Cornelius trek te velde teen die Dawkinsse van die wêreld wat met religie oor die algemeen spot en kritiseer en inderdaad ís hulle natuurlik blaamwaardig – en terselfdertyd daarmee slaan Cornelius soos ’n waansinnige homself ook oor die rug met die lat wat hy vir andere gepluk het, omdat hy skuldig staan juis aan dít wat hy die ander ten laste lê, soos Chris aan hom uitwys - nie net teenoor my nie, maar ook ander ware gelowiges waarmee Cornelius dit as ’n reël in die verlede gedoen het en steeds doen, saam met die ander spotters wat hy nou so toetakel - sonder dat hy dit agterkom. Hoe harder hy slaan, hoe harder reën die houe oor sy eie rug en dan wonder hy waar die pyn vandaan kom en blameer ander daarvoor. Tipies Cornelius.
Angus sien die geleentheid om van homself te laat hoor en tussen alles wat hy kon kies om te sê, demonstreer hy daardie kenmerkende agnostiese laerskoolse mentaliteit – daardie kinderagtige tik-jy-my-dan-pik-ek-jou mentaliteit - waar hy smaaklik vertel hoe hy met religie spot omdat religieuse mense met sy soort agnostisisme sogenaamd ‘spot’ (hy sukkel om te onderskei tussen die begrippe ‘spot’ en ‘kritiseer’). Mens kan dit natuurlik maklik verstaan, gegewe die hulpeloosheid ten aansien van die Goddelike Waarheid waarmee die deursnee agnostikus moet worstel weens sy gebrek aan insig in die Woord, soos wat ons ook uit Angus se stuitige kommentare kan uitken – hy besef, byvoorbeeld, steeds nie dat die verwysing in die Woord na ‘grond’, waar dit by sake van die skepping kom, eintlik ’n bevestiging is van die feit dat God die mens geskape het uit die samestelling van aardelemente wat in die natuur voorkom – en ook in die grond en water, soos die wetenskap al oor en oor bevestig het. Hy begryp ook nie die drastiese leemtes in die tipe evolusieleer wat hy aanhang, nie.
Maar wat Cornelius doen, is om vir ons nogeens eintlik te wys wat in die ketter se hart aangaan. Die rede waarom baie mense met religie spot, is juis oor die tipe van onhoudbare hutspotte en poespasse wat hy, as voorbeeld, saamflans - só erg so, dat selfs die residensiële agnostici dit met gemak kan uitmekaartrek weens die basislose konstruksie daarvan – die briefwisseling van die afgelope weke, wat eintlik al lankal aankom, wys dit uit. Niks nuut nie. Vir Cornelius gaan dit duidelik nie oor God nie, maar oor die mosaïek van religieë, wat hy verkeerdelik Godsdiens noem, omdat ook hý nie van beter weet nie. Die enigste nut wat God se allerheiligste Naam vir Cornelius het, is dat hy dit as versamelpunt probeer misbruik om sy sinnelose sinkretistiese religieë om heen te probeer weef asof dit met mekaar – en verál met God – versoenbaar kon wees. Hy het duidelik nie die insig van selfs ’n agnostikus om in te sien watter gemors hy daarvan maak nie – wat nog te sê hoe die gelowiges hom telkens ook op die petalje gewys het en gewaarsku het.
Wat anders is dit as bespotlik? Wat op aarde het dit met God te doen? As mense vir hulleself religieë saamflans wat soos karikature en narre in die geloofsgemeenskap voordoen, moet hulle nie aanstoot neem aan die bespotting en kritiek daarvan nie – vir húlle is hulle onderskeie religieë heilige koeie, maar vir ander, is dit gewoon bespotlike en soms kostelike, lagwekkende karikature wat met God hoegenaamd niks te make het nie. As God iets met ’n Godsdiens te make het, soos die ware Christendom, sal mens God daarin kan herken en erken. God is tog immers die God van die ware, die Goddelike Godsdiens.
Ons weet mos almal dat geen koei heilig is nie, behalwe net vir diegene wat koeie tot heiliges probeer verhef, soos wat Cornelius en ander soos hy, spreekwoordelik doen (die hindoes doen dit letterlik). Vir hulle is die religie die objek van aanbidding, vir hulle véél belangriker as God. Dit sien ons veral met Cornelius se aanbieding van sy hutspot religie wat religieë insluit wat mekaar omtrent die HERE Jesus Christus lynreg weerspreek en die HERE verloën, terwyl hy wat Cornelius is, eerbied verwag van ander vir sy vieslike hutspot asof dit God is wat hy voorhou met sy weersinwekkende deurmekaarspul. Natuurlik sal hy nie eerbied vir sy poespas kry nie, want dit is bespotlik.
En daarom bespot sommiges dit ook.
Daarom moet hy ook nie gemors opdis en wanneer iemand vir hom uitwys dat dit gemors is, aanstoot neem in daardie persoon, nie – hy behoort liewer hand in eie boesem te steek, iets waartoe hy tot dusvêr nie werklik in staat is nie. Hy behoort ook nie aanstoot te neem as iemand met sy hutspot spot nie. Heilige koeie verdien geen eer nie, want hulle is nie heilig nie – hulle is onsinnige en bespotlike karikature. Watter ander funksie het ’n karikatuur as om te bespot en bespotlik te wees?
Die Corneliusse se getjommel oor religie is net so irrelevant soos Dawkinsse se snert oor religie. Beide is ewe blaamwaardig. Beide spreek teen God met die verheffing van hulle eie Goddelose religieë. Beide ontken en verloën God ewe erg met hulle onderskeie uiteenlopende brousels – Die Corneliusse met hulle Goddelose, God-vreemde religie-hutspotte wat prut soos Middeleeuse heksebrousels en die Dawkinsse met hulle Goddelose toeval-skeppergod en selfverheffing – beide ewe minagtend ten aansien wat God werklik van ons verlang. Die enigste werklike verskil is dat die Dawkinsse darem nie ook die Naam van God misbruik in hulle brousel nie, terwyl die Corneliusse nie skroom om selfs ook dít te doen, nie.
Wanneer mense besef dat God nie Godsdiens of religie is nie en andersom, sal die prent vir hulle duideliker word. Veral die agnostici sukkel met hierdie belangrike onderskeid. Die enigste bestaansreg, funksie en doel vir Godsdiens is om God daarmee te dien en verheerlik – dit is die mens se instrument om tot God te (probeer) nader. Daarbenewens het dit geen bestaansreg nie. Daarmee saam is dit dan ook noodwendig ’n vereiste dat sodanige Godsdiens sal verantwoord aan die Wil en metode van God daarvoor, Wie na alles, daardeur gedien en verheerlik moet word - God staan dus verhewe bo enige religie en ook los van al sulke religieë behalwe dié Godsdiens waarmee HY waarlik verheerlik word op die wyse waarop HY verheerlik wíl word.
As Dawkins of enigiemand anders dus met religie spot, is hulle wel onvolwasse en kinderagtig, ja, maar hulle kom daarmee nie naby God nie. Of hulle dit besef, is te betwyfel. Dit dui ook op hulle onbeholpenheid met sulke dinge weens die feit dat bespotting bloot terugwys na die onvolwassenheid en onvermoë van die spotter, maar geen bydrae lewer tot sinvolle of doelmatige kritiek nie.
Maar op die keper beskou, hoe kan mens God verheerlik en dien met religieë wat Sy Wil verloën en Sy Woord sif asof dit kaf is of selfs heeltemal ignoreer en Hom tot oneer strek? Dit is tog ook logies dat soiets net eenvoudig nie aanvaarbaar is nie en God maak dit báie duidelik. Dit is niks minder as rebellie teen God Self, nie (1 Samuel 15:22-23). Kain was die eerste voorbeeld daarvan. Saul was nóg ’n voorbeeld. Die verslane en verguisde konings ook. Hoeveel voorbeelde is daar nie sedertdien tot vandag toe, nie ...
Die HERE Jesus Christus maak dit báie eenvoudig – HY en HY alléén as Woord van God is die Waarheid, die Weg en die Lewe en die Weg na die Hemelse Vader en HY verg volkome gehoorsaamheid aan Hom, aan die Vader (Johannes 14:6-7; Mattheus 7:21; Lukas 6:46) want HY is immers nie minder nie as die volle almagtige Woord van God – HY is God die Seun, die Woord, Wie Mens geword het, eniggeborene uit die Maagd deur die Heilige Gees van die Vader.
Alle religieë wat met dié basiese kernbeginsels strydig is of daarteen aanstoot, rebelleer teen en verloën God, heeltemal. En daarmee het God niks te make nie, behalwe om dit te veroordeel (Eksodus 20:2-3, 5; Sefanja 1:1-7; Jeremia 19:13-15).
Kobus de Klerk


Kommentaar
Kobus de Klerk, ek dink jy sal meer van 'n man wees as jy jou ydele selfbejammering met aanhalinge staaf waar ek jou, of enige ander se geloof, of ongeloof bespot het ... nietemin, dit sal gewoon dom wees om op iemand soos jy se verantwoordelikheid te wag ... ja, ek vergewe jou ekstreme en fundamentele minagting van my en ander se harte, ook nogmaals in die liefde en genade van Jesus Christus onse HERE ... jou amigo in Adam, Cornelius Henn
... en dan Kobus de Klerk; ek kan jou maklik met 'n varkblaas met ertjies die skrik op die lyf jaag - hoe lank gaan jy nog weghardloop van my eenvoudige ou vragie byvoorbeeld - hoe kan jy die Bybel, tot die Woord van God verhef?
Kobus
Kobus
Cornelius se probleem is dat hy versoening in onversoenbare godsdienste probeer bewerkstellig. Versoening tussen Islam en die Christendom is onmoontlik; tussen Jodendom en Christendom; tussen die Hindoe en die Christendom onmoontlik; Boeddhisme is nie 'n godsdiens maar 'n leefswyse wat geen voorsiening vir godsdiens maak nie. Selfs onder Christene, is Protestantisme in die breër en Katolisisme onversoenbaar.
Indien hy sodanige leer, veral mbt Islam in Iran, Sudan, Saudi Arabia, ens sou verkondig, is die kanse baie goed dat hy suimier gedood sal word.
Met die een asem wil hy sekere Christene, wat dieselfde god en verlosser as hy aanbid as "Bybelaanbidders" neerhalend uitkryt, en met die ander asem Islam se jihad en fatwa "Koranaanbidders" omhels. Sy logika ontbreek geheel en al.
Jaco Fourie
Thomas,
Aanvaar maar dat geen gelowige by jou sal aanvaarding soek of verwag oor sake Spiritueel nie. Jou teenstrydige standpunte oor wat algemeen aanvaar word, weerspieël maar net die klein, beperkte fabelwêreldjie waarin jy as ateïs leef en jouself wys maak dat dit die werklikheid is.
Besef jy hoe min ateïste daar op aarde is? Hulle glo soos jy ... maar die oorgrote meerderheid van die wêreldbevolking het geen probleem om die dinge te glo wat jy as onwerklik probeer afmaak nie.
Vandaar dat jy spot - lees weer hierbo waarvan die spottery 'n simptoom is ... dan giggel jy mos nou vir jouself. Jy het eiehandig die kinderagtigheid van die deursnee agnostikus wat hierbo weergee word, kom demonstreer. Julle is klaarblyklik die soort wat alles bespot wat julle heel duidelik nie kan verstaan of begryp nie. Dit is wat ons van onvolwasse laerskoolkinders sal verwag en ook van agnostici met klein intellek. Dan wonder mens of jy dit ooit besef ... Papegaaie kom slim voor, maar het eintlik baie klein intellektuele vermoëns. Ek is seker jy sal daarmee kan identifiseer.
Jou gegiggel herinner my aan die laerskool meisietjies wat pouse so sit en giggel het meestal oor dinge wat hulle senuweeagtig gemaak het en hulpeloos laat voel het. Daardie 'small minds'...
Kobus de Klerk
Jaco Fourie, werklik interessant hoe hard jy in Satan se gat ook probeer kruip ... nee jou arme siel, die ou grote Kobus de Klerk sal jou in sy swael en hel versmoor nog voor jy lekker kan spel ... my probleem is nie dat ek versoening in onversoenbare godsdienste probeer bewerkstellig nie ... my uitdaging op die werf is om midde die Sataniese aanslag hier, en ter wille van die Evangelie, die sinkretiese uitdra daarvan deur die hele katolieke Kerk (katoliek met 'n kleinletter), hier te verduidelik ... vra my waar het enige Katolieke Pous onlangs bely het dat, onse lieflike Allah, God is? ... of daag my om 'n skakel te plaas waar 'n menigte van die wêreld se Godsdienste in diens en eer tot ons almal se Skepper saam met die Katolieke bid? ... dis lafhartig om my as individu hier uitsonder en te bespot, wyl dit in werklikheid Katolieke en katolieke belydenis en katkisasie is wat ek hier deel ... ja, siestog, jy soek duidelik net aandag Jaco Fourie ...