Tyd om te stem of om glad nie te stem nie

  • 9

In die laaste verkiesing het ek saam met die meerderheid Afrikaners, DA gestem.  Nie omdat ek enigsins met die DA beleid te vinde was nie, maar suiwer in ‘n poging om die ANC meerderheid onder 66% te behou sodat hulle nie aan die konstitusie na willekeur kon torring nie.  Boonop hou ek van Helen.  Op daardie stadium het die DA nie BEE asook die verlenging van die grondeis kwessie ondersteun nie.  Sedertdien word beide sake  nou  deur die DA ondersteun, wat vir my onuithoubaar is.  Mazibuko het ook vir Afrikaners laat weet, julle was op ‘n stadium vir die DA nuttig, maar nou  is julle vir die party uitgedien.  Julle kan maar loop.  En dit is presies wat ek gedoen het.

Maar dit skep toe vir my ‘n dilemma.  Vir wie gaan ek nou moet stem?  Die druk op my as Afrikaner om tog, nieteenstaande wat hierbo gesê is,  vir die DA te stem suiwer  om die ANC ‘n 66% meerderheid te ontsê, is nie meer van toepassing nie, want alle aanduidinge is daar dat hulle wins in elk geval onder 60%, en in sommige gevalle selfs onder 50% gaan wees.  Dus bly die  konstitusie veilig.

Die enigste party in die parlement wat BEE en die verlenging van die spertyd vir grondeise teenstaan, is toe die VF+  ‘n party wat ek die afgelope 5 jaar verfoei het. Die VF+ het ‘n swak leierskap.  ‘n Outokratiese Mulder familiesaak  wat  knap manne (oa Willie Spies)  vir AfriForum verloor het.  Ek hou steeds nie van die Mulders nie.  Ek hou steeds van Helen.

My keuses?  Glad nie stem nie, of vir die VF+ te stem!

Dit gaan teen my grein om glad nie te stem nie, dus sal  ek maar vir die VF+ stem.  Hopelik dink genoegsame vorige Afrikaner DA-ondersteuners soos ek en ondersteun  maar die VF+.   Ek hoop ook dat die DA die verlies aan Afrikaner ondersteuning daadwerklik,  met ‘n verminderde stem,  sal aanvoel.  Hopelike met meer setels in die parlement, sal die Mulderfamilie uit die kussings gelig kan word om sodoende ‘n dinamiese party tot stand te bring wat vir alle minderhede in die land standpunt sal inneem.

Jaco Fourie

  • 9

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste Jaco Fourie, WELKOM TUSSEN ONS REGSE GEKKEGRENSERS!!! ...  ek hoop en bid daar is nog vele sulke moediges soos Jaco wat bereid is om hul ontnugtering in die Ingelse DANC se ZZ komedie te erken ... Katolieke Boeregroete (ja, niks hier is eintlik volmaak nie) , Cornelius Henn

  • Jaco, ek dink 'n groot persentasie mense sal met jou saamstem. Dink net Helen het die afgelope tyd self daarin geslaag om mense se dunk van haar te verlaag. 

     
    Daar is 'n professor van Potchefstroom wat sê die Afrikaner het sedert 1994 sy stemme by die DA "geparkeer". Dis 'n mooi manier om die saak raak te beskryf, maw ons voel nie regtig tuis by die DA nie, maar in die omstandighede was dit vir die meeste die beste opsie. Ek dink Tony Leon het deur slim optrede in 1994 talle Afrikaners se steun gewerf. Sake het intussen verander veral agv die parlementêre leier se stelling dat hulle nie meer die Afrikaner se stemme nodig het nie.
     
    Vir my is dit belangrik dat daar Afrikaner groepsverteenwoordiging in die parlement moet wees (ek is bewus daarvan dat daar baie teen groepsverteenwoordiging gesê kan word, maar vir ons as groep is dit nodig). As sake skeefloop sal onderhandelings met Europese parlementslede aangeknoop moet word en daarvoor het ons LP's in die parlement nodig. Iemand moet ook namens ons in die parlement kan praat. 
     
    Dit beteken egter nie blindweg vir die VF+ stem nie. As inwoner van die groter Cape Town (die Afrikaanse naam van die stad word feitlik nooit amptelik gebruik nie, al is die groot meerderheid Afrikaanssprekend) gaan ek tog my munisipale en provinsiale stem vir die DA uitbring, want dis nodig om die ANC te hou waar hy tans is. Net my parlementêre stem sal vir die VF+ uitgebring word.
     
    Soos in die 1980's en 1990's beleef ons weer interessante tye. Ek skryf dit met 'n mate van angs.
  • Beste Jaco

     
    Ek stem 100% met jou saam.  Ek het vir dieselfde redes in die laaste verkiesing vir die DA gestem, maar gaan in Mei vir die Mulderparty stem nieteenstaande die feit dat die huidige leier my nie opgewonde vir sy saak maak nie.   Vir die DA   [ANC-Lite]  stem ek beslis nie weer nie.  Helen Zille het my ook  in die jongste tyd erg teleurgestel.  
  • Hallo Jaco

     

    Baie goed om te hoor dat jy darm steeds gaan stem en ook besef dat die DA sy Afrikaner stem nie waardeer of hoog ag nie.

     

    Daar is wel een punt wat ek aan jou wil uitwys en dit is dat ongeag vir watter party jy stem, maak nie saak hoe klein nie, weerhou jy die ANC van 66%. Dit is nie net die DA-stem wat teen die ANC tel nie maar enige stem vir 'n party anders as die ANC. So dit is maar net iets om oor te dink dalk.

     

    Verder het ons meer mense van jou kaliber nodig om die land weer op koers te kry.

     

    Vriendelike groete

  • Hallo Jaco

    Hoe jy voel en dink oor penarie vir wie om voor te stem is te verstane uit dit wat jy skryf.  Jy noem egter nie die ooglopendste opsie wat jy het nie. Bebrou jou stembrief, m.a.w. bring jou stem uit, maar nie ten gunste van enige party nie, deur die stembrief so te bederf dat dit nie ten gunste van enige party is nie.

    Vriendelike groete

    Henk Seymore

  • Ek wil hiermee vir Henk, Eduan, Cornelius, George en Enjee dankie sê vir julle positiewe response hierbo. 

    Henk.  'n bedorwe stem tel mos nie of hoe?  Indien wel, wat is die nut dan om te stem?

    Eduan voel daar moet gestem word, vir enige opposisie party, maar my vraag aan hom  is, indien vir 'n party wat geen setel wen as gevolg van onvoldoende ondersteuning, word daardie stem ook dan verlore?

    En ja Eduan.  Ek het regtig met jou mooi opmerking oor my gevlei gevoel, dankie daarvoor.

  • CorneliusHenn

    Beste Henk Seymore, word bedorwe stemme nie ook proporsioneel verdeel en dan ook uiteindelik die wenparty bevoordeel nie? ... ek is glad nie so seker oor bedorwe stemme nie en glo dit kan eweneens saam met wegblyers by implikasie as 'n stem vir die ANC gereken word ... is daar iemand wat dit miskien aan die hand van 'n gesaghebbende verklaring kan verduidelik? ... Cornelius Henn

  • Jaco, nee man. Jy het my nou rerig deurmekaar. Ek weet vir wie ek nie gaan stem nie. Die probleem is ek wie nie vir wie ek moet stem nie. Eish, man oom Gatsha Bothalezi is 'n opsie. Die Mulders is ook 'n opsie. Zille wat vir die boere die Helen geword het, vertrou ek net so ver as ek haar sien. Vir Jacob Stortkop sal ek in elk geval nooit voor stem nie. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top