Die burgemeester van Oos-Londen, die Speaker en nog 'n paar ander hoë persone word aangekla van bedrog en korrupsie. Dit gaan sowaar oor geld vir Mandela se begrafnis! Daar is geen respek meer vir enigiets in hierdie land nie. Elke dag word meer en meer gevalle ontbloot, in party gevalle word hoë ampsbekleërs selfs aangekla van moord. Algemene misdaad gedy, dit is asof hulle nie leer uit die gevalle wat gevang en gestraf word nie. Dit gaan wild en woes in hierdie land, niks en niemand is veilig nie.
Nou is daar 'n aantal dwase linkses wat beweer bedrog en korrupsie was net so erg onder die Afrikanerregering. Dit is natuurlik 'n blatante leun, wat hulle waarskynlik vertel omdat selfs húlle begin skaam vir wat aangaan. Want dis mos hulle wat so hard gewerk het om die ANC aan bewind te kry...
As daar wel sulke gevalle onder die ou bedeling was, moet hulle asseblief vir ons die besonderhede gee. Want koerante soos die Rand Daily Mail sou tog nie daaroor geswyg het nie. Die enkele gevalle wat daar wel was, soos die Inligtingskandaal, is juis deur die pers tot op die been oopgevlek.
As oom Jan van Riebeeck dalk 'n vaatjie wyn by die Kompanjie gesteel het, en boonop nog 'n oulike San vroutjie verlei het, is dit wragtag niks in vergelyking met wat vandag aangaan nie.
Eerlike groete,
Varkspek


Kommentaar
Varkspek,
Moenie jou eie oningeligtheid oor die verlede so uitstal nie. Of is jy dalk leeslui, of het jy nie die Rand Daily Mail van destyds gelees nie, of Vrye Weekblad nie. Ek het juis onlangs oningeligtes soos jý verwys na die ISS se verslag oor sistemiese korrupsie tussen 1970 en 1990. Al die besonderhede is daar, swart op wit met stawende bewyse en bronne. Maar jy sal dit nie lees nie, want jy wil dit nie sien nie.
Maar nou ja, daar is mos nie medisyne vir regse naïewiteit nie.
Soos ek al voorheen geskryf het, enige ou wat die huidige regering durf kritiseer word as rassis gebrandmerk. Die saamlopers is alewig besig om die duiwelsdrek vorige bedeling se sondes op te haal en aan die groot klok te hang. Met "slim" argumente van demokratiese bedelings en politieke retoriek word die huidige sirkus se misstappies teen die vorige bedeling afgespeel. Dit is soos jy vra 'n ou, "slaan jy nog jou vrou". Wat jy ook al as argument gaan gebruik, gaan teen jou tel. Ek het geleer, hou my bek en laat die drama homself afspeel. Die geel speek kom weer eendag bo.
Ons moet altyd onthou dat die toekoms miskien nog reggestel kan word terwyl dit nie met die verlede moontlik is nie. Die klem moet altyd val op wat NOU gebeur en wat die beste pad vorentoe is. Nogtans moet die verlede nie geïgnoreer word nie en is ondersoeke na die verlede soms sinvol. Die manne en vroue op die skip se boeg se oë moet egter vorentoe gerig wees anders kom daar 'n groot smash.