Trekduikers wat weet ... en geloof

  • 0

Dirk Laurie wissel weereens interessante gedagtes oor geloof en wetenskap en die drie vlakke van weet – van kennis.

Bloot om net iets te weet, is al die basiese bousteen, die fondament, van wetenskap. Is dit nie waaroor wetenskapsbeoefening gaan – om te wéét – nie? Só is sy trekduikers by Franskraal ook al basies ‘wetenskaplikes’ want hulle hou hulle bykans voltyds besig met wat hulle weet en vir húlle is die rede waarom hulle weet, totaal en al nutteloos – feit is, hulle wéét en oorleef daarmee – dít is nuttig! Hulle is geskape met die intelligensie om óók te kan wéét.

Vlak een van Dirk se analogie en gradering – om te weet - is dus juis wetenskap in sy mees basiese, suiwer vorm – en tog ook glad nie so basies nie, want dít is juis waaroor die wetenskapsbeoefening gaan – om uiteindelik te kan wéét. Om dus by vlak een uit te kom, is juis die primêre doel van wetenskapsbeoefening en smaak dit vir my Dirk se trekduikers besef dit terwyl ander ‘wetenskaplikes’ nog met dié basiese, logiese konsep sukkel. Die ander ‘wetenskaplikes’ span die perde agter die kar, want hulle, soos Dirk, dink mens/iets weet eers en dan moet jy vorder om te weet jy weet en dan nóg meer vorder om te weet hoekom jy weet – net om uiteindelik te besef wat jy by stap een al doen – om te weet. Want sonder stap een, beteken stappe twee en drie van Dirk se gradering net mooi niks. En dit is presies waar die sekulêre wetenskap hom op so baie vlakke – veral die natuurwetenskappe, bevind – by stappe twee en drie sonder vlak een en met bykans geen hoop dat hulle by vlak een gaan uitkom nie. Deurspek met teorieë en hipotese sonder om werklik te weet en het die weet-bewustheid en hoekom-weet-bewustheid vir hulle naderhand meer waarde begin kry as om te wéét.

Vir dié soort van wetenskaplike, is sien, ook glo (weet). Maar by sien (weet) kom hulle al te dikwels nooit uit nie, want hulle hou hulle maar net besig met dít wat die fisiese sintuig kan waarneem. Daarom ook dat iemand soos Ben van Bruggen in sy kommentaar op Dirk se artikel vir Dirk vra waarom Dirk nie verduidelik hoe die mensdom baat vind by ‘mistici’ se insigte nie en dan direk die stelling maak dat ‘almal’ baat by musiektalent – omdat laasgenoemde so fisies waarneembaar is, is dit vir die deursnee agnostikus soos Van Bruggen nuttig en waarneembaar, maar waar dit kom by die geestelike – wat deur biljoene der biljoene mense op aarde oor al die eeue heen steeds waarneembaar, nuttig en kosbaar is – is die agnostikus dom en wil hy verduidelikings hê wat hy, wanneer dit vir hom gegee word, in ieder geval nie (wil) verstaan nie.

Dit is waaroor geloof gaan. Dirk haal die Woord aan uit Hebreërs 11 aan, maar net gedeeltelik. Verstaan hy dit dalk ook net gedeeltelik? Die korrekte, volledig relevante aanhaling van verse 1-2 is:

“DIE geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang.”

Dit is waaroor aktiewe deelname en betrokkenheid by die Geestelike gaan – die mistieke, soos Dirk dit graag noem. Geloof gaan dáároor – die mens se betrokkenheid en interaksie met God en die Goddelike in die fisies onsigbare, Geestelike (Dirk noem dit ‘mistieke’) dimensie, of vlak. ’n Vlak waarvan Dirk getuig, maar nooit daarby uitkom om dit te beskryf nie.

Waar Dirk egter te kenne gee dat geloof slegs op sy vlak twee beoefen word, is hy baie verkeerd. Wanneer die geestelike Paulus vir ons verduidelik oor geloof, soos in Hebreërs aangehaal, is dit duidelik – lees dit weer aandagtig - hy praat juis van die Geestelike dimensie en wat dáár aangetref word. Ware gelowiges weet dus én hulle weet dat hulle weet én hulle weet ook wáárom hulle weet. Wetenskaplik is hulle dus op al drie vlakke wat Dirk voorhou, aktief en bekwaam. Die vaste vertroue waarmee die Geestelike ware gelowige hoop, is juis die ondersoek proses in die Geestelike dimensie biddende tot God en wanneer God reageer, word dié ondersoek beloon met Kennis, met Geestelike bewyse van die Geestelike en dít is die ‘bewys’ waarvan daar in Hebreërs 11:1 getuig word en dít, soos in vers 2 getuig word, is hoe die mense hulle kennis bekom het – deur Goddelike openbaring oor dinge wat slegs deur God en Sy Goddelikheid openbaar kán word (lees gerus weer Jeremia 33:3 in samehang met Hebreërs 11:1-2).

Daardie mense - die beroemde en ware Geestelikes wie in die Woord vermeld word (Dirk noem hulle ‘mistici’) - het dit juis nié verkry deur die tipe van teologiese skoling wat ons vandag ken nie – die einste Paulus het wél sulke teologiese skoling ontvang, maar hy moes dit aflê voordat hy as apostel van God kon optree, omdat daardie skoling juis vir hom van die Geestelike dimensie en dus van God verwyder het. Paulus het, na alles, só verdwaal geraak daardeur dat hy die HERE se volgelinge tot die dood toe vervolg het. Kyk gerus ook maar na vandag se teoloë – hulle weerspreek mekaar, verkondig teenstrydighede en het géén direkte kennis of ervaring van die Geestelike dimensie en die aktiwiteite dáár nie – sommige van hulle praat daarvan maar sonder kennis. Hulle onkundige werke varieer van dié van hulle wat die bestaan van God in twyfel trek regdeur tot by dié wat God en Sy Woord werklik verkondig en erken (daar is maar weinig van laasgenoemde).

Dirk is dus korrek wanneer hy sê dat die bona fide wetenskap met die Woord en ware Godsdiens versoen is. Maar waar hy te kenne gee dat die teoloog met sy teologiese studies oor die geskiedenis, taal en gebruike van antieke tye op dié derde wetenskaplike vlak beweeg, is hy totaal verkeerd. Meeste van hulle het nog nie eens by enige van die drie vlakke uitgekom wat Dirk noem nie – As mens so na hulle teenstrydige en weersprekende weergawes kyk, het hulle nog nie eens die valk van ‘weet’ bereik nie, wat nog te sê, die bewustheid van ‘weet’ en hoegenaamd die rede waarom hulle sou weet – want hulle weet nog nie eens dat hulle nie weet nie.

In daardie opsig is Dirk se trekduikers die deursnee klomp teoloë en agnostici vér voor. Is daar werklik ’n verskil tussen sekulêre agnostici en teoloë oor die algemeen? Die een groep weet nie omdat hulle nie wil weet nie en die ander groep maak ’n studie van al dinge wat hulle nié laat weet nie.

Die fout wat Dirk dalk maak,  is dat hy nie die mistieke, die Geestelike wetenskap, sy regmatige eie plek in die wetenskap gun nie. Dirk wil dit onderwerp aan die proses wat elders in die ander dimensie – die fisiese – aanwending vind, waar getoets word vir die fisies waarneembare met metodes en toetse wat dáárvoor ontwikkel is.

Nee, die Geestelike wetenskap funksioneer in tandem met die fisiese en die fisiese is die manifestasie uit die Geestelike, maar nie in dieselfde dimensie nie en ook nie onderhewig aan dieselfde beperkinge en beginsels as die fisiese, nie. Die Geestelike dimensie verg ondersoek by wyse van Geestelike kommunikasie en die volg van reeds vasgestelde riglyne en beginsels. Die Geestelike wetenskap verg dus kommunikasie in die Geestelike dimensie om, net soos met die natuurwetenskappe, ondersoek in te stel en die reeds bestaande Geestelike beginsels (wette) te vind, net soos die natuurwetenskaplike die natuurwette, wat reeds bestaan, vind deur toepaslike metodes vir dáárdie dimensie. In die Geestelike dimensie en –wetenskap is daar géén plek vir modelle en teorie en hipotese, soos in die natuurwetenskappe nie (die teoloë se eindelose verwarring en weersprekings demonstreer die nutteloosheid daarvan) – dit gaan oor effektiewe kommunikasie en die gehoorsame volg van riglyne wat vanuit die kommunikasieproses spruit.

Dít is die proses wat in Hebreërs 11:1-2 gelees met Jeremia 33:3; Mattheus 7:7-8; 1 Tessalonisense 5:17; Jakobus 1:5-8, ens. baie kortliks opgesom word. Daar is haas geen beperking op die onderwerpe van sulke kommunikasie wat geverg word vir die Geestelike wetenskap nie – dit raak immers elke iedere faset van die mens en dit wat om hom is, se  bestaan.

En omdat die fisiese dimensie hoofsaaklik manifestasie vanuit die Geestelike dimensie is, sal daar langs die Geestelike weg ook talle antwoorde kom vir wetenskaplike probleme wat net eenvoudig nie in die fisiese dimensie met die metodes wat dáár ontwikkel is, alleen opgelos kán word, nie.

En dan is daar ook die ánder faset van Geestelike wetenskapsbeoefening wat vir die mens van ontsaglike nut is – dié wetenskapsbeoefening bring die mens in aanraking met talle dinge, kennis en waardes wat vir die mens in sy ewige tuiste, die hiernamaals, van geweldige nut is – miskien wil Ben van Bruggen bietjie daaroor nadink... as hy kan (lees ‘wil’, want mense soos hy weet dikwels nie omdat hulle nie wil weet nie). Dit is by die sekulêre wetenskapsbeoefening net ’n geslote veld. Bykans alles wat die sekulêre wetenskaplike hom as sodanig mee besig hou, word vir hom op ’n gegewe oomblik in sy bestaan, eensklaps nutteloos en irrelevant – by sy afsterwe. Daarna sal nét die kennis, die weet, wat hy deur die Geestelike wetenskappe bekom en wys geword het, van nut of relevansie wees. Na sy afsterwe, is dit die enigste dimensie wat vir hom bly voorbestaan – of mét God of sónder God. Sal hy as totale onkundige en vervreemde vreemdeling in die Geestelike dimensie sy weg na God kan vind? Nee ... eerder as ja.

Soos dit vir my lyk, is Dirk se trekduikers dalk ’n hele paar sekulêre wetenskaplikes en teoloë vér voor met wat hulle weet.

Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top