Reusedwerg – al weer “Red October”

  • 3

Jy skryf (24/10/12): “Dit is vir my net tragies en hartseer dat daar geen MEEGEVOEL OF SIMPATIE van sogenaamde prominente beleidmakende Afrikaners vir die pleidooi van mense wat uitgemoor word is nie”.

Wat jy met “beleidmakende Afrikaners” bedoel, is nie duidelik nie.

Wat wel duidelik is, is dat die “Red October” fiasco (met sy karige ondersteuning) deur verregse Afrikaners gereël was om aan ‘n verregse agenda te voldoen, met plaasmoorde ‘n “rally call” om Afrikaners agter hulle geskaar te probeer kry. Ek is hoegenaamd nie oortuig dat hulle motiewe vir die optog eerlik mbt tot plaasmoorde was nie.

Ek huldig die hoogste respek vir Steve Hofmeyer en Sunette Bridges in hulle hoedanigheid as Afrikaanse musiekkunstenaars wat in daardie hoedanigheid veel vir die Afrikaner verrig. Ongelukkig skaar hulle hulle met die ver regses, wat geen legitimiteit onder die oorgrote meerderheid Afrikaners geniet nie, veral oa die Roodt-eenmansaak – Praag wat skreeu: “Where were AfriForum, Solidariteit, Radio Pretoria during Red October?”.

Die wanvoorstelling dat plaasmoorde as “genocide” bestempel word met misleidende statistieke deur hulle gepubliseer, is vir my die laagste punt van opportunisme om die tragiese situasies tot eie voordeel uit te buit. Daar is absolute geen bewyse dat die regering sodanige beleid volg nie, want die howe het tot dusver elke keer gevind die oorsaak was krimineel.

Waar die regering wel oor verkwalik kan word, is dat hulle nie genoegsame poging aanwend om die boere beskerming te wil verleen nie, asook om oplossings vir die probleem te probeer soek nie.

AfriForum is op rekord dat hulle wel iets daadwerkliks oor die saak DOEN (sien hieronder), sonder enige openbare ondersteuning van enige van die gekkegrens politieke sektes soos Praag nie, elkeen bang dat AfriForum hulle bestaansreg gaan ondermyn, en veral te wete dat hulle ledetal verdrievoudig het oor die afgelope 18 maande.

“AfriForum en slagoffers wie se geliefdes op plase vermoor is, het vandag (Sept 13) in Pretoria ’n petisie vir die prioritisering van plaasmoorde begin, wat in November vanjaar by die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede ingedien sal word. By die geleentheid is ’n verslag, getiteld “Die Mthethwa-dossier” ook bekendgestel. Die verslag bevat die besonderhede van tien gevalle in die afgelope twee jaar waartydens slagoffers probeer het om die minister van polisie, Nathi Mthethwa, se ingryping by plaasmoorde te kry. Hul pogings om met hom te kommunikeer, is telkens met minagting begroet. AfriForum het ook vandag ’n video, getiteld “Hoe lank nog?” bekendgestel, waarin ’n aantal van die slagoffers van hul pogings om met mnr. Mthethwa te kommunikeer vertel.”

“AfriForum het na die twee gewelddadige aanvalle in Zeerust en distrik in Noordwes bevestig dat hulle nou self gemeenskappe gaan begin beveilig. Hierdie aankondiging volg nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens steeds nie plaasaanvalle geprioritiseer het nie en versuim om dorpsgemeenskappe veilig te hou. 17/10/13.”

Dat AfriForum onder ons toekomstige intelligentsia vlam vat, lees: “TUKS - AfriForum Jeug het pas aangekondig dat hulle topposisies in die VSR-verkiesing (Verteenwoordigende Studenteraad) van 17 Oktober 13 by die Universiteit van Pretoria verower het. Dit sluit in die president en sekretaris. AfriForum Jeug se kandidate het ? totaal van 15 366 stemme gekry, terwyl die DA-kandidate 9 627 stemme gekry het".

Jaco Fourie

  • 3

Kommentaar

  • Ek wil nie in enige bekgevegte betrokke raak nie. Die beleidmakende Afrikaners na wie ek verwys is die Afrikaanssprekende persone wat op TV-skerms verskyn en uitsprake maak wat as die algemene gevoel van die Afrikaner weerspieel word. 

    Wat my krapperig maak is dat enige inisiatief wat die Afrikaner vandag aanpak om homself op te hef of sy saak te bepleit word die "regse" klok aan gehang. Ek woon in 'n provinsie wat hoofsaaklik Ingels is. Ek het in Pretoria 'n openlike rassisme gesien en beleef. Hier in die Laaste vesting van die Britse Ryk ervaar ek 'n subtiele en wreder rassisme as wat ek in Pretoria ervaar het. Indien ander bevolkingsgroepe organisasies het om hulself op te hef, word daar niks van gesê nie, maar sodra die Afrikaner dit doen word die regse etieket gou vasgeplak. Ek gee nie om wat in Rooikappertjie (Red October aktivis) se persoonlike lewe aangaan nie. Ek is die laaste een om haar en of Steve Hofmeyer te oordeel, ek dink hulle het die moed van hul oortuigings en het die reg op hul uitoefening van hul konstitusionele reg.  Wat word die swart bewustheidsondersteuners genoem. Regse swartes omdat hulle hul eie ras wil bevoordeel. Ons is te gou om mense te brandmerk en dit veral die Afrikaner.
  • Reusedwerg

    Jy skryf: "Wat word die swart bewustheidsondersteuners genoem. Regse swartes omdat hulle hul eie ras wil bevoordeel. Ons is te gou om mense te brandmerk en dit veral die Afrikaner".

    Ek leef in 'n multikulturele land as Afrikaner en aanvaar die onvermydelikheid daarvan.   Mbt die swart bewuswtheidsondersteuners, stel ek hoegenaamd nie in die se doen en late belang nie, behalwe waar dit direk op die meerderheid Afrikaners negatief impakteer.  Tans is dit suiwer die ANC wat hulle direk met die Afrikaner negatief bemoei.  Ander soos bv die VEF (EFF) se uitinge is net stinkwind wat ek ignoreer, aangesien hulle geen politieke mag het nie.  Inteendeel die ANC sal hulle mettertyd self regsien en vinnig uitsorteer.  Indien hulle dit regkry om 'n aansienlike getal van die ANC af te rokkel ten gevolge aan 'n moontlike oorname deur 'n koalisie van opposisie partye, verwelkom ek dit.

    Wat onder my volksgenote aangaan, die stel ek beslis in belang, maar met oopkop.  Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die tragiese verlede vir altyd verby is, en om daarby te talm is teenproduktief vir Afrikaner vooruitgang.  'n Volksstaat is 'n onmoontlikheid, selfs 'n kanton-bestel.  Sonder 'n meerderheid Afrikaner ondersteuning vir alternatiewe vorms van politieke of kulturele selfbeskikking, sal dit ook nie kan plaasvind nie. 

    Wat bly oor?  Ek sien net kulturele samehorigheid, met die Afrikaanse taal as die enigste bindende faktor.  Afrikaners het oor die afgelope 20 jaar onderling so divers geword dat daar geensins meer 'n sweem van homogeniteit bestaan nie.  Godsdienstig, sosiaal, ekonomies, moraliteit,  ens  het hulle net so divers geword as die gemiddelde Engelsman of Fransman, met die gepaardgaande diversiteit in politieke belange. 

    Elkeen van die verregsse 20 tal politieke groeperinge wil die Afrikaner in sy eie afsonderlike "boxie"  indruk.  Dit is HULLE wat andersdenkende Afrikaners brandmerk, vir patete, sikofante, gatkruipers, volksverraaiers, liberales, post modernes, ens sonder om enigiets self positiefs tot Afrikanerdom by te dra nie.  Inteendeel hulle doen die Afrikanersaak meer skade aan, en is 'n verleentheid vir die volk. Gelukkig vorm hulle 'n miniskule, tog vokale minderheid onder Afrikaners.

    Die Afrikaner sal eens en vir altyd hom daarby moet berus dat hierdie of enige toekomstige regering nie vir sy belange in sy hoedanigheid as Afrikaner (wel as SA burger) gaan omsien nie.  Die sal hy dit self moet doen op eie onkoste, wat insluit opvoeding, sekuriteit, werkskepping, kapitaalskepping, ens.  Dit is reeds aan die gang met AfriForum tans aan die spits daarvan.  En die grootste ironie is, is dat die 20 tal verregse sektes AfriForum verpes, die enigste Afrikanerburgerorganisasie wat bewese dade vir die Afrikaner met sukses DOEN.

    Jaco Fourie

  • George Bekker

    Hallo Reusedwerg, ek wil jou standpunt 100% onderskryf. Daar is min Afrikaners wat iets probeer doen of aan enigiets behoort. Selfs wanneer ons nie heeltemal met hulle saamstem nie behoort ons hulle te verdra en miskien selfs aan te moedig. Ons is 'n klein minderheid en met saamstaan kan veel bereik word.

    George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top