Wie moet nou regtig vir die Bokke speel?

  • 0

DagsêNet

As ek nou terugdink aan my vroegste onthou van rugby hoor ek die Bats Vat hom Dawie sing. In daai jare het ’n span nie uit amper 30 spelers bestaan nie. Daar was 15 en twee reserwes. Wat net opgegaan het as iemand seer gekry het.

Vir ’n hele paar jaar het die kern 15 dieselfde gebly. Dawie de Villiers was kaptein. Daar was Mof Myburgh, Gys Pitzer, Hannes Marais, Frik du Preez, Tiny Neethling, Jan Ellis, Piet Greyling, Tommie Bedford, Piet Visagie, Mannetjies Roux, John Gainsford, Gert Muller, Syd Nomis en HO de Villiers. Dis my Springbokspan wat ek onthou.

En natuurlik Gerhard Viviers: “En daar gaat hy! Syddie, Syddie, Syddie! En hy het hom!!”

Jy het geweet wie is die manne in die groen-en-goud. En jy het weke lank uitgesien na ’n toets. Want daar was net ’n paar elke jaar. Vir ’n hele week voor die toets was die Vaderland, Transvaler, Burger en Oggenblad tjokvol toetspraatjies. Die Britse Leeus kom toer hier en speel vier toetse; die Bokke toer Nieu-Seeland toe en speel vier. Dis die kwota vir die jaar. Net voor die eerste toets het jy die amptelike foto in die middel van die Huisgenoot gekry. Die voorste manne sit op skoolstoele met hulle toetsklere aan; tokse gekruis. Arms spiersterk gevou. Heel voor in die middel sit Dawie de Villiers, kaptein. By sy voete is die Super Springbok-rugbybal.

Deesdae speel die manne hulself aan flarde vir min of meer 10 maande van die jaar. Dis Superugby wat nou eers onderbreek gaan word vir ’n vinnige klompie toetse. Dan weer Superugby. Dan Drie-nasies wat nou vier is. Gelukkig is die Wêreldbeker eers volgende jaar. G’n wonder die Bokgroep bestaan uit 36 spelers nie.

Ek weet rugby is nou ’n professionele sport en in die goeie ou dae was dit nie, maar ek wonder soms oor lojaliteit teenoor ’n mens se land. Dis fantasties dat ouens nou in Japan, Frankryk en wie weet waar kan gaan speel en in euro betaal word. En goed betaal word. Rugby speel is maar ’n relatiewe kort loopbaan. So ongeveer vyftien jaar. Dan moet jy ’n afrigter of kommentator of ontleder van die spel word.

Is dit regverdig dat die manne wat oorsee speel verkiesbaar moet wees vir die Springbokke? Moet die Springbokke nie gekies word uit spelers wat hier speel nie?

Groetnis

Webvoet

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top