Vir Jaco: “’n Stembrief”

  • 17

Op 10 Maart skryf Jaco Fourie dat hy nie weer vir die DA in die komende verkiesing gaan stem nie. Kortliks noem hy drie goed waarmee hy ontevrede is: Die DA se standpunte oor SEB en grondeise en die feit dat Afrikaners blykbaar nie meer welkom in die DA is nie. Hy gaan dus vir die VF+ stem in die hoop dat hierdie party meer setels in die parlement kry en die “…Mulderfamilie uit die kussings gelig kan word om sodoende ‘n meer dinamiese party tot stand te bring wat vir alle minderhede in die land standpunt sal inneem.”

Ek wil graag hierop reageer en dalk kan ons oor die kwessies debatteer. Myns insiens moet ‘n mens die realiteite van SA in ag neem voordat jy jou kruisie trek op stemdag. Wat is hierdie realiteite?

Eerstens: Die ANC regeer, behalwe vir die Wes-Kaap en Kaapstad, tans met groot meerderhede in al die provinsies en metropole en natuurlik nasionaal. Oral vaar hulle beroerd. In plaas daarvan om die land te bestuur tot voordeel van sy mense, gaan dit in meeste gevalle slegs om selfverryking en magsbehoud. Wie is vandag bo-aan die ANC kandidatelys? Zuma-lojaliste, sommige tans aangeklaagdes in korrupsiehofsake.

Tweedens: Die politieke landskap in Suid-Afrika het onherroeplik en vir altyd verander. Minderheidspolitiek het sy relevansie verloor, of ons dit wil weet of nie. Dis die realiteit.

Derdens: Politieke mag en stemgetalle om te kan regeer gaan op die meeste plekke in SA oor net een ding: Swart steun. Dis ook realiteit. Wit politiek soos ons dit in die “goeie ou dae” geken het is verby, dis kapoet.

Vierdens: Konserwatiewe / Regse Afrikanerpolitiek het só by die nate losgetorring, dit sal nooit weer hoegenaamd ‘n faktor word op die groter Suid-Afrikaanse politieke toneel nie. Dis ook realiteit. Gaan kyk gerus wat tans in hierdie kringe gebeur. Daar’s die volkstaters van Orania, Front Nasionaal, die VF +, Praag en wat nog. Gaan kyk hoe beswadder en besmeer hulle mekaar. Die een kan die ander nie voor die oë verdra nie. Boonop het hierdie mense alle sin vir realpolitik in SA verloor. As al wat jy kan doen vloek en skel van die kantlyn af is, neem niemand jou later ernstig op nie.

Vyfdens: Die Wes-Kaap en die stad Kaapstad word deur die DA regeer. Alles is funksioneel, die plek is silwerskoon en netjies en besoekers hier sê dit hardop dat die Wes-Kaap / Kaapstad geheel en al uitstaan bo die res van SA. Nie foutloos nie, maar die plek werk en as die waterpype bars word dit gou herstel.

Ons moet binnekort stem. Ek meen dis veilig om te sê dat daar eenstemmigheid buite ANC-kringe is wat glo dat dit in landsbelang is om die ANC-meerderheid drasties in te kort. Dit sal die boodskap stuur dat hulle uit die kussings gelig sal word as hulle nie in belang van die kiesers optree nie. Dink net die DA wen Gauteng in die komende verkiesing en skielik is daar twee provinsies wat ordentlik bestuur word.

Om terug te kom na Jaco se ontevredenheid met die DA: Gegewe die realiteit van die Suid-Afrikaanse politieke landskap, móét die DA beduidend groter swart steun inpalm. Om dit reg te kry kan die DA nie anders nie as om te fokus op SEB en Grondrestitusie. My gevoel is gewoon dat ek baie gemakliker sal wees as ‘n DA-regering die goed bestuur as wanneer die ANC in beheer is. Tans sloer die ANC al vyftien jaar met grondeise wat nog nie afgehandel is nie! Om soos ‘n volstruis kop-in-die sand te ontken dat grondrestitusie gaan plaasvind, is om weg te hol van die werklikheid. Dieselfde geld vir SEB. So gee dit ten minste vir bekwame hande om dit te hanteer.

Jaco, jou versugting dat die VF+ beduidend meer stemme gaan trek, is ek bevrees, gaan nie gebeur nie. Die Mulders het nou met hul verkiesingsmanifes hul regse steunbasis só kwaadgemaak dat hulle waarskynlik nog steun gaan verloor. “Afrikaner-selfbeskikking” by die VF+, is daarmee heen, sê die Regses. Verder is dit tog so dat die VF+ eintlik maar die Mulders is. Hul steun is sekerlik gebaseer op die “Mulder-konserwatisme-beeld” wat oor jare opgebou is.

My punt is dus: Suid-Afrikaanse werklikheidspolitiek is nie vir sissies nie. Die ANC moet ordentlik geopponeer word en goed skrikgemaak word by die stembus. Die DA lyk vir my tans na die enigste (nie sonder foute nie!) opsie.

Dirk Rigter

  • 17

Kommentaar

  • Dirk

    My uitgangspunt was, is en sal altyd bly, ek is eerstens 'n Afrikaner demokraat, dan Suid-Afrikaner.  Waar my mense, taal en kultuur bedreig word, gaan en sal ek nie gedwee terugsit en die sogenaamde onvermydelik aanvaar nie.  Terwyl ons konstitusie op gelyke regte en geleenthede vir almal in hierdie land, Afrikaners inkluis, voorsiening voor maak, en die moontlikheid bestaan dienooreenkomstig dat vir daardie regte gestry kan word, sal ek pogings wat aangewend word om sodanige regte te bewerkstellig, ondersteun.

    Huidig word daar deur die ANC asook al die partye (die DA inkluis) in die parlement, behalwe vir die VF+ goedkeuring verleen dat daar teen blankes, bruin mense en asiate, diskriminasie toegepas mag word in die vorm van onregverdige restellende aksies.  In die Kaap waar die demografie 60% bruin is, wil die ANC nasionale persentasies daar ook toepas.  As gevolg van hierdie optrede is ek nou outomaties 'n tweede klas landsburger wat teenstrydig met die gees van ons konstitusie is.

    Die "realpolitik" van hierdie land is dat die DA nie die Weskaap en moontlik vir Gauteng alleen in eie reg sal kan regeer, sonder koalisie met ander opposisie partye nie. Die feit dat daar huidig grootskaalse grootkoppe vanaf die DA na die ANC oorstap, is 'n aanduiding dat sodanige mense onseker is vir die DA se kanse in die komende verkiesing, wat die DA al hoe meer sal noodsaak om op koalisie regering te steun om mag te bekom en of mag te kan behou.

    Ek is en was nooit gekant teen groter selfs oorgrote swart meerderheid in die DA nie, net gekant daarteen dat die DA vanaf sy oorspronklike rigting, koers na die ANC verander het, en boonop die belediging, nie vir die eerste keer (voorheen van Athol en nou Mazibuko), moet aanhoor dat Afrikaners se ondersteuning vir die party uitgedien is, en  ook gese hulle kan maar die pad vat!!!

    'n Veralgemening aan jou kant dat Afrikaners, nieteenstaande hierdie beledigings, steeds in die volgende verkiesing grootskaals DA gaan stem, mag waar wees, maar ons sal eers na die verkiesing verseker weet. My keuses word gemaak op waardes wat ek vir myself gestel het, wat definitief nie ongelykheid insluit nie, en ek gaan beslis nie met die stroom net omdat dit die inding is om te doen nie. Ek is in elk geval oortuig in myself dat daar 'n aansienlike aantal vorige DA Afrikaners is wat soos ek gaan optree.

    Verdere "realpolik" is dat S.A. politiek het te doen met veelvoudige politieke partye.  Nie soos in die ou bedeling of soos Britanje en die VSA waar daar twee, hoogtens vier politieke partye is nie.  Sodra die ANC onder 50% ondersteuning het, sal die toekoms op koalisieregering geskied, aangesien geen politieke party in eie reg dit sal regkry om 'n +50% meerderheid te kan bekom nie.

    Verdere "realpolitik", indien die VF+ genoegsame ondersteuning kan kry dat dit nie meer 'n marginale party is nie, al het hy net 10% van die setels, word hy 'n gerekende faktor in die politiek.  As deel van 'n koalisie regering, kan en sal hy nie meer geheel en al ge-ignoreer kan word nie.  Hoe kleiner die marginale regering in verhouding teenoor die opposisie, soveel te meer word die VF+ as koalisie vennoot magtiger.

  • Ja, so sê al die DA's. Presies hoe hulle redeneer. Vir my is dit belangrik dat die Afrikaners moet saamstaan, sodat ons weer soos 'n volk kan voel, die volk wat ons is.

    Varkspek

  • CorneliusHenn

    Goeiedag.  

    Ek hoop dat die werf se Siamese tweeling Dirk Rigter Jaco Fourie nou uiteindelik finaal en suksesvol geskei is.  

    Dis baie duidelik dat Dirk Rigter nie 'n benul het hoe die kiesstelsel in ons piesang demokrasie werk nie.  

    Die "op gangery" (soos half in Ingels gestel maar met geheel die Ingelse manier van doen) agter antie Zille se Afrikanerhaat organisasie die DA, is 'n ou breinspoel foefie wat ek werklik hoop met hierdie verkiesing finaal begrawe sal word.  

    Dirk Rigter se politieke dwepery laat my onteenseglik aan die Britse dame Gemma Worrall se sensasionele twiet onlangs dink; "why is our president Barraco Barner getting involved with Russia, scary."  

    Die liewe, dog naiewe Gemma, was egter heel wys agterna met: @gemworrallx Sorry but I don't fancy going on the radio to talk about how thick I am, my dad will kill me.  

    Dirk Rigter borrel egter sy napraat gedagtes hier op die Internet oor asof hy regtig so slim is en om dit alles sommer SELF te gedink het!  

    Siestog ... sulke gefopte bravade ...

    Ja, dis maar die algemene probleem met geïndoktrineerde napraters soos Dirk Rigter.  

    Voeg die feit by dat Dirk Rigter ook groot behae daarin het om enige opposisie se standpunte kwaadwillig te verdraai, asook sy oordrewe skuld aan Apartheid waarby hy met oorgawe gedurig onskuldige blanke Afrikaners probeer bysleep, dan verg net dit 'n dwaas met desperate selfmoordneigings om agter die DA dweper aan te stem.  

    Geharde kommuniste verwys nie verniet nog altyd na die Dirk Rigter tipe nuwe/neo liberaliste as "usefull idiots" nie.  

    Ek wonder of Dirk Rigter ooit weet wie Alex Boraine is, en waarom Alex deesdae in die nuus is? 

    Wel, daar was nog altyd die handvol konserwatiewes en regses wat teen die Dirk Rigters' en Alex Boraines' se drek gewaarsku het.  

    Vandag sit ons op die rand van 'n mislukte staat danksy die hierdie nuwe/neo soort radikale en fundamentele soort oorlogshond liberales se propaganda en mag in die massa media.  

    Boeregroete,  

    Cornelius Henn

  • Jaco,

    Eerstens: Jy maak die punt dat regstellende aksie diskriminerend is. Heeltemal reg. Punt is, dis met ons of ons daarvan hou of nie. En dit gaan nie soos mis voor die son verdwyn nie. Om die waarheid te sê, dit gaan glad nie verdwyn nie. Finish en klaar. My betoog is dat die DA, met groter stemgetalle dit beter sal kan bestuur en ten minste kan toesien dat bekwamer mense en nie “kaders” in posisies aangestel word waar hul totaal uit hul diepte is nie.

    Tweedens: Die DA sal die Wes-Kaap met ‘n nóg groter meerderheid na die verkiesing regeer. Dis waarop alle peilings dui. Wat Gauteng betref, ja miskien is ‘n DA koalisie met ander partye ‘n moontlikheid. Onthou egter: Die regse / konserwatiewe stem is erg verdeeld. Die stelsel van proporsionele verteenwoordiging vereis uiteraard ‘n blokstem van die mense om impak te maak. Dit gaan nie in Gauteng gebeur nie. ‘n DA meerderheid sal ideaal wees.

    Derdens: Veelvuldige partye is aan die verdwyn in SA. Kyk maar na die dalende steun van die PAC, Azapo, OD, IVP, ens. Weet jy wat is die toekoms van die partypolitiek in SA? Dis die ANC, die DA, dalk die EFF, en Numsa wat tans wegbreek van Cosatu en besig is met die stigting van ‘n werkersparty wat in die toekoms ‘n groot impak kan hê. Daar’s reeds sprake dat ander vakbonde hierdie (ons grootste vakbond) gaan volg.

    Vierdens: Jou hoop op die VF plus om 10% van die setels in die parlement te kry, is ‘n hersenskim, ‘n illusie wat nooit sal gebeur nie. Van die 400 setels in die parlement het die VF plus in die afgelope 3 verkiesings elke keer net 4 gekry. Hoe dink jy, met die verdeelde Afrikaner konserwatiewe stem gaan hulle hierdie keer meer setels inpalm? Dan Roodt en sy trawante gaan hulle séérmaak by die (karige konserwatiewe) stembus. Ek herhaal my standpunt: Die VF plus staan slegs op Mulder-bene, dis die genetika van die party. Dr Corné Mulder se aanvaarding van die adjunk-ministerskap was ‘n strategiese fout. Dit gaan hom inhaal by die stembus.

    Varkspek,

    Die dae dat die “Afrikaners soos die volk wat hulle is” saamstaan is stroom-af, dis verby, dis geskiedenis, dit sal nooit weer wees soos in 1948 nie. Jy glo my nie? Kyk na die VF plus se stemtotaal die afgelope 3 verkiesings. Vier setels…

    Kerneels Henn,

    Ek het eintlik besluit om nie meer op jou gebrabbel te reageer nie. Jy lewer nooit enige konstruktiewe bydrae tot enigiets nie. (Terloops, is dit nie interessant dat jy en K de Klerk net soos die Regses is nie – ewe konserwatief gelowig, maar hel, julle sal mekaar uitwis, had julle maar die geleentheid.)

    Nietemin, net die volgende aan jou gerig:
    Een: Jy antwoord nooit op debatspunte nie, nooit!
    Twee: Jy skryf onsamehangend en onverstaanbare sinsnedes.

    Drie: Enige persoon wat aan die politieke debat in SA wil deelneem en die volgende onsinnigheid kwytraak, moet self-sensorskap toepas:
    “…word bedorwe stemme nie ook proporsioneel verdeel en dan ook uiteindelik die wenparty bevoordeel nie? ... ek is glad nie so seker oor bedorwe stemme nie en glo dit kan eweneens saam met wegblyers by implikasie as 'n stem vir die ANC gereken word …is daar iemand wat dit miskien aan die hand van 'n gesaghebbende verklaring kan verduidelik? ...”

    Het iemand al ooit sulke nonsens gehoor? Bedorwe stembriewe gaan vullisdrom toe mnr Henn. Klim terug op jou stellasie en kekkel daar verder. Jy is ook ‘n politieke-analfabeet.

  • CorneliusHenn

    Nog iets vir die Dirk Rigter Afrikanerhaat DA dwepers -  Bekkersdal is beslis nie 'n "Zille-gril" nie - dis Juju se rooikappie EFF opposisie brigade wat deesdae die berugte ZumaZille-monster troef ... http://citizen.co.za/143670/bekkersdal-mayhem/ ... dus, om nog steeds te lieg dat Afrikaners se stem in ENIGE organisasie hoegenaamd behalwe dit wat PRO-AFRIKAANS is gaan tel, is gek!!!! ... (Jaco, vrede vir jou - ek is nederig dankbaar vir jou moed en oortuiging) ... Dirk Rigter, jou drek is dus heel gepas as jy eerlik was om eerder jou kruisie agter Juju as die "ware opposisie" te maak ...

  • CorneliusHenn

    Ongelooflik Dirk Rigter ...

    Jy blerts: "Bedorwe stembriewe gaan vullisdrom toe mnr Henn. Klim terug op jou stellasie en kekkel daar verder. Jy is ook ‘n politieke-analfabeet."

    ... vullisdrom toe? ... soos in tel niks nie?

    Dirk Rigter, lees gerus deur hierdie blad: http://inkulufreeheid.org/ovov/not_voting.php

    Ek haal aan: What spoilt votes do not affect is the seats in the National Assembly – they are simply divided up between the valid votes.

    Nou ja,as enigeen al ooit getwyfel het oor ou slim Dirk Rigter se "insig", dan kan hul na dese maar seker wees hoekom die arme mens so sukkel om my bydraes te verstaan. Dis regtig soos om te probeer om Calculus vir 'n graad nul leerder te verduidelik. Dis net dat Dirk Rigter nie so onskuldig is nie en in sy arrogante waan minstens die basiese kennis behoort te weet ... politieke-analfabeet ... hahahahahaha!!! ... en daar slaan die arme "slim" Dirk Rigter homself toe hard met 'n plank ...

    Bedorwe en wegbly stemme tel een en dieselfde in ons kiesstelsel. Dit bevoordeel die wenner met dieselfde persentasie as hul algehele steun. 'n Groot bedorwe/wegbly stem kan dalk weer 2/3 stem vir die ANC beteken!

    Stem reg!!!!!

    Cornelius Henn

  • Dirk

     
    Jou politieke analise van die situasie in SA is suiwer en in die kol. Die politieke heil van SA as geheel sal uiteindelik lê in die totstandkoming van 'n sterk ANC faksie wat 'n markgerigre ekonomiese beleid gaan aanhang en wat uiteindelik die DA kan insluk. Die voorloper van hierdie eventualteit gaan wees as die ANC sy meerderheid in 'n belangrike provinsie soos Gauteng verloor en dringend na 'n koalisievennoot gaan soek. My raai is dat hulle op die oomblik eerder met die EFF gaan flikvlooi maar dat die ekonomiese realiteite hulle uiteindelik sal dwing om met die DA 'n koalisie te sluit. 
    Minderheidspolitiek gebaseer op taalgroepe en velkleur se dae is getel. Waardegedrewe politiek gebaseer op ekonomiese werklikhede gaan uiteindelik die knoop deurhaak. Apartheid het gesink agv ekonomiese realiteite en net so gaan die ANC se ekonomiese skisofrenie nie lank hou nie.
     
    Groetnis
     
    Thomas
  • Dirk

    Jou eerste punt:  'n Uitslag op 'n saak deur Solidariteit by die konstitusionelehof ingedien, word hierdie Donderdag afgewag,  om te bepaal of regstellende aksie wel 'n saak van "finish en klaar" is soos jy dit stel, gaan wees.  Ek behou my kommentaar tot na hierdie datum.

    Tweede Punt:  Die Ipsos peiling is gedoen voordat sekere gebeure wat sederdien plaasgevind het, oa. die DA se ondersteuning van die ANC se siening oor regstellende aksie, asook ondersteuning vir die ANC se verlenging van die datum tot 2019 vir grondeise, plus Mazibuku se beledigings teenoor DA Afrikaners uitgespreek is.  Verdere afleidings deur koerante is dat die DA van sy bruin kiesers as gevolg van swak dienslewering waar dit hulle raak, nie nagekom is nie en waarop die ANC tans kapitaliseer.  Die siening is dat die DA sy  volstrekte meerderheid in die Weskaap gaan verloor, en sal deur middel van koalisie moet regeer.

    Nasionaal het Ipsos peiling dat die DA 18%, hoogstens 20% ondersteuning in die verkiesing sal bekom, wat nog ver onder die 51% is om 'n volstrekte meerderheid te kan bekom.  Dit onderskraag my vorige argument dat S.A., sodra die ANC onder 50% steun het, op koalisie regering vir die voorsienbare toekoms regeer gaan word.

    mbt Jou stelling dat konserwetiewe Afrikaners erg verdeeld is.  Dit hang af hoe jy "konserwetiewe Afrikaners" defineer.  My beskouing is dat die oorgrote meerderheid Afrikaners polities konserwetief eens is wat DA Afrikaners insluit.  Gekkegrens Afrikaners is seker waarna jy verwys, en daarmee stem ek saam, maar hulle vorm 'n miniskule persentasie van Afrikanerdom, soortgelyk die Max du Preez; sekere Afrikaner linkse akademici;  ens. aan die ander kant van die politiese spektrum.

    Derde Punt:  Suiwer afleidings en spekulasie aan jou kant.  Profesionele politieke analiste se uitgesproke afleidings en spekulasie verskil aansienlik met joune.  In elk geval na die verkiesing sal ons verseker weet hoe sterk of swak die politieke partye daar gaan uitsien.

    Vierdie Punt.  My 10% was suiwer 'n voorbeeld van hoe 'n minderheid party mag in 'n koalisieregering kan bekom.  Ek het geensins voorspel die VF+ gaan sodanige persentasie behaal nie.  En ja. Ek stem saam mbt. die VF+ se swak geskiedenis.  Ek self het laasjaar voorspel dat na die 2014 verkiesing, die VF+ van die parlementere toneel gaan verdwyn.  Intussen, het die DA vir die VF+ 'n groot geleentheid op 'n skinkbord geskep om meer ontevrede DA Afrikaner kiesers, soos myself,  te kan bekom, alternatief om glad nie te stem nie.

    mbt. Niksseggende Neelsie?  Ek is volkome eens met jou kommentaar rakende hom.  Sy politieke siening komplementeer geensins myne nie.  Inteendeel ek sal my doodskaam om met hom polities ge-assosieerde te wil wees.

  • Cornelius,

    hou op om ‘n gek van jouself te maak. Gaan lees die volgende webwerf: http://www.southafrica.info/about/democracy/iec. Dit spel die amptelike beleid uit van die OVK, en sê die volgende ivm bedorwe stemme (spoilt ballot papers):

    What is the voting procedure?
    Each voter enters a private cubicle to cast their vote. A voter is allowed to make only one mark on each ballot paper for a party of their choice. Only a tick or a cross is acceptable in the appropriate box next to the chosen party. A mark anywhere else will spoil the ballot paper and so nullify the vote.

    “Nullify the vote” Verstaan jy dit? Ek herhaal: Bedorwe stemme word getel en aangedui as sodanig wanneer die uitslag in ‘n kiesafdeling bekend gemaak word. Daarna gaan hulle vullisdrom toe. Dit word nêrens aan niemand toegedeel nie.

    So terloops, ek sien jy verstaan nie jou eie Engelse aanhaling nie. ...:What spoilt votes do not affect is the seats in the National Assembly – they are simply divided up between the valid votes." Kom ek verduidelik vir jou: Spoilt votes do not affect the seats in the National Assembly - they (the seats) are simply divided up between the valid votes. Aai, die Ingels tog... Plank slaan? jy het nou vir ons almal gewys hoe 'n mens homself met 'n houtstomp bykom.

    Jaco,

    Ek sien ook uit na die K H se komende uitspraak. Myns insiens gaan die uitspraak groter duidelikheid bring oor die toepassing van regstellende aksie. Nie oor of dit as sodanig grondwetlik reg of verkeerd is nie.

    Die diensleweringsbetogings in die Wes-Kaap is ANC opstokery onder meesal Swart instromers hier. Die Bruinmense word erg hierdeur geaffekteer, hul paaie word soggens geblokkeer ens. Hul gaan nie hul stemme ANC toe swaai nie, inteendeel. Die gatvol faktor is groot onder die bruin gemeenskap.

    Ek verskil van jou dat die meerderheid Afrikaners polities konserwatief is. Elke referendum en verkiesing vanaf 1989 het die Afrikaners by  die stembus verras en meer weggeswaai van die konserwatiewes. Nietemin, dis interessante tye vorentoe.

    Thomas,

    Dankie vir die kompliment. Stem saam met jou analise ivm Gauteng as voorbeeld. En moenie die bedreiging vir die ANC van die komende werkersparty uit NUMSA - geledere geringskat nie. Hier's 'n herskikking van die politiek op pad.

     

  • Hello Dirk, 

     
    Jy het geantwoord soos ek gehoop het en wat ek ook kon bevestig, soos bevestig by IEC en so ook met die toepassing van regstellende aksie. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • CorneliusHenn

    ... ek wonder; glo Dirk Rigter se meelopers en kruipers ook dat bedorwe stemme meer ge"nullify" word as wegbly stemme? ... weet die arme Dirkie miskien wat die implikasie van wegbly stemme is? ... het wegbly stemme dan 'n effek in ons piesang demokrasie wyl net bedorwe stemme ge"nullify" word? ... waar begin 'n mens sulke dwaasheid opklaar? ... om so verwaand, arrogant en blatant gedurig sulke drek kwyt te raak, moet Dirk Rigter ook maar net valsnaampie wees waaragter die misantroop kan kwytraak wat dit wil  - selfs dat dit 'n student van Hermann Giliomee is!!!

  • Drie DA LP's loop oor na die VF+

    Lowrey Bosman
    Theo Coetzee
    Nicky van den Berg

    Wat ek hierbo en elders voorspel het, is besig om vinniger plaas te vind as wat ek verwag het.  Die DA het 'n moerse fout gemaak om 'n ANC bloudruk te probeer word, asook om sy Afrikaner ondersteuners, by wyse van Mazibuko,  te beledig.

    Die Weskaap bruines het die DA oorheersend ondersteun, die dat hulle die regerende party daar geword het.  Pleks dat die DA regstellende aksie namens die Weskaapse benadeelde bruinmense daar beveg het, het hulle met die swart oorheerste ANC saamgestem.  Dit vat Solidariteit om namens die bruin bewaarders daar vir hulle regte te veg.  Ek voorsien 'n afname ook in bruin ondersteuning vir die DA in die Weskaap.

  • Nog twee DA  LP's verkas na die VF+, binne 'n bestek van dae, 'n totaal van 5!!

    Andre Fourie (vorige minister in die NP regering),  en
    Piet Vorster

    Lekkerrrrr!!

  • CorneliusHenn

    Beste Jaco Fourie,

    Wyl ek net die grootste respek het vir jou moedigheid omtrent jou steun vir die VFPlus, moet ek ewe ruiterlik hier erken dat Niekie van den Berg en sy Broeders se oorloop met DA luise in hul baard kompleet, my nie aanstaan nie.

    Inteendeel, (met respek) ek voel bitter teleurgesteld dat Dr. Pieter Mulder hulle so maklik ontvang het.

    Genadiglik het Dr. Dan Roodt en Hannes Engelbrecht nog 'n keuse vir ons Boere-Afrikaners geskep.

    Ja, en hier eindig ek weer verder regs as jy!

    Ek't ook gewonder; aangesien jy des moontlik Dr. Mulder se verduideliking omtrent die implikasie van wegbly en bedorwe stemme van ons kiesstelsel sal verstaan - het jy dalk woorde om dit aan die arme verwarde ou Dirkie en en sy meeloper "Woutie" hierbo te verduidelik?

    FN Boeregroete,

    Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top