Skaduwees op Jupiter

  • 5

Kort voor sonsopkoms op Saterdag 12 Oktober sal ’n seldsame verskynsel op Jupiter afspeel wanneer die skaduwees van drie van die galileaanse mane nl Europa, Io en Callisto in ’n stadium gelyktydig op Jupiter waarneembaar sal wees. Ongelukkig vir inwoners van suidelike Afrika sal die wonderlike verskynsel te laat vir waarneming plaasvind en in die gloed van die opkomende son sodanig verdof dat die hoogtepunt onsigbaar sal wees. Inwoners van Suid- en Noord-Amerika sal die verskynsel egter in sy volle glorie van begin tot einde kan waarneem. Ek verwag ook dat pragtige foto’s van Hubble en oraloor daarna, te sien gaan wees. Maar dit is ongelukkig nie dieselfde as om die lewendige gebeurtenis waar te neem nie.

Ek het derhalwe ’n kort animasie met tyd spronge van 3 minute saamgeflans  wat ’n redelike idee gee wat met ’n 30cm teleskoop, maar verkieslik nog groter,  te sien behoort te wees. Die maan Calisto verskyn ongelukkig nooit in beeld nie, sleg sy skaduwee op Jupiter. Teleskope van 20cm en daarrond sal waarskynlik ook die verskynsel kan waarneem maar ek glo nie so duidelik nie.

Wanneer Jupiter laag in die Weste geleë is, is die suide van Jupiter aan die bokant daarvan en roteer Jupiter van regs na links en beweeg die mane van wes na oos om Jupiter, dws van regs na links. Die spieëls van teleskope draai normaalweg ook beelde om. Derhalwe vereis dit nogal kophou om presies te vertolk wat jy deur ’n teleskoop waarneem.

Die eerste skaduwee, dié van Europa, sal kort na 05:00 aan die bokant (suidelike poolsirkel) van Jupiter verskyn en sal kort daarna gevolg word deur die van Io nader na die ewenaar. Hopelik sal hierdie fase vanuit Suid-Afrika sigbaar wees afhangende van die ligging. Hoe verder wes hoe beter is die kans. Die skaduwee van Callisto verskyn eers om 06:30 effens laer as die van Io maar steeds in die Suidelike Halfrond. Om 07:30 is die verskynsel op sy beste sigbaar maar teen daardie tyd skyn die son al helder hier by ons.

Groete

Panda

  • 5

Kommentaar

  • Beste Panda

     
    Dankie hiervoor! Dis jammer ons sal dit nie sien nie ,maar jou animasie met musiek en al vergoed daarvoor!
  • Beste Panda,

    Dankie vir hierdie interessante video en inligting. Hier moet jy my bietjie reghelp. Is dit moontlik vir enigiemand om hierdie verskynsel waar te neem? Jupiter en die aarde lê nou aan weerskante van die son, maw die son is tussen die twee planete. Sal die helder sonstrale nie buitendien waarneming daarvan onmoontlik maak nie?
     
    Groete,
    Angus
  •  Beste Angus,

    Jupiter en die aarde is tans nog aan dieselfde kant van die son al is dit nou ook maar net-net. Jupiter is  tans geleë in die konstellasie van Gemini en ongeveer 5.06 AE’s vanaf die aarde.  Alle planete wat in die nag sigbaar is, is altyd aan dieselfde kant van die son as die aarde.

    Jupiter sal eers in die tweede helfte van November agter die son verdwyn en dan weer gedurende June 2014 agter die son uitloer wanneer dit dan in die vroeë oggend in die ooste tussen die konstellasies van Gemini en Cancer sigbaar sal wees.

    Die verskynsel gaan vir seker baie sigbaar wees in sekere gedeeltes van die aarde. In Suid-Afrika sal ons ook die beginfase met geskikte toerusting kan waarneem voordat die son inmeng.

    Dankie, vir jou bydraes en kennis wat jy met ons op SêNet deel en wat ek baie geniet.

    Groete
    Panda

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top