Roudiens gehou

  • 0

Die name in hierdie brief is verander.

Die diens vir Meisie van Graan is toe vanmiddag omtrent 12 uur gehou. Dit was 'n heel skaflike diens in die AGS Kerk in Kensington, gelei deur 'n vroulike pastoor. Johnny het nie die eerste paar liedjies saam gesing nie, want hy het nie sy bril by hom gehad nie. Die laaste liedjie, toe hulle die kis uit die kerk neem, was die veel geliefde "Amazing Grace". Ronnie het langs die vensters gesit en sing toe die laaste liedjie saam. Hy het die blaadjie klein gevou en met die lig deur die venster kon hy darem sien, met die blad naby sy gesig en sy oë opgeskroef soos hy konsentreer. Na die tweede vers het die mense uit die kerk uit begin loop en hy kom dit nie agter nie, maar sing nog kliphard saam met die orrelis. Later is dit net hy oor in die kerk en ek wat vir hom staan en wag. Hy was skoon uit die veld geslaan toe hy na die lied opkyk en sien die kerk is leeg!

Die een skoonseun, Michael de Ruiter en sy vrou Elsa, het omtrent alles gereël. Hulle het maar gesukkel om die geld in te samel, broer Robert, die suinige, het darem R300 gegee en Johnny R200.

Dit was 'n swart begrafnisondernemer in een van daai lang, wit Limousines en ons het van Michael-hulle se huis in Sidwell in 'n stoet gery na die kerk. Daar was twee groepe draers: een met die kis die kerk in en toe 'n tweede groep uit die kerk uit. Hulle was broers en susters, vriende en twee kleinseuns.

Ons het die afgelope tyd hope selfoonoproepe gemaak, want die familie het almal net selfone. Eers was dit oor die stand van haar gesondheid en toe oor die reëlings. Die reëlings het verander, dit sou eers gister (Woensdag) gewees het. Die jongste dogter, Martie, het die gewoonte om ons op haar selfoon te bel en te sê ons moet gou terugbel. Dis omdat sy gewoonlik nie veel lugtyd het nie, maar ek was toe verplig om vir haar te sê ons kan nie bekostig om so baie oproepe na 'n selfoon te maak nie. Wonder hoe hoog die rekening gaan wees. Maar dis darem nou verby, alles is afgehandel, tot die volgende keer.

Ek het nou al talle begrafnisbriefies deur die jare opgehoop. Mens wonder wie s'n gaan die volgende wees.

Groete,

Tiens

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top