“Meer kiesers stem egter glad nie as vir die ANC”. Die opskrif van 'n koerantberig vandag.
'n Mens kan tog seker nie dommer wees as dit nie. As jy kwaad is vir die ANC stem teen die ANC! Ten spyte van al die belasting wat jy betaal kry jy gewoonlik net een keer in vyf jaar die kans om te stem. Benut dit! Daar is nie iets soos 'n volmaakte party nie. As jy dik is vir een stem 'n slag vir 'n ander een maar gaan stembus toe! Jou laaste opsie (en swakste opsie) is om jou stembrief te bederf en op dié wyse te protesteer teen die vrotsige partye en kandidate op die stembrief, maar jy is op stemdag by die verkiesingslokaal.
Het verlede jaar al gesê wat ek gaan doen en ek herhaal dit nou: ek gaan nasionaal vir die Vryheidsfront stem en provinsiaal en munisipaal vir die DA. Ek hou nie juis van die Vryheidsfront nie en ek verpes die DA maar ek gaan stem. Vir my is die Vryheidsfront nie dinamies genoeg nie en die DA is ga! maar ek gaan tog vir hulle stem. Met die Vryheidsfront in die parlement (al is dit net enkele lede) is die Afrikaner steeds in 'n posisie om sy mening op die hoogste vlak uit te spreek.
Oor die DA sal ek liewer min sê: hierdie bliksems kry die meerderheid Afrikaners se stemme maar kan selfs in 'n provinsie waar die meerderheid kiesers Afrikaans is en vir hulle stem(!) nie na Afrikaanse taalregte omsien nie. Dis nie nodig dat hulle 'n lawaai hieroor maak nie – doen dit amper onopsigtelik as dit die DA pas, maar sorg dat ek munisipale kennisgewings van bv oor die krag wat afgesny gaan word in Afrikaans kry! Hulle sal nie eers op hierdie soort kommentaar reageer nie want hulle weet waar hulle stemme in die toekoms vandaan moet kom. As jy wonder of ek oordryf en in die Kaap woon, gaan na die naaste kliniek en kyk na al die vorms en kennisgewings: alles Engels en nou en dan iets in Afrikaans, maar dan word ook vir Xhosa voorsiening gemaak. Dommer lesers moet my nou nie verkeerd verstaan nie – ek het nie beswaar as daar vir ander tale voorsiening gemaak word nie, maar die hooftaal moet nie afgeskeep word nie.
George Bekker


Kommentaar
Hoor, hoor George!
Geen ander party behalwe die VFPlus kan daarop aanspraak maak dat hulle onbeskaamd veg vir Afrikaans, minderheidsregte, selfseggenskap en teen rasgedrewe regstellende aksie is nie ... jou steun vir die Ingelse DA is net so goed soos 'n wegblystem of oorgawe met 'n kruisie agter die kommunistiese ANC onderdrukkers ... en ek dink jy weet dit ...