Die droom was eintlik ’n nagmerrie. Maar my siel het vredevol wakker geword sodat my gees vir ’n paar minute nog die hef in die hand het. Ek het die wakkerwording uitgerek, want tydens sluimering kom die gesig skielik. As ’n bevestiging. (Job 33:15)
Eintlik wou ek nie wakker word nie. Wou nog vir oulaas die droom proe. Sien weer hoe ek die skerp klip optel en die kop van die man aan die agterkant oopkloof. Heftig kap en kap en kap. Seker maak hy is dood. Snaaks, dink ek agterna, daar was geen bloed nie.
My siel raak vol toe die uitleg kom. Ek is nie ’n geweldadige mens nie. Nog minder moordenares. Weet wat die simboliese betekenis van die donkerkleurige man verteenwoordig. Simbole is die taal van die gees. ’n Taal wat enige ernstige skrifinterpreteerder behoort te ken. Aangesien die bybel uit meer as 50% simboliek bestaan.
Daar was twee aanvallers. Die ander een minder van ’n bedreiging. Asof net in die agtergrond. Twee spreek van verdeeldheid. (1 Kon 3:25) Die verborge wysheid van die droomuitleg was daar.
As ons geloof gebaseer is op hoe ander die Bybel interpreteer, is dit sinneloos. As mense aanhou om hulle sienings aan te pas namate die tye verander, gaan ons binnekort in ’n wettelose wêreld lewe. Wat is die sin daarin as ons nie letterlik in die Bybel glo nie.
Bedrieglike redenasies weerhou dat daar nie by die kern van die saak uitgekom word nie. God is liefde, maar haat die sonde. Dit is nie ingewikkeld nie. Benodig nie ingewikkelde redenasies en kommentare nie. Die wêreld is tans in ’n sonde-vervloekte gevalle staat, ons gaan almal sterf en daar is niks wat ons kan doen om onsself te red nie.
Is God liefde? Ja – beslis. Haat God sonde? Ja – beslis. Is die Woord duidelik omtrent WAT sonde is? Ja – beslis.
Ons moet ons naaste ‘liefhê’ deur hulle die waarheid van die Skepping te vertel.
Trienie Mahne


Kommentaar
Beste Trienie,
Ons moet ons naaste ‘liefhê’ deur hulle die waarheid van die Skepping te vertel - staan genadiglik nie in die Bybel nie ... die grootste stryd wat enige narsis het, lees as volg: En een van hulle, 'n wetgeleerde, het 'n vraag gestel om Hom te versoek en gesê: Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (uit Mattheüs 22) ... die vrug van die Heilige Gees is dus om jou naaste lief te hê (sonder aanhalings tekens) soos jy jouself lief het - wil jy die teiken wees van iemand wat gedurig "die waarheid van die Skepping" aan jou dweep? ... dieselfde Trienie Mahne, het ook reeds elders die seën van Kobus de Klerk ontvang vir haar verdraaiing omtrent die siel van die mens en dier in die Bybel ... Cornelius Henn
Henn
Gewoonlik ignoreer ek jou, terwille van vrede, maar vanoggend voel ek lus om jou terug te antwoord. Jy is reg, die stelling "Ons moet ons naaste 'liefhê' deur hulle die waarheid van die Skepping te vertel" staan nie woord vir woord so in die Bybel nie. Miskien moes ek eerder geskryf het: "Ons moet ons naaste liefhê deur hulle die waarheid omtrent die liefde te vertel soos vervat in Genesis tot Openbaring" Jammer dus as jy dink dit was 'n aangehaalde skrifgedeelte.
Jou gedeeltes aangehaal uit Matt 22 is so mooi, dat ek sommer vir jou respekte wil kry. My gees getuig saam die Woord en respekteer ek dit so, dat ek niks wil byvoeg om die oomblik te ontsuur.
Jy sê: "die vrug van die Heilige Gees is om jou naaste lief te hê" Iets pla my met jou stelling. Moet dit nie volgens skrif net gestel word as: die "vrug van die Gees (en die werke van die vlees) nie"? Gal 5:16 , as jy die woord 'Heilige' by Gees byvoeg verwys dit na die Persoon van die Heilige Gees, nie die Gees van God nie. Is daar dus vir die katolieke nie 'n verskil tussen: Die Heilige Gees, die Gees van God, die gees van die mens nie?.
Ek gee ruimte, om te sê die vrug van die Heilige Gees is om jou naaste lief te hê? Mind you - ek sien dit nie as heeltemal verkeerd nie. Want die Heilige Gees is lief vir mense, menslik kan dit so gestel of gesien word.
Wat diere betref, ek glo dat 'n dier 'n siel het. Jammer as ek iewers nie korrek oorgekom het, of het jy te haastig gelees? Die siel se funksie is wil, emosie en verstand. 'n Dier het 'n wil, kan emosie toon en het verstand. Maar het nie 'n gees nie. Hulle kannie spontaan opreg 'n God loof en prys soos die mens wat dit vanuit hul eie gees doen of met God as Gees kommunikeer nie.
Ek is baie lief vir diere. Hulle is my passie en het ek groot respek vir hulle. Van klein tot groot. Inteendeel, hulle vertel my van die grootheid van God en sy alomteenwoordige liefde.
Henn, ek hoop nie ek gaan agterna spyt wees dat ek jou probeer terug antwoord het nie. Ek sien ook maar nog ten dele, ken ook maar hier op aarde nog ten dele. Probeer 'n leerbare gees handhaaf.
Antwoord my dus asb terug met ten minste 'staysoft' iewers. Ek verseker jou, ek is nie jou vyand nie. Ons ken en weet wie werklik ons vyand is. Oorgenoeg gesê.
Trienie
(Perdebytjie, sodra ek tyd kry antwoord ek jou terug...)