Praat en handel nie ooreenkomstig nie

  • 6

Ek en Wim het Saterdag ‘n goeie vriend van ons in Pretoria vir die volle dag gaan besoek. Lekker gesels, gedrink en gebraai saam met hom, sy lieflike vrou en twee opgeskote seuns. Hy bly in een van die vele “upmarket” sekuriteitskomplekse soos ‘n mens op die ou Voortrekkerpad vanaf Pretoria-wes na Sandton Johannesburg toe sou ry. Sowat vyf jaar gelede was daar niks, nou staan hulle op ‘n streep soos paddastoele die langpad vol, met nog vele ander in verskillende stadiums van aanbou.

Onvermydelik, het die verkiesing ook deel van die bespreking geword. Wim, ons vriend en sy vrou het DA gestem, en vir my goedig uitgejou omrede ek die enigste in die geselskap was wat VF+ gestem het. Behalwe vir Wim wat daarna liefs stilgebly het want hy ken my goed, het ons vriend en sy vrou die VF+ vir ‘n hele ruk daarna uitmekaargetrek. Nou-ja. Twee soorte gestryery sal ‘n goeie vriendskap versuur. Godsdiens en politiek. Vir die saak van goeie vriendskap het ek toe daarna maar hier en daar tussenin net geknik, ge-em en ge-a totdat die gesprek weens geen gewenste reaksie van my kant nie, mettertyd doodgeloop het.

As deel van ons vriend se kritiek op die VF+ het hy genoem dat Orania en Kleinfontein merendeels VF+ gestem het en toe vir ‘n lange kwartier hulle as verkrampte rassiste afgekraak, en gesê die regering behoort iets daaromtrent te doen om ‘n einde aan hierdie “Apartheid” enklawes te maak.

Heelwat later, na die sport gesprek en die politiek heeltemal vergete was, het ek ons vriend oor die kompleks waarin hulle bly uitgevra. Nou het ek ‘n onderwerp aangeraak, min wetend ons gaan sukkel om dit weer verander te kry. Hy is so entoesiasties oor die kompleks gedagte. Hy vertel my dit is die beste manier in ‘n groot stad soos Pretoria om jouself te beveilig, die beste kapitaalgroeiwaarde op jou belegging met dienste en vermaaklikhede ingesluit, kleuterskool, transportfasiliteite vir skoolkinders, en wil my oortuig, dat ten spyte van ‘n duurder uitgawe in heffings en belastings vergeleke met sy vorige verblyf, dit op die lange duur eintlik goedkoper is. Hy is ook trustee van die beheerliggaam.

Ek vra hom of daar net wittes in die kompleks is. Hy sê daar is hier en daar en dat hulle fantastiese mense is. Van hulle praat Afrikaans tot so ‘n mate dat na ‘n ruk kom jy nie eers agter hulle is eintlik swart is nie.

Heel later in die onderwerp, vra ek hom wat gaan hy doen sodra die kompleks oorwegend swart word. Onmiddellik verdwyn die goedigheid vanuit sy stem. “Dan verkoop ons.” Wim gluur my aan van agter sy rug. Onmiddellik maar subtiel, verander hy die onderwerp en sê daar is werk wat vir hom wag en dat ons sal moet ry.

Die uur en ‘n half lange pad Vanderbijlpark toe word ek uitgekak as skoorsoeker en stry ons twee soos net verliefdes kan stry. Ek sê vir Wim. Orania en Kleinfontein het g’n mure nie. Hier in Pretoria, kraak Afrikaners, onder andere ons vriende, vir ander Afrikaners af wat in Orania en Kleinfontein woon weens hulle uitgesprokenheid, wyl hulle self, nie anders as hierdie mense nie, met geveinsde liberale lippetaal en politiek hul hulself agter hoë mure wegsteek. Ek noem toe ergerlik vir hom dat hulle die kompleks eerder Holfontein hoort te noem.

  • 6

Kommentaar

  • Bravo Jaco, spyker op die kop geslaan!  Besef jou vriend nie (die getroude ene nou) dat jy ook eers DA gestem, selfs 'sendingwerk' vir hulle gedoen het, nie?  Seker nie, anders het hy jou oor jou redes uitgevra eerder as om net ander te veroordeel (terwyl hy self in 'n enklawe bly). 

    Terloops, die naam 'Holfontein' is al gevat; dis 'n nudistekamp.

    Groetnis

  • Jan

    Almal weet ek het die DA kranig ondersteun.   Noudat ek VF+ gestem het, is hulle van mening ek het afvallig, amper in 'n godsdienstige sin, geword en my probeer terugkry deur die VF+ af te kraak.

    Moenie onder enige illusie wees nie.  Was dit nie vir die feit dat die DA van sy morele beginsels afgewyk het nie, sou ek steeds 'n kranige ondersteuner wees, en dit weet jy goed, want jy hou my soos 'n valk gedurig dop mbt die politiek.  Inteendeel, sou die ANC van hulle rassistiese sieninge en beleid van afstand doen, sou ek dan nie enige rede sien, behalwe vir die huidige korrupsie en wanregering, om hulle nie te ondersteun nie.

  • Op pad Bloemfontein toe hier uit die Transvaal uit is daar 'n bordjie wat sê 'Holfontein' en ek dink daar is ook een op pad Nelspruit toe.  Dit kan niks anders as nudistekampe wees nie.

  • Jan

    Dankie vir die aanwysings.  Ek self is 'n kranige nudis.  Sandybaai, Graafspool, Voëlkop, ens het my gereeld gesien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top