Stomp

  • 0

Mens weet van kleins af van die goed en jy hoor selfs van mense wat daarmee te doene het dat hulle te doene had met die goete: Toorgoed. Vandag, noudat mens nie na die deursnee donkerpak ouderling se hel toe verban gaan word nie kan mens dit selfs in die openbaar noem. Sonder die helse vrees. Ons praat nie nou van geeste oproep nie, want dit gebeur al dekades reeds en mens kan hulle (dis nou die opgeroeptes) besigtig in ons parlement en ander staatsgeboue, sonder dat die helse vagevuur neergedaal het.

Ek het al gehoor van Piet wat met 'n stomp in sy kies rondloop. Ken die man goed want hy is tog bloedfamilie. Ek het jarre terug vir Piet gevra waarom hy altyd 'n tannestokkie in sy bek het en hy beduie dan dat hy altyd iets tussen sy tanne het want hy eet gereeld bossies en ander snaakse goete en die stokkie help. En noudat die tanne al minder beginne raak help die stokkie juis ...

Jan (logies nie sy regte naam nie) beduie my egter jare terug al dat mens vir Piet moet dophou as hy met mense te doene kry. Jan beduie my dat hy eendag in die Groot Hof met sy eie oë gesien het hoe Piet vir die Judge kyk en die Judge heeltyd grond toe moes kyk. Piet was, logies, weer beskuldig van een of ander wandaad waaraan ons almal weet hy doodskuldig was. Jan sê dat die judge hier halfpad deur sy uitspraak begin sweet het, en heeltyd grond toe bly kyk het. Piet het in die beskuldigde bank rustig gestaan en die judge se oë probeer vang en die stomp innie kies heen en weer geskuif. Hulle beweer, want ek was nie daar nie, dat die judge hier teen die einde selfs vir Piet om verskoning gevra het dat die staat sy tyd so gemors het. Piet het selfs die nette waarmee hy die paar ton vis onwettig by Gouritz getrek het terug gekry. Die Flenter Ford bakkie dink ek nie sou die Staat in elk geval in belang gestel het nie en hy is net so flenters uit die polisie se jaart uitgesleep (dis juis omdat die ding langs die pad gebreek het dat hulle hom in die eerste plek met die hoop vis gevang het). Hulle sê die Judge het die hof verdaag en is die res vannie dag huis toe maar ek vermoed dis maar net gerugte want hulle hou nie baie van werk by ons howe nie so die arme man moes seker loop gras sny het.

Ek sê nie Piet se toorgoed werk nie al moet ek wonder waarom hy steeds wegkom al is die bewyse donderend teen hom maar ek het een dag Piet se "dokter" ontmoet. Moes deur die hele reinigingseremonie en die kaalgat swetery oor die Doepa soutbad (as SARS op jou case is gryp jy na alles byderhand) gaan en Piet se "dokter" het my, na ek gespoeg het op die vuur wat gemaak is met een van SARS se fakture en ek die vloek uitgespreek het my 'n lang stokkie innie hand gestop en beduie dat ek, sodra die vorige ene klaar gekou is 'n nuwe twee sentimeter stukkie innie kies moet druk en dit kou.

"Jou probleem sal weggaan" het einste Piet se dokter my beduie en ek kry steeds maandeliks my SARS-opgawes en hulle is my glad nie genadig met my BTW nie maar dalk is dit omdat ek lankal nie meer die stuk stomp in my kies hou nie. Die bleddie ding is bitter en na 'n dag in jou kies voel dit asof jou wange van rubber gemaak is en jou tong sleep soos 'n dronk mens s'n. Ek't die ding die derde dag uitgespoeg. Iewers in 'n blik weggebêre lê die res van die stomp vir ingeval, vir eendag ...

Sien noudiedag Piet se "dokter" het nou 'n groot besigheid kort duskant die groot berg en die karre staan die hele straat vol so ek vermoed hy doen nie te sleg met sy mechanic werk nie. Want ek glo nie die karre het toorwerk nodig nie. Stop innie straat toe ek die "dokter"gewaar en ons groet en hy beduie dat hy kan sien die stomp het gehelp want hy sien ek ry 'n nuwe bakkie en wanneer betaal ek hom die ander paar rand vir die toorgoed en ek beduie na die karre innie straat en ons stem ooreen dat dit dalk beter is as ons vriendelik uitmekaar gaan en mekaar groet soos ou vrinne. As daar anner mense naby is. Want Piet se dokter weet minder van karre af as die munisipale raadslid wat hy omgekoop het maar ons sê niks daarvan nie.

Piet loop steeds wye draaie om al wat gesag en hof is. Ek hoor die mense praat dat selfs die landdroste begin verskonings soek as hulle sien Piet is vandag op hul rol. Ek vermoed egter dis net gerugte ...

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top