The Untold and Played-down History of the Catholic Church

  • 8

Weens taktvolle swyging vir Cornelius se gevoelens wou ek nie hierdie onderwerp aanroer nie maar vandag sien ek ’n artikel in die kwaliteit Duitse blad Der Spiegel, oor  Biskop Franz-Peter Tebartz- van Els: bei Papst Franziskus und dem Limburger Bischof entdecken deutsche Katholiken die zwei gesichter des Klerus.

Die twee gesigte van die "Heilige Katolieke Kerk" is nie ’n vreemde begrip vir belese mense nie.

Sonder om in te veel detail te vaar omtrent die ontwikkeling van die geloofsbelydenis van hierdie institusie soos transsubstansie en ander beginsels van dogma wat glad nie eers voorkom in die Bybel nie, die onfeilbaarheid van Pouse wat praat "ex cathedra" , ’n opdissel van die 19de eeu, kom ons kyk na die rekord van die Kerk (die sg liggaam van Christus) deur die verloop van die geskiedenis.

Die Roomse Pous het die kruisoptogte in die vroeë Middeleeue finansieel ondersteun, en die vernietiging van daardie tyd se rykste stad, Konstantinopel. Al die buit is na Venesië en Rome geneem, en kan oa vandag gesien word op St Mark se plein in die vorm van die perdebeelde wat op die dak van die Basilica pronk.

Die Kerk het die Spaanse conquistadores gevolg na Suid-Amerika en toegekyk hoe die plaaslike Indiane uitgeroei en besteel word van hulle goud en land. Hierdie goud is gebruik om die pragkatedrale in Portugal en Spanje te bou.

Die Kerk het later toegekyk hoe die inboorlinge daar onder dwang moes werk vir die Spaanse koloniste wat gewoonlik 90% van die land vir hulleself ingepalm het. Priesters wat hulle stemme dikgemaak het oor hierdie ongeregtighede is na Rome teruggeroep.

Die Roomse Kerk het die fascistiese diktator Franco in Spanje geseën met sy burgeroorlog teen hervormers. Daar is legio voorbeelde van die Kerk se inmenging in die interne sake van ander lande (net soos die CIA van die VSA),  en hulle ondersteuning geleen het aan diegene aan bewind, gewoonlik brutale diktators, teen diegene wat regverdige demokratiese hervorming wou bring waardeur alle landsburgers kon baat.

Die haat in Roomse kringe vir die hervormers soos Martin Luther en Calvyn (die Demoon van Genève) is legendaries en bestaan vandag nog. Toe Luther Rome besoek het, het hy ’n nes van immoraliteit en korrupsie gevind, en gepleit vir hervorming binne-in die Kerk. Trouens wou hy nie ’n breuk in die Kerk veroorsaak nie maar die hardkoppige Pous van daardie tyd wou nie gehoor gee nie.

Wat ek persoonlik so verdoemenswaardig vind is die twee-gesig hipokrisie van hierdie institusie, die enorme kloof wat daar bestaan tussen dit wat hulle preek, en dit wat hulle doen. Hulle verhouding teenoor seksualiteit beskryf die beste hierdie skisofrenie. Aan die een kant beskou hulle masturbasie as ’n "mortal sin", ’n sonde die oortreding waarvan jy reguit Hel toe gaan, en aan die ander kant beskerm hulle kindermolesteerders onder hulle eie geledere. Ook die kwessie van kondome. Volgens hulle skewe logika is dit beter dat ’n persoon die HIV-virus optel as om beskermingsmiddels te gebruik. Onder die armste mense in die bevolking is dit ook beter om10 kinders te kry wat hulle nie kan voed nie as die gebruik van voorbehoedmiddels. Ook beveel hulle totale onrealistiese oplossings aan soos die weerhouding van seks (selibaat)  as antwoord op die seksuele drang.

Die Vatikaanbank, ’n besondere geheime institusie, is moontlik ’n wassery vir Mafia-geld.

Ek het groot geword met die idee dat die Roomse Kerk geldelik  ’n arme institusie is wat sukkel om te werk en te sorg vir die heil van sy lidmate. Verder van die waarheid kon ek nie wees nie. Die Kerk is skatryk en besteel sy lidmate met die belofte van ’n "hiernamaals", en die gedagte dat as hulle arm en ellendig  in hierdie lewe is, daar ’n wonderlike toekoms vir eendag  wag.

Pieter Redelinghuys

  • 8

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Deur die sanksionering van die dwang-kerstening deur die Christelike Kerk met die swaard van die Germane, en die goedkeuring van grootskaalse geweld en doodmaak in die naam van God tydens die kruistogte, het die hele morele bodem uit die Christelike- Kerk en Geloof geval.

     

    Die rede hiervoor is omdat die Christelike Kerk nie 'n skoon breuk gemaak het met Judaïsme nie maar die Ou Testament behou het waar die Hebreeuse God toestemming gee aan sy uitverkore volk om ander volke in die gelofte land uit te roei (genocide).

     

    Dit maak ook 'n klug van die Wet van Moses wat sê dat jy nie mag moord pleeg nie. Maar blykbaar mag jy wel moord pleeg as God dit goedkeur en jy handel in "sy naam".

     

    Pieter Redelinghuys

     

     

  • Pieter

    Dankie vir jou heel insiggewende uitbreiding aangaande die Katolieke kerk se geskiedenis, wat ek heel interessant gevind het.

    Jaco Fourie

  • CorneliusHenn

    Beste Pieter,  

     

    Dis opvallend hoe saamsweer teoretikusse gedurig 'n agenda by die Roomses soek.  

     

    Ek wil jou egter verseker dat die algemene en heilige katolieke (met 'n klein k) Kerk, ook die Kopte, Ortodokse, Helleenses, en vele ander sulke totaal onafhanklike draers van die Evangelie insluit.  

     

    Woed die Roomse gevaar werklik so diep in die Protestante gemoed dat selfs die ontnugterdes daarin, nie verby hul indoktrinasie omtrent die Katolieke kan kom nie?  

     

    Ek weet van 'n fundamentele Hervormer wie se lewe wat na 'n ernstige motorongeluk in 'n diep afgesonderde plek in Namibië, deur die toegewyde verpleegsters (nonne) in 'n Katolieke hospitaal gered is, nie die moed het om hulle daarvoor te bedank nie weens die Roomse haat wat Calviniste koester. Daardie haat, is juis op al jou propaganda hierbo geskoei.  

     

    Die Roomse Katolieke Kerk, is langer as 'n duisend jaar reeds 'n instansie. Meeste van die sogenaamde rykdom daarin, is oor geslagte heen daaraan geskenk en bestaan hoofsaaklik uit grys geld (waardasies van "kunswerke" en gebruik artikels soos bekers en ander gerei).  

     

    Ek kan dalk verkeerd wees; maar watter bank hanteer die Roomses se kapitale beleggings waaraan hul rykdom gemeet kan word, en wie is die begunstigdes (aandeelhouers) daarvan?  

     

    Nes die Westerse beskawing, is die Katolieke (met 'n hoofletter K) nie net sleg nie.

     

    Katolieke (met 'n kleinletter k) groete,  

     

    Cornelius Henn

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Cornelius,

     

    Dankie vir jou antwoord, en ek wil byna om verskoning vra as ek jou gevoelens aangeraak het. Hierdie artikel was liefs nie vir jou oë bedoel nie, maar daar is het jy dit nou.  Persoonlik het ek niks teen die Roomse Katolieke Kerk nie, en ek het slegs aspekte van sy geskiedenis genoem. 'n Groter ergenis is fundamentaliste- protestante maar ek dink dat ek genoeg in my skrywes na hulle verwys het.

     

    Verder is jy absoluut korrek om te stipuleer dat nie alles in die Kerk of die Westerse beskawing sleg is nie. Dit is slegte mense (die vrot appels) wat hierdie instansies 'n slegte naam gee. 

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys 

  • CorneliusHenn

    Beste Pieter,

     

    Dit raak my hart en ek waardeer jou respek daarvoor.

     

    Eweneens is dit altyd my pleidooi at elkeen se hart gerespekteer moet word - gelowige en ongelowige.

     

    Ek is egter meer as bereid om oor enige onderwerp wat my raak rede te voer. Vra my, en ek sal opreg my rede met jou deel sonder die geringste gedagte om enigeen te wil oortuig daarvan - dis my rede, en met die grootste respek vir joune.

     

    Deur die jare het ek myself in menige saamsweerteorie verdiep, van Dan Brown: http://www.danbrown.com

     

    ... tot by hierdie skakels: http://www.knowledgeoftoday.org/2012/05/vatican-banks-corporations-knights.html

     

    Ek dink vir myself: http://www.knowledgeoftoday.org/2012/03/think-for-yourself-question-everything.html

     

    ... en laat my hart in die liefde en genade van God!

     

    Daar is BAIE wat ek graag met jou sou wou deel, maar ook met respek; ek dink nie die werf is regtig 'n aangewese plek vir sulke gesprek nie aangesien elkeen hier by verskillende mylpale op hul weg in die lewe is.

     

    Wat ek jou en enige ander wel wil nooi, is om wyer as die Katolieke en die Bybel in Godsdiens te kyk.

     

    Godsdiens, 'n wonderlike gawe in jouself wat jou lewe tot nuwe hoogtes kan verryk!

     

    Namaste!

     

    Cornelius Henn

  • CorneliusHenn

    ... en o ja Pieter, ek volg tans hierdie gesprek ook met groot belangstelling: http://www.covertmessiah.com/

     

    Ek wik en weeg reeds geruime tyd om 'n "volledige bydrae" daaromtrent op die werf te deel ... ek glo ek sal daarby kom sodra die slegte gesindheid elders opklaar ...

     

    Katolieke groete,

     

    Cornelius Henn

  • George Bekker

    Vir ingeval iemand my dalk verkeerd verstaan. Ek is 'n gelowige wat nie 'n eng godsdienstige beskouing huldig nie en werklik hoop dat die nuwe pous die RKK na rustiger waters sal stuur. Hulle het egter 'n lang geskiedenis waaraan hulle liewer nie herinner wil word nie. Drie artikels oor "The Criminal History of the Papacy" kan gratis by nexusmagazine.com afgelaai word.

  • CorneliusHenn

    Dis 'n gegewe dat die ondermyners van Godsdiens, die dienaars in die geskiedenis daarvan aan vandag se moraal oordeel min wetende dat die kwansuis verbeterde reg en geregtigheid soos byvoorbeeld die demokrasie vandag, oor eeue heen van kansels af gepreek is. Die evolusieproses wat vandag se ruimgesindheid bewerk het, kom deur eeue se opvoeding van mense toegewy in God se liefde en genade. Enige opregte student van die geskiedenis, sal byvoorbeeld Shaka kaSenzangakhona, aan die leiers van sy era meet om sy gesindheid bepaal, en nie aan 'n Nelson Mandela met 'n pak klere aan nie. Die Pouse deur die eeue heen was ook net mense, en het gewis in vergeleke met die lewe om hulle, hoër grond gehou wat bygedra het tot 'n meer verdraagsame wêreld vandag. Die sinici misken egter hierdie werklikhede en misbruik die geskiedenis deur dit aan hul sogenaamde liberale moraal te meet, so asof die gesindheid in die wêreld vandag buite die evolusie deur Godsdiens bewerk is. Die vraag is natuurlik of die oorloë onder die dekmantel van Christenskap vandag, wel so beskaafd is as wat daar deur die massamedia voorgegee word. Dis die rede dat debat oor die algemeen dwaas is met mensehaters wat geloof, en ongeloof vir hul sieklike agenda ontsier. Daar is regtig nie te vergelyk tussen Goddelose leiers en Godsdienstiges leiers in die geskiedenis nie. Godsdiens word oral op die mees  barbaarse maniere deur nie-Godsdienstiges vervolg. Adolf Hitler, kan allerweë as 'n hartelose ateïs beskryf word. Maar dan is daar ook genoeg getuies onder die Kommunisme se sekulêre ideologie en onderdrukking van Godsdiens, wat die gru daarvan kan vertel. Dan is daar ook nog Godsdiens wat Godsdiens moor. Lees gerus hierdie deur die woord Christen, met Katoliek te vervang:  http://maroelamedia.co.za/blog/nuus-in-konteks/nuuskommentaar-christenvervolging-steeds-n-werklikheid/ ...  ja, oorlogshond apologete soos die goddelose Wouter Ferns, het ook reeds in sy kamstige hoër rede bepaal dat Protestante en Katolieke elk hul eie God aanbid. Dieselfde soort oorlogshond gedagte vuur Moslems en Katolieke in gevegte. Die punt is dat elke leier, hetsy Godsdienstig of andersyds, aan die era waarin hulle tot die mensdom bydra geweeg moet word. Daarom my respek aan elke leier in die geskiedenis van die Suidpunt van Afrika - van Meneer FW de Klerk tot by Paul Kruger. Hieraan sal die misdaad van die Britte teen die Boerevroue en kinders, duidelik staan! ... albei kante se kanonne deur dieselfde HERE geseën? ... nee, ek glo nie, maar die geskiedenis sal wel leer of 'n eerbare leier soos emeritus aartsbiskop Desmond Tutu, nie net die plaasmoorde vandag sal veroordeel nie, maar nog as Anglikaan vergifnis vir die moord en doodslag van Boerevroue en kinders in konsentrasiekampe sal vra ... ja, daar is veel meer om oor te peins en te mymer aan die Suidpunt van Afrika, as om my te kwel oor die subjektiewe beskouing van die Roomses se vergrype in die geskiedenis aan vandag gemeet ... katolieke (met 'n klein k) groete, Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top