Verhoudings dra krag ...

  • 2

... krag om goed te doen of krag om kwaad te doen.

Sommige verhoudinge bestaan uit mense met toksiese gedrag. Hierdie mense kan die lewe wat God vir ons geskep het, vernietig. Maar hoe moet ek teenoor hierdie mense optree. Want my gedrag teenoor toksiese mense moet die vermoë dra om positiewe insette te lewer en die toksiese mens se begeerte na verandering, aan te spreek.

Maak seker dat toksiese mense en hul gedrag nie ‘n ‘houvas’ op jou kry nie. Dis veiliger om nie saam kritiese mense te eet wat voorgee dat hulle gelowiges is terwyl hulle optrede dit weerspreek nie. Die oorkoepelende boodskap van die Skrif is dit: Jou liefde moet innig wees – en wees versigtig.

Spreuke 13:20 stel dit so: “Wie met wyse omgaan, kry self wysheid; wie hom met dwase ophou, word self sleg.” Ek wil selfs verder geen en dit op hierdie forum so stel: “Wees versigtig watter artikels jy lees, sommige het die krag tot opbouing en wysheid; wie egter dinge geniet en lees wat slegte woorde bevat, word self sleg.”

Ekself kan kies of die water wat ek drink suiwerheid bevat om my siel en liggaam te genees, en of dit die slik dra wat in toksiese modderwater aangetref word.

As dit by toksiese kontakte kom, moet ek weet hoe om dit te hanteer. Ek trek die grens en maak die einde daaraan. Om hulle te oorheers en dwing tot verandering, sal nie werk nie. Die beste verdediging teen die kwaad van toksiteit is om soos Dawid te wees en ‘n duidelike stel waardes te hê wat jy teenoor almal uitleef.

Daar is dan net een van drie dinge wat kan gebeur:

  1. Die mense wat goed is vir jou sal jou waardes respekteer, en jy sal goeie verhoudings met hulle geniet.
  2. Aangesien jy ‘n liefdevolle standpunt teen toksiteit inneem, sal jy moontlik die kwaad teenwerk en positief beïnvloed om hulle gedrag te verander, en dan sal jy goeie verhoudings met hulle geniet.
  3. Sommige toksiese mense sal in ontkenning bly en selfs van die lig wat jy uitstraal, wegbeweeg. Verhoudings met daardie mense beëindig self.

Ekself stap swaar weg van verhoudings. Maar as iemand jou teleurstel of seermaak, moet ons met die probleem afreken. Jesus hou vir ons die model voor hoe om hierdie verhoudingsprobleme te hanteer: “As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. Selfs as hy sewe maal op ‘n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou terugkom en sê” “Ek is jammer”, moet jy hom vergewe” (Luk 17:3-4)

Niemand van ons is perfek nie. Ekself struikel daagliks, maar deur reg op te tree en jou gesindheid Jesus-vlerke te gee, verlos jy eintlik net jouself.

Trienie Mahne

  • 2

Kommentaar

  • Trienie, ek het nie die wysheid in pag nie en kan geensins daarop roem dat ek die skerpste mes in die laai is nie, maar elkeen van ons het unieke Godgegewe gawes en talente. In my vorige lewe was ons opgelei om nie verbale kommunikasie te bemeester. Ek is nie 'n meester daarmee nie, maar het al afleidings gemaak wat my lewe gered en moeilike situasies omseil het. Ek ervaar ook dat hoe groter/sterker jou geloof groei, hoe ontvang jy, ek praat hier van myself, word jy weg van soos jy dit stel, toksiese, mense gestuur. Ek hou my nie met negatiewe mense op nie. Ek het nie tyd vir hulle nie. Ek het die afgelope twee en halwe jaar ellende gesien. Ek praat nie van mense met finansiële ellendes nie, maar mense, kinders en volwassenes wat met siekte wroeg en stoei. Ek het tot die besef gekom ek moet ophou teef, my seëninge tel en die Hemelse Vader dank dat Hy Hom elke dag met my as nietige sondige mens bemoei. Ek glo maar nog as jy saam met die honde le, gaan die vlooie jou vreet.

  • CorneliusHenn

    Trienie Mahne,  

    Jy het vir jouself reeds en onder meer 'n idioom in jou uitdrukkings soos "toksiese mense" en gesindheidstoets druip" geskep.  

    Die vroeëre Kobus de Klerk, het dieselfde soort selfverheffing in sy verwysing na onder meer "moedswillige debatsknopers" en "agnostiese ateiste" geskep.  

    Dis duidelik dat jy nes Kobus de Klerk destyds,  jou eie eer en onderskeid daarin soek.  

    Daar is menige sulke "motiveringsprekers" wat onder 'n dekmantel van Godsdiens, vir hulself woeker.

    Jesus Christus onse HERE, het self die voorbeeld gestel hoe daar met "toksiese mense" omgegaan moet word.  

    Die enigste werklike "toksiese mense" wat Jesus Christus in geen ondubbelsinnige woorde uitgewys het, is die Fariseërs en Skrifgeleerdes. 

    Tog het Jesus Christus hulle nie vermy nie, maar gereeld en openlik hulle as adders wat hulself met Godsdiens ten koste van die Boodskap daarin wil bevoordeel, beskryf. 

    Uiteindelik het Jesus Christus onse HERE, ook hul "gesindheidtoets" gedruip.  

    Tot dusver in antwoord op veral jou punt 2&3 hierbo.  

    Ek wy myself voorts  aan jou punt 1 - jy tik: "Die mense wat goed is vir jou sal jou waardes respekteer, en jy sal goeie verhoudings met hulle geniet."  

    Dis waar; maar is dit waartoe jy jouself as draer van die Evangelie beperk - kwansuise "nie-toksiese mense" wat jou "liewe ekke" beeld poets?  

    Ook hierin het Jesus Christus onse HERE vir ons die voorbeeld gestel - GOD het self 'n mens geword en tussen al die "toksiese mense" (sondaars nes ek en jy), nederig kom leef en dien deur selfs hul voete te was!  

    Wie is jy of ek dan om onsself van mede sondaars te weerhou en ons "liewe ekke" stertjies in die lug te wip deur na hulle as "toksiese mense" te verwys?  

    Trienie Mahne, vir geruime tyd voer jy jou veldtog as draer van die Evangelie, wyl jy jouself net pas waar jy geëer word en sodanige toksiese mense te vermy. 

    Eweneens vermy jy my en my vrae omtrent jou onderskeid tussen ware gelowiges en gelowiges, jou verheerliking van die Bybel as die Woord (Jesus Christus), en jou "geesvervulde trane" waar ander se spiritualiteit geminag word.

    Goed so wat my betref ... jy't duidelik jou motivering weereens duidelik daarvoor hierbo gestel. Slag my gerus in jou selfverhefde  gemoed as jy dink jy kan.  

    Dis egter nie wat Petrus met die haan wat sy gewete geroep het gedoen het nie!  

    Nee, Petrus het aan Jesus Christus se voete vir genade gaan val.  

    Judas daarenteen, het homself in sy selfverheffing gaan hang. Had hy maar Petrus se nederigheid, dan sou hy ook eerder homself as gewoon net nog 'n "toksiese mens" besef het, en voor die Kruis gaan kniel het.  

    Ons het elkeen 'n besondere identiteit en belangstelling. Dis deel van ons wese en het reg op die ruimte waarin ons dit uitdra.  

    Die Evangelie, is egter nie joune om tweede te stel en vir jouself eer daarmee in die agtergrond te werf nie.  

    Mag Jesus Christus onse HERE, al ons "toksiese mense" vergewe en genadig wees. 

    Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top