Vir Angus: Herbesoek skaduwees op Jupiter

  • 3

Beste Angus

Ek verwys na jou kommentaar en my reaksie daarop aangaande die skaduwees op Jupiter op 12 Oktober 2013. Ek moet toegee dat my antwoord ietwat onbevredigend was  en ook nie 100% korrek nie. Weens werkdrukte op daardie stadium kon ek ongelukkig nie ’n behoorlike antwoord formuleer nie. Ek het intussen weer aandag daaraan gegee en wend nog ’n poging aan.

Op 11 Oktober het Jupiter by Durban om 23:47 — dus kort voor middernag opgekom en om 10:04 die volgende oggend 12 Oktober (dus tydens daglig)  onder gegaan. Jupiter was dus slegs vanaf sonsopkoms totdat dit onder gegaan het onsigbaar weens die inmenging van die sonlig. Dit was egter nie omdat Jupiter agter die son was soos jy aangedui het nie. Trouens Jupiter was in ’n baie gunstige posisie en feitlik aan dieselfde kant van die son as die aarde. Weens die aarde se omwenteling om die son kom alle hemelligame (uitgesonderd die maan) elke aand ± 4 minute vroeër op. Jupiter sal gevolglik vroeg in Januarie 2014 reeds vroegaand opkom en dus die hele nag sigbaar wees. Wanneer Jupiter en die son gelyktydig aan teenoorgestelde kante van die lugruim sigbaar is, soos op 10 Januarie 2014, is die aarde tussen die son en Jupiter en verkeer Jupiter en die aarde in opposisie en is die twee planete op die naaste aan mekaar  (4,2155 AE’s). Wanneer  Jupiter op 25 Julie 2014 aan die teenoorgestelde kant van die son as die aarde geleë is, is dit in konjunksie en glad nie van die aarde af sigbaar nie en op die verste punt  (6.2825 AE’s) van die aarde af.

Die verskynsel van die drie skaduwees wat gelyktydig op Jupiter geval het op 12 Oktober was dus in ’n tydstip wat Jupiter in ’n baie gunstige posisie was vir waarneming. Ek sluit ’n kort animasie van die posisies van Jupiter en die aarde in, wat hopelik sal bydra om my antwoord beter toe te lig. Die animasie begin op 12 Oktober 2013 toe die skaduwees op Jupiter geval het..

Groete

Panda

  • 3

Kommentaar

  • Beste Panda,

    Dankie vir hierdie inligting. Ons hier in Durban kan nie juis die hemelruim bestudeer nie. Daar is altyd maar die waas waardeur ons moet kyk. Gelukkig gaan ek soms berge toe, en daar het ek my buurman se teleskoop tot my beskikking. Hy het nou onlangs verkoop, en ek weet nie of my nuwe buurman daar in sterre belangstel nie; dus oorweeg ek dit sterk om 'n teleskoop aan te skaf. Jy het nie dalk raad nie?
     
    Groete,
    Angus
  • Beste Amgus,

    Die eerste vraag wat ek myself afvra is hoekom iemand hoegenaamd ’n teleskoop wil aanskaf. Bekostigbare teleskope so van 20 tot 30 cm is hoogstens geskik om hier in ons agterplaas rond te kyk. Ek het ure se genot met NASA se video’s wat deesdae vryelik op die internet beskikbaar is. Simulasie programme soos Starry Night Pro is wonderlik en kom baie naby aan die werklikheid en daar is nie koue nagte en muskiete en wolke wat pla nie en jy kan in die verlede en toekoms rondkrap wat nie met ’n teleskoop moontlik is nie. Dit beskik  selfs oor ’n ruimteskip waar jy teen die spoed wat jy verkies deur die ruimte kan  reis.

    Ek sal egter toegee dat om Jupiter en sy mane werklik te sien is heeltemal ’n ander ervaring as om na video’s en prentjies te kyk. Om Saturnus vir die eerste keer deur ’n teleskoop te sien was ’n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie. Dit is ook wonderlik om die maan daarmee te besigtig. Maar Mars is al byna buite bereik vir detail. Ons het een keer ’n familiesaamtrek gehad en ek het my teleskoop — nogal een wat ek self gebou het — op Saturnus ingestel en almal het kom kyk en was baie beïndruk. My niggie het egter my voete onder my uitgeslaan en ek het haar woordeloos aangegaap toe sy sê. “Haai dis pragtig. Roep my tog dadelik as daar nog een verbykom!”

    Met hierdie bekostigbare amateur teleskope sal jy skaars diepruimte voorwerpe kan sien. Selfs die Orion Nebula is kleurloos en baie klein om van die Horse Head nie eens te praat nie. Om dubbel sterre te sien is darem interessant. Min mense wil glo dat die helder Rigil Kentaurus (A Centauri) twee sterre is en kan skaars hulle oë glo as hulle dit deur die teleskoop sien.

    Ek sal aanbeveel dat jy ’n sterrekykgeleentheid probeer bywoon waar amateurs en handelaars hulle teleskope uitstal. Daar kan jy met baie ervare kykers gesels en raad kry en self ’n wye verskeidenheid besigtig en deur hulle kyk en besluit wat jou sak en smaak die beste pas. As jy beplan om dit soms te verskuif na verskillende waarnemingspunte moet jy liefs nie groter as 25 cm gaan nie. Ek gebruik ’n 25 cm Meade Schmidt Cassegrain.

    Groete
    Panda

  • Beste Panda,

    Dankie vir die inligting. Van die koue nagte kan ek ook getuig, want ek gaan gewoonlik Drakensberge toe in die winter. Gelukkig is dit darem nie so vrek koud daar in die Champagnevallei nie, darem koud genoeg om muskietvry te wees. 
     
    Die sterre is daar snags so helder dat 'n mens nie omgee om in die agterplaas rond te krap nie. My buurman se teleskoop is 30cm, maar die fabrikaat kan ek nie onthou nie.
    Groete, en nogmaals dankie.
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top