Twee jaar gelede het ek die Boereoorlog-musiekspel Ons vir jou in die Staatsteater aangebied. Ek is deur baie mense aangeval omdat ek ’n musiekspel oor daardie oorlog juis op “hierdie tyd” (soos hulle dit gestel het) aangebied het, en daardie kritiek deur mense wat nog nie eers die stuk gesien het nie! My posisie was: hierdie is my volk se geskiedenis, en as ons nie die reg het om ons verlede te onthou nie, hoe sal ons weet wie ons nou is, en hoe sal ons ons toekoms kan droom? Uiteinde van die saak was dat 45 000 mense Ons vir jou kom sien het.
Toe wonder ek: wat sal ek volgende doen? Na aanleiding van ’n gesprek met Steve Hofmeyr oor sy aksies by Freedom Park, en hoe die Grensoorlog waarin die meeste mans van my ouderdom geveg het basies ’n toffie gewys is en uit daardie monument gelaat is, het ek dadelik geweet waaroor my volgende musiekspel sou gaan, en vandaar die produksie wat ek nou in Junie in die Staatsteater aanbied: Tree aan! – Dit was die dae toe ons troepies was. My eerste drama 30 jaar gelede was per slot van sake Môre is ’n lang dag, wat hom in ’n tent op die grens afgespeel het.
Die ouens wat by die oorlog op die grens en in Angola betrokke was het g’n “debrief” gekry nie. Ons is uitgeklaar en laat staan. En toe kom Freedom Park en word ons vertel dat wat ons op daardie grens opgeoffer het, vir niks tel nie, inderdaad vergeet moet word. Maklik vir ’n politikus om te sê, maar hoe vergeet enige mens so iets?
Toe reken ek: nou maar gaaf, as hulle nie vir ons saam met die res in Freedom Park wil eer nie, dan sal ek, met dit wat ek beste doen – teater - dit in die middel van Pretoria in die Staatsteater doen. Tree aan! is ’n musiekspel wat die lewens van ’n klomp troepies volg - van koebaai by die stasie, deur basics en al die pad na die grens. My bedoeling is dat dit ’n lewendige monument sal wees vir almal, mans en vrouens, wat so duur vir die Grensoorlog betaal het. Ek wil hê ma’s, pa’s, susters, oupas en ouma’s, seuns en dogters en veral my geslag se kinders, moet sien wat ons deurgemaak het. Daarom het ek die stuk as musiekspel geskep om geskik te wees vir die hele gesin, want ek wil hê almal dit moet kan sien. Ek wil hê ons storie moet vertel word, en op die skouspelagtige skaal wat net ’n musiekspel kan gee.
Die jong geslag het met Ons vir jou skielik iets van hulle geskiedenis verstaan wat hulle tot dan nie verstaan het nie. Met Tree aan! gaan almal wat nie op die grens was nie, oud en jonk, die lag en die huil van troepie wees verstaan, en hoop ek dat ek vir duisende mans van my eie geslag uiteindelik daardie “debrief” kan gee wat hulle nooit gekry het nie.
Die produksie kos my ’n paar miljoen rand maar, nes met Ons vir jou, huiwer ek nie vir ’n oomblik om sulke geld vir hierdie produksie te betaal nie. Dis ’n dramaturg se werk om sy of haar mense se stories te vertel, en Tree aan! is ’n storie wat nou vertel moet word, juis in “hierdie tyd” waarin daar daadwerklike pogings aangewend word om die SA burgers van Europese herkoms se hele geskiedenis te kriminaliseer en op grond daarvan dit uit te wis.
Deon Opperman

