Dagsê
Ons het gisteraand arriveer vanaf 'n heerlike vakansie uit die Nasionale Kruger Wildtuin. Dié tyd van die jaar moet jy natuurlik bereid wees om die hitte as salig te beskou, want die kwik kant tot 41grade braai. Dit beteken ook dat as jy kamp hou jy selfs gedurende die nag alles oop om asem te skep of onder die welkome aandwindjie af te koel.
Vanaf die eerste nag het ons gehoor van die 2 ratels wat snags daar rondsnuffel opsoek na kos. Soms het ek gehoor kinders gil en gesien as ligte op die ratels flits. Alles deel van opwinding en die bosveld!
Ek weet nie hoe skadeloos 'n ratel is, maar het geensins bedreigd gevoel op daardie stadium. Dis 'n pragdier wat soos 'n stinkmuishond lyk, tog sonder die strepe met 'n silwergrys "saal" wat oor die hele rug van die bokant van die kop tot by die begin van die stert strek. Later hoor ons dat hierdie dier 'n wrede vegter is met ongeoorloofde taktieke. Spiere van 'n prysvegter, mesagtige kloue en skerp tande. Blykbaar is daar gevalle waar ratels selfs 'n buffel of wildebees in konfrontasie se testikels afgeskeur het.
Nietemin - my aangenome dogter Blommie het vir ons vir die kampery 'n "kortdrop" (dis wat ons dit noem) aangeskaf. Omdat ons weet dat die hiënas en katte snags om die braaivure rondsnuffel, is dit veiliger om in die beskerming van die tente te bly en so die stap na ablusieblokke in te kort. Die kortdrop was dus heel gerieflik snags in die hoek van die kombuistent geplaas vir nood.
Of die nood te hoog was of afstand te ver tussen die twee tente, weet ek nie, maar Blommie het vergeet om die tent mooi toe te zip agter haar. Net toe sy haar sit kry ontmoet die blink van rateloë en mensoë mekaar in die dowwe skynsel van die buite kamplig. Omrede Blommie te besig was op daardie stadium om net op te spring, het sy haar postuur behou en hard aan die kant van die tentseil begin klap en skree.
Wie die grootste geskrik het van die twee, weet ek nie. Die reuke in die tentruimte ook vreemd. Aangesien die ratel se anale kliere 'n skerp, onaangename afskeiding vrystel tydens 'n geveg. Nodeloos om te noem dat alle tente van toe af tot op die uiterste toegezip was. Want snags kon jy die krapgeluid van die ratel se naels teen jou tentopening hoor soos hy oop plekkie soek.
Ek sluit af met 'n interessante feit omtrent die ratel. Die het blykbaar 'n legendariese verhouding met 'n klein voëltjie, die heuningwyser, wat die ratel na heuning lei met 'n opgewonde, kwetterende vertoning. Die voëltjie kry blykbaar sý deel wanneer die ratel die korf oopgebreek het en sal agterna dan heerlik aan die heuning en larwes smul.
Die Skepper het ongelooflike diere geskape. Die Kruger bestaan uit die mooiste bosveld asook Groot Vyf. Wat 'n genieting! Ek loof Hom vir Sy skeppingswerk. Mag Sy Woord vir ons altyd so soet soos heuning bly en die Heilige Gees ons Heuningwyser daartoe word.
Geniet julle dag
Trienie Mahne


Kommentaar
Jy kom heeltemal te meer gereeld as ek in die Kruger. Waar's die trippie se foto's?
Pieter
Die foto's kom nog. Onthou daar is omtrent 1300 om deur te werk en van uit te soek.
Op skool (hier in die vyftigerjare) was ek gelukkig om Buks as voorgeskrewe boek te hê. Dit was die lewensverhaal van 'n ratel en sy avonture, wat haarfyn beskryf is en ook sy vermoë om met groter diere af te reken. Ek dink almal in die destydse Afrikaanse klas het die boek geniet en soms opgewonde geraak oor die volgende avontuur. Die skrywers van die boek was twee Engelsprekende Suid-Afrikaners, die Hobson broers - kan nie meer hulle voorletters onthou nie. Hulle het net gevoel dat hulle die veld en die Suid-Afrikaanse werklikheid nie in Engels kan beskryf nie en dit in Afrikaans moet weergee. Die eintlike skrywer was 'n dosent aan die Rhodes universiteit en sy broer was die dierekenner wat eintlik vir die verhaal verantwoordelik was. Hulle het 'n aantal boeke oor diere geskryf - ek dink daar was ook een met bobbejane.
Trienie, dit sal die moeite werd wees om te soek en die boek iewers in die hande te kry. Jy sal dit geniet! George
George
Klink interessant. Dankie. Ek glo nogal dat ratels en hul dinge oulike stories kan voortbring.