Ek ontvang vanoggend ’n e-pos vanaf ’n vriendin wat vanmiddag by die weeshuis gaan bedien. Daar is baie kinders wat agter tralies daar sit. My hart gaan uit, want dit is binnekort Kersfees vir hulle ook.
Ekself is opgewonde oor my Kersfees. Mis in die berge, familie en vriende om my. Groot eet en die stilte van rus van jou werke. Die jaar was rof.
Rus ons werklik van ons werke? Ek het hierdie vriendin van my gevra om foto’s te neem van die opset, want ek wil haar graag help om haar begeerte van 30 bybels aan te koop wat sy graag daar wil versprei, waar te maak. Ons moet egter professionele bewyse kan voorlê.
Maar ek doen ’n dom ding in my e-pos terug aan haar. Eers vertel ek haar hoe ons gaan rus en uiteindelik kan saamkuier. Alleen. Nie meer oor e-posse heen. Ek brand om persoonlik oor ’n koppie tee met haar te kuier. Want naweke trek ek daardie kant toe met ’n vliegtuig, en sy ander kant toe na die sendingveld.
Ek doen egter ’n simpel voorstel aan haar: “Dink jy nie ons moet maar van die weeskindertjies Kersfees uitneem vir die dag nie. Gaan kyk maar vandag wat is die opset.”
Ag nee, is ek mal? Ek wil dan gaan rus van my werke. Vir self tyd hê. Alleen verkeer met die Koning, tussen stilte en bergpieke heen. Myself vind. Die wind en reën op my wange voel. Kaalvoet in die rooi moddergrond teen die krans afklim na die watervalletjies. Ek droom al daaroor ...
Baie van ons voel so. Kannie wag vir die vakansie. Kersfees lê voor ons, maar ook die skrif van: “Ek was honger, en julle het my iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir my klere gegee... Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” Matt 25:34-40.
Wow! Wat beteken dit alles? Help ek iemand uit nood uit, doen ek dit eintlik aan God. Dit is maklik om verhard en gevoelloos te word en die mense te vermy of nie meer raak te sien, want die nood is so oorweldigend. Voel amper immuun teen die gesig van iemand wat ’n winkeltrollie vol ou komberse en plastieksakke stoot, of in systrate soos bondels opdrifsels lê.
Daar is geen groter geluk as om die geluk wat jy vir ander geskep het, te geniet nie.
Trienie Mahne

