Slange in 'n doringboom

  • 6

Op die meegaande foto kan gesien word daar hang 'n slang - 'n kleinerige een - in die boom. 'n Laksman-voëltjie bring dit hier aan en steek hulle vas aan 'n doring. Ek het gedink hierdie een is al dood, maar voor ek die foto geneem het, druk ek met die kamera teen hom, toe ruk hy weg en span sy voorlyf styf, reg om toe te slaan. Net links van die slang is ook 'n stuk van 'n duisendpoot, dis alles kos vir die voëltjie en sy wyfie.

Na hierdie slang het hy nog twee hier aangebring. Watter soort slange dit is, weet ek nie, maar dit kan nie almal onskuldige soorte wees nie, hulle lyk nie almal eenders nie.

Ek het nou maar die doringboompie laat uithaal, want ek sien nie kans vir die gevaar dat 'n lewendige slang kan loskom en een van ons of ons hond byt nie. Die boompie het bowendien baie lang, lelike dorings en party mense was bang om daar te kom, want stukke tak met dorings breek soms af in die wind en lê daar rond, 'n gevaar vir ieder en elk.

Hoewel ek ten gunste is van die plant van inheemse bome voel ek hierdie een is ongewens en sal ek so gou moontlik 'n ander boompie kry om daar in te sit.

Miskien kan iemand my raad gee watter soort boom om te plant, wat redelik vinnig groei, sodat hy oor drie jaar darem al begin lyk na iets.

Groete,

Tiens

  • 6

Kommentaar

  • Cornelius Henn

    Dis seer Tiens, jy't die kroon van jou tuin en omgewing uitgehaal ... enigiets inheems gaan die "gevaarlike" natuur in jou omgewing lok - die volgende is giftige spinnekoppe ... dit raak al hoe moeiliker om mens te wees waar lewe en dood so verwyder van mekaar voorgehou word ... glo my, die pakkies vleis in jou supermark was ook eens oulike diertjies in haglike omstandighede "gekweek" vir jou om te eet ... die laksman het ongelukkig nie jou geld om 'n tjoppie by Woolies te gaan koop nie, en was heel dankbaar vir jou boompie ... hartseer groete, Cornelius Henn

     

  • Beste Tiens

     
    'n Doringboom, veral op 'n grasperk waar kinders speel, kan baie lastig wees.
     
    Daar is natuurlik pragtige inheemse bome wat 'n mens kan aanplant.  Die volgende 3 bome is immergroen met 'n mooi vorm en pragtige digte skadu en. baie belangrik, hulle wortelstelsel is nie aggressief nie en sal nie die plaveisel of mure beskadig nie.  Hierdie bome lok ook verskeie soorte voëls.
     
    Die bome is:  Wildepruim - Harpephyllium caffrium,  Essenhout - Ekebergia capensis, Rooi-essenhout - Trichilia emetica.  Hier by my kom net ligte ryp voor en ek weet nie hoe die bome sal aard in 'n streek met swaar ryp nie.  Al drie die bome is matige vinnige groeiers.
     
    Ek beveel die bome aan.
     
    Enjee
     
  • Dit lyk na, vir 'n mens, 'n uiters onskadelike bruin slak-etertjie te wees. Hy wat die slakke in jou blomtuin uitroei, wat weer jou blommetjies verniel.  Ek het hulle al waargeneem waar hulle hul kop heeltemal in die slak se dop in het en dan agteruit seil sodat die slakdop iewers vashaak en hulle dan so los kom.

    En nou, weens jou onkundigheid gaan jy en maak hom met boom en al vrek. Ek sou hom daar afgehaal en die laksman met 'n windbuks bygekom het.

     

    Maar nou sien ek jy kweek net gras.

     

    Doen bietjie navorsing  voor jy weer so iets wil aanvang of  'n boom wil plant. Plant iets inheems wat daar in jou gebied sal groei.

     

    Raed-na-Gael

  • Nee wat, Tiens, hier op die Sê sal jy nooit kan wen nie.  Moenie sleg voel oor die die slang, die laksman of die boom nie.  Mens moet wat mens moet. 

    Mooi bly

    Maya

  • Het iemand dalk inligtinhg byderhand oor inheemse bome met penwortelstelsels. Ek het onlang Noord-Kaap toe getrek en het min skadubome in my erf.

     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top