Hello,
Vreemd soos dit mag wees is daar nog ’n debat hier onder sekere deelnemers hier of daar iets soos apartheid was. Ten spyte van die feit dat die VN dit in 1966 as ’n misdaad teen die mens klassifiseer het. Maar laat daar nie langer daaraan aandag gegee word nie. JP Landman loop soms deur onder die wat sy optimistiese blik op Suid-Afrika as belaglik wil afmaak. Daarom is die verslag van Goldman Sachs so welkom.
’n Bestekopname vry van ’n ideologiese inslag wat die huidge Suid-Afrika as ’n val sien vanaf die grootsheid bereik onder die vorige bedeling. Die verslag kan hier gevind word. http://cdn.bdlive.co.za/images/pdf/20yearsofFreedom.pdf en uit daardie verslag lig ek uit wat my aandag getrek het:
Dienslewering het verbeter vanaf 2002:
Huishoudings met elektrisiteit het toegeneem van 77% tot 85%.
Huishoudings met watertoevoer het togeneem van 56% tot 91% met kwalifisering van ekstern tot die huis of naby die huis.
Alhoewel ’n verbetering is die volgende nog steeds tragies. Honger het afgneem vanaf 24% tot 11%
79% van die mense wat publieke gesondheidsdienste gebruik is tevrede met die sorg net soos toegang tot sorg toegeneem het tot 70% vanaf 57%. Hierdie is in kontras tot ’n persepsie wat wyd verkondig word as ’n werklikheid.
Suid-Afrika is maar ’n klein ekonomie en maak slegs 0,5% van die globale GDP uit.
Op ekonomiese terrein is die volgende vordering gemaak:
Besteebare inkomste vir die bevolking het gegroei.
Die groei van die swart middelklas het hierdie besteebare inkomste positief beïnvloed en aangehelp.
Produktiwiteit het verbeter. (Sou seker beter gewees het sonder die stakings)
Gereeld word die mite verkondig van hoe fantasties die land onder apartheid en die Afrikaner bestuur was en is hierdie die mees duidelikste beskrywing van daardie tydperk wat ek nog gelees het en al lank voor gesoek het.
Tussen 1980 en 1994 was die GDP groei per jaar gemiddeld 1,4% per jaar met inflasie wat teen 14% per jaar gehardloop het.
Staatseffekte het ’n ‘junk status’ gehad. (Die wat nie bekend is met die term kan dit google)
Die staatskas was leeg.
Wat ’n goeie beleid was apartheid nie.
Ekonomiese groei tussen 1994 tot 2007 was 3,6% per jaar en inflasie is afgebring tot 6,3% per jaar. Nie sleg vir die nuwes wat nou aan die beheer van sake staan nie.
Vanaf 2007 tot nou het groei afgeneem tot 2,3% per jaar en is ’n effek van die krisis van 2008.
Die ekonomie het in toegeneem vanaf $80bn to $400bn.
Die wat belasting betaal het toegeneem vanaf 1,7 miljoen mense in 1994 tot 13,7 miljoen mense in 2012 met die inkomste uit die groep wat toegeneem het vanaf R114bn tot R814bn in 2012.
Tesame hiermee is 10 miljoen mense wat voorheen agtergeblewe was opgeneem in die groep met verhoogde inkomste.
Die swart middelklas het toegeneem tot 5,4 miljoen terwyl die wit middelklas afgeneem het van 4.2 miljoen tot 3 miljoen, terwyl 700 000 wittes die land verlaat het.
Die tragedie is egter dat 87% van wittes in die middelklas en beter is terwyl 85% van die swartes nog arm is. (Hierdie laat ’n groot vraagteken oor die bewering van slegs 250 000 waarmee Henn vorendag gekom het en soos soetkoek deur Reusedwerg verorber is)
Daar word afgesluit met die uitdagings of dan in gewone taal, probleme wat die hoof gebied moet word:
Werkloosheid en ongelykheid. (My redaksionele kommentaar – hierdie maak my weemoedig)
Lopende Rekening tekorte.
Wisselvalligheid van die wisselkoers van die rand. (Soos al uitgelig deur Jaco)
Daar word te min gespaar en het die gebruikers te veel skuld.
Arbeidsonrus en lone wat te vinnig styg.
Opvoeding en die probleme met publieke sector produktiwiteit.
Infrastruktuur.
HIV-infeksie, (waarvan ek deel van die statistiek is) een van 4,6 miljoen mense.
4.6 miljoen mense sonder werk en met ’n ekstra 2.2 miljoen wat eenvoudig ophou werk soek het.
15 miljoen mense wat in absolute armoede leef.
Hierdie dan van die aspekte wat ek wou uitlig van hierdie verslag. Daar is groot dele wat tegnies van aard is en daarom nie maklik oorgedra kan word nie. Maar dit is uitstekend dat die verslag die lig gesien het en is dit ’n bestekopname wat stof tot nadenke bied en ’n blik op die werklikheid bied wat genadiglik vry is van die ideologiese kleur wat ’n Jan Rap, ’n Cornelius Henn en ander wat hier rondsluip en so gesprek vertroebel.
Baie dankie
Wouter
Ns, Lilly is saam met Elizabeth op ’n bootreis…


Kommentaar
Wouter Ferns se leuen sommer by die inval: "Vreemd soos dit mag wees is daar nog ’n debat hier onder sekere deelnemers hier of daar iets soos apartheid was" (sic).
Dis egter nie waar nie aangesien die vraag reeds herhaalde keer gestel is naamlik; wat die verskil kwansuis tussen die Britte se segregasie sedert hul voet aan wal - tot en met 1948, en die politieke geskape Afrikaner se apartheid daarna sou wees?
Tot op hede het nie een van Wouter Ferns, of enige ander wat so met oorgawe sy mening steun die vraag beantwoord nie. Telkens word daarvan gewyk deur allerlei persoonlike laster en leuens soos weereens hierbo te plaas.
Die rede vir my vraag is jeens die oordrewe skuldgevoel waarmee ideologies geskape Afrikaners hulself as misdadigers en alleen skuldig aan apartheid/segregasie beskou.
Dit skep 'n minderwaardigheid en miskenning by ewe belangrike burgers van ons land omtrent hul geskiedenis en wat beslis die huidige buite beheer van misdaad, korrupsie en moord in ons land meebring.
Hierdie is slegs 'n enkele van vele kwessies wat deur "Wouter Ferns Lilly White" se gewoonlik oorweldigende spoeg en plak vol verdraaide feite en buite rede ontsier word.
Die rekord is ook daar vir enigeen wat sou wonder om te lees hoe laakbaar "Wouter Ferns Lilly White", aanhalings sonder enige gewete daaroor verkrag om die Boerevolk en die katolieke Kerk te beledig.
Ek respekteer die intelligensie van belangstellendes hier. My rede is aangesien ek wel openlik standpunt hieromtrent deel en dit daarom op rekord plaas dat ek weereens kennis neem van die bedrog onder name "Lilly White Wouter Ferns".
Dis egter lankal nie meer die kool die sous werd om verder kommentaar op hierdie valsheid van ene Wouter Ferns te lewer nie.
Ek is egter meer as bereid indien enigeen my hieroor wil bevraag, ek daarop sal antwoord.
Ek is ook bereid om te besin hieroor indien enigeen sou meen dat ek hierdie geharde misdadigheid van Wouter Ferns met te min sagmoedigheid aanspreek.
Katolieke Boeregroete,
Cornelius Henn
Dag Wouter,
sulke data word altyd en oral deur ander data uitgedaag, steeds, dis leesbaar en stimuleer denke.
Tot waar dit duidelik word dat jou belang hierin blyk te wees om ander soos Jan Rap, Cornelius en Reusedwerg te verneder.
Dis waar ek ophou om jou bronne en weergawe te vertrou, my vermoede dat dit maar net gaan om die genoemde ander skrywers af te kraak is te sterk.
Ek groet
Duitswester
Wouter, ek is rerig bly dat jy die statistieke onder ons aandag gebring het. Ek is ook beïndruk met die verslag. Indrukwekkend. Ongelukkig moet jy die verslag soos 'n balanstaat lees. Ek is baie skepties om bly te raak oor verslae wat deur enige organisasies in die land saamgestel te word, trouens in enige land. Eerstens vra ek wat is die doel van die verslag en wie is die kliënt wat daarna gaan kyk. Ek gee toe daar is baie verbeterings sedert 1994 maar ten koste van wat. Ek is, en ek hoef dit nie aan jou te bewys nie, een van die mees optimistiese en positiewe persone, maar ek is nie naief nie. Oor een ding is ek werklik bekommerd en dit is die Sjinese betrokkenheid in die land. Iemand gaan nog 'n duur prys daarvoor betaal. Sterkte vir jou.
Wouter
Fantasties man! Haal nou jou diefwering en alarm stelsel uit, kyk in die oggend as jy werk toe ry hoe die kinders met hulle fietse skool toe ry op goeie paaie en skryf sommer in by Tuks vir daai internasionale erkende graad. Luister asb na jou baas by die werk, hy weet wat hy doen, sy ondervinding, kwalifikasies en rykdom is swaar bekom.
Nou moet ons net duim vas hou die Bandiete kan weer Saterdae in my tuin werk.
Groente
"Die wat belasting betaal het toegeneem vanaf 1,7 miljoen mense in 1994 tot 13,7 miljoen mense in 2012 met die inkomste uit die groep wat toegeneem het vanaf R114bn tot R814bn in 2012"
Statistieke beteken niks tensy 'n mens hul in konteks lees en vertolk.Die volgende artikel het op Moneyweb
verskyn.
How many taxpayers are there really?
Dit is dus duidelik dat 'n mens nie sommer op loop moet gaan 'n verslag se bevindinge sonder om dit krities te ontleed nie,
Dis natuurlik vanselfsprekend dat jy en jou trawante die sanksiejare kies om aan te dui hoe swak die ekonomie onder apartheid kwansuis was. Enige land/regering sou onder daardie omstandighede ekonomies gesukkel het.
Gaan bietjie na hoe goed die ekonomie gegroei het voor die sanksies/boikotte. Onder dr Verwoerd en lank daarna het ons die beste groei ooit gehad.
Dat die ekonomie sedert 1980 tot vandag, of liewer na 1994 goed gegroei het, is tog ook die natuurlike uitvloeisel van groeiende bevolking en ekonomieë wêreldwyd, asook die opheffing van sanksies.
Dat apartheid as misdaad teen die mensdom verklaar is, is op sigself 'n misdaad teen die mensdom. Dit is gedoen deur te kyk na die pyniging van klein apartheid, wat inderdaad wel onregverdig teenoor die swartes was. Maar hulle het die breër prentjie en gesonde ideologie misgekyk, naamlik selfbeskikking vir alle nasies in hul eie gebiede. Vandag kyk die wêreld met ander oë na hierdie aspek en streef verskeie nasies na daardie begeerlike selfbeskikking op 'n eie grondgebied.
Maar ek het al lankal uit jou skrywes opgemerk dat jy nie tot vars, nuwe denke in staat is nie, maar eerder ander slaafs navolg, en veral verslaaf is aan skrywers wat anti-Afrikaner is.
Groete,
Varkspek
NS: Jan Rap, dit is belangrik dat mens soms die man ipv die bal speel, veral waar jy besef hy is nie vatbaar vir logiese denke en oorspronklikheid nie.
Wouter. Vatso ou katvis. Jy moet baie vroeër opstaan. Daar is 'n gesegde, niemand is so doof soos iemand wat nie wil hoor nie. Dieselfde kan van iemand gesê word, niemand is so blind soos iemand wat nie wil sien nie.
Hello Duitswester,
Hello Oupa,
Hello Reusedwerg
Hello FC,
Hello Varkspek,