Vir Jaco Fourie (en eendersdenkendes): Verkiesingsnabetragting

  • 10

Nou onlangs, op 13 Maart, het ek in ’n skrywe (Vir Jaco: “’n Stembrief”) gereageer op Jaco Fourie se skrywe van 10 Maart waarin hy redes uiteengesit het hoekom hy in die pas afgelope verkiesing vir die VF Plus gaan stem en nié vir die DA nie.

My reaksie het kortliks die volgende behels:

1. Die ANC regeer nasionaal en ook in al die provinsies, behalwe die Wes-Kaap. Meesal gaan dit beroerd waar die ANC regeer. Die Wes-Kaap is ’n absolute uitsondering met ’n funksionerende bestuur. Insgelyks vir die Stad Kaapstad onder DA administrasie.
2. Minderheidspolitiek in SA het irrelevant geraak. (lees: Afrikaner-politiek) Die ou Afrikaner-reste is besig om mekaar te verteer.
3. Suid-Afrika benodig ’n nie-rassige meerderheid in die “politieke sentrum” waar eendersdenkende gematigdes saamstaan om SA te laat werk. Die DA is tans die enigste party wat dit tot stand kan bring.
4. Dus moet die DA daarop fokus om swart stemme te werf om die gematigde sentrum te vergroot. Dis die realiteit, finish en klaar. Onder andere behels dit dat die DA beginselbesluite neem ivm grondhervorming en SEB. Hierdie twee goed is met ons en móét hanteer én bestuur word, of ons (wittes) daarvan hou of nie. Dis ongelukkig die realiteit waarmee nog in die toekoms gehandel moet word.
5. My laaste punt was dat die VF Plus uitgedien is en eintlik maar die “Mulder-Broers-in-Parlement-is”.

Jaco se reaksie op my skrywe? (Kortliks) Onder andere die volgende:

1. Dat die DA nie die Weskaap en moontlik vir Gauteng alleen in eie reg sal kan regeer, sonder koalisie met ander opposisie partye nie…
2. Die feit dat daar huidig grootskaalse grootkoppe vanaf die DA na die ANC oorstap, is ’n aanduiding dat sodanige mense onseker is van die DA se kanse in die komende verkiesing.
3. Verdere "realpolitik" is dat S.A. politiek te doen het met veelvoudige politieke partye.
4. Indien die VF+ genoegsame ondersteuning kan kry dat dit nie meer 'n marginale party is nie, al het hy net 10% van die setels, word hy ’n gerekende faktor in die politiek.
5. Ek voorsien ’n afname ook in bruin ondersteuning vir die DA in die Weskaap.
6. Lowrey Bosman, Theo Coetzee, Nicky van den Berg, Piet Vorster en André Fourie se oorloop vanaf die DA na die VF Plus is “…lekkerrrrr!!...” en ’n aanduiding daarvan dat Afrikaner-steun vir die DA beduidend afneem.

Wel die verkiesing is verby en die uitslae is bekend. Hoe lyk sake met betrekking tot Jaco se opmerkings hierbo?
Eerstens het die DA sy meerderheid in die Wes-Kaap verhoog tot meer as 59% teenoor die ANC se 32%. Geen sprake van koalisie in die Wes-Kaap nie. Die VF Plus kon beswaarlik 0.55% stemme hier kry en het dus geen setel in die Wes-Kaapse wetgewing nie.
Verdere analise van die uitslae bewys net een ding: Oorstappery van DA lede na beide die ANC en die VF Plus was niks anders nie as politieke opportunisme. Dit het mense dalk verder aangespoor om die DA te ondersteun! Landswyd is die DA se ondersteuning op van 16.7% na 22.23%. Meer as 1.1 miljoen bykomende kiesers het vir die DA in 2014 gestem.
Veelvoudige, klein minderheidspartye met enige impak is iets van die verlede. Dis wat die syfers sê. Dít sluit ongelukkig die VF Plus in, wat weer eens net vier setels in die Parlement gaan hê. As die VF Plus nie vanjaar, met al die emosionele pleidooie, meer Afrikanersteun kon werf nie, is dit die einde vir hierdie party. Duidelik het die VF Plus sy plafon bereik.

Ek herhaal my standpunt: Die dae van wit “minderheidspolitiek” in SA is vir altyd verby. Die VF plus is niks anders nie as politieke randeiers wat nié ernstig opgeneem word daar waar dit saak maak nie. Die DA verenig mense oor kleurgrense heen wat aan dieselfde waardes glo. Daarom behoort mense wat in die grondwetlike staat glo, hul gewig by die DA in te gooi sodat gematigde politiek momentum kan kry. Die EFF het reeds spiere gebult aan die linkerkant van die spektrum en die werkersparty uit Cosatu-geledere is waarskynlik ook op pad. Los die “Afrikaner-politiek” en kom help versterk die “gematigde sentrum”.
Vir Cornelius Henn:

Op 25 Maart het jy die volgende kwytgeraak: “Genadiglik het Dr. Dan Roodt en Hannes Engelbrecht nog 'n keuse vir ons Boere-Afrikaners geskep…”

Hoeveel stemme het die ou lot toe gekry? 5138 landswyd. Watter keuse…

  • 10

Kommentaar

  • Hello, 

     
    Dit is bemoedigend om te sien dat die uitgediende idees van Front Nasionaal ('n kopie van Marine Le Pen se Front National) nie 'n impak kon maak nie, maar wat wel kommerdwekkend is, is die swart weergawe daarvan, die EFF wat wel 'n impak gemaak het en nou knus met 25 setels sit. 
     
    Wie weet waar daardie populistiese mengsel van links en regs gaan eindig?
     
    Vir die wat wonder, die eksperiment is gedoen en kan die toestand in Venezuela bevestiging bied hoe so 'n eksperiment eindig. 

     
    Dit was net so goed om die oud uitgediende idees van VF+ te sien taan en dit na die marges te sien beweeg. 
     
    Die kiem van tuislande en wit tuislande was te lank in die bloed van die Afrikaner en dit is goed om dit stadig maar seker te sien uitsterf en daardie uitgediende idee na die rommelwerf van die geskiedenis te stuur. 
     
    Verkrampte "Jan Rap", voer nog die stryd en sal so doen tot einde van dae en drie keer 'n week hier, maak gereed vir die volgende siklus van briewe, apartheid het nie bestaan nie, Afrikaans word "verdring" en die land is 'n gemors, skommel na willekeur.  
     
    Die goeie nuus, en dit is 'n riem onder die hart, Suid-Afrikaners neem demokrasie ernstig op, heel ironies gegewe die feit dat 'n Comestor in vrees lewe vir die massa wat volgens hom nie met demokrasie kan vertrou word nie, en tog was die mense opgewonde om te stem en te argumenteer oor die stand van die land. Dit was fantasties om te sien hoe betrokke die kiesers was en die belang wat die hele bevolking gehad het in die verkiesing. 
     
    Ons kan trots wees. 
     
    Nog 'n aspek van  trots is dat die DA die rigting aandui vir hoe 'n party wat die hele bevolking aanspreek moet funksioneer. 
     
    Goeie rigtingwysers en dit was aangenaam om te sien dat demokrasie is lewendig in hierdie land. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Dagsê Dirk

     
    Jou opsomming van die politieke landskap is in die kol. Ek stem saam dat belangepolitiek 'n spul klei is en dat ons moet konsolideer rondom waardestelsels. Afriforum en sulke instansies wat baie goeie werk doen kan na my Afrikanerbelange omsien - dis nie nodig dat 'n politieke party dit hoef te doen nie. Politici is oor die algemeen 'n spul onbetroubare bliksems as dit kom by ander se belange. 
     
    Ek bly in Knysna in die Wes-Kaap. Hier het die DA ook loshande gewen en word ons dorp redelik goed bestuur. Die uiteindelike bepalende politieke hervorming sal egter uit die ANC moet kom. Indien die ANC nou met alle erns die NOP gaan implimenteer gaan dit 'n groot groep linksgesindes in die party vervreem wat hulle uiteindelik by die nuwe te stigte arbeidersparty gaan aansluit. Dit sal die geleentheid skep vir die ANC om met die DA in koalisie te gaan om sodoende 'n stewige middelgroepering tot stand te bring. Hierdie groepering sal uiteindelik lei tot die stigting van 'n nuwe entiteit en wat as die ANC plus (of so iets!) bekend sal staan - 'n entiteit waarmee ek my heelhartig kan vereenselwig. My verwagting is dat die ANC en die DA sal amalgameer en dat die naam ANC meer bemarkingswaarde gaan hê. 
     
    SA is 'n ontwikkelende demokrasie en ons moet genoegsame tyd vir daardie ontwikkeling toelaat.
     
    Groetnis
    Thomas
  • CorneliusHenn

    Goed geanaliseer Dirk Rigter!  

    Jy is minstens ook reg hierdie keer met iets naamlik dat die DA heelwat meer stemme gekry het.

    Maar, jy behoort ook by te voeg dat dit hoofsaaklik was weens 'n baie negatiewe veldtog (met Nkandla as die kern liegstorie).

    Eweneens was daar negatiewe en onbehoorlike (selfs onregmatige) bewerings dat 'n stem vir kleiner partye (soos die VF+) 'n mors van stemme is.  

    Ek is ook bly dat jy nie soos gewoonlik weer woorde in my mond probeer lieg het en my standpunt as 'n potensiële wenner wat gefaal het veronderstel het nie.

    Ek het nog altyd geweet dat ek deel van 'n baie klein, maar trotse minderheid in Mzansi is.

    Wat Front Nasionaal se 5000 en 'n bietjie plus stemme betref; dis natuurlik gewoon 'n geval van kwaliteit versus kwantiteit. 

    Ek is werklik trots op hierdie Gideonsbende wie hul Afrikanerskap en beginsels voorop gestel het en deel van die minder as 1% in die land is wat onder meer teen verval soos regstellende aksie, grondhervorming (onteiening) en swart bemagtiging gestem het.  

    Ek het na dese minstens ook vrede met die spul wittes in plakkerskampe en ander se geween wie eensaam hier met hul kinders oorsee sit - hulle het dan self vir die "wenparty" van Helen Zille gestem!  

    Dirk, daar is egter ongelukkig ook geen einde aan jou gebreinspoelde bravade hier nie.  

    Die DA het mos nie regtig gewen nie!  

    Die ANC sit nes altyd stewig in die saal en ook nes altyd, het hulle geen rede om hulle aan jou DA te steur nie!  

    Die EFF het ook reeds te kenne gegee dat hulle die ANC in 'n 2/3 meerderheid sal steun om die grondwet in terme van hul gemeenskaplike kommunistiese doelwitte te verander.  

    Die DA het miskien wel meer swart stemme getrek, maar staan nog net waar hulle in 1994 gestaan het - 2014 is bloot 'n herskikking van "opposisiestemme".

    Destyds het die NP en DP saam 89 gehad - vandag het die DA 89 ...  

    Die DA het nog derduisende ANC ondersteuners nodig om te oortuig!  

    Uiteindelik kan die DA in hul beginselose kruipery vir stemme, ook maar net nog 'n ANC wees (soos dit reeds is) - sonder waarborge vir minderhede se belange.

    Die DA het net met wanvoorstellings en leuens, asook hulle reuse verkiesingsbegroting die mense laat glo dat hulle nie 'n ander keuse het nie.

    Geen stem vir 'n party wat wel in die parlement verteenwoordig is, is gemors nie.

    My stem vir Front Nasionaal, was ook ook ewe nodig en deel in 'n soort referendum op sy eie om te bepaal hoe daar met ons Boere-Afrikanerbeginsel en hoop in die toekoms moet gewerk word.

    Die dag as die ANC en EFF regstellende aksie, swart bemagtiging en grondhervorming op die skaal plaas, wat gaan julle DA "opposisie" aan die anderkant sit om dit uit te balanseer?  

    Daar moet tog aanvaar word dat die Afrikaner se politieke pad nie in die parlementêre, veel partystelsel kan loop nie.

    Dit sal buite-parlementêr moet gebeur - soos in die skep van gebiede wat al hoe meer selfonderhoudend en "selfbeskikkend" is - nog meer Oranias en Kleinfonteins.  

    Dit gaan beslis nie groot getalle Afrikaners wees wat hulle daarheen wend nie - daar is baie verlooptes nes jy wat nie wil glo dat die DA reeds 'n swart party is nie.  

    Ek hoop egter jy't die verdeling van setels en die bydrae daarin uit die wegbly, bedorwe en stemme vir nie-kwalifiserende partye hierdie verkiesing goed gevolg.  

    Ek moet erken dat my moeite om vir Front Nasionaal te stem toe ook uiteindelik 60% ANC, 20Ú, 6ïF, 1%VF+ werd was.  

    Maar, daarby geseg; 2014 se verkiesing in onse piesang demokrasie was gewoon die vermaak wat dit werd is - niks om te ernstig op te neem nie!  

    Dirk, ek kan nog heelwat hierby voeg, maar ek is 'n bietjie werkgebonde en te ver van die huis af om nog meer te tik (soos in 'n "volledige bydrae").  

    Daarom, dankie vir die geleentheid om hier sin met jou te kon deel.

    Boeregroete van werf tot werf,  

    Cornelius Henn

  • Hello, 

     
    Na aanleiding van Cornelius se opmerking, "Destyds het die NP en DP saam 89 gehad - vandag het die DA 89. (Oor 20 jaar blyk dit dan dat niks verander het nie)
     
    Dit het my laat skrik, wat gaan dan aan in die politiek?
     
    Hoe moet daar sin gemaak word van al die statistiek? 
     
    Wat is die boodskap wat daarin verskuil is? 
     
    Daarmee dan 'n 'blast from the past":
     
    Party Votes % and Seats in 1994: (lees versigtig) 
     
    African National Congress (ANC)   12,237,655   62.6    252  
     
    National Party (NP)   3,983,690 20.4                                      82  
     
    Inkatha Freedom Party (IFP)   2,058,294 10.5                     43  
     
    Freedom Front (FF-VF)   424,555 2.2                                     9  
     
    Democratic Party (DP)   338,426 1.7                                       7 
     
    Dan 07 Mei 2014 Nasionale verkiesing
     
    AFRICAN NATIONAL CONGRESS 62.15% 11436921   249
     
    (800 000 mense minder gestem vir die ANC)
     
    DEMOCRATIC ALLIANCE 22.23%   4 091 584                  89
     
    (Volgens kommentaar het die DA 'n miljoen swart kiesers gewen, gegewe die land se geskiedenis is kleur ongelukkig nog 'n faktor in ontleding en hoekom dit belangrik is). 
     
    ECONOMIC FREEDOM FIGHTERS 6.35%    1169259     25
     
    Aantal stemme in 2014:
     
    18 654 771
     
    Aantal geldige stemme: 18 402 497
     
    Bedorwe stemme: 252274
     
    Mense wat gestem het, het afgeneem van 19 533 498 in 1994 tot die 18 402 487 van 2014. 
     
    1.130 000 mense het die proses verlaat wanneer 2014 met 1994 vergelyk word. 
     
    Ontleed na hartelus, wat bevestig die statistiek, wat ontbloot dit van die siel van die land? .
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • CorneliusHenn

    Wouter,

     

    Die ANC se verlies is duidelik na die linkse EFF.

     

    In 'n proporsionele kiesstelsel maak die hoeveelheid stemme nie werklik saak nie aangesien die aantal setels gewen uiteindelik die resultaat bepaal.

     

    2104 se verkiesing het 63453 stemme per setel nodig gehad.

     

    Die ANC het 180 setels met hul direkte stemme in 2014 gewen.

     

    Die ANC het dus 69 setels in die proporsionele verdeling uit die balans 11436921 - 11421540 = 15381, wegbly, bedorwe en stemme vir ander nie- kwalifiserende partye verdien.

     

    Derhalwe, indien jy 1994 se NP stemme 3,983,690 by 1994 se DA stemme 338,426 sou tel, dan kry jy 4,322,116.

     

    Die DA/NP "opposisie" is dus 4,322,116 - 4,091,584= 230,532 minder stemme daaraan toe in 2014!

     

    Eweneens is die VF+ ook 5 setels slegter daaraan toe vandag.

     

    Baie goeie vraag Wouter; wat ontbloot die statistiek omtrent die siel van die land?

     

    Wel, soos reeds gestel beskou ek die verkiesings in ons piesang republiek as blote vermaak en net hier en daar (soos my stem vir Front Nasionaal), 'n geleentheid om my beginsels en waardes uit te roep.

     

    Ek moet dit hier aanvaar as 99% van die kiesers (wit en swart) regstellende aksie, swart bemagtiging en grondonteiening steun.

     

    Die proses is lewendig en is met vaart na die verkiesing in 2014 hervat.

     

    Scottburgh, is oorweldigend DA en siestog, lees self die tranedal daar vandag: http://southcoastherald.co.za/39114/chips-for-wimpy/#.U3OdQAimBAc.facebook

     

    Die korporatiewe wêreld het ook nie op hulle laat wag nie: http://www.iol.co.za/business/companies/telkom-to-target-whites-when-slashing-jobs-1.1688271?utm_medium=facebook&utm_source=dlvr.it#.U3SLfyjm6zo

     

    Wie gaan die arme Neo-Afrikaners in hul DA gekruip bystaan met regstellende aksies en swart bemagtiging?

     

    Hoe gaan die DA "opposisie" na die verkiesing steeds hond haar afmaak in Gauteng oor die gewraakte E-Toll stelsel?

     

    Nee wat, die DA se "opposisie" politiek en bedrog in ons piesang demokrasie, gaan net sensasie vir Helen Zille bring.

     

    Die beginsellose naïwelinge wat weereens daarvoor geval het moet maar die volgende klompie jare kry waarvoor hulle gestem het!

     

    Boeregroete,

     

    Cornelius Henn

  • Hello Cornelius, 

     
    Nie om weer die verlede op te diep nie, maar die stand voor 1994 kon nie staan nie,daarom stem ek nou nog dat dit moes verander het. Die land was op daardie stadium volkome in die verkeerde rigting wat die historiese tendense van die tyd betref. Die muishond van die samelewing. 
     
    Regstellende aksie en die gevolge daarvan is ongelukkig en daarmee ook die grondkwessie en hoe die verlede moet aangespreek word en het ek nie antwoorde nie, alhoewel daar tog 'n bewustheid is dat dit moet aangespreek word, spesifiek so, die wat vir die DA gestem het, wat in 'n moeilike kompromis is.  
     
    Geen kommentaar oor jou somme nie, aangesien ek gelees het alle partye het ongeveer 46000 stemme per setel nodig gehad en joune klop nie daarmee nie. 
     
    Sou ek nie graag 'n meningsopname wou laat gebeur het wat die land oor die belangriskte kwessies sou pols nie.
     
     Dan kan daar dalk sin gemaak word van die statistieke, alhoewel in essensie die land se mening tot 'n groot mate in die verkiesing uitgekom het en kan dit gelees word in die steun wat die onderskeie partye verower het, en dit is nie vermaaklik, en het ek gewag vir dit, om 'n gevoel vir die gemoed van die land te kry. 
     
    Een van die eerstes wat uitstaan, die idees van tuislande is dood. 'n Goeie ding aangesien dit 'n produk van 'n onnatuurlike verlede was. 
     
    Armoede en opheffing soos vergestal in die EFF begin groter traksie te kry. Belangrik, aangesien ongelykheid en goeie lone op globale skaal 'n lewendige debat is. Verwys na die oproer wat Pikkety se nuwe boek bring. 
     
    Dan is die middel daar, wat deur Thomas en Dirk uitgelig is, waar daar 'n redelike konsensus is oor die probleme, maar waar die oplossings tussen die DA en die ANC sal verskil. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • CorneliusHenn

    Wouter,

    Iets wat lank reeds krap, is jou gedurige veronderstellinge (by implikasie en selfs direk soms) dat iemand soos ek hoegenaamd ooreenstemming met die regering voor 1994 gehad het.

    Nie een van John Vorster, PW Botha of FW de Klerk se beleid en hantering van apartheid, het met Dr Verwoerd se omskrywing daarvan gestrook nie.

    Derhalwe, om konserwatief te wees in die sin van Edmund Burke se beskrywing daarvan is 'n bepaalde dinamiese benadering wat ook nie by Dr Verwoerd se beleid sou vasstaan nie, maar wel in die denke van waardige leiers soos Prins Mangosuthu Buthelezi en sy edele doktor Andries Treurnicht, menige alternatief en oplossing vir die huidige "een mens een stem" kommunistiese en piesang demokrasie waarin ons tans onderdruk word, gebied het en steeds bied.

    Selfs Dr. van Zyl Slabbert se progresiewe federalisme het 'n veel beter alternatief gebied!  

    Ek het my lewe lank my steun en bewondering aan laasgenoemde leiers gegee.  

    Dis daarom totaal verkeerd van jou om my en vele ander wittes oor die Nasionale Party na 1966 se bedrog en onderdrukking te skeer.  

    Met respek; ek hoop werklik jy sal wel mettertyd besef dat daar 'n kloof tussen Neo-Afrikaners en Boere- Afrikaners bestaan - veel groter selfs as tussen 'n kwansuis sondelose ware gelowige Kobus de Klerk en enige ander hart in die heilige katolieke (met 'n klein k) Kerk.  

    Neo-Afrikaners ken 1994 as hul jaar nul, dra swaar aan hul apartheidskuld en besmeer graag selfs vandag se Afrikanerkinders daarmee. Dis die sportmalles wat destyds alles geglo het wat die Nasionale Party aan hulle opgedis het. Hulle onderskei ook hoegenaamd nie tussen die Unie en die Republiek van Suid Afrika nie. Hulle is ook salig "onbewus" van die Britte se onderdrukkende segregasie beleid aan die Suidpunt van Afrika en oral elders in die wêreld!

    Boere- Afrikaners daarenteen, is diegene wat met trots hul Voortrekkererfenis uitdra, Paul Kruger as hul eerste algemene leier ken, hul vryheid hoog ag, ander se harte respekteer en met alle nasies en volke op die aarde gesonde verhoudinge behalwe die Britte het.  

    Ek ag my Voortrekker en Boere erfenis met trots en het apartheid onder veral PW Botha en FW de Klerk se oorgawe net so teengestaan soos onse geliefde emeritus aartsbiskop Desmond Tutu.  

    Ek hoop my klaring hierbo maak my persoonlike standpunt duideliker aan jou.  

    Katolieke Boeregroete,  

    Cornelius Henn  

    (en o ja, my som: 25 381 293 geregistreerde kiesers gedeel deur 400 setels gee jou 63453.2325 ... 63453 benaderd ... stemme per setel)

  • Hello Cornelius, 

     
    Dan begin ek by die berekeninge van die stemme per setel benodig. Dit beteken 18 402 487 geldige stemme gedeel deur 400 setels, gee 'n totaal van 46007 stemme per setel, afgerond. Maar hierdie gesprek is al gevoer en kan nie weer herhaal word nie. Die slotsom van die vorige gesprek was dat slegs geldige stemme die uitslag van die setels lewer. Sekerlik hoef dit nie weer deurgetrap te word nie. 
     
    Jou klagte wat Verwoerd betref, is dan dat sy opvolgers gefaal het in hulle visie van die tuislande en met tyd die oorspronklike droom moes afskaal. Iets wat Front Nasionaal weer 'n vlam voor laat brand, maar Jaco het bevestig dat minder as 6000 mense daardie visie deel en so ook die VF+ se dalende en nou statiese steun wat bevestig dat minder as 200 000 mense nog werklik daardie droom deel. 
     
    In 'n vorige gesprek wat FC Boot afgeskop het, is die wit kieser weereens isoleer. 
     
    In my antwoorde daarop het ek gepoog om die konsep van burgerskap te ondersoek en hoe daardie idee al meer as 300 jaar aan die ontwikkel is. 
     
    Dit sal goed wees as die uiteindelike bestemming van,  "burger van Suid-Afrika" bereik kan word en die nagmerrie van nasionalisme en die kiem van tuislande wat dit in die bloedstroom vrygestel het kan uitsterf. 
     
    Net soos jou aanhak van Edmund Burke 'n raaisel is. 
     
    Wat bedoel jy met, "om konserwatief te wees in die sin van Edmund Burke se beskrywing daarvan is 'n bepaalde dinamiese benadering wat ook nie by Dr Verwoerd se beleid sou vasstaan nie, maar wel in die denke van waardige leiers soos Prins Mangosuthu Buthelezi en sy edele doktor Andries Treurnicht". 
     
    Simplisties gestel. 
     
    Hoe sou Edmund Burke se konserwatiewe inslag dan verduidelik word?
     
    Kan Burke gelees word as die persoon wat 'n pleidooi lewer vir die handhawing van 'n huidige status, die status voor verandering of revolusie begin? Die konserwatiewe inslag sien die samelewing as 'n erfenis wat die huidige geslag in ontvangs neem en bewaar vir die volgende geslag en dat die huidige geslag verantwoordelikhede het vir die vorige geslag en die toekomstige geslagte en dat daardie verantwoordelikhede groter gewig dra as regte in die huidige. 
     
    In daardie lig, kan Verwoerd dan sekerlik in die lig van Burke gesien word, aangesien dit juis gegaan het oor die behoud van 'n nasie se verlede en toekoms. 
     
    Hoe volgens jou moet die volgende dan gelees word: 
     
    "'n bepaalde dinamiese benadering wat ook nie by Dr Verwoerd se beleid sou vasstaan nie". 
     
    Hoe moet Burke dan gelees word?
     
    As gekant teen verandering en 'n handhawing van 'n sekere groep se voorregte? 
     
    Oor Treurnicht is daar geen onsekerheid nie. 
     
    Dit was die beskerming van 'n sekere tipe verlede en pogins om dit te laat voortbestaan. 
     
    Treurnicht is dus so konserwatief soos kan kom, wat Buthelezi, betref kan ek nie kommentaar lewer nie. 
     
    Dalk wil hy ook die "Zulu's" isoleer soos Treurnicht wou gedoen het, maar het Buthelezi wel deelgeneem in al die verkiesings van 1994, terwyl die stemme van die ou KP in die niet verdwyn het. 
     
    Wat dan van die aspek wat Thomas Paine vergestalt na vore bring en in die latere lig van John Stuart Mill moet gelees word, wat die individue meer seggenskap gee om 'n nuwe samelewing daar te stel. 
     
    Die veronderstelling is dat die samelewing die produk is van die vryhede wat die mens daar stel en om 'n samelewing te vestig wat vry is van die kettings van die verlede. 
     
    Dit is in daardie lig wat Van Zyl Slabbert gesien moet word. 
     
    Daarom bly dit 'n raaisel dat jy Treurnicht en Van Zyl Slabbert probeer versoen. Die twee is in totale kontras tot mekaar. 
     
    Treurnicht wil die verlede in stand gehou het, terwyl Van Zyl Slabbert baie duidelik 'n nuwe toekoms gesien het. Aangesien Slabbert 'n afkeur van die ergste graad gehad het in die ou bestel, 'n emosionele walging volgens Hermann Giliomee in sy "The Last Afrikaner Leaders: A Supreme Test of Power". 
     
    Terwyl, John Vorster, PW Botha, FW de Klerk, nie veel van 'n keuse gehad het om juis met die tydte  verander nie en FW De Klerk die mees duidelikste oorgawe na liberalisme in die klassieke sin kon maak. 
     
    Indien die ANC ook nou maar finaal die sprong na 'n werklike liberale party kan maak, dan kan daar uiteindelik ontwaak word uit die nagmerrie wat geskiedenis is. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • CorneliusHenn

    Beste Wouter,  

    Ek wil jou heelhartig bedank vir die netjiese uiteensetting van jou gedagtes hierbo.  

    Dit lees geheel sinvol en laat my rustig voel rakende jou belangstelling daarin.  

    Jy lees my in vele opsig reg en maak dit maklik om jou net hier en daar nog toe te lig.  

    Met respek; dis hoegenaamd nie my bedoeling om jou van enigiets te oortuig nie.  

    Ag ook asseblief die feit dat ek baie op my eie en persoonlike ervaring met elkeen van Prins Buthelezi, Dr Van Zyl Slabbert en Dr Treurnicht as gas voorheen om 'n tafel hier tik.  

    Die ooreenstemming tussen laasgenoemde leiers was federalisme.  

    Dr Treurnicht had 'n konserwatiewe benadering wyl Dr Van Zyl Slabbert progressief daarmee wou handel.  

    Prins Buthelezi ag tot vandag die noodsaaklikheid omtrent elkeen se reg om trots te wees op hul taal en kulturele erfenis.  

    Edmund Burke is 'n meester in die konserwatisme. Miskien sal 'n bietjie dieper studie van sy werk meer lig vir jou op my beskouinge in die politiek werp. 'n Sleutel daartoe kan miskien die konserwatiewe benadering wees "versigtig vorentoe - maar beweeg vorentoe!"  

    Evolusie is 'n gegewe in ons bestaan, maar dit moet eerlik geskied.  

    Ons land is holderstebolder aan 'n kommunistiese bestel vir die mense en 'n kapitalisties/imperialistiese vergryp vir Anglo en Amerika oorgegee. Dis die gronde waarop Julius Malema nog baie gaan wen.  

    Ek verskil egter drasties met jou oor die noodsaaklikheid van geskiedenis.  

    Geskiedenis - hetsy my Curriculum Vitae, familie, Godsdiens of volks - is die vleuels waarmee ek my die toekoms inhaas.  

    Wouter, jou benadering hierbo het volle reg op 'n "volledige bydrae".  

    Ek sal dit waardeer indien jy sodanige artikel omtrent jou standpunt hierbo in 'n afsonderlike artikel stel waaronder ek voluit onderaan sal antwoord.  

    Nogmaals dankie vir jou belangstelling.  

    Boeregroete,  

    Cornelius Henn              

  • Wouter

     Jy skryf aan Cornelius (20 Mei 14)  oor "die VF+ se dalende en nou statiese steun" in  die konteks dat onder Afrikaners is hierdie party op pad uit.  Dit is ook Dirk Rigter se siening.

    By beraming is daar omtrent 3 miljoen Afrikaners, waarvan omtrent net helfte bo 18 is, dws 1.5 miljoen moontlike stemgeregtiges.

    Hieronder volg die werklike steun onder Afrikaner-kiesers gebaseer op genoemde stemgeregtige veronderstelling:-

    1994      424000      28.0%  (Die NP wat toe nog bestaan het, het omtrent die verskil bo 28% gekry)
    1999      127000        8.5%
    2004      140000        9.3%
    2009      147000        9.8%
    2014      166000      11.0%

    Die teendeel van jou stelling word hiermee uitgewys.  Afgesien van 1994, is daar 'n geleidelike groei onder Afrikaners vir VF+ steun.  Sou my veronderstelde kiessyfers verkeerd wees, bly die groeitendens proporsioneel tot enige aangepaste kiesersyfer.

    Met hierdie laaste verkiesing het die VF+ hulself herposisioneer as multikulturele party vir minderhede.  Nie soos die DA, het hulle geen voorneme om die regerende party te word nie, maar het onderneem om saam met die DA te stem waar DA ondersteuning nie met minderheidsbelange bots nie. 

    Die volkstaat en Apartheid-era tipe verlangens is finaal ten tye van hierdie laaste vierkiesing by die venster uitgegooi, baba met badwater en al.  Op hul beurt het die DA ook hulself ten tye van hierdie laaste verkiesing  herposisioneer, ten doel om ANC kiesers af te rokkel, deurdat hulle hul morele waardes mbt  ras, en dat meriete alleenlik die maatstaf vir betrekkings hoort te wees, van afgesien, asook die grondeise aangeleentheid.

    Die DA het geweldig gegroei as gevolg van Tony Leon wat die Afrikaner aan boord gebring het, en veral oor die laaste vyf jaar wat Hellen Zille bruin en swartes aan boord gebring het.

    Die VF+ kon 'n beter groei getoon het, maar ongelukkig is Pieter Mulder nie leierskapmateriaal nie, en met sy outokratiese optrede toe hy die ANC pos aanvaar het, en van sy beste volksraadslede (oa Willie Spies, nou AfriForum) daardeur verloor het, het hy Afrikaners verder vervreem.  Vir die VF+ om beter te kan groei en in belang van die party, behoort Pieter Mulder, sy nefie Jaco Mulder se voorbeeld te volg, deur te bedank, sodat 'n beter en bekwamer leier vir die party gekies kan word.

    'n Faktor wat nie uit die oog verloor hoort nie, is die invloed van Solidariteit/Afriforum op Afrikaner meningsvorming. Met die 2009 verkiesing het hulle hulle lede  (mee as 200000) aanbeveel om DA te stem.  Met die 2014 verkiesing het hulle geen party aanbeveel of afgewys nie, en keuses aan hulle lede self oorgelaat. 

    Die invloed van die EFF gaan verseker die ANC meer links dwing, gevolglik die DA ook ten doel om nog ANC kiesers te trek.  Tot watter mate dit Afrikanerbelange in die breë gaan beïnvloed sal bepaal in die toekoms tot watter mate die Afrikaner steeds bereid is om die DA te wil ondersteun.   Enige negatiewe steun vir die DA onder Afrikaners sal net tot uiteindelike voordeel van die VF+ wees.

    Net soos die DA met onder 2% die nuwe bedeling betree het, moet daar nie die veronderstelling gemaak word dat gebaseer op huidige syfers, die VF+ nooit in die toekoms 'n skielike opswaai in steun sal ondervind nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top