Wat is 'n kind?

  • 0

'n Kind voor puberteit is nog nie 'n mens nie, hy is iets anders. Hy is iets soos die nimf van 'n naaldekoker wat nog moet ontwikkel, of 'n jeugdige godjie wat in die natuurstaat rondwaal. Sy brein is nog vars, ondersoekend, ontdekkend. Hy leer nog.

Maar wee hom en die mensdom as die boosheid in hom begin wortel skiet - die kwade wat hy aanleer by volwassenes. Wee die ganse mensdom weens al die kwaad in die wêreld, alles afkomstig van die mens self.

Ek self glo die seksdrang is die beginpunt van amper alle kwaad by die mens. Jaloesie, haat, woede begin alles daar, ook geweld om bevrediging op te eis. Natuurlik is daar ander drifte en drange ook wat lei tot stryd, soos honger en dors en hebsug, maar onder die legio oorsake is seks sekerlik die sterkste.

Maar ek dwaal van die punt af, ek wil skryf oor kinders. Vat nou maar 'n baba. Hy is soos 'n vars botsel in die lente, sag en teer, 'n bondeltjie wat saggies hanteer moet word, want dit kan maklik breek. 'n Jong boompie wat in die winter sy blare verloor, kry vars nuwe blaartjies in die lente. Die blare word groot en sterk en bedek later die hele kruin van die boom. Die bloeisels kom uit, vruggies ontwikkel en swel totdat dit ryp is en geoes kan word. Dan, geleidelik, verander die seisoene weer en in die herfs begin die blare afval, totdat die takke kaal is in die winter. So gaan dit, seisoen na seisoen, siklus na siklus.

Só kan dit met die mens ook gaan - dat hy bot, ontwikkel en vrug dra, totdat hy stadig afsterwe.

Maar dit gaan nie altyd so nie. Die kwade in die mens tree tussenbeide en versteur die siklus. Nou onlangs is 'n driejarige dogtertjie wreed met 'n mes vermoor. Haar klein lyfie is negentig keer gesteek, haar liggaam en kleertjies was bloedbevlek. 'n Vierjarige seuntjie is onderstebo agter 'n motor aangesleep deur kapers. So is hy toe op afskuwelike manier dood.

So is die mens dan. Die eens onskuldige kind kan in 'n wrede monster verander.

Groete,

Tiens

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top