Vir Angus

  • 1

Beste Angus

Die afgelope paar weke het ’n paar baie interessante stukkies leeswerk op my skerm beland.  Hieronder tel die skrywes van jou oor die chromosoomverskille tussen die mens en die groot ape, ’n Amerikaanse eerwaarde wat gal braak oor wetenskaplikes glo sou beweer lewe het met ’n meteoriet na die aarde gekom (eintlik het hulle net gesê die bestanddele van lewe is in die komeet gevind), ’n besprekingsdokument van die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse sinode wat onder meer tot die gevolgtrekking kom dat die skeppingsverhale van Genesis nie skeppingsverhale is nie en ook nie bedoel was om skeppingsverhale te wees nie, nog ’n Amerikaanse eerwaarde wat gal braak oor die wenners van die Nobelprys vir Fisika oor die Higgs boson-deeltjie wat volgens hom deur kamma-navorsing in die Alpe “bewys” is, en toe gisteraand jou brief oor die voorwaardes waaronder jy ’n Christen sal word.

O ja, iewers in die kuberruim loop ek weer ’n brokkie raak oor wat “Herman Toerien nou al weer” geskryf het. Oor daai einste meteoriet. Ja, ek is al “gewoond” aan die aanvalle op my van ’n sekere dampkring wat blykbaar meen hulle het die enigste sleutel tot Christenskap beet.

So moes ek al brokkies twak lees soos dat ek “altyd” in my skrywes Christene aanval, “altyd Christen-wetenskaplikes” (bedoelende eintlik mense wat  “wetenskaplik bewys” die aarde is 6 000 jaar oud) aanval, en vele meer.

Dié aanvalle maak seer, want ek skryf ook heelwat artikels van Christelike aard waarvan heelwat in die Doppers se Die Kerkblad, en na ons lidmate van die Hervormde Kerk geword het, in die Stoepsitters se publikasies verskyn.

Maar ek skryf ook die ruimtenuus vir RSG se “Sterre en Planete”, en ’n boek oor argeologie is by die uitgewers.  Ek het as deel van Admissie ook Bybelse argeologie geswot bietjie voor die jong aarde kreasionisme van die VSA af oorgewaai het, en was tot enkele jare gelede onbewus van dié beweging se bestaan.

As ek met dié brief klaar is, doen ek ons gemeente se nuusbrief, en gister het ek ’n ander kerk se nuusbrief gedoen.

Wat ek wil sê, Angus, is dat ’n mens nie kritiek van sekere kringe gaan vryspring omdat jy ’n Christen is nie. Kyk maar hoe het harde woorde geval tot die Hervormde kerk geskeur het.

Wat ek baie mooi vra, en ek glo dis hoe jy dit self ervaar, moet asseblief nie die trant van die soort kritiek wat jy kry, as kritiek van die Christene, of alle Christene ervaar nie.

Wanneer ek kritiek kry uit die geledere van mense wat dit “namens die Christene” doen, meet ek dit aan die hand van die vrugte van die Heilige Gees waaronder: om die genade van God te verstaan, regverdigheid, die waarheid, liefde, vreugde, vrede, getrouheid, inskiklikheid en om onpartydigheid na te streef, en om nie veroordelend te wees nie. Ek probeer ook om dit in gedagte te hou wanneer ek op kritiek reageer, maar dikwels, menslik, is ek so die gillende bliksem in dat ek dit verloor.

1 Korintiërs 13: 12 lui:  “Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”  Laat ons tot dan nie die oordeel fel wat ons in die eerste plek nie geoorloof is nie, en ons in die tweede plek nie voor toegerus is nie.

Mense is eenvoudig nie dieselfde nie. Die een sal so deur die Hubble-beelde kyk en ’n klompie syfers probeer verteer, en dink: “Sjoe, God is onbegryplik groot.” Die ander sal dink alles kan verklaar word sonder dat God bestaan. Gister, net voor ek jou brief gelees het, sien ’n opskrif dat ’n kerk juis die Nobel-prys oor die Higgs boson gebruik om die vergelyking te tref dat ons net so min God self kan sien, soos die wetenskaplikes die Higgs boson kan sien, maar aan die gebeure / reaksies kan weet Hy en die Higgs boson bestaan wel. ‘ Kerk wat presies die teenoorgestelde standpunt as die Amerikaanse eerwaarde aanneem (die eerwaarde was ’n paar jaar gelede dood na ’n beroerte, en het volgens sy bekendstelling uit die hemel teruggekeer na hy ge-“revive” is.

Jy word, soos elke Christen, geruk deur die wreedhede wat plaasvind en wonder waar God in alles is. Totius het na die sterwe van sy dogtertjie deur ’n diep dal gegaan, ook God se raadsplan probeer verstaan maar met sy hande in ’n doringbos beland en uiteindelik met versterkte geloof daaruit gekom.

Ek hoop jy sal deernis en begrip hê daarvoor dat daar Christene sal wees wat sal bid dat jy ’n Christen sal word ... dis immers die Christen se opdrag om vissers van al die nasies te maak en die ideaal sal wees om dit in vreugde te doen.

Herman

  • 1

Kommentaar

  • Beste Herman Toerien, 

     
     Ek voel geëerd dat Herman Toerien (dié Herman Toerien) my skrywe enigsins raakgesien het, en nogal ? brief aan my persoonlik rig. Dankie vir die inligting daarin en die enigsins bedekte teregwysing sal ek ter harte neem. Verder stem ek met alles saam, behalwe die gedagte in die slotparagraaf, nl dat Christene vir my bid om ook ? Christen te word, wat my so effens dwars in die krop steek. Daarmee word gesê dat Christene reg is, en ek verkeerd. Ek moet, soos hulle, ook aan die bonatuurlike glo.
     
     Dit behoort mos al teen hierdie tyd in die 21ste eeu algemene kennis te wees dat die bonatuurlike slegs ? skepping is van die menslike verbeelding. 
     
    Groete, 
     Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top