Die ander dag môre streel my geliefde sagkens my ego toe sy grappenderwys na my as ’n askeet verwys. Aanvanklik het ek niks daarvan gedink nie, bloot omdat ek eers wou seker maak dat ek die betekenis van die woord verstaan. Na die oplees hier en daar om behoorlik ’n greep op die waarde in die woord te vind, is dit toe eintlik merkwaardig hoe ontsettend baie naby aan reg sy onbewustelik was ...
“Die askeet probeer die wil ontsnap deur die wilsbesluit om op te hou wil. Dis die onttrekking van die persoon uit die sinlike en geïntegreerde bestaan in ’n poging om mag oor die self te bekom. Die liggaamlike simboliseer die verganklike; die grond van die aardse wil. Die abstrakte, verhewe wil van die gees, die spirituele komponent van die mens, moet die meer primitiewe en dierlike wil tem tot die suiwer geestelike vereistes. Mense soos Leo Tolstoy, Mahatma Ghandi, Carl Jung, die Budha of Ludwig Wittgenstein skets vir ons ’n ideaal van spirituele waardes, indiwidueel bemagtig; ’n versameling van geestelike indiwidue wat die minimum wisselwerking met die aardse komponent probeer bewerkstellig. Grootse isolasie. Asketisme is die poging om die leemte van betekenislose leiding te vul deur die skuld vir ons leiding op onsself te plaas. So word ons leiding ( lees eerder lyding ) verstaan as ons verdiende straf vir al ons sondes. Dit verskaf sin aan ons leiding.” *1
Juis vanweë die verandering, die verlaat en die verwydering van my doen en late en wees, verlang ek nie na die lewe wat voorheen belangrik was nie. Hier is nou geen meer gemis nie. Ek mis nie meer die samesyn van vriendskappe en verhoudinge wat eintlik nooit werklik bestaan het nie, ook nie die goedkeuring en agting van mense wat dit ieder geval nooit gedeel het nie.
Ek mis my Oupa wel. En Elvis.
Titel: Dis wie ek is – wat ek sal mis wanneer dit nie meer daar is ...
Hennie Fritz
Oorspronklik gepubliseer: 22 Sep 2011
Ek woon in ‘n stad met vreemde mense
hul praat met my oor sake, oor geld, geboue en oor grond.
Ek luister na musiek: rock, klavier en Jan Blohm,
daar’s baie meer en ander wat ek soms vergeet.
Die musiek open my emosie, woel met krag, en laat my seer beleef,
ek luister na digters, lewendes en die dooies op RSG wat my leer.
Ek verstaan: volharding, geloof, en trots.
My kennis sal geen filosoof se voetspoor kan vul –
maar soms het ek gedagtes om te deel; ‘n geskenk van God.
Ek hou van lang wandelinge in die strate van my gees
en verstar te kyk na my mede-skepsels, lewend, ryk en arm
hul woede, begeertes, liefde, gebrek en leegheid.
Ek hou van bome, die takke en die herfsblare se uitdrukking
die eenvoud, net 'n vaalgroen, ongesmukte volmaaktheid.
Ek is nie meer jonk nie, maar iewers is iemand anders altyd ouer.
Ek hou van diep slaap, om betyds op te staan,
om vroegoggend die dagdinge te doen voor die energie taan,
of soos vars blomme verwelk op sonnige dae.
Ek hou van blomme in die grond, nie in ‘n pot
en om te leef saam met die seisoene en nie te kla.
Ek kyk graag na my vrou se gesig en my seuns wanneer hul slaap.
Ek geniet aande se ontmoet saam met my gesin,
goeie gesels en koue wyn, soms gereeld, soms te veel.
Ek is nie werklik 'n kind van die see nie,
ek hou van sy rotse, sy branders, sy reuk en sy magdom.
Ek weet wie ek is; hoekom ek is; waar ek is
waarin ek glo en waarom.
*1 Met erkenning aan Jacques de Villiers, WOES


Kommentaar
Gesprek tussen dokter en sy dertig jaar oue asketiese pasiënt.