eerder as die skade aan hierdie immigrante deur die massas verrig. Een Somaliër wat sy besigheid probeer beskerm het, word nou vir moord aangehou. Waar was die polisie om hierdie mense beskerming te verleen? Pleks van pro-aktiewe optrede het die polisie reaktief opgetree.

Indirek het die swart massa hulself benadeel. Hierdie spasa-besighede van die immigrante bied goedere teen billike pryse aan die swart gemeenskap. Nou het hulle die ongerief met lang fstandvervoerkoste om benodighede teen duurder pryse aan te koop.

En wees verseker, hierdie immigrante sal weer van vooraf hulself van die as opbou, terwyl die bevolking wat hulle skade berokken het, steeds met hulle ellendige armoede sal bly sit.

  • 6

Kommentaar

  • Hoe onnosel wil 'n mens redeneer!

     Die Somaliër wat die jeugdige geskiet het, was onwettig in besit van 'n wapen. Lui dit dalk 'n klokkie? Moet ons dit nou gerieflikheidshalwe ignoreer?

     Hy het die redelike noodweer maatstaf oortree, nog 'n klokkie?

     Hy is hier omdat hy op valse voorwendsels (Politieke asiel, vir watter rede nogal?) SA ingekom het, klokkie drie!

     Kom ek verduidelik vinnig hoekom hulle so skielik suksesvolle besighede opbou wat oonskynlik floreer. (Dis nou benewens die smokkelsigarette, dwelms, gesteelde goedere en honderde vals RICA selfoon SIM kaarte.)

    Hy verkoop kos op skuld, want hy mag nie mikrolenings teen sulke hemelhoë rentekoerse (tussen 30-50%/maand) toestaan nie.

     Hulle (buitelanders) almal teer op die armstes van armes wat op maatskaplike toelaes oorleef.

     Binne drie maande moet daardie arm persoon by die buitelander koop want hy is baie diep in die skuld. Binne minder as 'n jaar is hulle so diep in die skuld, dat hulle nooit weer daaruit sal kom nie.

     Dan begin fase twee van die buitelander se edele motiewe, hulle oortuig die skuldenaar om sy dogter te gebruik om sy skuld af te los deur haar in huwelik te laat tree met 'n nuwe Somaliër, wat die siklus van voor af begin.

     Dit is die rede vir die vreemdelinge haat, want hoewel baie arm, is die meeste mense nie so onnosel dat hulle nie agterkom hulle word net maar slawe van 'n ander aard nie.

    Gaan kyk maar hoe word daar met mense geboer in die krot buurte waar hierdie buitelanders vandaan kom, Indië, Pakistan, Bangladesh en Somalië en verskeie ander ook.

  • Mike Visagie

    Lyk my jy dra vele klokkies saam met jou, soortgelyk wat 'n hanswors doen, een in die puntige pet, om die arms en enkels.  Tyd dat jy jou kleredrag verwissel vir sobere drag.

    Lyk my ook, alles sou vir jou OK gewees het was sy vuurwapen gelisensieer gewees.  Die kanse vir 'n Somaliër om 'n vuurwapenlisensie te bekom is 'n ronde NUL.  Intussen moet hy die vele aanslae gemoedsrus gedweë aanvaar, terwyl die polisie werklik niks pro-aktiefs in belang van hulle beskerming doen nie.  Die Zimbabwiërs wat nie soortgelyke entrepreneuriële bedreiging vir die plaaslike swartes was nie, het onlangs soortgelyke xenofobiese aanslag ondervind, of het al jou klokkies vergeet om te lui?!

     Mbt die verkoop van onwettige goedere en skuldverlening is die Somaliërs nie alleen skuldig daaraan nie, plaaslike swart spazas ook.  Gevestigde en wettige besighede oa is ek van bewus wat dit ook doen. Solank die staat nie die vermoë of wil het om besighede (wettig en onwettig) te monitor nie, of om korruptiewe omkoopgeld te aanvaar nie, gaan daar kanse gevat word.  Die staat dra dus die grootste skuld in die saak.

    Mbt jou ander beskuldigings teenoor die Somaliërs, solank jy nie bronne van feitlike inligting kan staaf nie, wat jy hierbo glad nie gedoen het nie, bly dit veralgemenings aan jou kant wat ook erge bevooroordeling teenoor die Somaliërs in jou persona aandui.  In die swartes se geval word soortgelyke bevooroordeling xenofobie genoem. Geld dit vir blankes ook?

    FEITLIK:  Die motiewe vir die aanslae was geensins vir enige van die redes wat jy hierbo verskaf het nie.  Dit was suiwer kriminele plundery wat jy met jou stilswye daaromtrent blykbaar goedgekeur het, net soos die premier van Gauteng wat meer begaan was oor die 12 ongelisensieerde wapens as om enige poging aan te wend om die skuldige jeugdiges vas te vat.

    Kry jou prioriteite reg maat!

  • So,

     die "kriminele" het 'n voorkeur vir wie hulle gaan beroof ...

    Uiters patrioties.

    Hulle roof net buitelanders.

     Raed-na-Gael.

     

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top